Vinnige feite
- Die Voortrekkers en vroeë Afrikaners het na Geloftedag verwys as Dingaansdag, ʼn verwysing na die Zoeloeleier wie se magte verslaan is by die Slag van Bloedrivier.
- Geloftedag (ook Versoeningsdag genoem) word jaarliks op 16 Desember op honderde plekke dwarsdeur die land gevier. By die Voortrekkermonument in Pretoria val die son presies om 12:00 op 16 Desember deur ʼn opening in die dak op die senotaaf en die woorde “Ons vir jou, Suid-Afrika”.
- Die hoeksteen van die Voortrekkermonument is op 16 Desember 1938 – die eeufees van die Slag van Bloedrivier – gelê. Die monument is 11 jaar later op dieselfde datum ingewy.
- Die Geloftemonument noord van Belfast in Mpumalanga is waarskynlik die oudste Geloftemonument in die land. Dit is in 1886 opgerig. 7
Die Gelofte is ʼn belofte wat ʼn groep Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius aan die Allerhoogste gedurende die Bloedrivierveldtog teen die Zoeloes in 1838 gemaak het. Hiervolgens het hulle belowe dat hulle, indien hulle ʼn oorwinning sou behaal, vir Hom ʼn kerk sou oprig en die oorwinning tot sy eer sou vier. Aangevuur deur hul geloof, het hulle die Zoeloes by die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 verslaan.
Agtergrond
Die eerste helfte van 1838 was vir die Trekkers in Natal rampspoedig. Piet Retief, hulle goewerneur en leier, is op 6 Februarie 1838 deur Dingaan se Zoeloes vermoor. Daarna het die Zoeloes verpletterende aanvalle op die Trekkers se laers by Bloukrans, Weenen en Moordspruit geloods, waar honderde mense vermoor is. Boonop het Hendrik Potgieter en Piet Uys se poging om die Zoeloes te straf, misluk toe hulle by die Slag van Italeni verslaan is. Piet Uys het daar gesneuwel. Hendrik Potgieter het Transvaal toe getrek. Kort daarna, op 23 September 1838, is Gerrit Maritz oorlede. Die Boere was leierloos, en baie mense het gedink die Groot Trek was op sy einde. 1 4
Daar was egter nog hoop. Op 22 November 1838 het Andries Pretorius by die Trekkers se laers in Natal (vandag KwaZulu-Natal) aangekom. Hy is onmiddelik as hoofkommandant van ʼn strafkommando verkies wat die Trekkers se vee moes gaan terugkry en die Zoeloes verdryf. 4
Terselfdetyd het daar ook ander mense uit die Transoranje en Kaapkolonie gekom om die Trekkers te ondersteun. 1 Pretorius het op 28 November die Voortrekkerlaers by die Klein-Tugelarivier verlaat, en nadat ander Trekkers by hom aangesluit het, was daar 470 man in die kommando. 1
Die idee vir die gelofte
Tydens die veldtog het Pretorius die idee om ʼn gelofte aan God te maak, met sy kommandante bespreek. Die idee van ʼn gelofte kom waarskynlik uit die Bybel uit. Daar is ʼn paar voorbeelde van Ou Testamentiese beloftes wat Israel aan God gemaak het, soos dié van Jakob in Genesis en Gideon in Rigters. 1 2 3
Jare ná die veldtog het Sarel Cillers in sy herinneringe dit laat voorkom asof die idee vir ʼn gelofte syne was. Dit is egter nie korrek nie, dit was Pretorius se idee. Hy het dit die eerste keer op 5 Desember 1838 by Danskraal aan sy kommandante genoem. Hulle het besluit om eers die idee met die res van die kommandolede te bespreek voordat hulle die Gelofte sou aflê. Hulle wou graag gehad het almal moes saamstem. 1 2 3
Die aflegging van die Gelofte
Terwyl hulle op kommando was, het hulle daagliks godsdiens gehou. Daar was drie mense wat die godsdiens vir verskillende groepe gelei het: Sarel Cilliers, Karel Landman en Pieter Joubert. Op 9 Desember 1838 het hulle by Wasbank oorgestaan om die Sabbat (Sondag) te vier. Voor die oggendgodsdiens het Pretorius vir Cilliers, Landman en Joubert bymekaargeroep. Hulle is aangesê om al die kommandolede se toestemming te vra om die Gelofte af te lê. 2 4
Nadat almal ingestem het, het die kommandolede in hulle verskillende groepe bymekaargekom vir godsdiens. Cilliers het in die hoofkommandant se tent voorgegaan met die Gelofte. Dit was deel van die godsdiens en het gepaardgegaan met die sing van Psalms, ʼn voorlesing en preek. 2 5
Sommige van die kommandolede, insluitende Cilliers self, het onthou dat Cilliers op ʼn wa gestaan het toe hy die Gelofte afgelê het. Die sekretaris van die Volksraad, Jan Bantjes, het ʼn joernaal op die kommando gehou. Op die dag wat die eerste Gelofte afgelê is, het hy geskryf dat Cilliers dit in die hoofkommandant se tent gedoen het. Cilliers se herinneringe is 30 jaar later neergeskryf, en hy maak ook ander foute daarin. Hoewel dit dus moontlik is dat hy in ʼn stadium op ʼn wa gestaan het, was dit onwaarskynlik met die eerste aflegging van die Gelofte op 9 Desember. 2 5
Die Gelofte is hierna elke dag by aandgodsdiens afgelê, en Cilliers, Joubert en Landman het by die verskillende aandgodsdienste die Gelofte afgelê, tot en met 15 Desember, die aand voor die Slag van Bloedrivier. 5
Die Gelofte se bewoording
Niemand is presies seker oor die bewoording van die Gelofte nie. Die bekende woorde wat vandag op monumente en gedenkstene is en by herdenkingsgeleenthede gebruik word, kom uit Cilliers se herinneringe. Cilliers het in Nederlands geskryf, en die Afrikaanse weergawe is dus ʼn vertaling. Daar is twee ander bronne vir die Gelofte. Andries Pretorius het in ʼn brief van 23 Desember daaroor geskryf, en Bantjes in sy joernaal op dieselfde dag. Die drie bewoordings stem basies ooreen met mekaar. Dit verskyn hier onder.
