Vinnige feite

  • Die swart serpe wat die lede van die Black Sash gedra het, was ’n simbool van rou. Hulle het die oortredings van die bepalings van die Grondwet deur die regering beskou as die dood van die Grondwet. 3
  • Toe Nelson Mandela in 1990 uit die gevangenis vrygelaat is, het hy tydens sy eerste toespraak op die parade in Kaapstad na die Black Sash verwys en gesê dat hulle die gewete van blanke (wit) Suid-Afrika tydens die apartheidsjare was. 5
  • Evashnee Naidu, die streeksbestuurder van die Black Sash Trust (nuwe naam van die Black Sash) se Durban-kantoor in 2017, het die gesê dat die volgende die organisasie se doel is: “Om te kyk na ’n omvattende maatskaplike stelsel vir dié wat dit nodig het, om vas te stel hoe dit in Suid-Afrika moet lyk en om dit dan so te laat gebeur”. 9
  • Die End Conscription Campaign (ECC) was ’n beweging wat gekant was teen die oproep van jong mans vir weermagdiens. Teen die einde van die 1970’s het die eerste vier jong mans geweier om aan hulle oproepinstruksies gehoor te gee (om dit te gehoorsaam, te doen wat van hulle gevra is) en hulle is tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis. Aanvanklik was die redes om diensplig te weier godsdienstig van aard of omdat ’n persoon teen geweld gekant was, dit wil sê ’n pasifis Aan die begin van die 1980’s was Billy Paddock en Pete Hathorn die eerste twee persone wat diensplig weens politieke redes geweier het.
  • In 1983 het die Black Sash tydens hul nasionale kongres ’n resolusie gevra vir ’n einde aan die dienspligstelsel en in Oktober 1984 is die ECC amptelik gestig. 10
  • Die woongebied Atteridgeville is vernoem na ’n lid van die Black Sash, Myrtle Patricia Atteridge. Sy het die regering oorreed om ’n beter woongebied te skep vir swart mense wat in baie swak toestande in tydelike werkerskampe gebly het. 11

Dit gebeur soms in die geskiedenis dat daar ’n organisasie gestig word sonder dat die oorspronklike stigters besef hoe wyd en hoe ver hul invloed in die toekoms in gaan strek. Só ’n organisasie is die Black Sash. Hulle het vandat hulle gestig is vir duisende mense raad en hulp en hoop gegee. Vandag is hulle steeds besig om dit te doen.

Hoe alles begin het

Die Black Sash is in 1955 deur ’n groep middelklas vroue gestig wat hoofsaaklik Engelssprekend was. Die organisasie se eerste naam was “The Women’s Defence of the Constitution League”. Die stigterslede was onder andere Jean Sinclair, Ruth Foley, Elizabeth McLaren, Tertia Pybus, Jean Bosazza en Helen Newton-Thompson.

Die rede vir die stigting van die organisasie was om teenkanting te bied teen die planne van die regering om bruin mense van die kiesersrol te verwyder (dit beteken dat iemand nie meer as kieser geregistreer is nie en nie meer mag stem nie). 1

Die Black Sash het ook probeer om dialoog tussen wit (destyds blanke) en swart mense te laat gebeur. In 1959 het hulle die destydse president-generaal van die African National Congress (ANC), Albert Luthuli, uitgenooi om as spreker by ’n aantal van hul huisvergaderings op te tree. Hy was teen geweld gekant, maar het gewaarsku dat daar soveel opgekropte woede en frustrasie onder swart mense was, dat dit moeilik gaan wees om bloedvergieting te voorkom. Kort ná hierdie geleenthede het die regering hom as verbode persoon verklaar, wat onder meer beteken het dat hy nie toegelaat is om as spreker by geleenthede op te tree nie. 2

Die ontstaan van die naam ‘Black Sash’

Die media het begin om die groep vroue die “Black Sash” te noem omdat hulle altyd ’n swart serp oor hul regterskouers gedra het wanneer hulle geprotesteer het. Die serpe was vir hulle ’n simbool van rou oor die optrede van die regering.

Die nuwe naam is amptelik in gebruik geneem met die organisasie se eerste nasionale konferensie in April 1956 in Bloemfontein.

Lidmaatskap was aanvanklik beperk tot slegs vroulike kiesers wat in Suid-Afrika gewoon het. Aangesien slegs wit mense destyds in Suid-Afrika kon stem, was die lede dus almal wit vroue.

In 1963 is die lidmaatskap van die organisasie uitgebrei na alle volwasse vroue in Suid-Afrika.

In hierdie stadium het die organisasie 12 streke en meer as 50 takke gehad. 3

Hoe die organisasie hul teenkanting teen die regering gewys het

Om hul teenkanting teen die planne met bruin kiesers te wys, het hulle stil op die sypaadjies buitekant openbare geboue in al die groot stede gestaan terwyl hulle hul swart serpe gedra het.

