Vinnige feite

  • Daar bestaan verskillende aanlyn en slimfoontoepassings, soos BraillsTranslator.org, wat mens in staat stel om gewone teks in braille te kan omskakel. Die teks in braillenotasie kan dan met ʼn brailledrukker gedruk word.
  • Braille is nie ʼn taal nie, maar ʼn alfabet wat gebruik kan word om byna enige taal te skryf. Daar is brailleweergawes van Chinees, Spaans, Arabies en verskeie ander tale. 16
  • Braille neem baie meer spasie as die tradisionele alfabet in beslag, daarom is brailleboeke baie lywiger as hul gedrukte eweknieë. Die New American Bible bestaan uit 45 dele, Harry Potter and the Goblet of Fire uit tien dele, en die Webster’s Unabridged Dictionary uit 72 dele! 17
  • Die huis waar Louis in Coupvray grootgeword het, is ʼn historiese gebou en huisves die Louis Braille-museum. ʼn Monument is ook op die dorpsplein opgerig en na Brailleplein herdoop. 18
  • Met die eeufees van sy dood is sy oorskot na die Panthéon in Parys verskuif. In ʼn simboliese gebaar van respek is Louis se hande in Coupvray naby sy huis begrawe. 19
  • Daar is ʼn organisasie genaamd Braille Bibles International wat Bybels in brailleskrif druk.
  • Nog standbeelde en gedenktekens van dié baanbreker kan reg oor die wêreld gevind word: Louis Braille se bydrae is voorts op posseëls en munte verewig, die asteroïde 9969 Braille is in 1992 na hom vernoem, en Encyclopedia Britannica beskou hom as een van die 100 invloedrykste uitvinders van alle tyd.
  • Net soos ʼn mens deesdae braille in hysbakke en op kitsbanke se knoppies aantref, maak al meer maatskappye hul produkte toeganklik vir mense wat blind of siggestremd is. In 2019 het die speelgoedvervaardiger Mattel byvoorbeeld die eerste pak UNO-kaarte met braille vrygestel. Die braille is op die kaarte en die verpakking aangebring. 20
  • Die gemiddelde leesspoed vir braillelesers is ongeveer 125 woorde per minuut, 21en daar is ook bewyse van sommige braillelesers wat ongeveer 400 woorde per minuut lees. 22 Die sleutel om braille so vinnig te lees, is die ligte aanraking van die letters en om albei hande te gebruik. (Een hand lees terwyl die ander gereed is om na die volgende reël te beweeg.)
Foto: iStock

Daar is so baie dinge in die lewe wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Om die wêreld met ons sintuie te kan beleef en waar te neem, is sekerlik een van die vernaamstes: die geluid van die selfoonwekker wat ons soggens wakker maak; die reuk van ʼn spesiale parfuum; die gevoel van ʼn sagte wolkombers; die smaak van sjokolade wat in jou mond smelt; of om die vreugde op jou beste vriend se gesig te sien.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie was daar in 2021 altesaam 2,2 miljard mense wat die een of ander vorm van siggestremdheid gehad het. 1

Baie van dié mense sal nooit die voorreg hê om ʼn rolprent te kyk, hul vriende en familie se gesigte te sien, of ʼn boek te kan lees nie. Danksy ʼn Fransman genaamd Louis Braille kan miljoene blindes egter vandag lees én leer, wat hulle in staat stel om ʼn beroep te beoefen en vir hul gesinne te kan sorg.

Dr. Richard Slating French, voormalige direkteur van die Kaliforniese Skool vir Blindes (California School for the Blind), beskryf Louis Braille se nalatenskap om ʼn kommunikasiestelsel te ontwerp wat vandag nog deur blindes wêreldwyd gebruik word, as die stempel van ʼn genie, net so merkwaardig soos die uitvinding van die Romeinse alfabet. 2

Lewenslustige Louis

Louis Braille is op 4 Januarie 1809 in Coupvray, ʼn klein plattelandse dorpie buite Parys in Frankryk, gebore. Louis was die jongste van vier kinders van Simon-René en Monique Braille. Hy het twee susters en een broer gehad, Monique Catherine Josephine (geb. 1793), Louis-Simon (geb. 1795), en Marie Céline (geb. 1797). 3

Die huis in Coupvray, Frankryk, waarin Louis grootgeword het en wat vandag as museum besoek kan word.

