Vinnige feite

  • Christopher Plummer is tot dusver op 88-jarige ouderdom die oudste akteur om ’n Oscar-benoeming te ontvang. Hy is in 2018 benoem in die kategorie beste vertolking deur ’n akteur in ’n ondersteunende rol vir All the Money in the World. Anthony Hopkins was in 2021 (op 83-jarige ouderdom) die oudste akteur om ’n Oscar vir sy rol in The Father te wen.
  • Die komponis John Williams laat almal egter in die stof agter nadat hy in 2023, net voor sy 91ste verjaarsdag, vir sy 53ste Oscar benoem is vir The Fabelmans. Williams se loopbaan strek oor meer as vyf dekades en sluit vyf Oscars vir beste oorspronklike musiek in vir Fiddler on the Roof (1972), Jaws (1976), Star Wars (1978), ET (1983) en Schindler’s List (1994). Hy’t ook nominasies ontvang vir rolprente soos Saving Private Ryan, Harry Potter and the Sorcerer’s Stone, Memoirs of a Geisha, Indiana Jones and the Dial of Destiny, Empire of the Sun, Jurassic Park, Munich, War Horse, Lincoln en The Post. 36
  • Die rolprentregisseur James Cameron spog met drie Oscar-toekennings én drie van die vier rolprente wat die meeste geld tot nog toe laat inrol het: Avatar (2009) – $2,9 miljard, Avatar: Way of the Water (2022) – $2,3 miljard, en Titanic (1997) – $2,25 miljard. Avengers: Endgame (2019) is in die tweede plek met $2,8 miljard. 37
  • Tatum O’Neal het in 1973, vyf jaar voordat die Young Artist Academy op die been gebring is, die jongste wenner van ’n Oscar geword as beste ondersteunende aktrise in Paper Moon. Sy was net 10 jaar oud. 38
  • Altesaam 16 mense het ná hul dood ’n Oscar-toekenning ontvang. Heath Ledger, wat die rol van die Joker in The Dark Knight vertolk het, is een van slegs twee akteurs wat al postuum vereer is. Ledger was net 28 jaar oud toe hy in 2008 oorlede is. Sy familie het die Oscar namens hom in 2009 in ontvangs geneem. 39
  • Sedert die Los Angeles Times in 1940 per ongeluk die name van die wenners vóór die seremonie gepubliseer het, word die wenners se name onder groot geheimhouding in koeverte geseël. 40
  • Die tradisionele rooi tapyt het in 2023 vir die eerste keer sedert 1961 plek gemaak vir ’n neutrale, sjampanjekleurige tapyt. 41
  • Wenners se toesprake mag nie langer as 45 sekondes wees nie, waarna die Oscar-orkes hul musikaal (al harder en vinniger) van die verhoog af begelei. In 1943 het Greer Garson, nadat sy die Oscar as beste aktrise vir Mrs Miniver gewen het, die langste toespraak in die geskiedenis van die geleentheid gelewer, naamlik 4 minute. 42
  • Beauty and the Beast was die eerste animasieprent wat in 1992 as beste rolprent benoem is. The Silence of the Lambs het daardie jaar met die louere weggestap. Twee ander animasieflieks wat ook in dié kategorie benoem is, was Up in 2009 en Toy Story 3 in 2010. Sedertdien is ’n afsonderlike kategorie vir vollengte-animasierolprente ingestel. 43
  • WALL-E (vernoem na Walt Disney) het in 2008 die animasierolprent geword met die meeste Oscar-nominasies ooit. Die rolprent is in ses kategorieë benoem, maar het eindelik net in een – beste vollengte-animasierolprent – koning gekraai. 44
Foto: iStock

Selfs al kan ’n mens flieks deesdae op jou slimfoon, rekenaar of televisie kyk of stroom, is daar niks so lekker as om saam met vriende of familie (met ’n groot boks springmielies natuurlik!) in ’n teater na die jongste rolprent te kyk nie. Of dit nou animasie of aksie, ’n liefdesverhaal of lewensgetroue drama is, rolprente vertel verhale wat jou vasgenael hou en ’n mens se hartsnare met woorde én wysies roer.

