Vinnige feite
- Daar is verskillende soorte migrasies, soos seisoensmigrasie (vir werk of agter vee aan); permanente verhuising (soos mense wat na byvoorbeeld Australië of Kanada trek) – dit sluit ook interkontinentale migrasie in; verstedeliking (en sy omgekeerde proses) ook ’n soort migrasie; verowering; en kolonisasie. 3
- Die term “Mfecane” is reeds in die laat 19de eeu gebruik deur die Duitse sendeling Albert Kropf in sy Xhosa-woordeboek: im-Fecane word omskryf as “Marauders, free-booters, bandits, lawless tribe, especially the followers of Matiwana [Matiwane], who were defeated and broken up at the Umtata [Mthatharivier] in 1829”. 3
- Mielies kom oorspronklik van Suid-Amerika af, en is na Suider-Afrika gebring deur Portuguese handelaars. Mielies het meer voedingswaarde gehad as die ander kosse wat verbou is (soos graan). Dit was een rede vir die bevolkingsgroei in die 18de eeu.
Die Mfecane was ’n tydperk van konflik, ontwrigting en herorganisasie in Suider-Afrika tussen omtrent 1750 en 1835. Dit het die lewens van die meeste Afrika-gemeenskappe van die Kaapkolonie tot so ver soos die hedendaagse Tanzanië onherroeplik verander. 1
Benaming
Hierdie tydperk word die “Mfecane’ genoem deur Nguni-sprekendes, wat “vernietiging” of in Engels “crushing“ beteken. Sotho-Tswana-sprekers noem dit die Difaqane of soms Lifaqane, wat “gedwonge migrasie” beteken. 2 Die meer algemene woord is Mfecane, en dit is dus wat ons gebruik.
Wat presies was die Mfecane?
Sekere swart gemeenskappe in die Suider-Afrikaanse binneland het begin sterker geword, en in die proses bondgenootskappe gevorm en swakker stamme onderwerp. Lede van die swakker stamme het hiervan gevlug, maar hulle was nou haweloos. Om te oorleef, het dié mense op hul beurt ander groepe aangeval en gestroop. Die proses het hom herhaal en dit het gelei tot geweld en stropery wat al hoe wyer uitgekring het. 3
Wie was betrokke?
Die Mfecane het meestal die Bantoe-sprekende gemeenskappe van Suid-Afrika geraak. Die Bantoe-sprekendes word gewoonlik in twee groepe opgedeel.
Eerstens is daar die Nguni-sprekendes, wat verdeel word tussen die Noord-Nguni – die Zoeloe en Swazi, en die Suid-Nguni – die Xhosa, Mpondo, Thembu en Mpondomise. Tweedens is daar die Sotho-Tswana-sprekendes, wat insluit die Wes-Sotho of Tswana, bestaande uit die Rolong, Hurutshe, Kwena, Fokeng en Kgatla, die Noord-Sotho, bestaande uit die Pedi, en die Suid-Sotho, wat uiteindelik die Basoetoe geword het. 3
Ander gemeenskappe soos die Venda, Lemba en Tsonga is ook beïnvloed. 3
Oorsake van en redes vir die Mfecane
Die oorsprong van die Mfecane is ’n baie kontroversiële onderwerp. Vandag weet ons daar is baie verskillende redes wat ’n rol gespeel het.
In die 18de eeu het die swart gemeenskappe van Suider-Afrika se getalle skielik begin groei. Die rede was dat hulle meer kos (veral mielies) gehad het en daar was ’n tydperk van goeie reënval. Dit het egter tot vinnige bevolkingsgroei gelei. Maar toe, in ongeveer 1816, was daar ’n tienjaartydperk waarin Suider-Afrika die koudste en droogste tydperk in ’n duisend jaar beleef het. Dit het gelei tot ’n enorme hongersnood, soms genoem die Mahlatule-hongersnood. Mahlatule beteken “die tyd wat ons gras moes eet”. As gevolg van die hongersnood en oorbevolking moes groepe met mekaar veg om die beste grond te kry. 4
Rondom dieselfde tyd het al hoe meer wit Europese handelaars hulle aan die kus gevestig, onder meer in Delagoabaai (vandag Maputo). Handelaars van die Kaapkolonie het ook nader aan die binneland getrek. Die Europeërs was op soek na ivoor, goud en slawe. Vir swart hoofmanne – veral die leiers van die Nguni-groepe, wat naby die kus gebly het – sou beheer oor dié handel rykdom en mag beteken. Daarom het hulle begin om hul militêre mag op te bou. 1
Die konflik versprei
Die konflik in die binneland het weens twee redes uitgekring.
