Vinnige feite

  • Die America’s Cup is een van die oudste en bekendste internasionale seiljagkompetisies. Dit is die eerste keer op 20 Augustus 1851 as die Hundred Guinea Cup aangebied deur die Royal Yacht Squadron van Groot-Brittanje vir ’n wedvaart rondom die Isle of Wight. Die trofee is gewen deur die seiljag America, ’n skoener (schooner) van 30 meter van die stad New York – daarom staan die kompetisie sedertdien bekend as die America’s Cup. 12
  • Laura Dekker van Nederland is die jongste persoon wat tot nog toe alleen om die wêreld geseil het. Dekker was 16 jaar en 123 dae oud toe sy dié prestasie ná 508 dae ter see op 21 Januarie 2012 behaal het. 13
  • Die Engelse uitdrukking “feeling blue” se oorsprong lê in seiljag. As ’n skip sy kaptein tydens ’n vaart verloor het, het die matrose blou vlae gehys om te wys dat hulle oor hul verlies rou. 14
  • Die woord kwarantyn is afkomstig van die Italiaanse quaranta giorni of ‘veertig dae’. Dit kom van die Venesiese beleid om skepe van plaaggeteisterde plekke (plekke waar siektes was) vir 40 dae in kwarantyn te plaas om seker te maak niemand aan boord is besmet of siek nie. Vanaf die 17de eeu is die term uitgebrei tot “enige periode van gedwonge isolasie”. 15
  • Die enigste seiljag met sewe seile wat tot nog toe gebou is, was die 114,4 m-lange Thomas W. Lawson (5 218 ton), wat in 1902 in Quincy, Massachusetts, in die VSA gebou is. Dié skip het op 15 Desember 1907 naby die eiland Sisilië skipbreuk gely. 16
Foto: iStock

Vir duisende jare al gebruik mense bote om goedere en mense oor water te vervoer. Vandag beteken die woord boot ’n klein watervaartuig wat gebruik word vir die pret of om klein vragte te vervoer. Groter bote wat baie mense of tonne goedere oor lang afstande vervoer, word skepe genoem. 1

Seilbote is bote met seile, of groot stukke lap, wat teen lang pale opgehys word. Dié pale word maste genoem. Die wind waai teen die seile vas, laat die seile span en die seilboot vorentoe beweeg. Seilbote wissel in grootte van klein, eenpersoonbote tot groot seilskepe wat oseane kan oorsteek.

’n Seilboot of seiljag se seile werk amper net soos ’n vlieër. Dink aan hoe die wind die vlieër in die lug hou en beweeg en hoe dit van rigting verander as jy aan die vlieër se toue trek. Net so word ’n seiljag se seile met behulp van toue gestel of gedraai sodat die boot in ’n sekere rigting kan vaar. 2

Die voordeel van die seilskip is dat wind geredelik beskikbaar is (daarom word wind byvoorbeeld gebruik om elektrisiteit op te wek). Die nadeel is egter dat seilskepe in die ou tyd nie kon vaar as die wind nie gewaai het nie. Maar sterk storms kon weer die skip se seile aan flarde ruk. Die ontwikkeling van die seilboot was egter baie belangrik in die geskiedenis omdat dit mense in staat gestel het om goedere baie vinniger oor langer afstande te vervoer. 3

Deur die geskiedenis

Deur die geskiedenis het seilvaart beskawings help ontwikkel namate mense oor oseane gevaar het om hulle in nuwe gebiede te vestig of om met ander lande handel te dryf.

Die vroegste uitbeelding van ’n seilskip is op ’n Egiptiese vaas gevind wat min of meer uit die jaar 3500 v.C. dateer. En volgens geskiedskrywers het die Vikings reeds so lank terug as ongeveer 1 000 jaar gelede na Noord-Amerika gevaar.

Ander visuele uitbeeldings van seilbote, van so ver terug as die jaar 5500 v.C., is in die antieke Mesopotamië ontdek – die hedendaagse Koeweit. Hierdie seilbote wat op die Nylrivier gebruik is, was eenvoudige, vierkantige rietskepe met ’n enkele vierkantige papirusseil aan ’n mas. Antieke beskawings, waaronder die Egiptenare, Grieke en Romeine, het almal seilbote gebruik, en baie kulture het bygedra tot die bevordering van die wetenskap van seilvaart en seilbote. 4

Voordat die Arabiere met hul bekende daus en en ook die  Chinese met hul jonke (junks) van ’n kombinasie van seile gebruik gemaak het om saam met én teen die wind te vaar, is roeispane gebruik om bote aan te dryf. Ander seile (meestal vierkantig) is voorheen gebruik om met die wind te vaar en twee groot spane is gebruik om die boot in die regte rigting te stuur.

Namate seevarende nasies met ander in aanraking gekom het, hoofsaaklik vanweë handel, het hulle idees uitgeruil wat seilbote betref, onder meer verbeterde seile, maste, vorms en boumetodes. Dit was veral die geval in die 1500’s. Die ontwikkeling van vaartegnologie vanaf die 15de eeu het Europese ontdekkingsreisigers in staat gestel om langer vaarte in streke met uiterste weer- en klimaatstoestande te onderneem.