Die silwerdoek, ook die wye doek (in Engels: big screen) genoem, 1 laat ’n mens voel asof jy in die middel van die aksie (gebeure) is, veral as die fliek 3D (driedimensioneel) is. 2 Rolprente se klank is vandag boonop só goed dat dit klink asof Tom Cruise bo-oor jou kop met sy vegvliegtuig in Top Gun swiep of Vin Diesel van Fast & Furious se vuurwa-enjin langs jou brul.

Van stilprente tot Hollywood-swier

Die geskiedenis van rolprente strek oor meer as ’n eeu, met die eerste flieks met bewegende foto’s of beelde (in Engels: motion picture) wat in die laat 1800’s en vroeë 1900’s vervaardig is. Die heel eerste rolprente was swart en wit, het meestal uit foto’s van mense en diere bestaan (dit was eintlik meer soos ’n skyfievertoning), en het geen klank gehad nie. Dit het as stilprente (in Engels: silent movies) bekendgestaan. Die stilprenttydperk het van 1894 tot 1929 gestrek en akteurs soos Charlie Chaplin met sy kenmerkende swart hoedjie en snorretjie, en die lawwe Laurel en Hardy was baie gewild. 3

Tatum O’Neal was net 10 jaar oud toe sy in 1973 ‘n Oscar-toekenning ontvang het.

Die vroeë rolprente het nie regtig stories vertel (verhaal- of narratiewe elemente bevat) soos ons dit vandag ken nie. Die koms van klank soos in The Jazz Singer in 1927 en Lights of New York in 1928 (dit is ook klankrolprente of talkies genoem) en kleur (soos in The Wizard of Oz in 1939) het die rolprentbedryf egter vir ewig verander. 4

Rolprente het soos ’n veldbrand versprei én vinnig verbeter – van Frankryk, Duitsland en die voormalige Sowjetunie (vandag Rusland), tot in die Verenigde State van Amerika (VSA) en uiteindelik Hollywood in Kalifornië, wat vandag as die hartklop van lokettreffers (in Engels: blockbusters) beskou word. 4

Net soos die aantal rolprente toegeneem en al meer akteurs en aktrises beroemd en bekend geword het, is die rolprentbedryf deur verskeie uitdagings, soos die opkoms en toename in vakbonde, in die gesig gestaar. [Lees hier oor vakbondwese.] Dit is aan verwikkelings soos dié wat ons die Oscar-toekennings – amptelik bekend as die Academy Awards – se ontstaan in 1929 te danke het. 5

Die Oscar-toekenningsgeleentheid in 1988.

Ontstaan van die Oscars

Bykans 19 miljoen mense het in 2023 na die 95ste Oscar-toekenningsgeleentheid op televisie gekyk. Die meeste mense ooit om na dié glansgeleentheid te kyk, was in 1998 toe 55 miljoen mense ingeskakel het om te sien hoe Titanic altesaam 11 beeldjies (dié rolprent was vir 14 toekennings benoem) gewen het. 6 En wie sal ooit die oomblik in 2004 vergeet toe die Suid-Afrikaans gebore aktrise Charlize Theron die Oscar as beste aktrise vir haar spel in Monster gewen het, 7 of toe akteur Will Smith die aanbieder en komediant Chris Rock in 2022 ’n taai klap gegee het? 8

Sedert sy ontstaan bykans ’n eeu gelede, is die Oscars ’n simbool van uitnemendheid en ’n toonbeeld van glans (en soms ’n tikkie omstredenheid!) in die vermaaklikheidsbedryf. Die rooi tapyt word uitgerol, die swart limousines blink gepoets en die jongste en mooiste modes vertoon, want dié gesogte en glansryke geleentheid waar die bekende goue beeldjies jaarliks toegeken word, vier nie net prestasies in die rolprentbedryf nie, maar is die één toekenning wat almal in die bedryf wíl wen. Om ’n Oscar te wen, is soos om ’n goue medalje by die Olimpiese Spele te wen!

