Vinnige feite

  • Die moderne Olimpiese Spele kom van die oorspronklike toernooi wat in die stad Olimpië in Antieke Griekeland gehou is. Die Olimpiese Spele is elke vier jaar gehou ter ere van Zeus, die koning van die Olimpiese gode. 11
  • As jy ’n aanhanger is van Rick Riordan se Percy Jackson-reeks, sal dit vir jou interessant wees om te weet dat Perseus die inspirasie was vir Percy se naam. 9
  • Een van die bekendste skilderye uit die Renaissance, die Geboorte van Venus deur die Italiaanse kunstenaar Sandro Botticelli, is ’n uitbeelding van ’n moment uit die Griekse mitologie. Die skildery is van die godin Venus (in Grieks was haar naam Aphrodite) wat ná haar geboorte volgroeid uit die see gekom het. Die skildery is in die Uffizi-galery in Florence.

 

Foto: iStock

Griekse mitologie is die versameling mites en wat oorspronklik deur die Antieke Grieke vertel is. Met hierdie verhale het die Antieke Grieke dinge rondom hulle verklaar wat andersins onverklaarbaar sou wees: die oorsprong en aard van die wêreld; die lewens en aktiwiteite van gode, helde en mitologiese wesens; en die oorsprong en betekenis van die Antieke Grieke se kulturele en sosiale praktyke. Moderne geleerdes bestudeer die mites om die godsdienstige en politieke idees en ingesteldheid van Antieke Griekeland te verstaan, want as ’n mens ’n volk se stories en mites verstaan, verstaan ’n mens dikwels die volk.

Betekenis van die woord ‘mitologie’

Voor ons dieper delf in die Griekse mitologie, moet ons net eers seker maak ons verstaan wat die terminologie behels. Ons moet weet wat beteken die term “mitologie” en ons moet weet wat is ’n “mite”.

Mitologie

Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (of kortweg, die WAT) beteken die term “mitologie” die volgende: “Geheel van oorgelewerde mites van ’n volk waarin hul herkoms, geskiedenis, gode, voorvaders en helde beskryf word: Die antieke, klassieke mitologie. Die Germaanse, Griekse, Noorse, Romeinse mitologie.” 1

Daar is twee belangrike goed wat jy hier moet raaksien:

  • Die term verwys na ’n versameling mites wat deur ’n bepaalde volk oorvertel is waarmee hulle hul werklikheid probeer verklaar het.
  • Nie net die Grieke het sulke mites gehad nie, ander volke het ook: die Romeine, die Nore, die Germane, die Egiptenare, die Chinese, en nog baie meer. Daar is bewyse dat elke volk op aarde met ’n Antieke geskiedenis ’n mitologie gehad het. 2

Mite

Die WAT gee weer vir ons ’n lekker bruikbare definisie: ʼn Mite is “ʼn Antieke verhaal oor die dade van gode, halfgode, goddelike voorouers en heldefigure van ’n volk waarin belangrike gebeurtenisse uit die verlede oorvertel word of probeer word om ’n verklaring te vind vir natuurverskynsels en menslike ervarings, veral dié wat problematies is, en waarin hul herkoms dikwels verken word.” 3

Hieruit kan ons ook twee belangrike goed aflei:

  1. Die verhale is eie aan ’n Antieke volk, en dit handel oor die volk se god of gode. Gode is wesens wat aanbid word, en mites is dus meestal deel van daardie volk se religie .
  2. Die doel van die verhale is om problematiese, onbekende of onverklaarbare dinge uit die hede of die verlede te verklaar.

(As jy meer oor mites wil lees en wil leer wat hulle presies behels, kan jy by hierdie skakel ons artikel daaroor lees.)

