Vinnige feite
- Frida het ʼn kort verhouding met die Sowjetleier Leon Trotsky gehad in die tyd toe hy in ballingskap was en by haar en Diego in Mexiko gewoon het. 10
- Kahlo se pa was van Duitse afkoms. Gedurende die laat 1930’s, in die lig van toenemende Nazisme in Duitsland, het Frida haar Duitse erfenis erken deur haar naam Frieda (afgelei van “Frieden”, wat “vrede” in Duits beteken) te spel. 2
- Die popsanger Madonna besit vyf van Frida Kahlo se skilderye, asook werke van verskeie ander bekende kunstenaars soos Picasso en Fernand Léger. Madonna se kunsversameling is glo sowat $100 miljoen (meer as R1,8 miljard) werd. 28
- Diego Rivera het ʼn tweelingboetie gehad wat op tweejarige ouderdom oorlede is. Rivera het glo reeds op driejarige ouderdom begin teken en verf. 29
- Kahlo en Rivera is op Mexiko se 500 peso-banknoot (dit is gelykstaande aan sowat $50 of nagenoeg R900). Rivera is op die voorkant en Kahlo op die agterkant van dié banknoot. Kahlo is ook die eerste Spaanse vrou wat op ʼn Amerikaanse posseël verskyn het. 30
- Rivera is altesaam vyf keer getroud, waarvan twee keer met Frida was. ʼn Jaar ná haar dood, is hy weer getroud. 29
- Kahlo het allerlei vreemde troeteldiere gehad, soos twee apies, Fulang Chung en Caimito de Guayabal; Bonito, ʼn papegaai wat toertjies op die tafel gedoen het; ʼn arend genaamd Gertrude; en ʼn klein bokkie genaamd Granzino. 31
- Surrealisme het eintlik as digkuns begin. André Breton, wat as een van die stigters van surrealisme beskou word, het verskeie gedigte sonder enige vorm, logika en net ʼn samevoeging van klanke en idees geskryf. Ná sy dood het die surrealistiese periode (of tydperk) tot ʼn einde gekom. 32
- Daar word altesaam 69 verskillende tale in Mexiko gepraat, wat dit een van die lande met die grootste verskeidenheid tale ter wêreld maak. Benewens Spaans word 68 inheemse tale hiér gepraat. 33
- Mexiko spog nie net met die grootste piramide (in Puebla) en die meeste taxi’s (60 000) nie, maar daar is sowat 170 museums in Mexikostad. Dit is net Londen in die Verenigde Koninkryk, met 200 museums, wat meer plekke van historiese belang as Mexikostad het. 33
- Mexikostad is op ʼn meer gebou en sink elke jaar sowat 12 cm. Dit kan natuurlik ook wees omdat Mexikaners elkeen gemiddeld 163 liter Coke per jaar drink! 33
Sy was dekades voor die eerste slimfoon sy verskyning gemaak het eintlik reeds die kleurvolle koningin van selfies. Hoe het sy dit reggekry? Die meeste van haar skilderye was selfportrette.
Met haar kenmerkende donker, aaneenlopende wenkbroue (unibrow), misterieuse pikswart oë en inheemse blomme in haar hare, was dit nie vreemd dat mense na haar gestaar het nie.
Hoewel Frida Kahlo in haar leeftyd meestal as die vrou van Mexikaanse kunstenaar Diego Rivera bekend was, pryk haar bekende selfportrette op alles van T-hemde tot kussings, magnete, sokkies, bekers en handsakke. Daar is selfs emotikons (emoji’s) deur haar geïnspireer én ʼn Barbie-pop wat soos sy lyk! 1
Tog oorskadu al die produkte met haar gesig op dikwels die besonderse kunstenaar en eiesoortige mens wat sy werklik was. Frida Kahlo was ʼn individualis wat vandag nog deur vroue wêreldwyd as ʼn ikoon beskou word. Madonna en Beyoncé het al soos sy aangetrek, Salma Hayek is in 2003 vir ʼn Oscar-toekenning benoem vir die rolprent Frida, en die voormalige Britse premier Theresa May spog met ʼn armband met haar gesig op. 1
Net soos die passie en pyn in haar dikwels donker portrette, lees Frida Kahlo se lewensverhaal: van polio as kind tot ʼn baie ernstige ongeluk wat byna haar lewe geëis het, ʼn stormagtige huwelik, verskeie miskrame en depressie. [Lees meer oor polio.]