Die Oscar-toekennings is deur die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (Ampas) ingestel, ’n organisasie wat in 1927 deur 36 van die grootste rolspelers in die bedryf – onder leiding van Louis B. Mayer, uitvoerende hoof van die Metro-Goldwyn-Mayer (MGM)-rolprentateljee (’n maatskappy wat rolprente vervaardig) – gestig is. 9

Louis B. Mayer het ‘n groot aandeel in die ontstaan van die Oscar-toekennings gehad.

Ampas se aanvanklike oogmerk was om arbeidsgeskille, dispute of stryery te bemiddel, die bedryf se beeld te verbeter en die kuns en wetenskap van rolprentvervaardiging te bevorder. Die organisasie was egter nie baie suksesvol om arbeidsgeskille op te los nie, en fokus sedert 1937 op kultuurbevordering. 9

Die eerste Oscar-toekenningsgeleentheid het op 16 Mei 1929 in die Blossom Room van die Hollywood Roosevelt Hotel plaasgevind, en het rolprente wat tussen 1927 en 1928 vrygestel is in 12 kategorieë bekroon. Die oorhandiging van die eerste beeldjies het nét 15 minute geduur! Die 74ste toekenningsgeleentheid in 2002, wat regstreeks op ABC (American Broadcast Company) uitgesaai en deur die aktrise Whoopi Goldberg (van Sister Act-faam) aangebied is, hou weer die rekord vir die langste geleentheid tot nog toe. Dit het (gaap!) ’n hele 4 uur en 23 minute geduur! 10

Whoopi Goldberg het die langste Oscar-toekenningsgeleentheid tot nog toe in 2002 aangebied. Dit het (gaap!) ’n hele 4 uur en 23 minute geduur!

Die eerste keer wat die geleentheid op televisie in die VSA uitgesaai is, was in 1953. Sedert 1969 kan mense reg oor die wêreld kyk wie met ’n Oscar wegstap. 11

Die beeldjie

Die ikoniese Oscar-beeldjie is ’n simbool van uitnemendheid en prestasie in die rolprentbedryf. Dit is deur Cedric Gibbons, wat in Ierland gebore is, ontwerp. Hy was ’n kunsregisseur (in Engels: art director) by MGM en het deur sy loopbaan self 11 van dié beeldjies gewen.

Die beeldhouer George Stanley van Los Angeles was verantwoordelik om lewe aan Gibbons se ontwerp te gee: ’n ridder wat ’n swaard vashou en op ’n filmrolletjie staan. Die vyf speke in die filmrolletjie verteenwoordig Ampas se vyf oorspronklike takke of afdelings, naamlik akteurs, regisseurs, vervaardigers, tegnici (soos kameramanne) en skrywers. 12

Daar word geglo dat die standbeeld geskoei is op Emilio Fernandez, ’n Mexikaanse rolprentmaker en akteur. Die storie lui dat Fernandez, toe hy in Hollywood gewerk het, Cedric Gibbons se vrou ontmoet het. Ná ’n bietjie oorreding poseer Fernandez vir ’n skets wat die vorm van die Oscar-figuur sou vorm en tot vandag toe onveranderd gebly het. 12

Dié beeldjie weeg 3,8 kg, staan 34,2 cm hoog en is oorspronklik van vergulde soliede brons gemaak. Tussen 1942 en die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die beeldjies egter van gips gemaak om metaal te bespaar. Al die beskikbare metaal is in dié tyd gebruik om wapens en ammunisie vir die oorlog te maak. Die Oscar-wenners het hul goue trofeë eers ná die oorlog ontvang. 13

Vandag word die beeldjies van ’n metaal genaamd britannia gemaak (wat onder meer uit 93% tin en 2% koper bestaan).

