Vinnige feite

Voordele verbonde aan ruilhandel:

  • Jy ontvang goedere en dienste sonder om met geld daarvoor te betaal.
  • Die finansies van ʼn onderneming word optimaal benut.
  • Die produktiwiteit word verhoog.
  • ʼn Beter verhouding tussen ondernemings word bewerkstellig.

In die vroeë geskiedenis het geld nog glad nie bestaan nie en mense moes goedere uitruil, byvoorbeeld ʼn skaap vir twaalf hoenderhenne, en die ooreenkoms is onderhandel totdat albei kopers gevoel het dit is regverdig. In die tyd voor Christus se koms, is ruilhandel meestal met vee gedoen en soos wat landbou ontwikkel het, het mense ook begin om die opbrengs van hul oeste uit te ruil. 1

Die ekonomiese lewe in ʼn Westerse industriële samelewing berus op die beginsel van ruil, oftewel “wat kan vir wat geruil word”. In ʼn stelsel waar die arbeidsverdeling reeds ver gevorder het, is letterlik niemand meer in staat om self in al sy behoeftes te voorsien nie.

In geïsoleerde samelewings buite ons eie kulturele wêreld wat daarop ingestel is om net vir hulself te produseer, kom ruilhandel wel op groot skaal voor, maar die wyse waarop dit geskied, verskil baie van ons verloop van sake. Daar is talle voorbeelde van primitiewe ruilhandel. Op baie plekke in Melanesië word vis deur die kusbewoners by die bewoners van die bergland geruil vir plantaardige produkte. 2

Op ons eie kontinent, Afrika, het boere nie in afsondering van mekaar geleef nie, almal was afhanklik van mekaar. As een dorpie ryk aan ystererts was, kon hulle ystergereedskap vervaardig, terwyl ‘n ander dorpie in die gebied weer ryk was aan koper en koperartikels kon vervaardig. Die gemeenskappe kon dan onderling goedere uitruil en ook hul gebruiksitems ruil vir beeste.

Die Hopi-Indiane in die suidwestelike Verenigde State van Amerika ruil hul mielies by die naburige Havasupai-stam vir verf en velle en by die Navaho-stam vir hout en wol. Ekonomiese antropoloë het al baie aandag daaraan gegee om vas te stel hoe die “pryse” by hierdie soort ruilhandel vasgestel word: hoeveel van ʼn sekere artikel ʼn bepaalde ander artikel werd is. In hierdie verband werk die Westerse ekonomiese wetenskap met die bekende samespel van vraag en aanbod, relatiewe skaarste van verskillende goedere en mededinging: die sogenaamde markmeganisme.

Dit blyk dat handel in primitiewe samelewings op ander beginsels geskied, maar dit wil nie sê dat vraag, aanbod en skaarste geen rol daarby speel nie. Bepaalde goedere sal op ʼn plek waar dit baie skaars is, ʼn groter opbrengs lewer as op ʼn plek waar dit in oorvloed aangebied word. ʼn Voorbeeld hiervan is die handelsketting wat die verskillende stamme in Queensland, Australië, met mekaar verbind. In hierdie ketting word onder meer spiese vir byle geruil.

Op ʼn plek wat taamlik naby aan die vervaardigingsgebied van spiese geleë is, word 12 spiese vir een byl geruil, maar elders, nader aan die gebied waar byle gemaak word, word 1 spies vir ʼn paar byle geruil. Skaarste en vervoerkoste beïnvloed wel die prys, maar van essensiële belang is die feit dat mededinging geen rol speel nie. Dit lyk of mededinging ‘n konstante faktor in die handel tussen primitiewe gemeenskappe is en daar is goeie redes hiervoor.

In die Westerse ekonomiese stelsel ding groepe aanvraers en aanbieders elk onderling met mekaar mee: die een aanbieder sal byvoorbeeld sy prys ietwat verlaag om sodoende die ander uit te skakel, terwyl aanvraers soms hul aanbod met dieselfde oogmerk sal verhoog. By die handel wat tussen primitiewe gemeenskappe gedryf word, sal so iets egter nie gou gebeur nie. Dieselfde kragte van solidariteit wat in primitiewe gemeenskappe se gee en seremoniële uitruiling tot uiting kom, belemmer moontlike onderlinge mededinging.

In die praktyk word mededinging dikwels uitgeskakel deur ʼn stelsel van vaste handelsvennote: iemand uit een gemeenskap dryf net handel met ʼn bepaalde persoon uit ʼn ander gemeenskap. Die band wat tussen sulke vennote bestaan, geniet hoë aansien en word ook soms as ʼn vorm van verwantskap beskou. Só ʼn stelsel verskaf dus ʼn goeie waarborg teen mededinging. Die vraag oor hoe relatiewe pryse dan vasgestel word, is hiermee nog nie beantwoord nie, hoewel dit in hierdie verband lyk of idees oor wat ʼn “regverdige” prys is, ʼn sleutelrol speel. Hierby moet in gedagte gehou word dat kontak tussen primitiewe stamme dikwels onseker en vyandig is. 3

“Vreemdelinge” is uit beginsel altyd vyandig teenoor mekaar, en omdat daar nie soos in die Westerse samelewing ʼn formele meganisme bestaan om ʼn uitbarsting van die vyandigheid teë te gaan nie, moet ʼn oplossing in die informele sfeer van sosiale verhoudinge gevind word. Op die gebied van handel beteken dit dat elk van die twee handelaars voortdurend tevrede moet wees dat hy ʼn regverdige prys ontvang, ʼn situasie wat ondraaglik gemaak sal word deur te kibbel en te kul.