Een laaste belangrike opmerking: As jy hierdie artikel lees of na die video’s hier onder kyk, moet jy onthou dat hierdie stories nie bedoel was om ’n feitelik akkurate weergawe van die werklikheid te gee nie. Daar is bewyse dat die Antieke Grieke self geweet het die stories is fiksie en dat ’n mens nie die hierdie stories realisties moet interpreteer nie. 4

Oorsprong van die Griekse mitologie

Daar is geen enkele oorspronklike teks – soos die Bybel vir Christene of die Vedas vir Hindoes – wat alle Griekse mites se karakters en verhale bevat nie. Die vroegste Griekse mites is deel van ’n mondelinge tradisie wat in die Bronstydperk begin het, en die intriges en temas in die mites het geleidelik in die geskrewe literatuur neerslag gevind. 5

As ons dus vandag brontekste soek waaruit ons oorspronklike vertellings van hierdie mites wil nagaan, moet ons werk met tekste wat geskryf is deur die Antieke Griekse skrywers. Homeros was waarskynlik die bekendste van almal, en hy het in sy twee beroemde werke, die Ilias en Odussee, die bekende verhaal van die Trojaanse Oorlog vertel. Homeros het egter nie die storie van die gode vertel nie, want hy het vir ’n gehoor geskryf wat die gode geken het. 5

Die Griekse digter Hesiodos het in 700 v.C., die eerste geskrewe weergawe van die oorsprong van die Griekse mitologie geskryf. Sy werk, die Theogonie, vertel die verhaal van die heelal se ontwikkeling van niks (chaos, ’n oer-leemte) na bestaan, en beskryf ’n uitgebreide geslagsregister (in Engels: family tree) van elemente, gode en godinne wat uit chaos ontwikkel het. 5

Latere Griekse skrywers en kunstenaars het hierdie bronne in hul eie werk gebruik en daarop uitgebrei. Mitologiese figure en gebeurtenisse verskyn byvoorbeeld in die 5de-eeuse toneelstukke van Aeschylus, Sophokles en Euripides en die liriese gedigte van Pindar. 5

Wat ons dus vandag van die Griekse mitologie weet, moet ons uit hierdie bronne leer. 5

Die ontstaansgeskiedenis volgens die Griekse mitologie

Volgens Hesiodos was daar oorspronklik ’n groot niks (chaos). Uit hierdie niks het die eerste oerwesens gekom: Gaia (die aarde), Uranus (die lug), Pontus (die see) en Tartarus (die onderwêreld). 3

Gaia, die aardmoeder, en Uranus is getroud, en hul afstammelinge was Titane – hemelwesens wat oor elke aspek van die heelal regeer het. Die bekendste Titane is waarskynlik Atlas (wat die wêreld op sy skouers dra) en Kronos (die god van tyd). Ken jy die woord “chronologie” (ook gespel “kronologie”) – die term waarmee ons verwys na die verloop van gebeure in ’n bepaalde tyd? Daardie woord se stam is die god Kronos se naam.

Volgens die mitologie het Uranus sy kinders gehaat omdat hy bang was dat hulle teen hom in opstand sou kom. Daarom het hy Gaia se kinders in haar liggaam weggesteek. Gaia het nie daarvan gehou nie en haar kinders gevra om haar te help. 6 Haar seun Kronos het sy broers bymekaar gemaak en sy pa in ’n hinderlaag gelei en vermoor. So is Uranus se heerskappy beëindig en die Titane, onder aanvoering van Kronos, was nou aan bewind! 7

Kronos was ook bang dat iemand sy bewind sou omverwerp, daarom het hy sy broers en susters in Tartarus, ’n deel van die onderwêreld, toegesluit. Hy het ook sy eie kinders ingesluk om te keer dat hulle teen hom in opstand sou kom. Rhea, Kronos se vrou, het hom egter uitoorlê en hul jongste seun, Zeus, gered. Rhea het Zeus in ’n grot op die eiland Kreta versteek en hom in die geheim grootgemaak. Later het Zeus Kronos se skinker geword en ’n konkoksie van drankies voorberei wat gemaak het dat Kronos die kinders wat hy ingesluk het, weer opgebring het: Hestia, Demeter, Hera, Hades en Poseidon. Toe al sy broers en susters bevry is, het Zeus hulle bymekaar geroep en hulle oorreed om oorlog teen hul pa te voer. Hierdie oorlog het tien jaar geduur en staan bekend as die Titanomagie (in Engels: Titanomachy). 8 As jy weer iewers lees van die “Clash of the Titans”, kan jy na hierdie oorlog terugverwys – dis waar daardie uitdrukking vandaan kom.

