Vinnige feite

  • Luthuli het sy Zoeloe-naam Mvumbi (wat “aanhoudende reën” beteken) bo Albert John verkies. 2
  • Luthuli was die eerste mens uit Afrika (of Asië) om die Nobelprys vir Vrede te wen. 6
  • Ná sy dood het hy die Orde van Mapungubwe van die Suid-Afrikaanse regering ontvang, vir “sy uitstaande leierskapsvaardighede toe hy ʼn militante, vreedsame stryd vir menseregte gelei het, en geveg het vir ʼn nierassige, nieseksistiese, vry, regverdige en demokratiese Suid-Afrika wat aan almal wat daarin woon, behoort.” 9
  • Die taal van die Bybel en sy Christelike beginsels het ʼn groot invloed op sy politieke idees en styl gehad. 7
  • Tydens die 1948-verkiesing het Luthuli nie regtig omgegee wie wen nie – die Nasionale Party of die Verenigde Party. Hy het later erken dat “min van ons (indien enige) besef het hoe vinnig die agteruitgang [onder die NP] sou wees. 8
  • Uit respek vir hom is Luthuli tot aan die einde van sy lewe as “chief” (hoofman), aangespreek, selfs ná hy onthef is van sy pos deur die regering. 4
  • Al was sy oupa en oom ook stamhoofde van die Abasemekholweni was dit nie ʼn oorerflike posisie nie, en die stam se ouderlinge het hom demokraties verkies. 7

Albert John Mvumbi Luthuli (1898-1967) was ʼn Zoeloe-leier, onderwyser en anti-apartheidsaktivis (iemand wat probeer om sosiale of politieke verandering teweeg te bring). In 1961 het hy die eerste mens uit Afrika geword om die Nobelprys vir Vrede te wen.

Grootwordjare

Albert Luthuli was die derde seun van John Bunyan Luthuli en Mtonya Gumede. Hy is in ongeveer 1898 gebore naby Bulawayo in Rhodesië (vandag se Zimbabwe), 1 waar sy pa onder die Ndebele (soms genoem die Matebele) sendingwerk gedoen het. Sy ma het van Groutville afgekom, maar het as kind tyd in die huishouding van die Zoeloe-koning Cetshwayo grootgeword. 2

Die Luthuli-familie was deel van die Abasemakholweni, ʼn Zoeloe-stam, en hulle tuiste in Suid-Afrika was in Groutville in die Umvoti-sendingreservaat (ʼn stuk grond waarop ʼn sendingstasie gebou is) in Noord-Natal. 2 Luthuli se grootvader, Ntaba Luthuli, was die stamhoof. 3

Op die trappe van die Groutville Kerk

Luthuli se pa is oorlede toe hy ses maande oud was. Toe hy tien was, het die familie teruggekeer na Suid-Afrika. 4 Hy het eers op ʼn plaas naby Vryheid muile opgepas, voor hy in die Ohlange-instituut en toe die Metodistekollege in Edenvale op skool was. 5

Onderwyser

Ná skool het hy ʼn kursus in onderwysersopleiding voltooi. 2 Luthuli se eerste onderwyspos was by die Blaauwbosch- Intermediêre Skool, waar hy die enigste onderwyser en dus ook die hoof was. Ná twee jaar by Blaauwbosch het hy ʼn beurs gekry om by Adams-kollege verder te gaan studeer. Toe hy daar klaargemaak het, het by ʼn pos daar aanvaar. 2

By Adams was hy deel van ʼn proefneming waar swart dosente (iemand wat les gee vir naskoolse leerders) gebruik is om swart onderwysers op te lei. 3 Hy het op die ou end vir dertien jaar by Adams-kollege gewerk, en is bevorder tot inspekteur (iemand wat amptelike besoeke bring aan skole om seker te maak dinge word reg gedoen). 3

Terwyl Luthuli begin werk het, het hy begin besef dat onderwys vir wit en swart kinders nie dieselfde was nie, en hoe erg die Suid-Afrikaanse regering teen swart mense gediskrimineer het. 6 Om iets aan die saak te doen, het hy by die Natal Teachers’ Union (ook genoem die African Teachers’ Union, of die ATA) aangesluit, waarvan hy in 1933 die president geword het. 7

Stamhoof van Groutville

Terwyl hy by Adams gewerk het, het sy familie in Groutville gebly, en hy het hulle net oor naweke en vakansies gesien. 8 Dit het egter alles verander toe hy in 1936 die stamhoof van Groutville geword het. 9 Die ouderlinge van die stam het hom eintlik al in 1933 gevra om stamhoof te word, maar hy het eers “nee” gesê, omdat hy so lief was vir die onderwys, én omdat hy ʼn goeie salaris verdien het. 2 Hy het egter op die ou end besluit sy mense het hom nodig. 10 Hulle was in nood. Baie het in armoede geleef, en hulle het amper geen manier gehad om hulle sake met die regering te bespreek nie. 2

