Vinnige feite

  • ’n Barbie-pop het in 2023 altesaam R5 miljoen op ’n veiling behaal.
  • Die Museum van Dekoratiewe Kunste by die Louvre in Parys, Frankryk het in 2016 ’n uitstalling van meer as 700 Barbie-poppe gehou.
  • Die supermodel Twiggy was in 1967 die eerste bekende wat ’n Barbie gekry het wat soos sy lyk. Talle bekendes het nou al Barbies wat soos hulle lyk.
  • Barbie het haar eie loopplankvertoning in 2009 by die New York Mercedes-Benz-modeweek gehad. Dit was ter ere van Barbie se 50ste verjaardag en oorspronklike skeppings van 50 ontwerpers is vertoon.
  • Mattel het in 2012 ’n pop sonder hare bekendgestel om jong meisies met kanker te help. Die pop is Ella genoem. Daar is slegs ’n beperkte aantal gemaak en hulle is na hospitale gestuur. Mattel het in 2014 nog Ella-poppe gemaak.
  • Mattel het in 2016 die reeks Barbie Fashionistas bekendgestel. Die reeks het vier liggaamstipes, sewe velskakerings, 22 oogkleure en 24 haarstyle.
  • Mattel het in 2018 ’n reeks genaamd “Inspirerende Vroue” bekendgestel. Vroue soos Amelia Earhart en Frida Kahlo is daardeur vereer.
  • Barbie se amptelike verjaardag is 9 Maart 1959. Dit was die dag dat Barbie aan die wêreld bekendgestel is. Daar is in die eerste jaar 300 000 poppe verkoop. Die eerste Barbie-pop is vir slegs $3 verkoop, maar kan vandag meer as $25 000 (bykans R500 000) werd wees. 5
  • Mattel het deur die jare groot veranderings aan Barbie aangebring. Daar was byvoorbeeld in 2017 ’n Barbie wat ’n hidjab (Moslemvroue se hoofbedekking) gedra het. Daar is in 2020 ook poppe met ’n prostetiese been gemaak, een wat ’n rolstoel gebruik en een wat ’n gehoorstuk dra.
  • Die Barbie waarvan daar die meeste ter wêreld verkoop is, is die Totally Hair Barbie. Dié pop met lang hare wat tot by haar tone gekom het, is in 1992 bekendgestel en meer as 10 miljoen van dié poppe is verkoop.
  • Die man wat aan die begindae van Barbie aangestel is om haar te help maak, is ’n ingenieur wat missielstelsels vir die Amerikaanse weermag ontwerp het! Jack Ryan het die hoof van navorsing en ontwikkeling by Mattel geword en het ook die bekende Hot Wheels ontwerp.
  • Die musiekgroep Aqua het in 1997 ’n treffer met die liedjie “Barbie Girl” gehad.
  • Die eerste Barbie-pop het ’n swart-en-wit-swembroek gedra.
  • Barbie het ’n Britse niggie. Francie Fairchild is van 1966 tot 1976 verkoop en weer van 2011 af.
  • Barbie-poppe word in 150 lande verkoop en daar is produkte in meer as 50 kategorieë, soos kos, fiksheid, en klere. 6
  • Bettina Dorfmann van Duitsland besit meer as 15 000 Barbie-poppe en spog met die grootste versameling ter wêreld.
  • Barbie is ’n modebewuste dame en haar klerestyl is ook op haar eie Instagram-profiel beskikbaar by @barbiestyle.
  • Barbie se eerste Dreamhouse was van pienk karton gemaak en is in 1962 bekendgestel. Daar was sedertdien baie weergawes wat omtrent soos paleise lyk. 6

Sy word nie ‘n dag ouer nie, is wêreldwyd gewild en was al op miljoene kinders se Kerslysies. Welkom in die wonderlike wêreld van Barbie, ’n pop wat wêreldwyd bekend en geliefd is. Kan jy glo dat daar elke sekonde drie Barbie-poppe in die wêreld verkoop word? 1

Barbie se volle name is eintlik Barbara Millicent Roberts. Die 29 cm-plastiekpop is op 9 Maart 1959 deur Mattel Inc., ’n Amerikaanse speelgoedmaatskappy van Kalifornië in die Verenigde State van Amerika (VSA), bekendgestel. Mattel is deur die paartjie Elliot en Ruth Handler begin en Barbie was Ruth se geesteskind.