Zeus het daarna die belangrikste god in die Griekse mitologie geword. Hy en sy sibbe het op Berg Olimpus, die hoogste berg in Griekeland, gewoon. Vanuit hierdie hoë plek het hulle oor elke aspek van die menslike lewe regeer. Olimpiese gode het soos gewone mense gelyk (alhoewel hulle hulself in diere en ander dinge kon verander) en het baie keer gewone menslike passies en swakhede gehad.

Die twaalf “Olimpiërs”, soos hierdie gode op Olimpus bekend gestaan het, was die volgende (die name tussen hakies is die naam wat die Romeine vir dieselfde god gegee het):

  • Zeus (Jupiter, in die Romeinse mitologie): die koning van al die gode en mense, god van weer, die wet en lotgevalle
  • Hera (Juno): die koningin van die gode en godin van vroue en die huwelik
  • Aphrodite (Venus): godin van skoonheid en liefde
  • Apollo (Apollo): god van profesie, musiek en poësie en kennis
  • Ares (Mars): god van oorlog
  • Artemis (Diana): godin van jag, diere en geboorte
  • Athena (Minerva): godin van wysheid en verdediging
  • Demeter (Ceres): godin van landbou en graan
  • Dionysus (Bacchus): god van wyn, plesier en feestelikheid
  • Hefaistos (Vulcan): god van vuur, metaalbewerking en beeldhouwerk
  • Hermes (Mercurius): god van reis, gasvryheid en handel, en Zeus se persoonlike boodskapper
  • Poseidon (Neptunus): god van die see 5
Poseidon

Belangrike Griekse mites

Daar is natuurlik baie mites uit die Griekse mitologie, en ons kan nie almal hier aanhaal nie. Maar jy het miskien al van die volgende mites gehoor: 9

Prometheus steel vuur

Zeus het op ’n dag geskenke aan al die gode uitgedeel, maar hy het nie veel vir mense omgegee nie. Die Titaan Prometheus het egter, omdat hy mense liefgehad en jammer gekry het, op Olimpus geklim en die vuur uit Hefaistos se werkswinkel gesteel, dit in ’n hol riet weggesteek en dit aan die mense gegee. Nou kon mense ook vuur maak, goed aan die brand steek, metaal smelt en gereedskap maak. Zeus was woedend toe hy hiervan hoor. Hy het Prometheus na ’n hoë berg, Kaukasus, geneem en hom aan ’n rots vasgeketting. En elke dag het Zeus ’n arend gestuur wat Prometheus se lewer geëet het. Dertig jaar lank het Prometheus in die Kaukasus vasgebind gebly, totdat die groot held Hercules, Zeus se seun, hom finaal van sy lyding bevry het.

Onheil uit Pandora se kissie

Nadat Prometheus die vuur aan mense gegee het, het Zeus besluit om wraak te neem. Hy het Hefaistos beveel om die eerste menslike vrou uit grond en water te skep. Elke god het vir die vrou ’n geskenk gegee: Athena het haar wysheid gegee, Aphrodite skoonheid, Hermes listigheid en so meer. Die vrou se naam was Pandora (wat “alle gawes” in Grieks beteken). Zeus het vir Pandora ’n kissie gegee, en haar gewaarsku om dit onder geen omstandighede oop te maak nie. Pandora het hard probeer om die versoeking te weerstaan, maar sy het uiteindelik die kissie oopgemaak, en so al die ellende wat die wêreld ken, vrygelaat: haat, oorlog, dood, honger, siekte en allerhande soorte rampe.

Hades ontvoer Persefone

Persefone was die beeldskone dogter van Demeter en Zeus. Toe Hades, die god van die onderwêreld, haar sien, het hy dadelik op haar verlief geraak en haar ontvoer. Demeter, die godin van landbou en graan, het dag en nag tevergeefs na haar dogter gesoek. Die grond en oeste van die aarde het begin verdor. Ná ’n rukkie het die son, wat alles gesien het, haar vertel wat gebeur het. Demeter het na Zeus toe gegaan en geëis dat Persefone teruggegee word, anders sou sy die aarde nooit weer vrugbaar laat word nie.