Nadat die wetgewing oor die bruin kiesers aanvaar is, het die Black Sash voortgegaan om teenkanting te bied teen ander wetgewing wat volgens hulle die grondwet oortree het. Die organisasie het ontwikkel in ’n uitlaatklep vir vroue wat polities liberaal ingestel was. Hulle het regeringsbeleid teengestaan deur middel van optogte, nagwake en betogings. 1

In 1956 het die organisasie onder meer teen die Groepsgebiedewet geprotesteer. 4

In 1959 het die organisasie deelgeneem aan ’n veldtog teen regulasies oor arbeid op plase. In die begin van die sestigerjare het hulle geprotesteer teen sake soos die feit dat wit mense en swart mense nie dieselfde biblioteke kon gebruik nie, asook teen die regering se beleid waarvolgens selfregering aan swart mense gegee is.

Laasgenoemde het beteken dat swart mense gedwing kon word om te verhuis vanaf grond wat vir wit mense opsygesit is. Hulle het ook teen die Wet op ongewenste publikasies geprotesteer. 5

In die 1970’s en 1980’s is baie Black Sash-lede ook deur die polisie dopgehou en selfs in hegtenis geneem. Uiteindelik is byeenkomste in die buitelug verbied en daarom kon die organisasie se lede nie meer in groepe staan wanneer hulle teen iets geprotesteer het nie – hulle moes meer een-een staan. 5

In die tyd voor die verkiesing in 1994, wat die eerste verkiesing was waaraan al die inwoners van Suid-Afrika deelgeneem het, het die Black Sash uitgebreide kiesersopleiding gedoen onder mense wat nog nooit voorheen gestem het nie. 5

Samewerking met ander organisasies

Die Black Sash het met ’n hele aantal ander gemeenskapsorganisasie en politieke groepe saamgewerk. Enkele hiervan is die United Democratic Front (UDF), Federation of South African Women (FEDSAW) asook die End Conscription Campaign (ECC). 1

Projekte van Black Sash

Die organisasie het hofsake, waar sake oor paswette verhoor is, gemonitor (die sake bygewoon om te hoor wat besluit word).

Daar is deur die hele land advieskantore op die been gebring waar mense met onder meer arbeidsprobleme gehelp is. 1

In 1958 is ’n borgtogfonds in Kaapstad gestig om mense wat weens oortreding van die paswette in hegtenis geneem is (deur die polisie gevang is) te help. 3

Die Black Sash het hul standpunt geleidelik verander en vanaf politieke teenkanting beweeg na menseregte politiek. Hulle het besluit dat die beginsels van die vryheidsmanifes van die ANC die enigste manier was om gewelddadige konflik te voorkom. Die organisasie het ’n belangrike rol gespeel in die stigting van die End Conscription Campaign (ECC). Hulle het ook die beskerming van mense se vryhede en die skrapping van diskriminerende wetgewing ondersteun. 6

Advieskantore

Die heel eerste advieskantoor is in Athlone in die Wes-Kaap gestig. Hierdie kantoor is aanvanklik deur die Black Sash se Wes-Kaapse Streekkantoor asook deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge gesteun.

Die personeel in hierdie advieskantore was hoofsaaklik vrywilligers (mense wat nie betaling ontvang het nie). Daar was ook mense uit die bruin en swart woongebiede wat as tolke opgetree het. 3

Sake wat aandag gekry het, was onder meer probleme tussen werkgewers en werknemers, pensioene en werkloosheidsversekering. 1

Daar is ook hulp verleen met probleme ten opsigte van behuising, werkloosheid, pensioene, instromingsbeheer en aanhouding sonder verhoor. 3

Belangrike leiersfigure

Diana Bingham Davis (1921-2017) het in 1955 die heel eerste vergadering in Port Elizabeth georganiseer en vir lank ’n aktiewe lid gebly.

Margie Satchwell (oorlede in 2015) het die organisasie se Oos-Kaap-streek tot stand gebring.

Molly St. Leger (1928-2016) was een van die stigterslede van die Grahamstad-tak.

Jeanette Carlson (1929-2020) was streeksvoorsitter in die destydse Transvaal vanaf 1965 tot 1967.

Di Bishop het in 1978 by die Black Sash aangesluit en is in 1981 tot die Kaapse Provinsiale Raad van die organisasie verkies. 1

Mary Blackburn was vanaf 1986 tot 1990 president van die organisasie. 3

Candy Malherbe (1928-2022) was ’n aktiewe lid van die Wynberg-tak en ook deel van die streeksraad in die Kaap. Sy het ’n belangrike rol gespeel in die redaksie van die organisasie se tydskrif SASH, vanaf 1987 tot met die finale uitgawe in 1995. 7

Hillary Morris (oorlede in Januarie 2020) was in 1997 die nasionale direkteur en het in die Langstraat-kantoor gewerk totdat sy in 2002 afgetree het.