Sy het op ’n dag gesien hoe haar dogter met papierpoppe speel en besef dat daar ’n leemte in die mark is vir ’n pop wat soos ’n volwassene lyk. Barbie se voorkoms is op die Duitse Bild Lilli-pop geskoei en die Duitsers wat daardie pop gemaak het, het Mattel daaroor hof toe gesleep. Die saak is later buite die hof geskik en Mattel het in 1964 die patent en kopiereg vir hul ikoniese pop bekom.

Mattel het van die begin af ’n goeie bemarkingsveldtog gehad deur direk aan kinders via televisie te adverteer. Mattel het vanaf 1955 Walt Disney se Mickey Mouse Club geborg en só het hulle die eerste speelgoedonderneming geword wat advertensies aan kinders uitgesaai het. 2

Barbie se familie en vriende

Barbie het darem ook deur die jare familielede en vriende bygekry. Die eerste een wat hy haar aangesluit het, was natuurlik haar kêrel, Ken. Mattel wou eers nie ’n Ken-pop maak nie omdat hulle Barbie as ’n jong suksesvolle vrou sonder kind of kraai wou uitbeeld. Ken het egter in 1961 op die toneel verskyn en was van meet af aan baie gewild.

Die Handlers (Mattel se eienaars) se kinders se name was Barbara en Ken, en dít was die inspirasie vir die oorspronklike twee poppe se name. Barbie het in 1963 ’n beste vriendin, Midge, gekry en in 1964 het haar kleinsus, Skipper, ook by die geselskap aangesluit. Barbie het in totaal sewe sibbe: Skipper, die tweeling Todd en Tutti, Stacie, Kelly wat Chelsea geword het, en Krissy. 3 Só het daar nog poppe deur die jare bygekom en teen 1968 het Barbie nie meer slegs wit vriende gehad nie, maar ook bruin en swart vriende.

Die eerste swart Barbie is egter eers in 1980 bekendgestel en net daarna het ’n Latyns-Amerikaanse Barbie ook by hulle aangesluit. 2

Liggaamsbeeld

Barbie se voorkoms is deur die jare skerp gekritiseer en daar word gesê dat dit ’n negatiewe beeld vir jong meisies voorhou, want almal lyk nie soos Barbie nie!

Finse navorsers het byvoorbeeld in 1994 bevind dat as Barbie ’n regte vrou was, sy hopeloos te min liggaamsvet sou gehad het om normaal te funksioneer. Haar nek sou nie eens haar kop kon regop hou nie en haar dun enkels en voete sou dit onmoontlik gemaak het om te loop!

Mattel het Barbie se lyf egter al ’n paar keer verander en in 2016 drie nuwe liggaamstipes bekendgestel: “fyn en klein”, “lank” en “’n figuur met rondings”. 2

Barbie werk haar oor ’n mik

Barbie het wel al pluimpies gekry omdat sy eintlik ver voor haar tyd was. In die jare vyftig was vroue se rolle dikwels tot die huis beperk. Daar was ’n gevoel dat vroue by die huis moes bly en kinders grootmaak, terwyl die mans gaan werk het. Barbie het egter al talle “beroepe” beoefen en is nog nooit as ’n ma voorgehou nie. Selfs toe Mattel klein babapoppies verkoop het, is dit verkoop as ’n stel waar Barbie kinders oppas. Ruth Handler het juis gesê dat haar hele filosofie was dat meisies deur Barbie moes besef dat hulle enigiets kon word en groot moes droom.