Zeus het sy boodskapper, Hermes, na Hades gestuur met die opdrag om Persefone vry te laat. Hades het haar vrygelaat, maar hy het haar eers gedwing om ses granaatpitte te eet. Hades het geweet as iemand kos in die onderwêreld eet, sou hulle weer soontoe terugkeer. Persefone is kort daarna met haar ma herenig, maar toe Demeter van die granaatpitte hoor, het sy besef Hades het hulle uitoorlê. Zeus het toe ’n kompromie voorgestel: vir elke pit wat Persefone geëet het, sou sy ’n maand saam met Hades deurbring. Demeter het Zeus se voorstel aanvaar. Persefone sou elke ses maande na die onderwêreld reis en dan ses maande daar bly. Gedurende hierdie ses maande het Demeter oor haar gerou en die aarde laat vergaan. Maar ná ses maande as Persefone terugkeer, was Demeter weer gelukkig en het die aarde weer geblom! (Dit is met hierdie mite wat die Grieke die seisoene verklaar het.)

Ikarus vlieg te hoog

In die Griekse mitologie was koning Minos die koning van die eiland Krete. In sy paleis was daar ’n labirint wat ontwerp is deur ’n bekende uitvinder en ingenieur, Daedalus. Koning Minos het aan Daedalus en sy seun, Ikarus, opdrag gegee om die labirint te bou waarin die monster Minotaurus sou woon. Nadat Daedalus en Ikarus hul werk voltooi het, het koning Minos die pa en sy seun in die labirint gevange gehou, omdat hy wou verhoed dat mense van sy labirint te hore kom. Daedalus het met ’n plan vorendag gekom om te ontsnap: Hulle het vere van voëls bymekaargemaak en dit met was vasgegom om vier groot vlerke te maak. Hulle het hierdie vlerke aan hul skouers vasgemaak en weggevlieg. Daedalus het Ikarus gewaarsku om nie te hoog en te naby aan die son te vlieg nie omdat die was sou smelt. Ikarus het hom slim gehou en te hoog gevlieg. Die warm son het die was wat die vere bymekaar gehou het, gesmelt, en Ikarus het in die see geval en verdrink.

Perseus vermoor Medusa

Nog ’n bekende verhaal uit die Griekse mitologie is die moord op die skrikwekkende gorgo (in Engels: gorgon) Medusa. In plaas van hare, het Medusa lewende giftige slange op haar kop gehad en enigiemand wat na haar oë sou kyk, sou dadelik in klip verander. Perseus, die seun van Zeus en Danae, wou van hierdie skrikwekkende gedrog ontslae raak. Met die hulp en die wysheid van godin Athena het Perseus nader aan die monster gekom deur na haar weerkaatsing te kyk, en toe sy kans waargeneem om haar te onthoof.

Medusa se kop

Hoekom is hierdie mites vandag nog belangrik?

Die mites uit die Griekse mitologie het vir meer as 2 000 jaar behoue gebly. Nadat die Griekse beskawing tot ’n einde gekom het, het die Romeine baie van hierdie Griekse mites oorgeneem en in hul beskawing ingebring. Tussen die Griekse en Romeinse beskawings is groot dele van wat ons vandag as Westerse kultuur ken, vasgelê.