Die beeldjie se oorspronklike naam is The Academy Award of Merit. Daar is egter drie stories oor waar die beeldjie se meer gewilde naam “Oscar” vandaan kom. Die aktrise Bette Davis het aangevoer dat die naam aan haar te danke is omdat sy gesê het die agterkant van die beeldjie lyk soos dié van haar man, Harmon Oscar Nelson. Die joernalis Sidney Skolsky het volgehou dat hy die toekenning sy bynaam gegee het. Ander beweer weer die naam kom van Ampas se bibliotekaresse Margaret Herrick wat gesê het die beeldjie lyk soos haar oom Oscar. Waar die naam ook al vandaan kom, word “Oscar” sedert 1939 amptelik deur Ampas gebruik. 14

Oscar-wenners kan nie sommerso hul beeldjies verkoop om ’n lekker sakgeldjie te verdien nie. Wenners moet ’n ooreenkoms onderteken wat verklaar dat, sou hulle hul Oscar wil verkoop, hulle dit eers teen $1 aan Ampas moet aanbied. As hulle weier, mag hulle nie die beeldjie hou nie. Dié reël geld sedert 1951, wat beteken dat ouer beeldjies wel soms op veilings beland. 15

Die bekende rolprentregisseur Steven Spielberg (van rolprente soos Jaws, E.T. The Extra-Terrestrial, Jurassic Park, Indiana Jones en Schindler’s List) het byvoorbeeld Bette Davis se Oscar in 2001 vir $578 000 gekoop en dit aan Ampas geskenk. Spielberg het ook Clark Gable se enigste Oscar as beste akteur vir It Happened One Night (1934) vir meer as $600 000 gekoop en aan Ampas terugbesorg. 16

Michael Jackson het op sy beurt in 1999 meer as $1,5 miljoen betaal vir vervaardiger David Selznick se toekenning vir Gone With the Wind. Dié Oscar het glo ná die popster se dood in 2009 verdwyn. 17 Herman Mankiewicz se beeldjie vir beste draaiboek vir Citizen Kane (1941) is vir $588 455 verkoop, terwyl die akteur Harold Russell die Oscar wat hy vir sy rol in For the Best Years of Our Lives in 1944 gewen het, vir $60 500 verkoop het om vir sy vrou se mediese sorg te betaal. 15

Wie kan vir ’n Oscar in aanmerking kom?

Om vir ’n Oscar in aanmerking te kom (benoem of genomineer te kan word), moes ’n rolprent tussen 1 Januarie en 31 Desember in die voorafgaande jaar vir ten minste een week in ’n rolprentteater in Los Angeles in die VSA vertoon gewees het – teen betaling, met ander woorde mense moes kaartjies gekoop het om die rolprent te sien. 18

Uitsonderings op hierdie reël sluit in rolprente in ander tale (buitelandse rolprente of, in Engels, Foreign Language Films), wat deur die land van herkoms ingedien word en nie in die VSA vertoon hoef te word nie. Dokumentêre flieks en kortfilms het ook ander vereistes of kriteria en word deur hul vervaardigers ingedien. Om vir een van die musiektoekennings (soos beste oorspronklike klankbaan en beste liedjie) in aanmerking te kom, moet die kunstenaar self ’n inskrywing instuur. 18

Slegs lede van Ampas mag iemand vir ’n Oscar-toekenning benoem en stem. Ampas is in verskeie takke of dele van rolprentproduksie verdeel, en die benoemdes in elke kategorie word deur die lede van die ooreenstemmende tak gekies. Skrywers nomineer dus skrywers, regisseurs nomineer regisseurs, en so meer. Al die lede van Ampas kan egter flieks nomineer in die kategorie vir beste rolprent. Alle lede mag stem om die wenner in die onderskeie kategorieë te bepaal. 18

Dit is glad nie maklik om vir ’n Oscar benoem en met dié beeldjie vereer te word nie, want uiteindelik stem sowat 9 500 lede van Ampas van reg oor die wêreld. Die feit dat meer as 300 rolprente jaarliks om die titel as beste rolprent meeding, bewys waarom dié toekenning so hoog geag word en van akteurs tot kostuumontwerpers se loopbane ’n reusehupstoot kan gee!