Kinderjare
Magdalena Carmen Frida Kahlo y Calderón, soos haar volle name op haar geboortesertifikaat verskyn, is op 6 Julie 1907 in Coyoacán, ʼn klein dorpie aan die buitewyke van Mexikostad in Mexiko, in haar ouerhuis gebore. Dié bekende huis, wat vandag ʼn museum is, is deur haar ouers gebou en heet “La Casa Azul” (wat “Die Blou Huis” beteken). 2 [Lees meer oor museums.]
Frida se pa, Carl Wilhelm Kahlo (1872-1941), is in Pforzheim in Duitsland gebore. Wilhelm was die seun van ʼn skilder en goudsmid en het in 1891 as ʼn negentienjarige na Mexiko geseil om te sien watter geleenthede dié land kon bied. Daar aangeland het hy sy naam na Guillermo, die Spaanse weergawe van Wilhelm, verander. 2
Frida se ma, Matilde Calderón y González, was van Mexikaanse en Spaanse afkoms. Frida se ouers is kort ná die dood van Guillermo se eerste vrou, Maria, getroud. Hoewel hulle nie ʼn baie gelukkige huwelik gehad het nie, het Guillermo en Matilde vier dogters gehad, waarvan Frida die derde was. Frida het een keer opgemerk dat sy in ʼn wêreld omring deur vroue grootgeword het, tog het sy en haar pa vir die grootste deel van haar lewe ʼn hegte band (goeie verhouding) gehad. 3
Frida se bekendste suster was waarskynlik die jongste, Cristina, wat elf maande ná Frida in 1908 gebore is. Sy het baie vir Frida en Diego, Frida se man, geposeer. Hoewel Cristina getroud was en twee kinders gehad het, is sy later geskei en het by Frida en Diego ingetrek. Dit is gedurende hierdie tyd dat sy ʼn buite-egtelike verhouding met Diego aangeknoop het. 3
Op sesjarige ouderdom (in 1913) het Frida polio gekry, ʼn siekte wat veral deur kinders opgedoen word en dikwels tot verlamming lei. In Frida se geval het dit haar regterbeen beïnvloed, en sy moes vir nege maande lank in die bed bly. Haar dokters het haar aangeraai om soveel moontlik oefening te doen om haar been sterker te maak. 4
Guillermo, ʼn fotograaf van beroep wat aan epilepsie (ʼn soort breinsiekte wat met aanvalle/spiertrekkings gepaardgaan) gely het, het sy dogter se lewenslange stryd met haar gesondheid verstaan. 5 Danksy sy aanmoediging het Frida ywerig begin deelneem aan sokker, boks en stoei, en sy was ook ʼn uitstekende swemmer. Frida was ook mal oor boomklim en roei. 4
Ten spyte van al die fisieke oefening, het haar regterbeen swak en maer gebly. Met opgeboude skoene en drie tot vier pare kouse wat sy oor mekaar aangetrek het, het Frida probeer om haar linker- en regterbeen ewe groot én lank te laat lyk. Hoewel talle haar deursettingsvermoë te midde van haar gebrek bewonder het, het baie kinders haar gespot. As volwassene het sy eers broeke en later lang, uitspattige rokke gedra om haar gebrek weg te steek. 4
Van grusame slag tot skilder
Anders as baie kunstenaars het Kahlo nie van jongs af begin skilder nie. Hoewel haar pa graag in sy vrye tyd geskilder het, het sy nie veel in kuns belanggestel nie. Sy het haar skoolloopbaan voltooi aan die Colegio Alemán, Mexikostad se Duitse skool (sowat ʼn uur se ry van haar ouerhuis af), en in 1922 word sy gekeur om aan die Escuela Nacional Preparatoria (of die Nasionale Voorbereidingskool) in dié stad te studeer. Dit was ʼn uitmuntende prestasie, want daar was slegs 35 vroue uit ʼn totaal van 2 000 studente! Sy het natuurwetenskappe gestudeer, met die uiteindelike droom om ʼn mediese dokter te word. 6 Sy het gou bekend geword vir haar uitgesprokenheid en veggees.