Dit gebeur heel dikwels dat die aanbieder – wat soms ʼn lang reis moet aflê – “oorgekompenseer” (méér betaal word) word: behalwe dat hy ʼn hartlike en gasvrye ontvangs geniet, ontvang hy ʼn prys wat net-net hoër is as die normale minimum. So word ʼn sosiale verhouding keer op keer opnuut bevestig en word die voorwaarde vir voortgesette, vreedsame handel bewaar. Hoe moeilik die verhoudinge tussen handeldrywende gemeenskappe soms kan wees, blyk uit die verskynsel van “stilte” of “geheime” ruil, waar daar tussen die twee handeldrywende partye geen regstreekse ontmoeting plaasvind nie.

Die een party plaas sy goedere op ʼn afgespreekte plek en onttrek hom dan, waarna die ander party sy eie goedere agterlaat in die plek van die ander, wat dan deur die eerste party afgehaal word. Voorbeelde hiervan is aangetref onder meer op Sri Lanka tussen die Singalese van die kusgebied en die Vedda van die binneland, en in Afrika tussen die Afrika-stamme en die Pigmeë. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus maak melding van ʼn soortgelyke ruilhandel tussen die kooplui van Carthago en die bewoners van die noordweskus van Afrika. 4

Primitiewe geld

Hoewel die direkte ruil van goedere die algemeenste vorm van primitiewe ruilhandel is, was daar tog gemeenskappe waar ʼn primitiewe vorm van geld in omloop was. Dit het daartoe aanleiding gegee dat antropoloë ʼn feitlik vrugtelose gesprek gevoer het oor die vraag of die ruilmiddel as “egte” geld bedoel is of nie.

Met geld, soos dit in die moderne Westerse ekonomieë gebruik word, is daar geen enkele vorm van primitiewe geld wat aan al die maatstawwe voldoen nie. In ons eie samelewing word daar aan geld talle eienskappe en funksies toegeken: dit is ʼn algemeen toepasbare betaalmiddel en waardemaatstaf, ʼn spaarmiddel en ʼn middel waarin skuld en krediet uitgedruk kan word, dit is op sigself nie verbruikbaar nie, die omloop daarvan word deur die owerheid beheer, dit is deelbaar en vermenigvuldigbaar, asook optelbaar en aftrekbaar. 5

ʼn Paar voorbeelde is voldoende om te toon in watter groot mate primitiewe geld van die Westerse model kan verskil. So is daar gevalle waar verbruikersgoedere tegelyk as ʼn ruilmiddel en as ʼn waardemaatstaf dien, byvoorbeeld rys by die Ifugao in die Fillipyne.

Nog ʼn goeie voorbeeld is die eiland Rossel in Melanesië, waar ʼn vorm van skulpgeld in omloop was wat in sommige opsigte sterk aan Westerse geld herinner. Verskillende soorte skulpe is na waarde gerangskik en het nie net as betaalmiddel gedien nie, maar ook as uitleenmiddel waarvoor gewoonlik rente gevra is.

Daar was egter ook verskille van Westerse geld. Daar was geen monetêre outoriteit wat die omloop van die primitiewe geld beheer het nie, en ondanks die geleidelike styging in die waarde van die verskillende soorte skulpe, was dit nie sonder meer moontlik om die waarde daarvan bymekaar te tel nie. Sommige transaksies kon slegs met een soort skulp beklink word, sodat dit nie moontlik was om met meer skulpe van mindere waarde of met een skulp van ʼn hoër waarde te betaal nie.

Hierdeur kan trouens ʼn algemener kenmerk van primitiewe geld geïllustreer word: dit is meestal slegs vir ʼn bepaalde soort transaksie bruikbaar en dikwels speel dit op sigself ʼn geringe rol in primitiewe ekonomieë, wat in die eerste plek op direkte ruilhandel gegrond is. Antropoloë praat in hierdie verband van geld met ʼn beperkte doel in vergelyking met Westerse geld, wat ʼn algemene doel het. Noudat die primitiewe samelewings ʼn proses van modernisering (en daarmee ook “monetisering”) deurmaak, is die betekenis van primitiewe geldvorme besig om af te neem.

Twee kant van ‘n antieke goue munt

Voordele verbonde aan ruilhandel

  • Jy ontvang goedere en dienste sonder om met geld daarvoor te betaal.
  • Die finansies van ʼn onderneming word optimaal benut.
  • Die produktiwiteit word verhoog.
  • ʼn Beter verhouding tussen ondernemings word bewerkstellig. 6
Ooskus-handel

Nadele verbonde aan ruilhandel

  • Dit is nie altyd maklik om ʼn persoon op te spoor om iets spesifiek mee uit te ruil nie.
  • Die waarde van ʼn produk kan wissel van transaksie tot transaksie.

Woordbank

aanbod Die hoeveelheid/aantal van ‘n produk of diens wat beskikbaar is.
antropoloë Iemand wat die mens bestudeer; mense- of rassekunde beoefen.
primitiewe Eenvoudig; vroeë tye/jare gelede; onontwikkeld.
transaksie Ooreenkoms tussen twee of meer partye oor ‘n finansiële saak; sakeooreenkoms.
vraag Die mate waarin die mark (aankopers/verbruikers/kliënte) ‘n produk of item wil koop/aanskaf.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk dié video’s om nog meer te leer

Van ruilhandel tot kriptogeld

Die verskil tussen ruilhandel en geld as betaalmiddel

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Augustus 2021 | Bygewerk op 3 April 2024