Louis was lewenslustig, en as hy nie tussen die wingerde op die gesin se stuk grond van drie hektaar gespeel het nie, het hy graag tyd in sy pa se werkswinkel deurgebring. Pa Simon-René was ʼn knap ambagsman wat met leer gewerk en onder meer perdeharnasse, sale, tome en leisels gemaak het. 4 Op driejarige ouderdom waag Louis sy hand aan sy pa se gereedskap en probeer om gate met ʼn els (gereedskapstuk met ʼn skerp punt) in die leer te maak. Louis steek homself per ongeluk in die oog. Die plaaslike dokter het sy oog verbind en hom na ʼn chirurg in Parys verwys. Die dokters het egter tevergeefs probeer om Louis se beseerde oog te red. 5

Louis doen infeksie in dié oog op en uiteindelik verloor hy ook die sig in sy ander oog. Teen die ouderdom van vyf was hy blind in albei sy oë. Louis was ʼn energieke seun en het vanweë sy jong ouderdom waarskynlik eers nie besef hy is blind nie. Hy het glo dikwels gevra hoekom dit altyd donker is. 6

Louis se ouers het hul bes gedoen om hom hierna so normaal as moontlik groot te maak. Hy het gou geleer om die dorpie en plattelandse paadjies met ʼn kierie wat sy pa vir hom gemaak het, te verken, en hy het oënskynlik in vrede met sy gestremdheid grootgeword. Sy helder verstand en kreatiwiteit het die plaaslike onderwysers en priesters só beïndruk dat hulle hom met sy skoolwerk gehelp het.

In Februarie 1918, net ná sy tiende verjaarsdag, word Louis toegelaat om een van die eerste skole vir blinde kinders in die wêreld, die Royal Institute for Blind Youth, in Parys by te woon. Dié skool was in daardie tyd vervalle en het finansieel gesukkel. Tog het die Royal Institute for the Blind, wat se naam sedertdien na die National Institute for Blind Youth verander is, ʼn veilige omgewing gebied waar blinde kinders saam kon leer en die wêreld op ʼn andersoortige en spesiale wyse kon ontdek en ervaar. 7

Leergierige Louis

Dit is hier waar Louis leer lees het toe hy met die Haüy-stelsel of -kode te doen gekry het. Valentin Haüy, ʼn filantroop (iemand wat baie vir liefdadigheid doen) en stigter van die skool, was nie self blind nie, maar hy het sy lewe daaraan gewy om blindes te help. Sommige mense het hom die “vader en apostel van die blindes” genoem. 8

Haüy het ʼn tegniek ontwikkel waardeur hy Latynse letters met koperdraad op nat papier druk, sodat die letters bo die papier uitstaan. (Dit staan ook as reliëf bekend.) Die blinde leser beweeg sy of haar vingers stadig oor die papier om die individuele letters te voel. 9

Die proses om boeke met die Haüy-stelsel te maak, was egter baie ingewikkeld en duur. Die boeke was groot en lomp vir kinders om te hanteer, en boonop het die boeke maklik uitmekaar geval.

Hoewel die skool aanvanklik net drie van dié boeke gehad het, verdien Haüy beslis erkenning vir die baanbrekerswerk wat hy gedoen het. Al was dit dalk ʼn eenvoudige manier om aanraking as die sleutel tot lees te gebruik, het Haüy se werk ʼn enorme invloed op Louis se lewe, asook die ontwikkeling van braille soos ons dit vandag ken, gehad.

Louis was nie net ʼn weetgierige leser nie, maar hy wou ook baie graag vir sy ouers briewe skryf. Pa Simon-René het met die blink plan vorendag gekom om ʼn alfabetreliëf op stukkies leer vir Louis te maak. Dit was ʼn omslagtige proses om die letters se buitelyne na te trek en woorde te vorm, maar Louis kon sy eerste sinne skryf en vir sy ouers handgeskrewe briewe stuur.

Louis het hom só in die Haüy-boeke en die lesse van sy onderwysers verdiep, dat hy die skoolkurrikulum sonder moeite onder die knie kon kry. Die skool was só beïndruk, dat hulle hom versoek het om as onderwysassistent aan te bly. Teen 1833 het hy ʼn professoraat ontvang, en vir die res van sy lewe het Louis geskiedenis, meetkunde en algebra hier onderrig.

Om in die donker te kan lees

Uithou en aanhou was gewis deel van Louis se DNS. Hy het bly glo dat daar ʼn makliker en beter manier moes wees om die wêreld van lees vir blindes te toegankliker maak. In 1821 kom hy van ʼn kommunikasiestelsel wat deur kaptein Charles Barbier van die Franse weermag ontwerp is, te hore. 10

Barbier se stelsel, genaamd “nagskrif”, was ʼn kode bestaande uit kolletjies en strepies wat op dik papier ingedruk is. Hierdie indrukke kon met die vingers gelees word, sodat soldate inligting op die slagveld kon deel sonder dat hulle ʼn lig nodig gehad het en sonder om te praat. Barbier se kode was egter te ingewikkeld om in sy oorspronklike (militêre) vorm te gebruik, maar saam met Haüy se stelsel was dit nog ʼn legkaartstukkie wat Louis geïnspireer het om sy eie alfabet vir blindes te ontwikkel. 11

Teen 1824, toe Louis net vyftien jaar oud was, was sy unieke alfabet, wat later as braille bekend sou staan, feitlik voltooi. Hy het Barbier se stelsel vereenvoudig deur eenvormige kolomme vir elke letter te maak, en hy het Barbier se twaalf verhoogde kolletjies tot net ses verminder. Hoewel hy dié stelsel of kode in 1829 gepubliseer het, het hy aanhou skaaf en verfyn, en eindelik in 1837 ook die strepies verwyder, omdat dit te moeilik was om te lees.