Luthuli was vir 17 jaar stamhoof van die 5 000 lede van die Abasemakholweni-stam. As stamhoof was hy onder andere die landdros (iemand wat in ʼn plaaslike hof as regter werk), die verteenwoordiger van sy mense by die regering en andersom, en die eregas by die stam se tradisionele aktiwiteite. 2

Luthuli het stadigaan betrokke geraak by politieke en kulturele organisasies wat die swart mense se belange wou bevorder. Buiten die ATA was hy betrokke by die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (SAFA), en hy was die stigter van die Zulu Language and Cultural Society. 4 Omdat die meeste mense van Groutville suikerrietboere was, het hy húlle gehelp deur die Groutville Cane Growers’ Association aan die gang te kry. 3 Hy het ook ʼn leidende rol gespeel in die stigting, en was later die president, van die Natal and Zululand African Sugarcane Association. 6

Sendingwerk

Luthuli was ʼn aktiewe Christen, ʼn lekeprediker (iemand wat preek, maar nie daarvoor opgelei is nie), en vir jare voorsitter van kerklike organisasies. 2 Hy het ook na Madras in Indië en die Verenigde State van Amerika op sendingtoere gegaan, waar hy skares toegespreek het. 3

Politieke loopbaan

As stamhoof was Luthuli lid van die Naturelle- Verteenwoordigende Raad (NVR). 3 Dit was ʼn raad wat deur die regering gestig is, wat veronderstel was om vir die regering raad te gee oor sake wat swart mense geraak het. Die NVR se lede was bekende swart mense, soos Luthuli. Die regering wou egter nie na hulle luister nie, en die lede van die raad, insluitende Luthuli, het besef dit was futiel (nutteloos). 4 Op die ou end het die raad net ʼn paar keer vergader voor dit in 1948 deur die regering afgeskaf is. 3

Luthuli het ook begin belangstel in die doen en late van die African National Congress (ANC), ʼn organisasie wat in 1912 gestig is met die doel om swart mense te verenig sodat hulle kon veg vir hul regte. 3 Luthuli het besef dat die probleme van sy stamlede ook probleme was vir ander swart Suid-Afrikaners. As hy wou help, moes hy werk vir stemreg en menseregte vir álmal. Daarom het hy in 1944 by die ANC aangesluit. 2

In 1948 het die Nasionale Party (NP) die verkiesing van lede van die Suid-Afrikaanse parlement gewen. Die NP het hul apartheidsbeleid begin implementeer, wat ingesluit het strenger paswette (ʼn dokument wat jou die reg gee om in sekere plekke in te gaan), inperking (jou vryheid te ontneem) op swart mense se reg om vryelik rond te beweeg, en wette wat sosiale aspekte van mense se lewens beheer het, soos dat wit en swart mense nie kon trou nie. 2

Leier van die ANC

Luthuli het vinnig opgang gemaak in die ANC, en teen 1951 het hy die leier van die ANC in Natal geword. 6 In 1952 het hy deelgeneem aan die Ongehoorsaamheidsveldtog (“Defiance Campaign”), ʼn landswye protes teen paswette. 2

In September 1952 het die NP-regering vir Luthuli ʼn ultimatum gegee: Hy moes bedank uit die ANC, óf sy hoofmanskap van Groutville opgee. Luthuli het geweier om te kies, en in ʼn bekende toespraak gesê: “The road to freedom is via the cross”. 4 Wat hy daarmee bedoel het, is dat die weerstand teen apartheid niegewelddadig moes wees. 7 Omdat hy nie wou kies nie, het die regering hom van sy hoofmanskap onthef (vir hom gesê hy mag dit nie langer doen nie). 2

Hierdie gebeurtenis het vir Luthuli landswyd bekend gemaak, 7 en op 16 Desember 1952 is hy as ANC-leier verkies. 2

Luthuli as leier van die ANC, 1952-1976

Luthuli se beleid as president van die ANC was gematigheid (nie baie sterk na een kant toe nie) en niegewelddadigheid. Onder hom het die ANC ʼn bloeityd (tyd met goeie vooruitgang) geniet, en lidmaatskap het toegeneem. 3

In ʼn poging om hom te keer om sy werk te doen, het die NP-regering vir Luthuli in 1952 ingeperk – hy mag nie sy distrik (Groutville) verlaat het nie, en verban – hy is verbied om publieke byeenkomste by te woon. 5 Toe dié inperking en verbanning in 1954 geëindig het, wou hy na Johannesburg reis om ʼn vergadering toe te spreek. Toe hy by die lughawe aangekom het, het die polisie sy inperking met nóg twee jaar verleng. 2

