Vinnige feite

  • Die grootste galjoen wat al gevang is, was meer as 55 cm lank en het 7 kg geweeg! 6
  • Daar is vandag nie meer baie galjoen nie – minder as 20% van die oorspronklike bevolking.
  • Hengelaars vang galjoen gewoonlik van die rotse of die strand af.
  • Hengelaars mag vanaf 1 Maart tot 15 Oktober galjoen vir ontspanningsdoeleindes vang.
  • Hengelaars met ’n permit mag nie meer as twee galjoene per dag vang nie. 7
  • Hulle mag ook nie galjoene vang waarvan die lengte minder as 35 cm is nie.
  • Die De Hoop Marinereservaat en die Tsitsikamma Nasionale Park speel ’n groot rol daarin om die galjoen te beskerm omdat niemand daar mag visvang nie. Baie van die visse beweeg egter uit die beskermde omgewing na plekke waar hulle wel gevang word. 4
  • Daar word beraam dat tussen 10 en 20 ton galjoen die De Hoop Marinereservaat jaarliks verlaat. 4
  • Suid-Afrika se waters is die tuiste van baie verskillende visspesies en ons spog met baie inheemse spesies soos die bruinskreeubaber, vrystertbrotula, Kaapse stompneus, Kaapse naaldvis, die slymprik, die witbaber en die suidelike dwergstekelbaars. 8

Dié vis is nie juis mooi nie, maak ’n mens nie bang soos ʼn haai nie, en kan nie soos ʼn dolfyn uit die water spring nie. Die galjoen is egter beslis uitverkore, want dit is Suid-Afrika se nasionale vis.

Die galjoen word ook die swart kurper (in Engels: black bream), swartvis (blackfish), of damba genoem. Die galjoen is deel van die familie Dichistidae en sy amptelike naam is Dichistius capensis.

Hoekom is dit ons nasionale vis?

James Leonard Brierley Smith (beter bekend as J.L.B. Smith) was ’n bekende igtioloog. Dit is iemand wat visse bestudeer. Dit is ook hy wat die selakant ontdek het – die “fossielvis” wat almal gedink het lankal uitgesterf het, maar toe wel in Suid-Afrikaanse waters voorkom.

Smith se vrou, Margaret, het voorgestel dat die galjoen die nasionale vis van Suid-Afrika moes word toe daar na ’n marine ekwivalent van die springbok gesoek is. Margaret het geweet waarvan sy praat, want sy het immers honderde inheemse Suid-Afrikaanse visse vir die boek The Sea Fishes of Southern Africa geteken.

Die Smith-paartjie het gevoel dat die galjoen uniek is en ook ’n belangrike deel van Suid-Afrika se geskiedenis vorm. Hulle vermoed dat die galjoen volop in die 1600’s in die kuswaters van die Kaap was en omdat die galjoen van vlak water hou, het die Europese setlaars dit heel moontlik eerste raakgesien. Daarom word daar gereken dat die setlaars toe besef het dat hulle die vis nêrens anders in die wêreld al teëgekom het nie. Smith en sy vrou het gereken dat die galjoen moontlik die eerste inheemse Suid-Afrikaanse vis was wat geïdentifiseer is. 1

Waar kom die naam vandaan?

Galjoen is Nederlands vir ’n groot seilboot wat eeue gelede as ’n vragskip gebruik is, maar wat kanonne vir beskerming gehad het. In daardie tyd was daar ’n aantal oorloë tussen die vlote van Engeland en Holland en dié boot is dus ook as oorlogskip gebruik. Galjoene is bekend daarvoor dat hulle omtrent spartel en spook om los te kom as hulle gevang word en daarom is hulle met die skip vergelyk.

Galjoen is die gewildste naam vir die vis in die Wes-Kaap, maar in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal is damba die algemene naam. Dit beteken “spelerig” in Zoeloe en verwys na hoe galjoene in die branders baljaar. 1

Eie aan Suid-Afrika

Die groter en bekendste soort is Dichistius capensis wat ons nasionale vis is. Die kleiner galjoen, wat meer strepe het, is Dichistius multifasciatus.

Galjoene is endemies aan Suid-Afrika en dit beteken dat hulle eie aan ons land se waters is. Galjoen word in Suider-Afrika se kuswaters gevind – van noordelike Namibië tot oostelike Suid-Afrika. Hulle is egter ook al in die waters van Angola opgemerk. Hulle hou van vlak water en word dikwels in die branders naby strande gevind. Hulle word dikwels in rotsagtige gebiede gesien waar die see nogal rof is en waar hulle die momentum van die branders gebruik om by hul kos op die rotse uit te kom.

Die gewone galjoen word dus hoofsaaklik aan die Kaapse kus aangetref terwyl die gestreepte galjoen weer in die Indiese Oseaan naby KwaZulu-Natal gevind word. 2

Habitat

’n Studie het bevind dat die meeste galjoen hul lewe in ’n relatief klein omgewing sowat 1 km van die kus af deurbring. Daar is slegs ’n paar wat oor lang afstande migreer. Dit beteken dat daar ’n risiko vir oorvissery is, want dit is maklik om hul blyplek te teiken. Hierdie klein bevolkings kan dus sukkel om te herstel. 1

Hoe lyk hulle?

