Vinnige feite

  • Die RMS Titanic was ’n Britse passasierskip wat op 15 April 1912 in die Noord-Atlantiese Oseaan gesink het nadat hy met ’n ysberg gebots het. Dit was tydens sy nooiensvaart (sy eerste vaart) van Southampton in Engeland na New York in die VSA. Die sinking van Titanic het die dood van 1 502 mense veroorsaak en is een van die dodelikste seerampe in die moderne geskiedenis. 8
  • Die grootste skip ter wêreld kan die Eiffeltoring met groot gemak vervoer. 9
  • Een knoop seemyl is sowat 1 853 meter. ’n Skip wat teen sowat 10 knope per uur vaar, beweeg dus sowat 18,5 kilometer per uur. 10
  • Suid-Afrikaanse hawens is belangrike brandstofbasisse (plekke waar skepe brandstof kan kry) vir baie van die skepe wat om Afrika vaar. Die goedere wat ons land in- en uitvoer word grotendeels by ons hawens gehanteer. Durban is Suid-Afrika se grootste hawe. Dit is ook die tweede grootste hawe in Afrika. Kaapstad is ons oudste hawe. Van ons ander hawens is by Richardsbaai, Gqeberha (Port Elizabeth), Oos-Londen, Saldanhabaai en Mosselbaai. 11
Foto: iStock

Skepe en bote is so oud soos die mens se begeerte om op water (mere, riviere en die see) te ry, goedere en mense te vervoer en vis te vang. Bote is kleiner as skepe en daar is verskillende maniere om skepe en bote aan te dryf. Sommige word vorentoe beweeg (of aangedryf) deur met roeispane te roei en ander het seile sodat die wind dit vorentoe en in ’n sekere rigting kan neem. Moderne bote het enjins.

Die eerste soorte bote is waarskynlik gemaak deur boomstamme uit te hol. ’n Ander soort primitiewe boot was die kern (coracle). Dit was ’n ronde boot wat uit ’n mandjie van takke of riete gemaak is en dan bedek is met diervel of lap wat met teer gesmeer was. Later het mense seile bygevoeg, die bote het groter geword en hulle kon al verder reis om die wêreld te verken en ontdek. 1

Deur die geskiedenis

Die versending en vervoer van goedere en passasiers op water strek honderde jare terug. Vroeë beskawings wat as gevolg van waterweë (waterpaaie) ontstaan ​​het, was afhanklik van watervaartuie vir vervoer. Die Egiptenare was waarskynlik die eerste wat seevaartuie gebruik het (ongeveer 1500 v.C.) en die Grieke en Romeine het ook op waterweë staatgemaak. 2

In Asië het Chinese skepe wat met veelvoudige maste en ’n roer toegerus was, seereise onderneem. Dié skepe was baie groot en kon tot 200 mense op ’n slag vervoer. Van vroeg in die 4de eeu v.C. het die Chinese sterk op interne waterweë begin vertrou om voedsel na hul groot stede te vervoer. Japan, wat te bergagtig is om op massavervoer op paaie staat te maak, het van vroeg in sy geskiedenis ook op interne en kuswaterweë staatgemaak. 3

Die speseryhandel het skeepshandel ’n groot hupstoot gegee. Die Arabiere het voor die Christelike era na die spesery-eilande gevaar, en Europese handelsvaarders het grootliks as gevolg daarvan ontwikkel. Die teehandel het ’n soortgelyke uitwerking gehad, asook die ontdekking van goud in die Nuwe Wêreld. Van die 17de tot die 19de eeu was die slawehandel ’n belangrike kenmerk van die Atlantiese skeepsvaart.

Die VSA en Engeland was in die 19de eeu die opkomende skeepvaartnasies; Duitsland, Noorweë, Japan, Nederland en Frankryk het vroeg in die 20ste eeu by hulle aangesluit, en teen die einde van die eeu het Griekeland die bedryf oorheers. Transoseaniese skeepsvaart bly ’n belangrike deel van die wêreldekonomie.

Verskeie ontwikkelinge in die eerste helfte van die 18de eeu tot net ná 1900 het watervervoer ’n groot hupstoot gegee: die Fransman Jacques Périer het die eerste stoomboot in 1775 gebou; die eerste boot met ’n ysterromp is in Engeland gebou; die eerste skip met ’n skroef as aandrywer is in 1816 deur Samuel Owen ontwerp; die eerste skroefstoomskip, die Great Brittain, het in 1845 met die vervoer van passasiers, vrag en pos op sy transatlantiese roete begin vaar; en in 1959 het die Russe die eerste kernaangedrewe skip, die Lenin, te water gelaat.