Sue Philcox (oorlede op 19 November 2019) was in Johannesburg asook in Kaapstad ’n lid en was vir ’n tyd ook direkteur van die advieskantoor in die Kaap.

Rodney Davenport (oorlede in 2016) was ’n geskiedkundige en iemand wat deurentyd menseregte verdedig het. Hy was een van die geassosieerde lede van die Black Sash. Dit wil sê hy was nie ’n volle lid nie, maar het sy dienste aan die organisasie gebied.

Die Black Sash vandag

Ná afloop van die 1994-verkiesing het die Black Sash hul fokus verskuif van ’n protesorganisasie na ’n meer professionele organisasie. Hulle het egter hul beginsels behou en het steeds voorleggings aan die regering gemaak om wetgewing te beïnvloed, asook om raad te gee oor welsynsaangeleenthede. 1

Die Black Sash het sedert die middel van die 1990’s verander van ’n organisasie wat hoofsaaklik deur vrywilligers bedryf is en met hoofsaaklik wit vroulike lede na ’n nieregeringsorganisasie met ’n nasionale direkteur en ’n raad van trustees. In 1995 het die organisasie se naam verander na Black Sash Trust. 3

Vandag fokus die organisasie hierop:

  • Hulle gee steeds aandag aan sosio-ekonomiese regte, armoede en HIV/vigs, hul toets die Grondwet en lewer kommentaar op regeringsbeleid en wetgewing.
  • Die werk van die advieskantore gaan steeds voort. 3
  • In die tyd gedurende en net ná die COVID-19 -pandemie, het die Black Sash die volgende eise aan die regering gestel:
  • Dat die COVID-toelaag verhoog word tot die broodlynbedrag totdat daar ’n permanente toelaag vir werklose mense ingestel word.
  • Dat mense van 18 tot 59 jaar wat min of geen inkomste het nie, ’n permanente toelaag van R1 335 per maand moet ontvang.
  • Dat vlugtelinge in die land en trekarbeiders ook ’n toelaag moet ontvang.
  • Dat daar gewerk moet word in die rigting van ’n basiese inkomste vir alle mense in die land. 8
  • Die organisasie verdedig steeds die regte van minderbevoorregte mense en in 2023 het die Black Sash die regering gekritiseer omdat die armoedeverligtingstoelaag van R350 nie verhoog is nie. 13

In 2017 het die Black Sash in die Grondwethof ’n hofsaak teen die South African Social Security Agency (SASSA) gewen waarvolgens die hof SASSA beveel het om voort te gaan om maatskaplike toelaes steeds deur Cash Paymaster Services te laat uitbetaal totdat ’n kontrak met ’n ander maatskappy gefinaliseer kan word.

Die Black Sash help persone met gestremdheid wat vir ’n ongeskiktheidstoelaag kwalifiseer, maar wie se aansoeke nie goedgekeur is nie, om weer aansoek te doen.

Die organisasie kyk na die geheelbeeld van maatskaplike sekuriteit en nie slegs na maatskaplike toelaes nie. Daarom gee hulle ook aandag aan dinge soos die Padongelukkefonds (POF), mediese fondse, pensioene, voeding en primêre gesondheidsorg en die manier hoe minderbevoorregte mense daardeur gehelp kan word. 9

Woordbank

beginsels Die morele beskouing of oortuiging waarvolgens ’n mens optree.
bloedvergieting Verlies aan lewe deur oorloë en moord.
borgtogfonds Wanneer beskuldigdes uit die gevangenis vrygelaat word en ’n bedrag geld betaal word vir die vrylating. So ’n persoon is dan vry totdat die hofsaak voorkom. Indien so ’n persoon in hierdie tyd weer ’n oortreding begaan of sy borgtogvoorwaardes verbreek, word die borgtog verbeur (dit word nie terugggegee nie) en die persoon word weer in hegtenis geneem.
liberaal Ten gunste van individuele vryhede en geleidelike sosiale en politieke hervorming en vooruitgang.
middelklas Deel van die samelewing tussen die hoë stand en die werkersklas.
nagwake Om in die nag by ’n siek persoon te waak en in hierdie geval, om deur die nag te waak om ’n sekere standpunt te maak.
ongeskiktheidstoelaag Wanneer ’n persoon as gevolg van ’n fisieke of ’n geestestoestand nie geskik is om iets te doen nie, om te werk nie.
ongewenste Iets wat verkieslik nie moet gebeur of daar moet wees nie.
pasifis Voorstander van vrede en teenstander van wapengeweld.
resolusie Ontbinding; ’n einde maak aan iets.
uitlaatklep Geleentheid om aan iets soos ’n gevoel uiting te gee. 12

Lees meer

Kyk hier

Die geskiedenis van die Black Sash

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Mei 2023 | Bygewerk op 8 Mei 2024