Die gebeurtenis wat Kahlo se lewe vir altyd verander en indirek tot haar kunsloopbaan gelei het, het op 17 September 1925 plaasgevind toe sy en haar vriend Alejandro Gomez Arias in ʼn reuseongeluk was. Die bus waarin hulle huis toe gery het, het met ʼn trem gebots. Talle mense is dood, en Kahlo het ernstige beserings opgedoen. 6
Met die ongeluk het ʼn lang metaalstaaf (ʼn paal of handreëling) Kahlo se middellyf deurboor. Toe ʼn omstander die paal probeer verwyder, het sy glo só hard geskreeu dat die mense nie die Rooikruis-ambulans se sirene kon hoor nie. 7
Aan die begin was dit vir die dokters net belangrik om haar aan die lewe te hou. Dit is eers later dat hulle besef het hoe ernstig haar beserings werklik was. Sy het onder meer haar sleutelbeen en rug gebreek. Haar regterbeen het verskeie frakture (breuke) opgedoen, en haar baarmoeder en buik (maag) is deur die stuk yster beseer. 8
Uiteindelik sou Kahlo meer as 30 operasies ondergaan om (soveel moontlik) van haar beserings te herstel. Ná weke in die Rooikruis-hospitaal in Mexikostad is sy ontslaan om by haar ouerhuis aan te sterk. Sy het gips oor bykans haar hele lyf gehad om haar rug te ondersteun, en die bene in haar lyf kans te gee om weer vas te groei. Hoewel hierdie rustyd baie belangrik vir genesing was, het die eindelose lang dae in die bed haar rusteloos gemaak. 8
Om die tyd om te kry, het Kahlo begin skilder. Haar siening (beskouing) van die lewe én kuns het in dié tyd drasties verander. Haar ouers het haar aangemoedig deur ʼn spesiale esel te maak wat klein genoeg was dat sy in die bed kon skilder en het ook vir haar verf en kwaste gegee. ʼn Spieël bo haar bed het haar gehelp om die selfportrette te begin skilder wat uiteindelik haar kunsrepertorium (as ’n mens al haar haar werk langs mekaar in ’n galery sou uitstal of ’n lys daarvan saamstel, sou die meeste daarvan selfportrette wees) sou oorheers. 8
Van haar vroegste werk sluit in Selfportret in ʼn fluweelrok (1926), Portret van Miguel N. Lira (1927), Portret van Alicia Galant (1927) en Portret van my suster Cristina (1928). Met hul gedempte kleure en grootliks eenkleurige agtergronde vertoon hierdie werke die Europese invloed op Mexikaanse kuns. Dit sou egter gou verander. 6
Ontmoeting met Diego Rivera
Teen 1927 was Kahlo gesond genoeg om die huis te verlaat. Sy word ʼn lid van die Mexikaanse Kommunistiese Party, waar sy tydens ʼn partytjie in 1928 aan die skilder Diego Rivera voorgestel word. 9
Hoewel hy dit dalk nie geweet het nie, was dit nie die eerste keer dat Kahlo vir Rivera gesien het nie. Sy het hom reeds as student dopgehou terwyl hy ʼn muurskildery getiteld Die skepping (1922) geverf het. Sy het toe reeds aan ʼn vriend vertel dat sy eendag met Rivera sou trou. 10
Kort ná hul ontmoeting in 1928 het Kahlo vir Rivera gevra om haar kuns te bekyk en te sê of sy goed genoeg was om ʼn loopbaan as ʼn kunstenaar te volg. Hy was baie beïndruk met die eerlikheid en oorspronklikheid van haar werk. Die twee kunstenaars se vriendskap het later in ʼn romantiese verhouding ontwikkel. Ten spyte van ʼn ouderdomsverskil van 21 jaar (sy was 22 en hy 43 jaar oud), die feit dat Rivera reeds twee keer getroud was, en Kahlo se ma se beswaar teen die huwelik, trou hulle in 1929. 9