Die eerste stoomskip wat van Engeland na Kaapstad gevaar het, was die Enterprise in 1825. Die vaart het 58 dae geduur. ’n Posdiens tussen Engeland en Kaapstad is in 1857 deur Union-Castle Line ingestel.

Soorte bote en skepe

Oor die eeue is verskeie soorte bote en skepe ontwerp en gebou. Die volgende is ’n paar voorbeelde: 4

  • Galeiskepe is lang en smal houtbote wat deur roeiers of seile aangedryf is en sowat 200 v.C. vir handel en oorlogvoering gebruik is.
  • Portugese karvele: Die ontdekkingsreisiger Christopher Columbus het hierdie klein seilskepe gebruik toe hy die VSA in 1492 bereik het. Europese lande het by die Arabiere geleer hoe om hul pad oor die see te navigeer. 5
  • Die jonk (Engels: junk) is ’n seilskip met drie maste wat deur die Chinese vir handel en oorlogvoering gebruik is. Die seile kon geskuif word om die wind uit enige rigting te gebruik.
  • Die dau (Engels: dhow) is ’n skip met een mas, roeispane en ook ’n roer wat deur die Arabiere ontwerp is. Hulle het teen die ooskus van Afrika en oor die Indiese Oseaan geseil om handel te dryf.
  • Die klipper is ’n vinnige seilboot wat in die 1800’s vir die vervoer van vrag gebruik is. Dit was lank en smal, met hoë maste en seile, en dit was die vinnigste van al die groot skepe.
  • Die brik is ’n houtseilskip met twee maste wat in die 18de eeu gebruik is.
  • Die oorlogskepe: fregat, korvet, kruiser, slagskip, torpedojaer, vliegdekskip en mynveër. Die fregat is ’n ligte oorlogskip wat veral konvooie beskerm; die korvet is ’n klein oorlogskip wat duikbote met dieptebomme vernietig en die kus beskerm; kruisers is vinnige oorlogskepe; slagskepe is groot oorlogskepe wat swaar gepantser en bewapen is; torpedojaers gebruik missiele om vlote te beskerm; vliegdekskepe is groot oorlogskepe waarop vliegtuie kan opstyg en land; en mynveërs spoor seemyne op en vernietig dit.
  • Die duikboot. Dit is interessant dat ’n Nederlandse ingenieur, Cornelius Drebbel, reeds in 1624 ’n soort duikboot ontwerp het. In 1863 is die eerste duikboot, die Plongeur, met ’n lugaangedrewe enjin deur Frankryk getoets en die eerste kernaangedrewe duikboot, die USS Nautilus, is in 1955 deur die VSA ontwerp. Japan se navorsingsduikboot, die Shinkai 6500, het in 1989 ’n diepterekord van 6,5 km opgestel.
  • Ander interessante bote en skepe sluit in die kajak, sampan, katamaran, fabriekskepe om vis op die see te verwerk, die baggerboot wat kanale of hawens verdiep, en die ysbreker.

Seevervoer

Vandag is seevervoer baie gewild en sowat 92% van die wêreld se handelsgoedere word per skip vervoer. 6 Al is dit dalk ’n stadiger manier om goedere te vervoer, is vragskepe ’n meer omgewingsvriendelike alternatief as vragmotors en vliegtuie. ’n Vragskipenjin het ongeveer 1 000 keer meer krag as ’n gemiddelde gesinsmotor en die grootste enjin wat al gebou is, is 17 meter hoog.

Ongeveer 97% van alle skeepsvraghouers word in China vervaardig vanweë die laer arbeidskoste. Dit is ook makliker om die houers te vervaardig naby waar die meeste produkte van die wêreld geproduseer word. Die grootste skip kan 18 000 houers dra. Dit beteken dat dit meer as 745 miljoen piesangs kan stoor – dit is een piesang vir elke Europeër! Ongeveer 33% van die skeepsbemanning in die wêreld het geen kommunikasiemiddele terwyl hulle op die oop see is nie. Slegs 10% het enige vorm van internettoegang. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Watervaartuie vir kinders

Watervervoer

Meer oor watervervoer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024