In 1955 het Luthuli gehelp om ʼn volkskongres, wat die Congress of the People genoem is, te reël vir al die organisasies wat apartheid teengestaan het. As gevolg van sy inperking kon hy dit nie self bywoon nie. 11

Kort ná die einde van sy tweede inperking was Luthuli een van die 156 aangeklaagdes in die omstrede 1956-hoogverraadsaak (“Treason Trial”). 2 Hy was vir ʼn jaar lank in die tronk voor die regering die klagtes teen hom moes terugtrek omdat hulle nie kon bewys dat hy iets verkeerd gedoen het nie. 4

Tydens sy inhegtenisname het sy stil gesag mense geïnspireer, en hy het baie steun gewen, in Suid-Afrika én oorsee. Dit was een van die redes waarom hy vir die Nobelprys genomineer (voorgestel) is. 4

Tussen Desember 1957 en Mei 1959 het Luthuli ʼn tydperk van relatiewe vryheid gehad. 4 Hy het onder andere op uitnodiging van die Black Sash deur die Wes-Kaap getoer, waar hy wit en gemengde gehore toegespreek het. Hy het gepraat oor sy visie vir ʼn land waarin wit en swart gelyk sou wees. 10 Hy het baie ondersteuners gewen, maar ook vyande gehad: By een byeenkoms is hy deur ʼn groep jong Afrikaners aangeval en van die platform afgegooi. 7

Kort ná hierdie toer, in Mei 1959, is Luthuli vir ʼn derde keer ingeperk, hierdie keer vir vyf jaar. 7

Die Sharpeville-menseslagting van 1960 het ʼn wending (skielike verandering) in die stryd teen apartheid en ook Luthuli se lewe gebring. Luthuli het mense versoek om ʼn dag van rou te hê, 11 en ook ʼn dag lange staking en pasverbrandingseremonies as protes teen die optrede van die polisie. 3 Hy het sy eie pas in die openbaar verbrand. 4 Dié staking was uiters suksesvol, en het groot druk op die regering geplaas. 10

Luthuli is vir sy optrede beboet, maar hy het ʼn opgeskorte vonnis (ʼn vonnis wat uitgestel word met die versekering dat dit in werking sal tree as jy binne ʼn sekere tyd ʼn soortgelyke misdaad begaan) gekry omdat hy siek was, en moes terugkeer na sy inperking in Groutville. 2

Die regering het ná Sharpeville ʼn noodtoestand afgekondig en die ANC verban. Enkele dae voor dié verbanning het Luthuli vir Oliver Tambo, die visepresident van die ANC, buiteland toe gestuur om te gaan steun werf vir die ANC, en te probeer om ander lande te kry om die apartheidsregering te verwerp. 11

In 1964, een dag voor sy derde verbanning sou eindig, is Luthuli se verbanning weer hernu. 11

Omdat Luthuli so baie ingeperk was, was dit soms vir hom moeilik om betrokke te wees by al die aktiwiteite van die ANC, al was hy die leier. Maar omdat hy so baie respek afgedwing het, én die Christelike waardes wat hy uitgeleef het, het hom die simbool van die ANC se stryd gemaak, en gehelp om massaondersteuning te werf. 7

Luthuli het ʼn outobiografie geskryf, Let My People Go. 8 Dit is in 1962, ten spyte van die regering se verbod, gepubliseer. Dit het veral goed in die buiteland verkoop, en Luthuli het internasionaal baie bekend geword. Só het sy naam byvoorbeeld op menseregtepetisies (geskrewe versoeke, geteken deur ʼn klomp mense, wat vra dat iets moet verander) wat aan die Verenigde Nasies voorgelê is, verskyn. 2

Nobelprys vir Vrede

In Oktober 1961 is aangekondig dat Luthuli die Nobelprys vir Vrede ontvang het vir sy niegewelddadige stryd teen apartheid. 1 Die NP-regering het natuurlik die toekenning verwerp. 3 Hulle het egter vir tien dae sy ban gelig sodat hy na Noorweë kon reis vir die oorhandiging. Sy vrou het hom vergesel. 2

In sy toespraak dáár het Luthuli gesê dat hy die prys aanvaar ten behoewe van die vredeliewende mense van Suid-Afrika en al die volke van Afrika, ongeag van ras, kleur en geloof. 3 Hy het eer gegee aan mense wat voortgegaan het met ʼn niegewelddadige stryd, ten spyte van hul swak behandeling. Hy het beklemtoon dat Suid-Afrika nog ver gehad het om te gaan voor almal vry sou wees. Hy het ook hulde gebring aan sy vrou, Nokukhanya. 3

