Vinnige feite

  • Louis Trichardt se van was eers Tregardt. Dit is in 1881 na Trichardt verander. 2
  • Die Oranjerivier is eers die Garieprivier genoem.
  • Louis Trichardt, sy vrou en van hul kinders is aan malaria dood.
  • Delagoabaai se naam is verander na Lourenço Marques en vandag word dit Maputo genoem. 7
  • Die woord Tregard is ’n Sweedse woord wat “tuin” beteken. 1
Foto: iStock

Jy het seker al gehoor van die dorp Louis Trichardt in die destydse verre Noord-Transvaal wat vandag as die Limpopo-provinsie bekendstaan. Dié dorp se naam was vanaf 2003-1014 Makhado, maar omdat baie mense daaroor ontevrede was, is dit weer na Louis Trichardt verander. Het jy geweet dié dorp aan die voet van die pragtige Soutpansberge is na ’n dapper pionier en Afrikaner uit die Kaapkolonie vernoem?

Louis Trichardt was ’n Voortrekkerleier wat baanbrekerswerk gedoen het terwyl hy en sy groep Trekkers uit die Kaapkolonie getrek het. Een van die belangrike dinge wat hy gedoen het, was om gedurende sy eie trek dagboek te hou. Sonder Trichardt se dagboek sou mense vandag veel minder geweet het oor die Groot Trek en spesifiek oor Louis Trichardt.

Trichardt se oupa was ’n Sweed

Louis Johannes Trichardt is op 10 Augustus 1783 in die Swellendam-distrik in die huidige Wes-Kaap gebore. Sy oupa was Carolus Gustav Tregard wat van Swede af as matroos na die Kaap gekom het.

Daar is min inligting oor Louis se kinderjare, maar ons weet dat hy die oudste van sy ouers se vier kinders was. Sy pa was Carolus (Karel) Johannes Tregard en sy ma Anna Elisabeth Nel. 1

Trichardt-trek: Waband opsit by Soutpansberg.

Huwelik en kinders

Hy is in 1810 in Graaff-Reinet met Martha Elisabeth Susanna Bruwer getroud. Hulle het drie seuns en een dogter gehad wat net geleef het tot hulle volwassenes was. Hulle het ook ander kinders gehad, maar dié is op ’n jong ouderdom oorlede. 2

Twee van Trichardt se kinders wat glo die trek oorleef het.

Dit is ongelukkig so dat dit in daardie tyd nie ongewoon was om jong kinders aan die dood af te staan nie omdat die mense tóé baie gevare, uitdagings en veral siektes moes trotseer. Daar was ook baie minder dokters, medisyne en hospitale as waaraan ons vandag gewoond is.

Trichardt en sy tweede vrou, Zacharya Geertruida.

Die trek uit die Kaapkolonie

Trichardt het probleme gekry met die Britse regering in die oostelike distrikte van die Kaapkolonie. Soos baie ander boere was hy ontevrede omdat die Britse regering nie die lewe van die grensboere veilig gemaak het nie en ook oor die verengelsingsbeleid.

Om hierdie rede het hy in 1829 sy seun Carolus (hy is ook Karel genoem) met ’n gedeelte van hul vee na die Xhosa-gebied gestuur. In daardie gebied was daar toe reeds baie ander Boere wat ook ontevrede was met die regering. Hy het sy plase in die Baviaans- en Oos-Rietrivierwyk in 1834 verkoop en hy en sy gesin het hulle by Carolus aangesluit in Gcalekaland. Hier het hy ’n groot stuk grond by die opperhoof van die Gcaleka met die naam Hintsa gehuur.

Louis Trichardt en nog ongeveer 18 ander gesinne het langs die Indwerivier gaan woon. Onder hulle was Johannes Henricus de Lange, wat beter bekend was as Hans Dons.

Gesina Johanna de Lange, dogter van Hans Dons de Lange.

In September 1835 het Trichardt en sy gesin saam met ongeveer sewe ander gesinne getrek tot naby waar Aliwal-Noord vandag is. Die naam van dié dorp was toe Buffelsvlei. 3

Een van die mense wat saam met Trichardt getrek het, was ’n man met die van Pfeffer wat ’n onderwyser was. Toe die trek by die Soutpansberge aangekom het, het hulle sommer gou ’n klein skoolgeboutjie gebou sodat die kinders kon skoolgaan. 2

Trichardt en sy groep was die eerste wat getrek het, maar hulle het nie deel gevorm van die groot gedeelte van die Groot Trek nie. Hulle het ook nie kontak gehad met die ander Voortrekkers nie. Die enigste Voortrekkerleiers met wie Trichardt en sy mense kontak gehad het, is Hans van Rensburg en Hendrik Potgieter. 4

Trichardt-trek: Pfeffer saam met skoolkinders.