Die Griekse mitologie het veral ’n enorme invloed gehad op die kuns en letterkunde van die Westerse beskawing. Baie skilderstukke, beeldhouwerke, tekste en selfs musiekstukke verwys na hierdie Griekse mites en die karakters uit die mites, en as ons nie die mites ken nie, kan ons ook nie hierdie kunswerke verstaan nie. 10

Woordbank

aan bewind  Regeer; alles beheer.
aardmoeder ’n Godin wat as die bron van vrugbaarheid en lewe beskou word.
akkurate Iets was presies korrek is, sonder enige foute:
Antieke geskiedenis Die geskiedenis voor die Middeleeue.
Antieke Grieke Grieke wat in die Griekse beskawing voor die Middeleeue geleef het.
aspek  ’n Deel van ‘n groter idee of plan.
beeldskone Baie mooi.
Bronstydperk Die tydperk ±3500 tot 1000 v.C in Europa waarin die mense hulle werktuie byna net van brons en koper vervaardig het.
brontekste Oorspronklike tekste.
chaos In die Griekse mitologie: ’n oer-leemte; die niks voor die geskiedenis begin het.
feitelik Iets wat uit feite bestaan, wat werklik gebeur het.
figure Afbeeldings of voorstellings van iemand of iets.
fiksie Stories oor denkbeeldige mense en gebeure.
geslagsregister ’n Lys met name van mense, hulle voorouers en hulle afstammelinge.
gode Wesens aan wie bonatuurlike magte en eienskappe toegeskryf word.
gorgo Mitologiese figuur; een van drie susters met slange vir hare en die vermoë om iemand wat vir hulle kyk in klip te verander.
hinderlaag Militêre maneuver om die vyand iewers heen te lei en dan te oorrompel.
interpreteer Die manier waarop iemand ’n gebeurtenis, inligting, of iemand se optrede verduidelik en verstaan.
intriges Die interessante stappe in ’n storie.
karakters Iemand in ’n boek of rolprent.
kompromie ’n Ooreenkoms waarin al die betrokkenes minder aanvaar as wat hulle oorspronklik wou hê
konkoksie ’n Mengsel van verskillende dinge, soos kos, wat nie gewoonlik saam gebruik word nie.
labirint ’n Soort doolhof met ’n enkele pad wat na ’n sentrum lei, gewoonlik in ’n sirkel gebou. Solank ’n mens vorentoe beweeg, sal ’n mens die sentrum bereik.
listigheid Skelmstreke.
lotgevalle Dinge wat gebeur waaroor die mens geen beheer het nie.
mite Antieke verhaal waarmee ’n volk die werklikheid probeer verklaar het, dikwels met ’n god of gode as karakters, en wat dikwels deel is van die volk se religie.
mitologie Versameling oorgelewerde mites waarmee ’n volk die wêreld probeer verklaar het.
mondelinge tradisie Tradisie dat stories oorvertel word en nie neergeskryf is nie.
neerslag gevind Letterlik: neergeval; figuurlik: daarin voorgekom.
oerwesens Eerste wesens.
omverwerp Letterlik: omgooi; gewoonlik gebruik binne ’n konteks van ’n bepaalde bestel wat beëindig word.
onder aanvoering van Onder leiding van.
onderwêreld Die ryk van die dooies.
oorgelewerde ’n Storie wat mondelings oorvertel word.
passies Dinge waaroor iemand sterk voel en waaroor hulle entoesiasties raak.
problematies Iets wat moeilik is om te hanteer.
profesie Voorspelling.
realisties Om iets uit te beeld soos dit regtig is.
religie Manier waarop ’n bepaalde groep mense glo.
terminologie Tegniese woorde of uitdrukkings wat in ‘n bepaalde vak gebruik word.
temas Onderwerp.
tevergeefs Sonder sukses of kans om te slaag.
Titane Mitologiese hemelwesens wat oor elke aspek van die heelal regeer het.
uitoorlê Om iemand op ’n slim of skelm manier te klop.
was ’n Vetterige stof wat maklik smelt.

Hierdie artikels gee elk ’n kort oorsig oor die Griekse mitologie

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Griekse mitologie

Die geskiedenis van die Griekse mitologie

’n Animasievideo oor Griekse mitologie

’n Geslagsregister van die Griekse gode

Twee mites: ‘Persefone’ en ‘Pandora se kissie’

Mite: ‘Perseus vermoor Medusa’

Mite: ‘Ikarus vlieg te hoog’

Mite: ‘Prometheus steel vuur’

Hier kan jy na al die bekendste mites kyk

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 April 2024 | Bygewerk op 30 April 2024