Verdere verbeterings in seile en toerusting het die kolonisering van Amerika, Australië en Nieu-Seeland moontlik gemaak en die wêreldhandel kon in die 18de en 19de eeu floreer. 5

Die Nederlanders was in die laat 17de eeu die Europese voorlopers in die ontwikkeling van die seiljag. Dit is aanvanklik in die Nederlandse kanale gebruik en later as kusvaartuig toe dit vindingryk verbeter is om die seetoestande te hanteer. 6

In Suid-Afrika het die Durbanse regattaklub (later die Royal Natal Yacht Club) in ongeveer 1858 met seilsport in die land begin. Dit is die oudste klub van sy soort in Afrika. Die Royal Cape Yacht Club is twee jaar later in die Kaap gestig. 7

Die eerste Kaap-na-Rio-seiljagvaart is in 1971 oor 3 500 seemyl gehou en is in 26 dae, 14 uur en 18 minute deur die Suid-Afrikaanse seiljag Albatros II gewen, wat ’n uitstekende prestasie was omdat altesaam 59 seiljagte van 18 lande deelgeneem het. 8

Soorte bote en skepe

Deur die eeue heen is verskeie soorte bote en skepe ontwerp en gebou. Die volgende is ’n paar voorbeelde: 9

  • Galeie is lang en smal houtbote wat deur roeiers of seile aangedryf is en wat in ongeveer die jaar 200 v.C. vir handel en oorlogvoering gebruik is.
  • Portugese karvele: Die ontdekkingsreisiger Christopher Columbus het hierdie klein seilskepe gebruik toe hy die VSA in 1492 bereik het.
  • Die jonk (Engels: junk) is ’n seilskip met drie maste wat deur die Chinese vir handel en oorlogvoering gebruik is. Die seile kon geskuif word om die wind uit enige rigting te gebruik.
  • Die dau (dhow) is ’n skip met een mas, roeispane en ook ’n roer wat deur die Arabiere ontwerp is. Hulle het teen die ooskus van Afrika en oor die Indiese Oseaan geseil om handel te dryf. Terloops, Europese lande het by die Arabiere geleer om hul pad oor die see te navigeer. 10
  • Die klipper is ’n vinnige seilboot wat in die 1800’s vir die vervoer van vrag gebruik is. Dit was lank en smal, met hoë maste en seile, en dit was die vinnigste van al die groot skepe.
  • Die brik is ’n houtseilskip met twee maste wat in die 18de eeu gebruik is.

Tongknoper

Die meting wat skepe vir navigasie gebruik, word seemyl genoem. Een seemyl per uur word ’n knoop genoem. Die oorsprong van die woord knoop in hierdie konteks kom uit die ou dae toe die snelheid van skepe gemeet is deur ’n houtstomp in die see te gooi wat aan ’n tou vasgemaak was. Elke knoop op die stomp was 14,4 m uitmekaar. Die spoed van die skip kon dan bereken word op grond van die afstand en die tydsverloop. 11

Woordbank

aan flarde Flenters, stukkend, geskeur.
boeg Voorste, skerp gedeelte van ’n skip.
brik ’n Klein seilskip met twee maste; tweemasskip, tweemaster.
dau Houtskip, kusvaartuig (Engels: dhow); ’n skip met een mas, roeispane en ook ’n roer wat deur die Arabiere ontwerp is.
floreer Vooruitgaan, welvarend word, voorspoedig wees, groei, uitbrei, ontwikkel, suksesvol wees.
galeie ’n Lang, smal roei-/seilboot; vroeëre oorlogsvaartuig.
jonk ’n Seilskip met drie maste wat deur die Chinese vir handel en oorlogvoering gebruik is.
karvele Klein, ligte, vinnige Portugese en Spaanse vaartuig uit die vyftiende tot die sewentiende eeu.
klipper Soort snelvarende skip met ’n skerp boeg en talle seile vertikaal gerangskik (ook soms ’n skoener genoem).
knoop Snelheidsmaat vir skepe.
kolonisering ’n Volksplanting of nedersetting in ’n landstreek vestig.
mas Lang, ronde paal op skepe.
navigeer Stuurmanskuns t.o.v. die bepaling van die plek en koers van ’n vaartuig op land, see of in die lug.
ontdekkingsreisigers Reis/vaart met die doel om te ontdek.
papirus Growwe grassoort wat in antieke tye gebruik is om papier mee te vervaardig is; papierriet.
regatta Seil-/vaar-/roeiwedstryd.
seemyl Afstandsmaat ter see.
seiljag Klein vaartuig met seile wat deur die wind aangedryf word, aangehou vir wedstryde/plesier.
vindingryk Vernuftig; in staat om iets uit te dink.
vlieër Speeltuig vervaardig van hout en papier/plastiek en wat met behulp van die wind in die lug vlieg. 17

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Die geskiedenis van seilbote

Hoe het die vroeë reisigers die oseane genavigeer?

15 goed ontwikkelde skepe uit die verlede

Die Thomas W. Lawson – die eerste en enigste seilskip met sewe seile 

Kaap-na-Rio-seiljagvaart van 1971

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Februarie 2023 | Bygewerk op 16 April 2024