Cilliers se herinnering dat die Gelofte begin het met die woorde “My broeders en mede-landgenote” is waarskynlik ook nie korrek nie. Die Gelofte is immers as deel van ʼn gebed afgelê. 5 Nietemin, Cilliers se weergawe is die een wat in die Afrikaner se geheue voortbestaan.
Cilliers se weergawe (in Afrikaans vertaal)
Ciliers het hierdie weergawe, soos reeds genoem, 30 jaar ná die aflegging van die Gelofte neergeskryf:
My broeders en mede-landgenote, hier staan ons tans op hierdie oomblik voor die Heilige God van hemel en aarde, om ʼn belofte aan hom te maak, dat as Hy met sy beskerming met ons sal wees en ons vyand in ons hande sal oorlewer en sal beskik dat ons hom oorwin, dat ons die dag en die datum elke jaar as ʼn verjaarsdag en ʼn dankdag, soos ʼn Sabbatdag tot sy eer sal onderhou en deurbring, en dat ons dit ook aan ons kinders sal vertel dat hulle met ons daarin moet deel, tot ʼn nagedagtenis, ook vir ons opkomende geslagte, en as daar iemand is wat beswaard daaroor voel, moet hy van hier af weggaan, want die eer van sy Naam sal daardeur verheerlik word dat die roem en eer van die oorwinning aan Hom gegee sal word. 6
Bantjes se weergawe
Bantjes het op die dag van die eerste aflegging daarvan, die inhoud van die Gelofte só verwoord:
… om zoo de Heere ons de overwinning geven mogt, een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten, alwaar het Hem zal Behagen – en dat sy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen en dat wij den dag der overwinning, in een boek zullen aanteekenen om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laaste nageslachten, op dat het ter Eere van God gevierd mag worden. 5
Pretorius se weergawe
Op 23 Desember 1838 het Pretorius in ʼn brief geskryf:
… onder ons gansche geslacht te doen bekend worden, en dat wy het aan den Heer willen toewyden, en vieren met Dankzegging, zoo als wy, voor dat wy tegen den vyand streden, in het openbaar gebed beloofd hebben, zoo ook, dat zoo wy de overwinning verkrygen mogen, wy den Heere tot zyne naams gedachtenis, een huis stichten zullen, alwaar Hy ons zulks aanwyzen zal, welke geloften wy nu ook hopen te betalen, met de hulp des Heeren, nu hyo ns gezegend, en onze gebeden verhoord heeft. 5
Impak van die Gelofte
Daar is wel verskille oor die presiese besonderhede rondom die Gelofte, maar daar is geen twyfel dat ʼn gelofte wel afgelê is en ʼn groot impak gehad het nie. 4 Die Gelofte het die Voortrekkers in hul geloofsvertroue versterk dat God hulle sou bewaar en vir hulle die oorwinning gee. In hierdie lig het die Voortrekkers Dingaan se mag op Sondag 16 Desember 1838 by die Slag van Bloedrivier aangedurf en verslaan. Daardie veldslag het Dingaan se mag ʼn nekslag toegedien en die pad oopgelaat vir die Trekkers om hulle in Natal te vestig. 4
Woordbank
gesneuwel | Om in ʼn oorlog deur die vyand doodgemaak te word. |
rampspoedig | Met baie ellende, teenspoed en rampe. |
verpletterende | Vernietigend. |
senotaaf | Grafmonument vir iemand of mense wat iewers anders begrawe is. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Lokprent van die AfriForum-musiekblyspel Die Gelofte wat die storie van die Gelofte vertel