Galjoene is amper soos verkleurmannetjies, want hul kleur wissel na gelang van hul omgewing. Dit is hul manier om by die omgewing in te smelt en vir vyande weg te kruip. As hulle naby rotse is, is hulle meer donkergrys of swart en in meer sanderige omgewings is hulle weer brons- en silwerkleurig. Sommige van hulle het ook strepe – sewe tot nege breë strepe aan die kant. 3

Hulle is middelslaggrootte visse met ovaalvormige liggame en simmetriese vinne met prominente grate. Galjoene het klein skubbe. Hul monde is klein met vleesagtige lippe. Elkeen van die kake het ’n ry groot snytande aan die voorkant met kleiner tande daaragter. Daar is ook tande wat kos fyn kan maak. Die dorsale vin (op die rug) en ventrale vinne (op die buik of maag) het ’n kenmerkende wigvorm. Hulle word as energieke visse beskryf en het baie bloedvate. 4

Dieet en voortplanting

Galjoene eet ongewerwelde diertjies (sonder ‘n ruggraat), soos mossels, rooiaas en eendmossels. 5 [Lees hier oor gewerweldes en ongewerweldes.]

Galjoene kan verskeie keer in ’n seisoen kuit skiet. Hul voortplantingstydperk strek van Oktober tot Maart, met die hoogtepunt in Desember.

Die galjoenwyfies groei vinniger as die mannetjies en bereik ’n maksimum lengte van ongeveer 67 cm. Hommers (mannetjies) word ongeveer 47 cm lank. Hommers is manlike visse wat volwasse en reg is om te paar. Die manlike en vroulike visse word selde ouer as 13 jaar.

Hulle bereik seksuele volwassenheid as hulle vyf jaar oud is. Die wyfie (kuitvisse) is dan ongeveer 34 cm lank en die mannetjies 31 cm. Kuiters is volwasse vroulike visse wat reg is om te broei. Die wyfies lê duisende eiers. Blykbaar is dit sowat 370 eiers per elke gram wat hulle weeg! ’n Groot wyfiegaljoen kan ’n verstommende 1,3 miljoen eiers vrystel! Bevrugte eiers word larwes, en daar is al getoon dat die eiers op die water dryf. Daar word aangeneem dat die kleintjies dan in die branders ontwikkel, maar natuurlik is daar ook baie vyande wat hulle opeet. 4

 

Visgetalle neem af

Galjoen was deur die jare ’n baie gewilde vis om te vang en tot en met die middel-tagtigerjare was dit die algemeenste vis wat kuslangs in die Kaap gevang is. Dit het ook sowat 80% van hengelklubs se vangste opgemaak.

Ongelukkig het die vis al hoe skaarser geword en die Wêreld-Natuurfonds (WWF) se Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekosinisiatief (in Engels: South African Sustainable Seafood Initiative [SASSI]) lys albei galjoenspesies as rooi op die lys. Dit beteken dat galjoen nie meer op grootskaal gevang mag word nie. Verbruikers mag ook nie galjoen koop nie. Dit is wel nog wettig vir hengelaars wat die vis vir ontspanningsdoeleindes vang. Hulle mag egter slegs sekere tye van die jaar ‘n beperkte aantal van hierdie vissoort vang. 2

Klassifikasie

Hoofgroep (Phylum): Chordata

Onderafdeling (Subphylum): Vertebrata

Superklas: Pisces – Vis

Klas: Osteichthyes – Graatvisse

Familie: Dichistidae

Genus: Dichistius

Spesie: capensis

Algemene naam: galjoen. 4

Woordbank

dorsale Op die rug.
endemies Wat in ’n sekere streek voorkom, inheems.
ekwivalent Dieselfde, plaasvervanger.
kuit skiet Eiers word gelê.
kuitvisse Volwasse vroulike vis wat eiers lê.
kurper Varswatervisse van die familie Tilapia met helder kleurkombinasies en stekels op die rug.
hommers Dis manlike visse wat volwasse is en reg om te paar.
igtioloog ’n Kenner van visse.
inheemse Wat in ’n sekere streek voorkom, endemies.
migreer Van een streek na ’n ander beweeg.
ongewerwelde ’n Dier sonder ’n ruggraat.
selakant ’n Vissoort wat lyk soos oervisse.
setlaars Mense wat in ’n nuwe land gaan bly.
uitverkore Tussen ander uitverkies; bo ander verkies.
ventrale Op die maag/buik.
vlote ’n Land/staat se skepe.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Interessante inligting oor die galjoen

Gryp jou visstok en kom vang saam!

Suid-Afrika se nasionale simbole

Gepubliseer op: 6 September 2023 | Bygewerk op 13 Junie 2024