In die Sotho-Tswana-sprekende kulture was rykdom gemeet aan hoeveel beeste jy gehad het. Hulle het in die goeie reënvaljare van die 18de eeu begin om groter en groter veestapels op te bou. Die koue en droë tydperk het egter beskikbare weiveld vir die vee minder en swakker gemaak. Dit het gelei tot kompetisie vir weiveld. Hoofmanne met baie beeste kon volgelinge lok deur vir hulle vee te gee. Só kon hulle bondgenootskappe bou, wat hulle sterk genoeg gemaak het om swakker groepe uit te dryf. Dit het die ketting van geweld aan die gang gesit: die uitgedryfde groepe, verhonger en haweloos, moes stroop en uitmoor om aan die lewe te bly. 1
Lank voor die 18de eeu het veral die Tswana-sprekende groepe in die binneland hulle naby aan kruisings van handelsroetes gevestig. Hulle het handel gedryf in krale, koper, yster, tekstiele, ivoor, huide (“karosse”) en beeste, met handelaars so ver soos vandag se Angola en Mosambiek. Teen die einde van die 18de eeu het die aanvraag na Tswana-handelsware skielik verhoog, van twee rigtings af – die Kaapkolonie en Delagoabaai (vandag se Maputo in Mosambiek). Dit het die kompetisie vir jagvelde (vir ivoor) en beheer oor handelsroetes verskerp. Vir die jag was georganiseerde jagpartye nodig. 1
Teorieë oor die oorsake van die Mfecane
Daar is twee kontroversiële teorieë oor die oorsake van die Mfecane.
Eerstens het baie mense in Suid-Afrika vir lank geglo die Mfecane is deur die Zoeloes onder Shaka begin. Volgens hierdie teorie het Shaka se oorloë die kettingreaksie aan die gang gesit. Dit het veroorsaak dat die binneland leeg was toe die eerste wit mense soontoe getrek het. Tweedens, sê ander weer die Mfecane was die skuld van die wit groepe uit die Kaap en Mosambiek, asook die Griekwas en Koranas, wat bondgenote was van die wit mense. Hulle het die stropery begin, en dus die kettingreaksie aan die gang gesit. Die wit sendelinge moes ook die skuld kry, want hulle was eintlik daar om die slawehandel te dryf. Volgens hierdie tweede groep was die Zoeloes nie oorlogsugtig nie, hulle het hulself maar net verdedig. 3
Nie een van hierdie teorieë is korrek nie. Die binneland was nooit leeg nie – groepe soos die Tswana het ononderbroke in die binneland gebly. En verder het die Mfecane voor Shaka se tyd begin, en ook op ander plekke in Suider-Afrika plaasgevind wat niks met Shaka te doen gehad het nie. Dit is ook nie net wit groepe se skuld nie. Die hoofmanne het ’n kritieke rol gespeel. En dit is ook waar dat Shaka se oorloë die Mfecane in Natal momentum gegee het, wat die geweld moontlik baie erger gemaak het. 3
Om op te som: Soos met meeste gebeure in die geskiedenis is daar baie redes wat ’n rol gespeel het. Die moontlikhede op handel met die Kaap en Mosambiek het die hoofmanne beïnvloed. Wit groepe (soos die trekboere, smouse, jagters, en sendelinge) en hul bondgenote (die Griekwas en Koranas) het die binneland ontwrig. Daar is nie twyfel dat die Zoeloes ’n sentrale rol gespeel het nie. En Shaka was ook nie die enigste hoofman wat sy mag wou uitbrei nie. 3
Shaka het in die dekade van sy heerskappy byna honderd stamgroepe oorwin en dié groepe se jong mans by sy weermag ingelyf. Dit het hulle ’n gevoel van eenheid gegee. Shaka wou sy handelsroetes uitbrei na die Kaapkolonie en het gereeld met die Portugese by Delagoabaai handel gedryf. 1
En onthou, al hierdie gebeure het afgespeel in ’n tyd van klimaatsverandering wat mense se lewens bedreig het.