Wat ’n beeldjie vir wenners beteken

Al kos ’n Oscar-beeldjie slegs sowat $400 (nagenoeg R 7 200) om te vervaardig, word genomineerdes en wenners met geskenkpakkies (in Engels bekend as swag bags) ter waarde van tot $200 000 (sowat R3,6 miljoen) bederf! Van die geskenke was al ’n vakansie van 12 dae op ’n luukse seiljag ter waarde van $80 000 (R1,4 miljoen), ’n badbom (oplosbare badsout in die vorm van ’n balletjie, in Engels bekend as bath bomb) wat 24 karaat goud bevat, ’n piepklein stukkie grond (eiendom) van 1 m2 ter waarde van $50 in Australië, duur skoonheidsprodukte en -behandelings (insluitende kosmetiese chirurgie), en selfs ’n geskenkbewys vir ’n haaroorplanting! 19

Die grootste “geskenk” wat Oscar-wenners kry, staan as die Oscar-hupstoot of Oscar-effek bekend. Omdat dit in werklikheid hul kollegas is wat vir die wenners stem, beteken die toekenning baie vir ontvangers se aansien in die bedryf. Hul waarde, oftewel salaris, kry ook bykans oornag ’n heerlike hupstoot.

Olivia de Havilland in 1947.

Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Nadat Halle Berry in 2002 die Oscar as beste aktrise vir Monster’s Ball gewen het, het haar salaris tot $10 miljoen (sowat R180 miljoen) per fliek opgeskiet. 20
  • Dieselfde het gebeur nadat Charlize Theron in 2004 ’n Oscar vir haar spel in Monster gewen het. Sy verdien deesdae tot $20 miljoen (sowat R360 miljoen) per rolprent! 21
  • Flieks wat as beste rolprent genomineer word, se kaartjieverkope styg drasties. Net om genomineer te word, kan ’n rolprent se loketinkomste (inkomste uit kaartjieverkope by rolprentteaters) met meer as 200% laat styg. 22
Charlize Theron is een van Suid-Afrika se talle Oscar-benoemdes en -wenners.

Modegeleentheid soos min

Of jy nou vir ’n toekenning genomineer is of nie, die Oscars is dié geleentheid waar glanspersoonlikhede, oftewel sterre, hulle optof en behoorlik uithaal en wys. Modehuise soos Valentino, Dior, Chanel en Prada slaan omtrent vuis om hul jongste pakke en pronkstukke, kraakvars van die wêreld se loopplanke en modeparades af, by die Oscars te vertoon. Die gewildste kleure is swart en goud, en stiliste berei maande voor aan glanspersoonlikhede se klere-opsies.

Madonna se rok wat sy by die Oscar-toekennings in 1991 gedra het.
Penélope Cruz op die rooi tapyt in 2010.

Hier is vyf interessante Oscar-modefeite:

  • Om een van die gewildste aktrises op haar mooiste te laat lyk, kos tot $10 miljoen (sowat R180 miljoen). Die gemiddelde koste beloop $1,5 miljoen (sowat R30 miljoen). 23
  • Die ellelange rooi tapyt kos byna $25 000 (nagenoeg R450 000) en neem byna 600 uur om te installeer.
  • Die totale koste van die toekenningsgeleentheid beloop meer as $56 miljoen (R1 miljard).
  • As jy een van die gewilde Oscar-partytjies ná die tyd wil bywoon, soos die tydskrif Vanity Fair s’n, sal jy $80 000 (meer as R1,5 miljoen) per paartjie moet opdok.
  • Lady Gaga het die duurste juwele tot nog toe by ’n Oscar-geleentheid gedra. Dié sangeres en aktrise het dieselfde 128 karaat-geeldiamanthangertjie van die juweliersgroep Tiffany’s by die 2019-geleentheid gedra as wat die aktrise Audrey Hepburn gedra het toe sy die rolprent Breakfast at Tiffany’s bemark het. Die waarde word op sowat $30 miljoen (sowat R540 miljoen) geskat! 24
  • Die duurste rok ooit op die rooi tapyt, is die bandjielose balrok wat aktrise Jennifer Lawrence in 2013 gedra het toe sy die Oscar as beste aktrise ontvang het. Dié rok, wat deur Raf Simons vir Christian Dior ontwerp is, was nagenoeg $4 miljoen (of meer as R70 miljoen) werd! Lawrence het in daardie jaar ’n driejaarkontrak ter waarde van $15 miljoen (nagenoeg R300 miljoen) met dié modehuis gesluit om nét Dior-skeppings op die rooi tapyt te dra. 25

Suid-Afrikaanse Oscar-uitblinkers

Sedert die ontstaan van die Oscars is talle Suid-Afrikaners of Suid-Afrikaans gebore mense in die vermaaklikheidsbedryf vir dié toekenning benoem.