Matilde Kahlo het die Rivera-egpaar die olifant en die duif genoem as gevolg van hul verskil in liggaamsbou. (Rivera was baie groter as die tingerige Kahlo gebou.) Guillermo, aan die ander kant, het sy dogter se keuse goedgekeur en was net te dankbaar dat Rivera ryk genoeg was om vir Kahlo se mediese uitgawes te betaal. Die paartjie verhuis na Cuernavaca, waar Kahlo haar tyd ten volle aan haar skilderwerk begin toewy het. 9
Ná haar troue met Rivera het sy begin om haar kleredrag en kunsstyl (die styl waarin ʼn kunstenaar teken of verf) te verander. Sy het begin om tradisionele Mexikaanse klere te dra. Die tradisionele Tehuana-drag het bestaan uit ʼn blomkroon of -krans, ʼn los bloes (hemp), goue juwele en ʼn lang romp. Mexikaanse volkskuns (folk art) het later sinoniem met Kahlo geword. 11
Sy skilder een van haar bekendste vroeë werke, Frida en Diego Rivera, in 1931 terwyl sy saam met Rivera deur die Verenigde State van Amerika (VSA) reis, en waartydens hy ʼn paar opdragwerke (spesiale kunswerke vir spesifieke kliënte) in verskeie stede moet doen. Gedurende hierdie tyd eindig ʼn paar swangerskappe prematuur (wanneer ʼn babatjie te vroeg gebore word en sterf). Ná ʼn miskraam waartydens sy nóg ʼn babatjie verloor en die dood van haar ma, skilder Kahlo ʼn paar skilderye soos My geboorte (1932) en Henry Ford-hospitaal (1932) waarin sy haar pyn en seer roerend uitbeeld. 11
Kahlo en Rivera verhuis in 1933 terug na Mexiko waar hulle in twee verskillende huise woon wat met ʼn loopbrug aan mekaar verbind was. Dié unieke woning was ʼn gewilde kuierplek vir talle kunstenaars en politieke aktiviste. 11
In 1938 hou Frida haar eerste solouitstalling (wanneer net een kunstenaar se werk in ʼn galery uitgestal word) in New York in die VSA. Dit was ʼn groot sukses.
In 1939 reis Kahlo na Parys in Frankryk waar die bekende Louvre-galery een van haar werke (Die Raam) koop. Dit was ʼn baie groot prestasie omdat Kahlo die eerste moderne Mexikaanse kunstenaar was wie se werk in die Louvre uitgestal is. 11
Ná Rivera én Kahlo verskeie buite-egtelike verhoudings gehad het, besluit die egpaar in 1939 om te skei. In daardie jaar skilder Kahlo een van haar bekendste werke, genaamd Die twee Fridas. Op ʼn groot doek (materiaal waarop geskilder word) van 1,74 x 1,73 m beeld sy twee identiese figure wat soos sy lyk, uit. Die “Frida” aan die linkerkant het ʼn Europese trourok aan, terwyl die “Frida” aan die regterkant tradisionele Mexikaanse klere dra. Laasgenoemde was blykbaar die “Frida” waarvan Rivera gehou het. 11
In 1940 trou die paartjie vir ʼn tweede keer en gaan woon in Frida se ouerhuis, La Casa Azul, in Coyoacán. 11
Hoewel sy reeds in 1928 vir kinders begin klasgee het, word sy eers in 1942 formeel as onderwyser by La Esmeralda, ʼn skool vir skilderkuns en beeldhouwerk, aangestel. Sy het vir ʼn dekade daar gewerk – in die eerste drie jaar altesaam twaalf uur per dag, drie dae per week. Volgens haar leerders het haar leefwyse en die manier waarop sy na die wêreld, mense en kuns gekyk het, ʼn groter invloed op hulle gehad as haar eie kuns(styl). Sy het haar leerders selfs deur ʼn mikroskoop na organismes, plante en diere laat kyk om ʼn dieper waardering en insig te ontwikkel. Sy het haar leerlinge soos familie behandel en hul kreatiwiteit tot met haar dood in 1954 gekoester en aangemoedig. 12