Die Mfecane in KwaZulu-Natal
Vroeër is genoem dat sommige swart gemeenskappe al hoe sterker geword het – deur bondgenootskappe of onderwerping. Twee sulke groepe was die Ndwandwe, onder leierskap van Zwide, en die Mthethwa, onder leierskap van Dingiswayo. Nog ’n groep, die Ngwane van Matiwane, het weggevlug van hierdie geweld af, en in die proses ander groepe ingelyf en hulself weer versterk. 1
Die Hlubi het wes van die Ndwandwe en Mthethwa, aan die voet van die Drakensberg, gewoon. Die Ngwane het wes getrek en die Hlubi-hoofman vermoor. Een groep Hlubi het gevlug, en ’n ander het met die Ngwane verenig. Die Ngwane het spoedig die sterkste groep in die gebied geword. 3
Die opkoms van die Zoeloes
Ná 1810 het Dingiswayo ’n bondgenootskap met ’n kleiner groep, die Zoeloes, gesluit. Toe die Zoeloes se hoofman, Senzangakhona, sterf, het Dingiswayo Shaka gehelp om leier te word. 3
Intussen was die Mthethwa en die Ndwandwe in ’n magstryd betrokke om die sterkste in die streek te wees. In 1818 het Zwide van die Mthethwa vir Dingiswayo gevange geneem en doodgemaak. Shaka het toe beheer oor die Mthethwa oorgeneem. Nou was hy ’n bedreiging vir Zwide. Shaka het met sy bure ’n bondgenootskap gesluit teen die Ndwandwe. Zwide het met aanvalle op die Zoeloes begin. Shaka se troepe het hulle egter teruggedryf. Dit het daartoe gelei dat die Ndwandwe uitmekaargespat het. 3
Die Zoeloes het intussen hul posisie in hul streek versterk. Shaka kon dit nooit regkry om sy mag tot by Delagoabaai te laat geld nie, en aan die suidekant moes hy ander hoofmanne gebruik om sy grense te beveilig, soos die Magaye van die Cele-hoofmanskap, en die Zihandlo van die Mkhize-hoofmanskap. 1
Die groepe wat deur die struweling tussen Shaka en Zwide verplaas is, het op verskillende plekke gaan bly. Soshangane van die Ndwandwe en sy volgelinge het na Suid-Mosambiek getrek en die Gaza-koninkryk geskep. Die leiers van ander Ndwandwe-faksies (splintergroepe) het oor die Zambezirivier na Oos-Zambië getrek, en uiteindelik sover as Suid-Tanzanië. Zwide het na Sentraal-Swaziland verhuis. Daar is hy in ongeveer 1824 oorlede, en twee jaar later is sy seun se troepe in ’n reuseaanval deur die Zoeloes verslaan. Die Ndwandwe het heeltemal versplinter. Sommige het by die Soshangane aangesluit, sommige by die Zoeloes, en sommige by die Ndebele – ’n nuwe opkomende mag in die streek. 3
Die opkoms van die Ndebele
Die Ndebele onder Mzilikazi was lede van ’n groep wat eers tussen die Zoeloes en die Ndwandwe gebly het. Mzilikazi het ná ’n uitval met Shaka na die Hoëveld getrek. Kleiner groepe Pedi en Kgatla is deur die Ndebele verslaan en by hulle ingelyf. Daar het ook intussen Ndwandwe-vlugtelinge by hulle aangesluit. In die volgende paar jaar het die Ndebele ’n groot area noord van waar Pretoria en Rustenburg vandag is, onder hul beheer gebring, en in die proses baie verwoesting gesaai. 1
Mzilikazi het die Kgatla en Hurutshe verslaan. Die Koranas, Griekwas en Taung het mislukte aanvalle op hom uitgevoer. In 1832 het Shaka se opvolger, Dingaan, hom aangeval. Dingaan kon nie vir Mzilikazi verslaan nie, maar dit het hom gedwing om nog verder wes te trek. Binne ’n paar jaar was hy in beheer van die hele westelike Hoëveld. 3
Wanorde versprei
Die konflik het ook oor die Drakensberge versprei na die suidelike Hoëveld toe. Die Hlubi onder Mpangazitha het die Tlokwa onder die vroulike leier Manthatisi aangeval. Manthatisi het toe naby die Vaal- en Sandrivier strooptogte begin uitvoer. Die Hlubi en die Tlokwa het uiteindelik in die Caledonvallei gaan bly, en die Ngwane onder Matiwane het later ook daar aangekom. Daar was deurentyd konflik. In 1825 het die Tlokwa die Hlubi verslaan. Die Hlubi het verdeel – sommige het deel geword van die Tlokwa, sommige van die Ngwane, sommige het na Xhosa-gebied gevlug, en sommige het deel geword van die Mfengu (die “hongeres”), later die Fingo genoem, wat in die Oos-Kaap gaan bly het. 3
Van 1822 af het vlugtelinge van die Caledonvallei, wat die Phuting, Taung, Fokeng en Hlakwana insluit, wes getrek en die Suid-Tswana aangeval en ontwrig. Tussen 1823 en 1826 is die Rolong en Tlhaping gedurig gestroop. Die Fokeng van Sebetwane het oorleef en die Kololo-koninkryk in Wes-Zambië gestig. 3