Barbie se eerste werk was as model en sy het sedertdien meer as 250 loopbane gehad. Mattel het in 1965 die ruimtevaarder-Barbie bekendgestel. Dit was in ’n tyd toe vroue nog nie eens deel van die ruimtevaartprogram kon word nie! Eers 13 jaar daarna is vroue toegelaat om aansoek te doen om ruimtevaarders te word. Twee Barbie-poppe is juis in 2022 na die Internasionale Ruimtestasie geneem om meisies aan te moedig om loopbane in WTIW-velde (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde [Engelse afkorting: STEM]) te oorweeg. Barbie was hoeka al ’n chirurg, ’n wetenskaplike én in die Amerikaanse weermag. Sy het boonop al sewe keer vir staatspresident gestaan! 1

Kuns en op die kassie

Dié bekende pop het al vele kunswerke, programme en flieks geïnspireer. Die kunstenaar Andy Warhol het in 1986 ’n kunswerk van haar gemaak. Bekende ontwerpers soos Karl Lagerfeld en Dianne von Furstenberg het ook uitrustings vir haar ontwerp en die pop het al haar verskyning in verskeie boeke gemaak.

Sy was al in meer as 40 rolprente, Toy Story 3 ingesluit, en natuurlik is die 2023-fliek die een wat ’n opskudding by die loket veroorsaak het. Die fliek Barbie is deur Greta Gerwig geregisseer met Margot Robbie as Barbie en Ryan Gosling as Ken.

Barbie-poppe is baie gesog onder versamelaars, veral baie ou poppe en dié waarvan daar slegs ’n beperkte aantal vervaardig is. 2

Die Barbie-fliek (2023)

Die Barbie-fliek is sekerlik dié fliek van die jaar 2023. Die rolprent is in Julie 2023 uitgereik en is een van die toptienflieks wat die R1 miljard-kerf die vinnigste bereik het. Dit het in net meer as twee weke nadat dit in teaters in Noord-Amerika begin wys het, R1 miljard by die loket verdien.

Dié fliek, deur Warner Bros., het die beste van al die flieks gevaar wat tot nog toe in dié rolprentateljee se 100 jaar lange bestaan gemaak is. Teen 11 September 2023 het die Barbie-fliek reeds bykans $1,4 miljard (meer as R26,5 miljard) wêreldwyd by die loket verdien.

Die rolprent is deur Greta Garwig en haar lewensmaat, Noah Baumbach, geskryf.

Woordbank

bemarkingsveldtog ’n Veldtog om iets te adverteer.
chirurg  ’n Dokter wat operasies doen.
filosofie Die wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
geskik Iets is gepas; doelmatig.
geskoei Gemodelleer, gevorm.
gesog Gewild.
hidjab Die hoofbedekking (kopserp of sluier) wat Moslemvroue dra.
kopiereg Die alleenreg wat ’n kunstenaar/maatskappy/persoon het op ’n bepaalde oorspronklike produk/kunswerk.
gekritiseer As iets beoordeel word.
liggaamstipes Tipe liggaamsvorm.
leemte Gaping.
loket Waar kaartjies vir die teater of ‘n vertoning gekoop word.
missiel Wapen wat ’n plofkop bevat en na ’n teiken gestuur word.
oor ’n mik werk Baie hard werk.
opskudding ’n Beroering, mense praat daaroor.
patent ’n Dokument wat aan iemand die alleenreg gee om vir ’n sekere tyd ’n uitvindsel te maak en te verkoop.
pluimpies Kompliment.
prostetiese Kunsledemaat; ’n liggaamsdeel wat van ’n kunsstof gemaak is (ʼn prostetiese been is dus ʼn kunsbeen).
sibbe Broers en susters.
sonder kind of kraai Niemand om voor te sorg nie.
van meet af aan Van die begin af.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wat jy van Barbie moet weet

Barbie se droomhuis

Gepubliseer op: 7 September 2023 | Bygewerk op 30 November 2023