Haar gesondheid verswak
Kahlo het ʼn ingewikkelde operasie ondergaan om haar ruggraat reguit te probeer maak, maar dit het misluk, en van 1950 af moes sy dikwels van ʼn rolstoel gebruik maak. Tydens haar eerste en enigste solouitstalling in Mexiko in 1953, word Kahlo per ambulans na die openingsgeleentheid by die Lola Alvarez Bravo-galery vervoer. Haar hemelbed is spesiaal met ʼn vragmotor vervoer en in die middel van die galery geplaas sodat sy, in gemak (ten volle gegrimeer en in tipiese Kahlo-styl geklee), die geleentheid kon geniet. 9
Oor die jare het Kahlo gangreen opgedoen en twee tone aan haar regtervoet verloor. 13 Gangreen is wanneer ʼn deel van jou liggaam sterf. Dit gebeur wanneer jou weefsel nie genoeg bloed ontvang nie of as gevolg van ʼn ernstige bakteriële infeksie. In erge gevalle, soos in Kahlo sʼn, moet liggaamsdele soos tone of bene geamputeer word. 14
In 1954 is haar been onder die regterknie geamputeer. Sy was egter nie tevrede met die kunsbeen wat sy gekry het nie en het haar eie een laat maak. Weer eens, in tipiese Kahlo-styl, het dié kunsbeen met ʼn rooi stewel, wat met drake en klokkies versier is, gespog! 15
Hoewel Frida in die openbaar grappies daaroor gemaak het, was die amputasie vir haar baie erg. Sy skryf in dié tyd in haar dagboek: “Ek is disintegrasie” (“I am disintegration” oftewel “Ek val uitmekaar”). Dis asof sy hierdie keer net nie die krag soos voorheen gehad het om haar mediese probleme te bowe te kom nie. Sy het al hoe meer depressief (ʼn toestand waartydens ʼn persoon voortdurend hartseer voel) geword, was al meer van Diego afhanklik en het haar toevlug tot alkohol en medisyne geneem om beter te probeer voel.
Kahlo het vir ʼn hele jaar lank nie geverf nie. Toe sy uiteindelik weer haar kwaste optel, was haar skilderye eenvoudig net nie so goed soos haar vorige werk nie. 13
Dood en begrafnis
Vroeg in Julie 1954 het Frida haar laaste openbare (publieke) verskyning gemaak toe sy ʼn byeenkoms van die Kommunistiese Party bygewoon het. Nadat sy vir ure in die reën gesit het, het sy longontsteking opgedoen. Oor die volgende paar dae het haar toestand verswak en uit haar dagboekinskrywings is dit duidelik dat sy besef het haar einde (dood) is naby. 13
Frida Kahlo is op 13 Julie 1954, presies ʼn week ná haar 47ste verjaarsdag, oorlede. Hoewel daar bevind is dat sy aan ʼn longverwante siekte gesterf het, was daar baie spekulasie (stories) dat sy selfdood gepleeg het. Haar laaste skildery was ʼn stillewe van waatlemoene, met die woorde Viva la vida, wat “Lank leef die lewe” beteken. 13
Frida se begrafnis is by die Paleis vir Beeldende Kuns (Palace of Fine Arts) in Mexikostad gehou, ʼn plek wat haar na aan die hart gelê het. Baie van Mexiko se belangrikste kultuuraktiwiteite, soos dansvertonings en kunsuitstallings, is hier gehou. Nét baie bekende en belangrike kunstenaars se begrafnisse is hier gehou. Die voormalige Mexikaanse president Lázaro Cárdenas, van haar kunsstudente en van Mexiko se vernaamste kunstenaars was deel van die 600 begrafnisgangers. 16
