Vinnige feite

  • Dau is eintlik ’n generiese term vir verskeie tradisionele seilbote wat op die Rooi See en die Indiese Oseaan gevaar het.
  • Wat uniek is aan die dau, is die feit dat die houtplanke nie met spykers aanmekaar geheg is nie, maar met tou of klappervesel.
  • Die feit dat spykers nie gebruik is nie, is ’n Middeleeuse praktyk wat gebore is uit die oortuiging dat magnete onder die see enige spykers uit ’n vaartuig sou trek en die bemanning tot ’n gewisse dood onder die golwe sou veroordeel.
  • Die vroegste seile is sekuur geweef met klapper- of palmblare en met die koms van katoen (uit Indië) kon sterker seile gemaak word om lang reise moontlik te maak.
Foto: iStock

Water is vir eeue reeds ’n onlosmaaklike deel van vervoer. Lank voordat die eerste motor se wiele gerol of die eerste trein stoom afgeblaas het, het mense vir verskeie doeleindes van waterweë gebruik gemaak. Hetsy dit was om mense van een plek na ’n ander te vervoer, handel oor kontinente heen met verskillende produkte te dryf, of sommer vir die plesier oor die blink oppervlak van water te gly, planne is beraam vir hoe om op water te dryf. 1

Sonder water en die vernuftige vaartuie wat oor honderde jare heen ontwikkel is, sou die aarde ’n veel armer plek gewees het. Een van die vroegste bote wat sy seile gespan het, was die dau (Engels: dhow).

Dau is eintlik ’n generiese term vir verskeie tradisionele seilbote wat op die Rooi See en die Indiese Oseaan gevaar het. Die dau was met een of meer maste toegerus en dié maste het klassieke driehoekige seile gehad wat aan ’n dwarsbalk vasgemaak en gehys of laat sak is soos die wind gewaai het.

Vroeë weergawes van die vaartuig het skerp punte aan die voor- en agterkant gehad, maar latere weergawes het ’n vierkantige agterkant gehad. Die bote wissel in grootte, van klein vissersbote tot vaartuie van meer as 30 meter lank.

Deur die geskiedenis

Geskiedkundiges is nie 100% seker waar die dau sy ontstaan gehad het nie, maar glo dat dit óf deur Arabiere óf Indiërs uitgevind is. Dit was oorspronklik vissers- of handelsvaartuie wat meestal gebruik is om items soos vrugte, dadels, vis, ivoor, goud, hout, vars water en ander goedere langs die kus van die Arabiese lande, asook Pakistan, Indië, Bangladesj en Oos-Afrika te vervoer. Vroeë verwysings na dié soort boot is in antieke Griekse geskrifte gevind wat uit 600 v.C. dateer. 2

Handel in antieke tye met behulp van die dau is opgeteken in ’n boek getiteld The Periplus of the Erytraen Sea. Dié boek, wat in die eerste eeu deur ’n onbekende Griekse skrywer geskryf is, is ’n gids oor die hawens, mense en handelsgoedere van Arabië, Indië en die kus van Oos-Afrika. Die boek bevestig die bestaan van ’n handelsroete wat oor duisende jare strek, asook die rol wat die seisoenale moeson-reënval (“monsoon”) gespeel het.

Hoewel die dau waarskynlik van Indië of die Arabiese Skiereiland afkomstig was, het dit veral aan die kus van Oos-Afrika gefloreer en dit word vandag nog hier ingespan. In Swahili, die mees gesproke taal in Oos-Afrika, staan dit as ’n “daw” bekend.

Die gebruik van dié vaartuie langs die kus van Oos-Afrika, Arabië en Indië het  nie net ’n ekonomiese impak nie, maar ook ’n kulturele invloed gehad. Die uitruil van idees, goedere, godsdienste, geure en vaardighede het ’n internasionale gemeenskap tot stand laat kom, lank voordat ons met die begrip globalisering kennis gemaak het.

In wese was die dau veel meer as net ’n vaartuig. Dit was ’n brug wat gesprekke en kommunikasie tussen beskawings bemiddel het en die Islam-geloof teen die kus van Afrika versprei het.

Bou van die dau

Om dié boot te maak, word as ’n kuns beskou wat van geslag na geslag oorgedra word. Tradisioneel leer ’n pa sy seun die vaardigheid om met dieselfde gereedskap as eeue gelede ’n pragtige en praktiese vaartuig uit hout te timmer. 3

Die dau is oorspronklik van klapperhout en kiaat uit Indië gemaak, maar later is ’n verskeidenheid houtsoorte na gelang van beskikbaarheid gebruik. Die vroegste seile is sekuur geweef met klapper- of palmblare en met die koms van katoen (ook uit Indië) kon sterker seile gemaak word om lang reise moontlik te maak.

Wat uniek is aan die dau, is die feit dat die houtplanke nie met spykers aanmekaar geheg is nie, maar met tou of klappervesel. Katoen is ook in klapperolie geweek en in enige gaatjies ingedruk om te keer dat die boot lek en water inneem.

Die feit dat spykers nie gebruik is nie, is ’n Middeleeuse praktyk wat gebore is uit die oortuiging dat magnete onder die see enige spykers uit ’n vaartuig sou trek en die bemanning tot ’n gewisse dood onder die golwe sou veroordeel. 4

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die Zanzibar-dau

Kyk hoe word ’n tradisionele dau gebou 

Dau’s deur die jare

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024