Vinnige feite

  • Die Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt het as volwassene polio opgedoen, en dit het hom verlam gelaat. 1
  • Polio is ʼn voorkombare siekte. Die beste manier om kinders te beskerm, is om te verseker dat hulle teen polio ingeënt is. Die entstof skep teenliggaampies wat teen die virus kan veg as dit ooit die liggaam binnedring. 2
  • Ongeveer een uit elke 200 poliogevalle kan tot verlamming lei. 2
  • Kinders jonger as vyf word gewoonlik die meeste daardeur geraak, hoewel enigeen wat nie ingeënt is nie, dit kan opdoen.
  • Ongeveer een uit elke vier mense wat die poliovirus opdoen, sal simptome soortgelyk aan griep ervaar.
  • Tussen twee en tien mense uit elke 100 wat weens polio verlam is, sterf weens asemhalingsprobleme. 5
  • Antieke Egiptiese tekeninge wys mense met verswakte ledemate wat met krukke moet loop nadat hulle moontlik polio opgedoen het. Dit dui daarop dat polio al duisende jare bestaan. 5
  • Die mondelingse polio-entstof word nog wêreldwyd gebruik, maar die VSA gebruik sedert die jaar 2000 slegs Salk se “ongeaktiveerde poliovirusentstof”. 5
  • Salk wat die eerste polio-entstof ontwikkel het, is in 1955 deur ʼn joernalis gevra wie die patent vir die entstof besit het. Hy het geantwoord: “Die mensdom besit dit, want daar is nie ʼn patent nie. Kan ʼn mens die son patenteer?”

Daar was eens op ʼn tyd ʼn ernstige siekte wat ouers wêreldwyd baie bekommerd gemaak het, maar gelukkig is ʼn entstof ontwikkel wat die siekte bykans heeltemal in sy spore gestuit (uitgewis) het. Vandag kom daar soms ‘n paar gevalle voor, maar dit is gelukkig baie min.

Dié eens mees gevreesde siekte ter wêreld word polio of poliomiëlitis genoem. Dit word deur ʼn piepklein kiem genaamd ʼn virus veroorsaak. Die siekte kom meestal by kinders voor, en is vreesaanjaend omdat dit hulle kan verlam of selfs kan laat sterf. 1

ʼn Eeue oue siekte

Daar word geglo dat polio sedert prehistoriese tye bestaan het, aangesien daar in antieke Egiptenare se kuns beelde was van kinders met verswakte ledemate en krukke, wat kenmerkend van dié siekte is.

Hoewel dit kinders reeds vir eeue geteister het, is polio eers in 1789 deur die Britse dokter Michael Underwood beskryf. Die siekte is in 1840 as ʼn mediese toestand deur die Duitse dokter Jakob Heine bevestig. 2

Daar was verskeie polio-epidemies in die laat 19de en vroeë 20ste eeu, en polio was toe die mees gevreesde siekte ter wêreld. ʼn Grootskaalse uitbreking het New York in die Verenigde State van Amerika (VSA) in 1916 getref en meer as 2 000 lewens geëis. In 1952 was daar nog ʼn groot uitbreking, en meer as 3 000 mense is in die VSA dood.

Baie mense wat wel die siekte oorleef het, het lewenslange gevolge oorgehou, soos misvormde ledemate of verlamming. Dit het beteken dat hulle beenstutte, krukke, rolstoele en asemhalingstoestelle soos ʼn ysterlong moes gebruik. ʼn Ysterlong was ʼn kunsmatige ventilator wat vir die behandeling van poliopasiënte gebruik is.

Teen die middel van die 20ste eeu is die virus oraloor gevind, en ʼn halfmiljoen mense het jaarliks polio opgedoen. Sonder ʼn kuur (geneesmiddel) vir die siekte, was daar ʼn groot behoefte aan ʼn entstof. 2

Sukses met inenting

ʼn Deurbraak is in 1949 gemaak toe die virus wat polio veroorsaak, suksesvol in menslike weefsel gekweek is. Drs. John Enders, Thomas Weller en Frederick Robbins by die Boston-kinderhospitaal in die VSA was daarvoor verantwoordelik, en hulle het in 1954 ʼn Nobelprys vir dié merkwaardige deurbraak (prestasie) gewen.