Trichardt en Hans van Rensburg

Hans van Rensburg (Lang Hans) en sy mense het vir ’n entjie saam met Trichardt getrek. Hierdie twee groepe het in September of Oktober 1835 naby die dorp wat vandag Rouxville (in die Vrystaat) genoem word, by mekaar aangesluit. Hans van Rensburg het toe 49 Trekkers in sy geselskap gehad.

Van hier af het die twee geselskappe saam noord getrek oor die Oranjerivier en oor die Vaalrivier tot by die Soutpansberge in die noorde van die destydse Transvaal.

Toe hulle naby Strydpoort kom, het die Van Rensburg-trek alleen vooruit getrek. Hulle het daarna glad nie weer met die Trichard-trek kontak gemaak nie.

Die hele groep van die Van Rensburg-trek is in Julie 1836 uitgemoor in ’n geveg met ’n Zoeloe-impi (groep Zoeloe-soldate) van Manukozi naby die Limpoporivier. 4

Pfeiffer op sy sterfbed.

Dagboek

Louis Trichardt was die enigste Voortrekkerleier wat ’n volledige dagboek nagelaat het. Hierdie dagboek bied waardevolle inligting oor sy trek en die mense wat saam met hom getrek het. Dit bevat ook belangrike inligting oor die geskiedenis van daardie tyd. 3

Trichardt kon goed skryf en die Nederlands waarin hy geskryf het, was byna soos die Afrikaans wat mense later begin gebruik het. 4

Hy vertel daarin hoe die Voortrekkerfamilies met mekaar klaargekom het en hoe die verskillende pioniers wat aan die Groot Trek deelgeneem het, van mekaar verskil het. Omdat hy self die dagboek geskryf het, kom mens agter dat Trichardt ’n saggeaarde persoon was en dikwels konflik tussen die Trekkers opgelos het. Sy standpunte en waarin hy geglo het, is ook in die dagboek opgeteken.

’n Groot deel van die inhoud gaan oor die Voortrekkers se gewoontes en gebruike, hul kleredrag, die kos wat hulle geëet het asook oor siektes en beperkte medisyne wat tot hul beskikking was en hoe dit gebruik is.

Louis Trichardt se dagboek is baie omvattend – hy het in detail geskryf oor die diere en plante asook oor die klimaat en hoeveel dit gereën het in die plekke waar hulle getrek het. ‘n Mens leer daaruit waarmee hulle getrek het en hoe moeilik dit was om daardie waens aan die beweeg te hou. Selfs die probleme om met groot troppe vee te trek en kennis van die swart volkere langs hul roete is in die dagboek opgeteken.

In die dagboek is daar baie geskryf oor Trichardt se tweede oudste seun, Pieta. Pieta het dikwels gaan jag. Daar was ’n groot verskeidenheid wilde diere op die roete waarlangs hulle getrek het – renosters, leeus, tiere, elande, wildebeeste, koedoes, wildevarke, volstruise en ’n groot aantal kleiner bokke.

Uit die beskrywings in die dagboek kan ‘n mens ook sien watter soort werk gedoen moes word terwyl die Trekkers besig was om te trek.

Pieta het, onder meer, die volgende soort werk gedoen:

Hy het dekgoed (riete of gras) in die veld gaan haal om ’n skerm te maak en dit met velle oorgetrek. Hy het mis in die veld versamel vir brandgoed. Pieta se taak was ook om velle brei en rieme daaruit te sny. Hy was ook die een wat moes hout kap.

Pieta was knap met sy hande en het jukskeie en veldstoele gemaak. Van die riete wat hy in die veld gekry het, het hy gebruik om ’n klein skooltjie te bou waar die 21 kinders onder 16 jaar kon lesse kry. Die skooltjie is in Junie 1836 voltooi.

Trek oor die noordelike Drakensberg.

Pieta het min tyd vir ontspanning gehad en ‘n mens kan verstaan dat hy soms moeg moes word vir al die werk. Op Saterdag 3 Junie 1837 skryf sy pa in die dagboek: “De avond sprak ek met Pieta, gaf hij mij geen antwoord, maar een suure gezigt, waar ik boos om worden.” (Ek het die aand met Pieta gepraat, maar hy het my nie geantwoord nie, net ’n suur trek op sy gesig gehad. Dit het my kwaad gemaak). 3

Daar is ook ’n beskrywing in die dagboek oor hoe moeilik dit vir die groep was om met hul waens oor die Drakensberge te trek. Tot by die Drakensberg het die trek maklik verloop, maar om oor die berge te kom, was baie moeilik. Hulle het byna besluit dat hulle dit nie gaan regkry nie, maar die vroue wou dit nie aanvaar nie en het gesê dat die trek moes voortgaan. Hulle het toe met spanne van 16 of 18 of selfs 20 osse per keer die waens vir kort entjies vorentoe beweeg. Die afgaan aan die ander kant was nóg moeiliker omdat dit steiler was. Daar was ook die heeltyd mis en reën wat dinge vir hulle nog moeiliker gemaak het. So moeilik het dit gegaan, dat drie seuns die groep verlaat het en weggeloop het. Hulle het later weer teruggekeer en al drie is deur hulle ouers gestraf.