Net so kunstig en kleurryk soos haar lewe was, net so kontroversieel was haar begrafnis. Haar kis was oop, met ander woorde ʼn mens kon haar gesig sien, en sy was geklee in een van haar kenmerkende uitrustings en gunstelingjuwele. Een van haar voormalige studente het vir ʼn opskudding gesorg toe hy die kommunistiese vlag met die hamer en sekel oor haar kis gegooi het. Rivera het egter geweier dat enigiemand die vlag verwyder. 16
Ná haar verassing het Diego ewe dramaties haar as in ʼn rooi serp van sy bymekaar gemaak. Vandag kan die vaas met Frida Kahlo se as in haar geboortehuis besigtig word. Dié huis is ʼn jaar ná Rivera se dood in 1958 in ʼn museum omskep. 16
Die dagboek van Frida Kahlo, wat die jare 1944-1954 dek, en Die briewe van Frida Kahlo, is albei in 1995 gepubliseer. 11
Invloed op Kahlo se kuns
ʼn Kunstenaar word dikwels op ʼn onbewustelike manier deur ander kunstenaars, gebeure of kunswerke beïnvloed. Die volgende dinge het ʼn invloed op Kahlo se werk gehad:
Fotografie
Sy het haar fotograaf-pa dikwels as kind in sy ateljee (ʼn plek waar kuns geskep of foto’s geneem word) gehelp. Hier het sy geleer om deur ʼn kameralens te loer en die detail van mense se gesigte, uitdrukkings en gebare bestudeer – iets wat haar later baie in haar selfportrette en skilderye van ander gehelp het. 17
Renaissance en Europa
Kahlo se vroeë werke herinner baie aan die kuns van Renaissance-meesters soos Sandro Botticelli en Agnolo Bronzino. Die invloed van (ander) Europese kunstenaars is volgens kunskenners ook tekenend (kenmerkend) van haar werk. 18
Diego Rivera
Haar stormagtige huwelik(e) met Diego Rivera, die bekendste Mexikaanse kunstenaar van daardie tyd, het waarskynlik die heel grootste invloed op haar groei en ontwikkeling as ʼn kunstenaar gehad. Terwyl Rivera se muurskilderye baie groot en publiek (in ʼn openbare ruimte) was, was Kahlo se kunswerke weer kleiner en meer persoonlik. ʼn Mens kan ook sê Rivera se werk was meer uiterlik (of oor sosiale temas), terwyl Kahlo sʼn op die innerlike (of emosies) gefokus het. 19
Mexikaanse erfenis
Kahlo se Mexikaanse erfenis en kultuur was ʼn baie belangrike inspirasie vir haar werk. Sy was nie net bekend vir die tradisionele klere en blomme wat sy in haar hare gedra het nie, maar dit was ook in haar helder en simboliese kuns te sien. Sy sou vere, musiek, blomme en dans dikwels in haar skilderye uitbeeld. Dit het ook diere soos papegaaie, ape, ʼn haarlose hond en bokke (waarvan baie haar regte troeteldiere was!) uitgebeeld. 20
Persoonlike lewe
Haar persoonlike lewe is nóg ʼn tema wat gereeld in haar ongeveer 200 skilderye, sketse en tekeninge voorkom. Van haar 143 skilderye was 55 selfportrette waarin sy haar fisieke en emosionele pyn uitgebeeld het. 10 Haar kuns was soos ʼn biografie (ʼn verhaal wat iemand oor sy/haar eie lewe skryf) waarmee sy haar emosies, haar liefde, haat, skuldgevoelens, pyn en haar familie op doek verewig het. 21
Nalatenskap
Frida Kahlo se nalatenskap is merkwaardig. 21
Haar grootste bydraes tot die kunswêreld sluit onder meer die volgende in:
- Sy was in staat om baie van die emosies wat ʼn mens ervaar, in een skildery vas te vang.
- Sy word as een van die belangrikste vroulike kunstenaars beskou omdat sy deur haar kuns die gevoelens wat vroue tydens byvoorbeeld ʼn miskraam ervaar, akkuraat kon uitbeeld.