Dit was nie lank daarna nie toe die eerste suksesvolle entstof deur die Amerikaanse navorser en viroloog dr. Jonas Salk ontwikkel is. Salk het in 1953 die eksperimentele entstof op homself en sy gesin getoets. ʼn Jaar later is dit op 1,6 miljoen kinders in Kanada, Finland en die VSA getoets.

Die suksesvolle uitslae is op 12 April 1955 vrygestel, en Salk se polio-entstof is op dieselfde dag gelisensieer. Teen 1957 het die jaarlikse gevalle van 58 000 tot 5 600 afgeneem, en teen 1961 was daar slegs 161 gevalle.

Salk se droom was dat almal toegang tot sy entstof moes hê. Hy het geweet dat die siekte nie uitgewis sou kon word as die entstof nie gratis of goedkoop was nie. Ses farmaseutiese maatskappye (ondernemings wat medisyne vervaardig) is gelisensieer om die entstof te maak, en Salk het geen wins daarop gemaak nie. Sy entstof is die “ongeaktiveerde polio-entstof” genoem.

Nog ʼn polio-entstof is deur die geneesheer en mikrobioloog Albert Sabin ontwikkel. Dit is ʼn entstof wat mense per mond kon inneem: in druppelvorm of op ʼn suikerklontjie.

Die Salk-entstof was in die laat 1950’s wyd in gebruik, en daarom wou mense nie eintlik die nuwe entstof toets nie. Sabin het ook, nes Salk, die eksperimentele entstof op homself en sy gesin getoets. Verdere proewe het in die Belgiese Kongo en daarna die Sowjetunie (vandag Rusland) plaasgevind. Die entstof is met groot sukses getoets, en die feit dit per mond geneem kon word, het dit baie makliker vir massa-inentings gemaak. Nadat dit in Tsjeggo-Slowakye gebruik is, het dié land in 1960 die eerste land ter wêreld geword waar polio uitgewis is.

In 1988 is ʼn inisiatief van stapel gestuur om polio wêreldwyd heeltemal uit te wis. Baie geld is aan die veldtog spandeer, en meer en meer entstof is gemaak. Miljoene kinders is as deel van wêreldwye massa-inentingsveldtogte ingeënt.

Teen 1994 was polio in Suid-Amerika en Noord-Amerika uitgewis, en teen 2000 in die Westelike Pasifiese Streek. Polio was teen die jaar 2003 nog net endemies in ses lande, en teen 2006 slegs in vier lande.

Daar was nog verdere vordering in die 21ste eeu, en poliogevalle is wêreldwyd met meer as 99% in minder as twee dekades verminder. Polio het seldsaam geword, maar dit is besig om te verander.

Hoewel polio al vir jare op die meeste kontinente uitgewis was, bestaan daar kommer oor nuwe gevalle wat sporadies aangemeld word. Gevalle is in Pakistan en Afghanistan in 2021 en 2022 aangemeld, en daar was in 2022 ook aangemelde gevalle in Malawi en Mosambiek. Daar was in 2022 ook ’n geval in Amerika aangemeld waar polio al dekades gelede uitgewis is. Die nuwe uitbrekings word geblameer op jare se konflik in Pakistan en Afghanistan, wat gelei het tot swak gesondheidstoestande en mense wat onwillig is om aan inentingsprogramme deel te neem. Die virus het dus uit hierdie gebiede weer na ander lande versprei.  

Die Covid-19-pandemie se inperkings het ook gelei tot ʼn staking of onderbreking van inentingsprogramme, en miljoene kinders is nie in daardie tydperk ingeënt nie. 3

Simptome

Polio is ʼn aansteeklike siekte wat deur een of drie poliovirustipes veroorsaak word. As die virus eers in die liggaam is, kan dit in ʼn kwessie van ure die senuweestelsel aanval en verlamming veroorsaak. 1

In ander gevalle kan simptome tot 30 dae neem om te verskyn, maar die meeste mense wat met polio besmet word, het geen simptome nie. Ander mense het weer ligte of matige simptome en dink dat hulle besig is om griep te ontwikkel. Die simptome sluit ʼn seer keel, koors, diarree, naarheid en braking, maag- en hoofpyn in.