Suid van die Zoeloes het groepe soos die Chunu en Thembu suid gevlug en van die vroeë 1820’s af chaos daar gesaai. Die Mpondo onder Faku was die sterkste groep daar. Die Chunu en dele van die Thembu het tot ’n mate Faku se beheer aanvaar, maar ’n Thembu-groep onder Ngoza is deur Faku aangeval en vernietig. Die Chunu is uiteindelik deur die Zoeloes uitgewis. 3
Difaqane in die Hoëveld
Die Sotho-Tswana-sprekende groepe het gewoon in ’n gebied oos van die Kalahariwoestyn, tot by die Limpopovallei, en die Vrystaat/Lesotho-gebied. Van ongeveer 1750 af was daar ’n burgeroorlog tussen die Hurutshe, Kwena, Kgatla, Fokeng en Rolong in die hedendaagse Noordwes-provinsie. 3 Net ná 1800 het die Ngwaketse die Hurutshe se mag verbreek. Die Tlhaping het beheer oor die Rolong gekry, en die Kgatla-Pedi het die sterkste op die Lydenburg-plato geword. Op ’n kleiner skaal het die Pedi en Venda langs die Limpopovallei, en die afstammelinge van die Fokeng, Kgatla, en Kwena mekaar in die suidelike Hoëveld aangevat. 1
Die Sotho-Tswana-groepe was minder militaristies en outokraties as die Nguni-groepe. Van omtrent 1822 af het die situasie daar effens bedaar. 1
Impak van die Mfecane
Die Mfecane kan as ’n revolusie beskou word en was waarskynlik een van die belangrikste revolusies in die 18de en 19de eeuse Suider-Afrika. Die impak is gevoel in hedendaagse Suid-Afrika, Lesotho, Swaziland, Zimbabwe, Mosambiek, Botswana, Zambië en so ver noord as Tanzanië. 3
Die lewensverlies was verbysterend. Hele gemeenskappe is uitgewis en groot dele van die binneland is byna ontvolk. Die mense het verskriklik honger gelei – hulle het rondgetrek sonder vee en hulle kon nie akkerbou beoefen nie, want sodra iemand suksesvol was, is hulle gestroop. Daar is nie verslag gehou in dié tyd nie, maar daar word gereken dat daar honderde duisende mense dood is – sommiges reken soveel as twee miljoen. 4
Baie haweloses het oor die grense die Kaapkolonie binnegevlug. Hierdie werklose, hawelose rondlopers het die lewensituasie baie onveilig gemaak. Dit was rondom hierdie tyd toe baie wit Oosgrensboere begin dink het aan wegtrek van Kaapse beheer asook weens die onveiligheid in die Kaapkolonie – twee redes wat uiteindelik tot die Groot Trek gelei het. Omdat die binneland redelik onbewoon was, het die trekboere en Voortrekkers nie eintlik teenstand gekry toe hulle dié gebied ingetrek het nie. 3
Sommige historici sê dat die Mfecane eindelik ’n goeie ding vir die Afrikane was. Die versplintering het tot nuwe groepe en leiers gelei. Sterk gesentraliseerde state het klein hoofmanskappe vervang. Dit was ’n belangrike tydperk van nasiebou, waarin sekere groepe sterk genoeg geword het om die wit uitbreiding teen te staan. 3
Van hierdie nuwe sterk swart state wat ná die Mfecane gevestig was, sluit in, buiten vir die Zoeloes, die Sotho onder Moshoeshoe, Ndebele onder Mzilikazi, Pedi onder Sekwati, Taung onder Moletsane, Tlokwa onder Manthatisi en haar seun Sekonyela, en Suid-Tswana onder Mankurwane. 1
Hierdie groepe het almal ’n belangrike rol gespeel in die vorming van die Suid-Afrika waarin ons vandag leef.
Woordbank
akkerbou | Afdeling van landbou wat voortbrenging van produkte insluit. |
bondgenootskappe | Vereniging of verbond tussen mense/volke. |
burgeroorlog | Oorlog tussen partye van een volk. |
gestroop | Roof of plunder. |
handelaars | Iemand wat goedere koop en verkoop of ruil en verruil. |
haweloos | Sonder besittings. |
hedendaagse | Van vandag of die huidige tyd. |
Hoëveld | Streek in Suid-Afrika wat sowat 1 500 m bo seëspieel is en Gauteng en die Noordelike Vrystaat insluit. |
hongersnood | Volslae, langdurige voedselgebrek in ’n groot gebied. |
kontroversiële | Wat aanleiding kan gee tot twis en onenigheid. |
Nguni | Suidoostelike inheemse taalgroep wat Zoeloes, Xhosas, Swazis en Ndebeles omvat. |
onderwerp | Om iemand se gesag te erken, veral wanneer jy geen keuse het nie. |
onherroeplik | Waaraan niks meer verander kan word nie. |
ononderbroke | Sonder onderbreking; aanhoudend. |
revolusie | ’n Algehele ommekeer. |
tekstiele | Goed wat gespin en geweef is. |
veestapels | Aantal vee van ’n bepaalde groep. |
verbou | Kweek. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video om meer te wete te kom
Geskiedenis van Suid-Afrika: Die mite van Mfecane