Dit het die groep langer as twee maande geneem om oor die berge te trek. Hulle moes die agterste wiele van die waens afhaal en die waens op groot houtblokke laat rus wat onder aan die asse vasgemaak is. Vir die afgaan het hulle net vier osse voor elke wa ingespan en so is die waens een ná die ander tot aan die voet van die berg gebring.

Dit het nog twee en ’n half maande geneem voor hulle op 14 April 1838 in Delagoabaai aangekom het. Daar was toe 52 mense in die groep.

Delagoabaai

In Junie 1836 het Hendrik Potgieter die Trichardt-trek by die Soutpansberg besoek terwyl hy besig was met ’n ekspedisie na die Noorde toe. Hulle het toe afgespreek dat Trichardt daar vir Potgieter se trek sou wag. Nadat hulle vir ’n jaar gewag het en Potgieter nie opgedaag het nie, het die Trichardt-trek in Augustus 1837 verder in die rigting van Delagoabaai (vandag bekend as Maputo) getrek. Die rede waarom Potgieter so lank geneem het om op te daag, is omdat hy eers teen die Matabeles moes veg.

Trek oor Witrivierspoort.

Dit het nie goed gegaan met die Trichardt-groep nie. Naby die Soutpansberg is ses lede van die groep aan malaria dood. Onder hulle was Trichardt se drie jong kinders. Nadat hulle met baie probleme oor die Drakensberg getrek het, het hulle in Delagoabaai aangekom. Talle mense in die groep was siek en hulle was so arm dat die Portugese goewerneur hulle daar moes help.

Nadat hulle daar aangekom het, het nog 20 mense van die groep aan malaria gesterf. Onder hulle was Trichardt en sy vrou. Hy teken die datum van sy vrou se afsterwe in sy dagboek aan as 1 Mei. Op 10 Augustus, op sy verjaardag, skryf Trichardt vir die laaste keer in die dagboek en sterf op 25 Oktober 1838, ses maande nadat hulle in Delagoabaai aangekom het. 3

Die 25 mense wat oorgebly het, was omtrent net kinders en weduwees. Die Natalse Voortrekkers het ’n boot gestuur om hulle te gaan haal en op 19 Julie 1839 het hulle veilig in Port Natal (vandag Durban) aangekom. Trichardt se een seun, Pieta, is een van die mense wat veilig in Port Natal aangekom het. 4

Hoe onthou ons vir Louis Trichardt?

  • Die dorp Louis Trichardt in die Limpopo-provinsie is na hom vernoem. Die Afrikanervolk het soveel respek en bewondering vir Louis Trichardt gehad, dat hulle met die naamgewing van dié dorp hierdie besonderse Trekkerleier en pionier wou vereer – geen wonder dat hierdie dorp se nuwe naam (Makhado) nie lank gebly het nie.
  • Die dorp Trichardt in die hoëveld van Mpumalanga is ook na hom vernoem.
  • Aan die noordoostekant van die Drakensberg is die dorpie Trichardtsdal.
  • In Maputo is daar ’n tuin van herinnering wat hom en sy geselskap vereer. 5
  • Op vier plekke langs die roete waar hy getrek het, is daar bronsplate ter ere van hom opgerig. 1 Een van dié bronsplate is in 1937, met die trek se eeufees, aangebring waar hulle die Drakensbergrif oorgesteek het. 6
Verder teen die Drakensberg af.

Woordbank

baanbrekerswerk Iemand wat belangrike werk doen wat nog nie voorheen deur iemand anders gedoen is nie, soos om vir die eerste keer na ’n onbekende land of gebied te trek.
ekspedisie Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek.
geselskappe Groepe.
impi Die naam vir ’n groep Zoeloesoldate.
jukskeie ’n Houtpen wat aan weerskante van ’n trekos se nek deur gate in die juk gesteek word om die juk in plek te hou. Die twee jukskeie word onder die os se keel met ’n strop aan mekaar vasgebind.
kolonie Gebied wat deur ’n ander land beheer word.
malaria ’n Koors veroorsaak deur die byt van ‘n sekere muskiet wat voorkom in warm, vogtige gebiede (tropiese en subtropiese klimaat); moeraskoors.
opperhoof Die woord wat gebruik is vir die leier van die inheemse stamme.
pionier Die eerste persoon wat na ’n nuwe/onbekende land of gebied trek en daar begin woon. Dit verwys ook na iemand wat die eerste is om iets te ontdek, uit te vind.
rieme Toue wat uit ’n beesvel gesny is. Dit was voordat mens tou in ’n winkel kon koop soos ons vandag doen.
standpunte Dit wat mens oor ’n onderwerp of saak dink en glo.
verengelsingsbeleid Die Britse regering wou probeer om die Afrikaners almal net Engels te laat praat.
waardevolle Iets wat baie waarde het.

Lees en kyk om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 Augustus 2022 | Bygewerk op 18 September 2024