In sekere gevalle kom ernstiger simptome voor, soos as die virus die membrane om die brein en rugmurg aantas. Dit kan lei tot meningitis (breinvliesontsteking), inflammasie van die rugmurg, en dit kan ʼn erge hoofpyn, stywe nek en sensitiwiteit vir lig veroorsaak. Die virus kan ook die senuweeselle wat die liggaam se spiere beheer, vernietig. As dít gebeur, word die spiere pynlik en swakker totdat dit nie meer reg werk nie. As die virus die senuwees beskadig wat die beenspiere beheer, kan die persoon nie meer langer loop nie. As die virus die spiere aantas wat die longe beheer, sal die persoon nie meer op sy eie kan asemhaal nie. ʼn Masjien (ventilator) is dan nodig om hom of haar met asemhaling te help. 4

Hoe word polio oorgedra?

Polio is hoogs aansteeklik. Die virus dring die liggaam deur die mond binne en groei dan in die keel en ingewande. Dit kan na ander mense deur middel van speeksel (spoeg) of ontlasting versprei word. Mense kan in aanraking met die virus kom as hulle aan iets vat wat met die ontlasting besmet is, as ʼn besmette persoon naby hulle hoes of nies, of as hulle kos eet of vloeistowwe drink wat met die virus besmet is.

Iemand wat besmet is, kan die virus in hul keel vir een tot twee weke hê en vir ses weke of langer in hul ontlasting. Selfs iemand wat geen simptome het nie, kan die virus na ander mense oordra.

Behandeling

Daar is geen behandeling vir polio nie. Behandelings is net daarop gerig om iemand se simptome te bestuur en verlig. Mense met matige simptome word gewoonlik aangeraai om te rus en baie vloeistowwe te drink. Mense met spierpyn of swakheid kan medikasie kry om die pyn te beheer en fisioterapie om die spiere aan die beweeg te hou. As die asemhalingspiere geraak is, kan die pasiënt ʼn meganiese ventilator (asemhalingsmasjien) kry. Die ventilator beweeg lug in en uit die longe totdat die persoon dit op sy eie kan doen.

Hoe lank kan polio duur?

Mense wat matiger poliosimptome toon, kan binne een tot twee weke ten volle herstel. Mense met ernstige simptome se spiere kan verswak, hulle kan verlam raak en selfs sterf. As mense herstel, kan hulle ook postpoliosindroom ontwikkel. Dit vind selfs 30 tot 40 jaar ná die aanvanklike siekte plaas. Die sindroom sluit pyn of swakheid in die spiere of gewrigte in en kan mense uitgeput laat voel.

Diagnose

As gesondheidsorgwerkers vermoed dat iemand aan dié virussiekte ly, sal die pasiënt dadelik in die hospitaal opgeneem moet word. Die pasiënt moet fisiek ondersoek word, daar moet na sy inentingsrekord gekyk word en of hy onlangs na ʼn poliogebied gereis het. ʼn Monster van sy ontlasting, speeksel, bloed, urine en rugmurgvloeistof kan dan geneem word. Die poliovirus word meestal in die ontlastingmonsters opgespoor. 5

Woordbank

endemies Beperk tot ʼn bepaalde streek of gebied. ʼn Siekte kom dus in ʼn bepaalde gebied voor.
entstof Dit is ʼn vaksien. ʼn Mikroörganisme of virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van teenliggame te stimuleer, sodat die liggaam onvatbaar vir besmetting kan word.
epidemies ’n Besmetlike siekte wat vinnig oor ’n groot gebied uitbrei en ná ’n tyd weer verdwyn.
fisioterapie Die gebruik van spesiale oefeninge, massering, hitte, en dies meer om sommige mediese toestande en seer spiere te behandel.
kiem ʼn Mikrobe of virus wat ʼn siekte kan veroorsaak.
seldsaam Skaars; dit kom nie baie voor nie.
simptome Verskynsel of tekens van ʼn siekte.
virus Dit is enigeen van ʼn groep submikroskopiese entiteite wat nie as lewende organismes beskou word nie omdat hulle slegs in die lewende selle van ʼn gasheer kan vermenigvuldig, en waarvan baie siektes kan veroorsaak.
virussiekte Dit is ʼn siekte wat deur ʼn virus veroorsaak word, soos verkoue, griep, masels, waterpokkies, polio en Vigs.
uitgeput As jy baie moeg is; afgemat.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wat is polio?

Wat is ʼn virus?

Meer inligting oor polio

Gepubliseer op: 23 Februarie 2023 | Bygewerk op 23 Januarie 2024