- Haar gebruik van tradisionele Mexikaanse volkskuns het inheemse kuns bevorder. 18
- Kahlo se werk was só uniek dat dit nie tot een spesifieke kunsbeweging soos realisme of surrealisme behoort nie. 18 Hoewel haar werk baie ooreenkomste toon met surrealisme – soos die kombinasie van alledaagse objekte (voorwerpe) met vreemde kreature – het sy nie saamgestem dat realiteit en drome gelyktydig in haar kuns voorkom nie. Vir haar was die situasies wat sy uitgebeeld het, háár realiteit. 22 Haar werk word ook geklassifiseer as magies-realisties. Die verskil tussen surrealisme en magiese realisme is dat magiese realisme wel magiese elemente (toweragtige gebeure of kreature) bevat wat in die regte wêreld plaasvind. Al is dit magies (toweragtig), is dit wel logies. Surrealisme bevat ook magiese elemente, maar in plaas van ʼn regte wêreld met logika, vind dit in die onderbewuste of ʼn droomwêreld plaas. 23
Fridamania
Terwyl sy nog geleef het, was sy meer bekend as “die vrou van Diego Rivera” as ʼn kunstenaar in eie reg. Dit is eers jare ná haar dood dat die wêreld werklik van haar begin kennis neem het. In 2016 is haar skildery Twee naaktes in ʼn woud vir ʼn rekordbedrag van $8 miljoen (nagenoeg R145 miljoen) verkoop. 24
Frida Kahlo se 1949-selfportret Diego en ek het in 2021 die duurste werk deur ʼn Latyns-Amerikaanse kunstenaar geword wat nog ooit op ʼn veiling verkoop is. Die skildery het vir $34,9 miljoen (sowat R650 miljoen) by die veilingshuis Sotheby’s onder die hamer gekom. Kunskenners meen dat, vanweë die beperkte aanbod van Kahlo se kunswerke, pryse sal aanhou om die hoogte in te skiet. 25
Haar lewensverhaal is oor die jare in verskeie boeke en rolprente uitgebeeld. Dit is waarskynlik haar hartseer en historiese verhaal wat die kultus (aanhangers van ʼn persoon) genaamd Fridamania laat ontstaan het. 26 ʼn Kultus wat enersyds ʼn bedryf van Frida Kahlo-produkte aan die gang hou, maar andersyds ongelukkig haar werklike waarde as ʼn kunstenaar oorskadu. 27
Woordbank
aktiviste | Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering teweeg te bring. |
amputeer | Die verwydering/afsit van ʼn liggaamsdeel, byvoorbeeld ʼn arm of ʼn been, tydens ʼn operasie. |
ateljee | Werksplek van ʼn kunstenaar/fotograaf of waar musiek opgeneem word. |
baarmoeder | Orgaan waarin ʼn baba of die kleintjie(s) van ʼn soogdier leef tot met hul geboorte; uterus. |
biografie | ʼn Beskrywing van iemand se lewe in boek- of kunsvorm; lewensbeskrywing. |
buite-egtelike | Buite die huwelik (soos ʼn verhouding tussen twee persone waarvan die een of albei met iemand anders getroud is). |
depressie | Terneergedruktheid van die gemoed; ernstige bedruktheid/neerslagtigheid wat iemand laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie. |
detail | Fyn besonderhede; afwerking; versiering. |
deursettingsvermoë | Vermoë om vol te hou met iets; deur te druk totdat iets uitgevoer/afgehandel is. |
digkuns | Kuns om gedigte te skep; poësie; verskuns. |
doek | Linne/seil waarop geskilder word. |
eiesoortige | Met sy/haar eie besondere aard/kenmerke. |
epilepsie | Siekte wat die brein aantas en kan veroorsaak dat lyers van tyd tot tyd, vir ʼn kort rukkie, hul bewussyn verloor en/of nie beheer oor hul bewegings het nie. |
esel | Raam op drie bene of ʼn staander, waarop die doek of paneel van ʼn skilder opgestel word. |
frakture | ʼn Breuk in ʼn been. |
galery | ʼn Gebou/saal waarin dinge, veral kunswerke, vertoon word. |
gangreen | Potensieel lewensgevaarlike toestand wat ontstaan wanneer weefsel afsterf. |
gebrek | Tekortkoming; leemte; fout; onvolkomenheid. |
gips | Poeier (delfstof) wat met water gemeng word en kliphard word; deur medici gebruik om byvoorbeeld frakture te spalk of liggaamsdele te beskerm of in plek te hou. |
goudsmid | Ambagsman wat goud tot voorwerpe verwerk. |
hemelbed | Bed met ʼn kap of raamwerk en ʼn hout- of staalpilaar in elke hoek. |
ikoon | Iemand/iets wat merkwaardig/besonders/navolgenswaardig is; beroemde persoon wat deur baie mense bewonder word. |