Die grootste deurbraak was dat die kleiner selle of groepe kolletjies met ʼn enkele aanraking van ʼn vinger as letters herken kon word. Louis het sy kolletjiealfabet wat opstaan interessant genoeg geskep deur ʼn els te gebruik, dieselfde gereedskapstuk wat sy blindheid veroorsaak het.

Musikale Louis

Louis was baie lief vir musiek en het boonop ʼn uitstekende oor vir musiek gehad. Sy stelsel is later uitgebrei om ook braillemusieknotasie in te sluit. Dit het fyn beplanning geverg om te verseker dat die musiekkode buigsaam genoeg sou wees om aan die unieke vereistes van enige instrument te voldoen. 12

In 1829 publiseer hy die eerste boek oor sy stelsel, Method of Writing Words, Music, and Plain Songs by Means of Dots, for Use by the Blind and Arranged for them. Dié boek is die eerste keer gedruk deur die Haüy-stelsel te gebruik. In 1837 hersien hy die boek, en hy word vir ʼn tweede keer uitgegee, en sy wiskundegids, Little Synopsis of Arithmetic for Beginners, verskyn later in 1838. Baie van Louis se oorspronklike gedrukte werk is vandag nog in die Braillemuseum in sy geboortedorp, Coupvray, te sien. 13

Die jong Louis ontvang musieklesse by Jean-Nicolas Marrigues en bekwaam hom nie net as tjellis nie, maar ook as orrelis. Sy musikale talent open vir hom ʼn nuwe wêreld, en hy kry die geleentheid om die orrel in kerke reg oor Frankryk te speel. Tussen 1834 en 1839 beklee hy eers die pos van orrelis in Parys by die Kerk van Saint-Nicolas-des-Champs, en later by die Kerk van Saint-Vincent-de-Paul.

Hoewel Louis se werk groot belangstelling ontlok en wyd respek afgedwing het, het die Royal Institute for the Blind geweier om braille in die plek van Haüy se stelsel te gebruik. Selfs ná sy dood in 1822 wou Haüy se opvolgers glad nie die gevestigde metodes van die skool verander nie. Hulle was inteendeel só vyandig daaroor dat hulle die skoolhoof, dr. Alexandre François-René Pignier, afgedank het omdat hy ʼn geskiedenisboek in braille laat vertaal het.

Louis het sedert sy kinderdae gereeld met sy gesondheid gesukkel. Daar word geglo dat hy vir sowat 16 jaar met tuberkulose geleef het. Teen die ouderdom van 40 kon hy nie meer sy taak as onderwyser uitvoer nie, en hy is in die Royal Institution se siekeboeg opgeneem. Hier het hy op 6 Januarie 1852 gesterf, net twee dae nadat hy sy 43ste verjaarsdag gevier het. 14

Louis se stelsel is eers in 1854 – twee jaar ná sy dood – deur die Royal Institute aangeneem. Van daar af het dit deur die Franssprekende wêreld versprei, en teen 1882 is dit bykans orals in die wêreld in gebruik geneem. Braille is amptelik in 1916 deur skole vir blindes in die VSA aangeneem, en ʼn universele braillekode vir Engels is in 1932 geformaliseer.

Braille se graf

Sedertdien is daar vele ander innovasies betreffende brailletegnologie. Opwindende innovasies sluit in braillerekenaars; die RoboBraille-e-posafleweringsdiens wat lêers in verskillende formate omskakel; 15 en Nemeth Braille, ʼn omvattende braillestelsel vir wiskunde en wetenskap.

Byna twee eeue ná Louis se uitmuntende uitvinding bly braille van onskatbare waarde vir miljoene blinde mense wêreldwyd, en dit is alles te danke aan die groot drome van ʼn klein seuntjie.

Woordbank

els Gereedskapstuk met ʼn skerp punt.
filantroop Iemand wat baie vir liefdadigheid doen.
reliëf Iets wat bo ‘n oppervlakte uitstaan.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Louis Braille

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Louis Braille

Die ongelooflike verhaal van die seun wat braille uitgevind het

Die uitvinding van braille: Taal van die blindes

Groot uitvinders: Louis Braille

Braille: Waar kom dit vandaan?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Maart 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024