Altesaam sewe is met ’n goue beeldjie bekroon: 26

  • 1966: Die Suid-Afrikaans gebore Ted Moore wen vir sy kinematografie in A Man Of All Seasons. ’n Kinematograaf is die persoon wat aan die hoof is van die kamerawerk van ’n rolprent. Hy of sy moet die visie of idee wat ’n regisseur vir ’n rolprent het, in beeld of prentjies omsit. Dit word onder meer gedoen deur van bepaalde beligting en verskillende kamerategnieke gebruik te maak. 27
  • 2003: Ronald Harwood, oorspronklik van Kaapstad, ontvang ’n Oscar vir die beste aangepaste draaiboek vir The Pianist, ’n ware verhaal van ’n klavierspeler wat die Tweede Wêreldoorlog oorleef het. 28
  • 2004: Charlize Theron word in dié jaar nie net die eerste Suid-Afrikaner nie, maar ook die eerste persoon uit Afrika om ’n Oscar as beste aktrise te ontvang. Dié aktrise, wat in Benoni in Gauteng gebore is, het die hoofrol in die fliek Monster gespeel. Vir haar rol as die reeksmoordenaar Aileen Wuornos, het Theron veertien kilogram opgetel en valstande gedra om meer soos die regte Wuornos te lyk. 29
  • 2005: Tsotsi, waarvan Gavin Hood die regisseur was, wen die Oscar as beste buitelandse rolprent.
  • 2016: Margaret Sixel, ’n Australiese rolprentredigeerder wat in Suid-Afrika gebore is, word bekroon vir die beste redigering (die manier waarop die verskillende dele van ’n rolprent bymekaargesit word) vir Mad Max: Fury Road (waarin Charlize Theron ook te siene was).
  • 2021: Pippa Ehrlich en James Reed (skrywers en regisseurs) wen ’n Oscar vir die beste dokumentêre rolprent vir My Octopus Teacher. Hierdie roerende rolprent oor ’n man en ’n seekat se besonderse band, het ook tientalle ander internasionale toekennings verower.
  • 2022: Die elfjarige Caleb Payne maak geskiedenis toe hy die eerste Suid-Afrikaanse ontvanger van ’n Young Artist Academy Award vir sy rol in die Netflix-fliek Good Life word. Hierdie toekenning, wat ook die Jeug-Oscars genoem word, word aan uitblinkers tussen die ouderdom van vyf en agtien jaar toegeken. 30
Gavin Hood, regisseur van Tsotsi, wat in 2005 met ‘n Oscar as beste buitelandse rolprent bekroon is.