individualis | Iemand wat selfstandig op sy/haar eie dink en handel, en nie deur die massa beïnvloed word nie. |
infeksie | Binnedring van siektekieme, of organismes soos bakterieë, wat siekte veroorsaak; aansteking; besmetting. |
inheemse | Wat in ʼn land/gebied tuishoort, wat van nature daarin voorkom of daartoe beperk is. |
kontroversieel | Wat aanleiding (kan) gee tot twis/onenigheid; omstrede. |
kreature | Snaakse persoon/skepsel. |
kultus | Oordrewe bewondering/verering van ʼn persoon/saak. |
kunsbeen | Kunsmatige ledemaat, gewoonlik uit liggewig veselglas. Vroeër jare uit materiaal soos hout gemaak. |
longontsteking | Ontsteking in die longe of lugpyptakke. |
magies | Wat na bewering bonatuurlike krag besit; wat glo met/deur toorkrag werk. |
miskrame | Te vroeë bevalling waarby die vrug/fetus dood is; ontydige geboorte. |
museum | Gebou waarin voorwerpe van kuns of wetenskap versamel en uitgestal word. |
Nazisme | Duitse nasionaal-sosialis, veral ʼn volgeling van Hitler voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog; persoon met ekstremistiese sienings en ʼn onbuigsame houding wat hom/haar op brutale wyse laat geld. |
organismes | Wese wat organe besit; geheel van saamwerkende liggame/onderdele. |
polio | Tipe siekte van die grysstof in die rugmurg wat verlamming van bene en arms veroorsaak; kinderverlamming. |
geposeer | ʼn Houding inneem vir die neem van ʼn foto of om geskilder te word. |
prematuur | Wat vroeër is as wat normaal of gewens is; voortydig; té vroeg. |
realisme | Kunsrigting wat daarna streef om die werklikheid met al sy besonderhede onopgesmuk weer te gee, sonder enige idealisering of verwringing; wat op feite fokus. |
Renaissance | Herlewing van die kuns en letterkunde in Europa onder invloed van hernieude studie van die klassieke oudheid, omstreeks 1450 in Italië begin; neoklassieke kunsstyl van hierdie tydperk. Beteken “wedergeboorte”. |
kunsrepertorium | Register; indeks; katalogus. |
selfportrette | ʼn Portret (skildery) deur ʼn skilder van hom-/haarself. |
sleutelbeen | Enigeen van twee lang, dun, gekromde bene wat die voorste gedeelte van die skouergordel uitmaak; wat die skouerblad met die borsbeen verbind; skouerbeen; klavikel. |
solouitstalling | Alleenuitstalling; uitstalling deur ʼn enkele kunstenaar, byvoorbeeld in ʼn galery. |
spekulasie | Beskouing wat op veronderstellings berus, nie feitlik bewysbaar is nie. |
stormagtige | Onstuimig; kragtig. |
surrealisme | Kunsrigting, omstreeks 1924 ontstaan, waarby kunstenaars deur onnatuurlike naasmekaarstellings en verbindings, sonder kontrole van die rede of morele of estetiese oorwegings, verbeeldingsvlugte en alles wat uit die onderbewuste by hulle opkom, fantasties en onsamehangend vergestalt/uitbeeld. |
tingerige | Klein/fyn van bou. |
trem | Ligte soort passasierstreintjie wat op spore in die strate van ʼn stad loop. |
uitgesprokenheid | Reguit; sonder om jou gevoelens te verberg. |
uitspattige | Oordadig; buitensporig. |
vaas | Blompot/kruik; meestal een wat sierlik of duur is, met ʼn vernoude nek. |
veggees | Instelling/gemotiveerdheid om te veg. |
veiling | Openbare verkoping aan die persoon wat die hoogste bod maak; vandisie; vendusie. |
verassing | Tot as verbrand, veral die liggaam van iemand wat gesterf het. |
volkskuns | Kuns wat onder die gewone mense self ontstaan en deur hulle gewaardeer word, in teenstelling met kuns met ʼn suiwer estetiese of akademiese inslag. 34 |
Lees dié artikels om meer te leer
- ʼn Groot versameling van haar werk
- Kahlo het in November 2012 – 60 jaar ná haar dood – op die voorblad van die Mexikaanse uitgawe van die modetydskrif Vogue verskyn
- Hoe goed ken jy kunstenaars en hul werk? Toets jou kennis!
- ʼn Tydlyn van Frida se lewe
- Wat sê jou gunstelingkleure van jou
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Frida se lewensverhaal
Die enigste opname van Frida Kahlo se stem
Seldsame beeldmateriaal van Frida en Diego
Frida Kahlo se begrafnis
ʼn Voorbeeld van Mexikaanse volkskuns
ʼn Toer van haar geboortehuis én klerekas
Daar is selfs ʼn opera oor Frida se lewe geskryf