Luthuli en die gewapende stryd

ʼn Week ná Luthuli se toespraak in Oslo (in Noorweë) het ʼn aantal ANC-leiers besluit om die beleid van niegewelddadigheid te verwerp en oor te gaan na gewapende stryd, met ander woorde die gebruik van geweld om die NP-regering omver te werp. 4 Luthuli was steeds die leier van die ANC, en hy was dus in beheer toe die besluit gemaak is. 9 Tot onlangs het historici (mense wat die geskiedenis bestudeer) gedink Luthuli was vir dié besluit verantwoordelik. Vandag is daar baie mense wat nie glo dat hy nie saamgestem het met die gebruik van geweld nie. 7

Swak gesondheid en dood

Vroeg in die 1960’s het Luthuli se gesondheid begin agteruitgaan. 3 Hy het hoë bloeddruk gehad. Sy sig, maar veral sy gehoor, het verswak. In Julie 1967, op 69-jarige ouderdom, 2 is hy deur ʼn trein getref tussen sy huis en die winkel toe hy oor die spoorbrug geloop het. Hy is dieselfde dag aan sy beserings oorlede. 3

Luthuli se begrafnis

Persoonlike lewe

Luthuli het in 1927 getrou met Nokukhanya Bhengu, die dogter van die Zoeloe-opperhoof Dhlokolo van die Ngcolosi. 5 Tussen 1929 en 1945 is daar sewe kinders uit hul huwelik gebore. 3

Evaluering

Luthuli was ʼn man van edele inbors (karakter) wat menswaardigheid hoog geag het. 3 Hy het geglo aan deursigtigheid (dat dinge duidelik en maklik verstaanbaar moet wees) en aanspreeklikheid (dat mense verantwoordelikheid vir hulle dade moet vat). 6

Hy was gekant teen haat en rassisme, en vasbeslote om te veg vir gelykheid van alle mense. 2 Hy wou in Suid-Afrika ʼn nierassige demokrasie skep, ʼn gemeenskap waar swart en wit in harmonie kan saamleef en saamwerk. 3

As leier van die ANC het hy uitstekende leierskap gebied in ʼn tyd waar die regering besig was om streng apartheidswette en inperkings te implementeer. 6

Luthuli was ʼn simbool van die samesmelting van twee kulture: die Zoeloe-kultuur van Afrika en die Christelik-demokratiese kultuur van Europa. 2

Woordbank

aanspreeklikheid Daarvoor verantwoordelik wees.
aktivis Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering teweeg te bring.
bloeityd Tydperk waarin daar groot vooruitgang is.
deursigtigheid Iets is maklik om te begryp en verstaan.
dosent Iemand wat les gee op naskoolse vlak.
futiel Nutteloos; vergeefs; wat geen kans het om te slaag nie.
historici Iemand wat die geskiedenis bestudeer.
inbors Jou karakter en goeie eienskappe.
inperking Iemand se vryheid (in ʼn mate) ontneem.
inspekteur Iemand wat ʼn amptelike besoek aan ʼn gebou of organisasie maak om seker te maak dat dinge daar reg gedoen en al die reëls nagekom word.
landdros Iemand, gewoonlik ʼn regsgeleerde (prokureur/advokaat), wat in ʼn plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee.
leek Iemand wat nie opgelei is op ʼn bepaalde gebied nie.
matig Nie baie groot of klein, baie warm of koud, baie vinnig of stadig, ens. nie.
genomineer Benoem of voorstel.
onthef Sê dat iemand iets nie langer hoef te doen nie; iemand laat gaan.
opgeskorte Iemand wat aan ʼn misdaad skuldig bevind is nie dadelik straf nie, maar sy/haar vonnis uitstel met die versekering dat dit in werking sal tree as hy/sy binne ʼn sekere tyd ʼn soortgelyke misdaad begaan.
paswette Dokument wat iemand die reg gee om in sekere plekke in te gaan.
petisies ʼn Geskrewe versoek, gewoonlik geteken deur ʼn aantal mense, wat vra dat iemand met gesag iets moet doen of verander.
verban Iemand dwing om ʼn land/plek vir goed te verlaat en op ʼn ander plek te gaan woon of om nie aan bepaalde aktiwiteite deel te neem nie. 12

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Albert Luthuli

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Albert Luthuli

Die Nobelprys in ʼn neutedop

Die storie van Albert Luthuli

Albert Luthuli se Nobelprystoespraak

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 24 Februarie 2023 | Bygewerk op 8 Mei 2024