Vyf interessante Oscar-syfers

  • Steven Spielberg en Martin Scorsese is die regisseurs wat met die meeste Oscar-benoemings spog vir die beste rolprent, naamlik 12 elk. 31
  • Drie rolprente deel die prys vir die meeste Oscar-toekennings, naamlik 11: Ben Hur (1960 – 12 benoemings), Titanic (1998 – 14 benoemings) en The Lord of the Rings: The Return of the King (2004 – 11 benoemings). 32
  • Walt Disney hou die rekord vir die meeste goue beeldjies. Dié baanbreker van animasierolprente is 64 keer genomineer en hy het 26 Oscar-toekennings ontvang. Die eerste was in 1932 vir die animasiekortfilm Flowers and Trees (die eerste keer wat ’n tekenprent só ’n groot eerbewys ontvang het) en daarna vir onder meer Pinocchio en Dumbo. 33
Walt Disney spog met die meeste Oscar-beeldjies.
  • Katharine Hepburn spog met die meeste Oscars as beste aktrise, naamlik vier, vir Morning Glory (1933), Guess Who’s Coming to Dinner (1967), The Lion in Winter (1968) en On Golden Pond (1981). Sy is altesaam 12 keer genomineer. Meryl Streep is op haar beurt altesaam 21 keer genomineer (in die kategorieë beste aktrise en beste ondersteunende aktrise) en hou die rekord vir die meeste Oscar-benoemings van enige akteur. Streep het egter nog net drie keer gewen – beste ondersteunende aktrise in 1980 vir Kramer vs Kramer en beste aktrise vir Sophie’s Choice (1983) en The Iron Lady (2012). 34
  • Jack Nickolson is die akteur (man) wat met die meeste nominasies spog, naamlik 12. Hy is drie keer met ’n Oscar vereer – One Flew Over the Cuckoo’s Nest (1975), Terms of Endearment (1983) en As Good as it Gets (1997). 35
Jack Nickolson spog met 12 Oscar-nominasies.

Woordbank

animasie Die verfilming van opeenvolgende tekeninge op so ’n wyse dat dit die illusie van ’n beweging oordra.
bedryf Saak; onderneming; beroep.
bemiddel Deur tussenkoms probeer om ’n ooreenkoms/versoening tot stand te bring.
bibliotekaresse Vroulike hoof van ’n biblioteek; vrou wat in ’n biblioteek werk of dit versorg.
bynaam Toegevoegde naam; ander naam; troetelnaam.
dispute Twis; geskil; redenasie.
dokumentêre Met dokumente as bewyse; gegrond op ware gebeure/feite.
draaiboek Rolprentmanuskrip met handleiding en gegewens vir die maak van ’n nuwe rolprent.
drama Direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare van menslike gebeure; gebeurtenis met dramatiese elemente.
hupstoot Stukrag; aansporing; aanmoediging.
ikoniese Iemand/iets wat merkwaardig/besonders/navolgingswaardig is.
kategorie Soort; groep; afdeling.
komponis Skepper van musiekstukke; toondigter.
kriteria Maatstaf/standaard gebruik om iets te beoordeel of oor iets te besluit; beginsel/kenmerk om dit te onderskei.
lokettreffer Rolprent/toneelopvoering/ens. wat finansieel baie suksesvol is.
louere weggestap Om te wen of ’n prys te ontvang.
narratiewe Wat ’n storie vertel; vertelling.
nominasies Benoeming; voorstelling.
postuum Wat ná die dood kom/verskyn/gebeur.
redigering Wat in die geval van rolprente dele saamvoeg of weglaat.
regisseurs Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier.
salaris Betaling wat ’n werknemer vir gelewerde diens ontvang.
seiljag ’n Luukse boot.
seremonie Plegtigheid wat volgens voorskrif verloop.
simbool ’n Voorwerp/woord/teken as voorstelling van ’n bepaalde begrip; wat ’n bepaalde idee/gevoel/ens. verteenwoordig.
geskoei Baie eenders wees.
stroom (Internet)diens waarop gebruikers kan inteken om klank- en/of video-inhoud in opeenvolgende bondels/pakkies te ontvang sodat die inhoud voortdurend bly speel soos dit ontvang word, sonder om dit op die rekenaar of selfoon self hoef te bewaar.
vakbonde Vereniging van persone wat dieselfde vak/beroep beoefen om die belange van die lede te behartig.
vergulde Met ’n laag bladgoud/goudverf bedek.
vermaaklikheidsbedryf Al die mense en organisasies saam wat sorg vir vermaaklikhede soos rolprente/opvoerings/sirkusse/ens.
visie ’n Manier van kyk; blik; siening; insig.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Steven Spielberg is een van die suksesvolste rolprentmakers ooit

Charlize Theron se emosionele Oscar-toespraak

Een van die grootste Oscar-blapse (foute) ooit

Van die kortste Oscar-toesprake in die geskiedenis

Rolprente is allermins foutloos

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 September 2023 | Bygewerk op 3 April 2024