Vinnige feite

  • Die range in die Britse adelstand, in volgorde van afnemende belangrikheid, is: hertog, markies, graaf, burggraaf en baron. In Engels is dit: duke, marquess, earl, viscount en baron. 8
  • Bacon se oom, William Cecil, die eerste baron Burghley, was koningin Elizabeth I se hoofadviseur. 4
  • In 1617 was hy vir ’n maand lank die regent van Engeland, menende hy het vir die koning ingestaan en dus regeer. 9
  • Bacon het passievol in vooruitgang geglo, en sy persoonlike motto was plus ultra of “verder verby”. 7
  • Hy was ’n pasiënt van William Harvey (1578-1657), die Engelse geneesheer wat ontdek het dat bloed deur die mens se liggaam sirkuleer. 7
  • Daar is heelparty samesweringsteorieë oor hom. Een is dat Bacon en William Shakespeare dieselfde mens was, omdat hulle ’n soortgelyke skryfstyl het. 3
Foto: iStock

As ’n mens vandag ’n wetenskaplike eksperiment uitvoer, gebruik jy waarskynlik die wetenskaplike metode. Dit is die geesteskind van Francis Bacon, ’n Britse staatsman en filosoof wat in die 16de en 17de eeu geleef het.

Bacon het ’n deurslaggewende rol gespeel in die vooruitgang van Europa van die Renaissance tot die moderne wêreld waarin ons vandag woon.

Grootwordjare

Bacon is op 22 Januarie 1561 in Londen gebore. 1 Sy pa was sir Nicholas Bacon, die Rykseëlbewaarder (in Engels: Lord Keeper of the Great Seal) gedurende koning Elizabeth I se bewind. 2 Sy ma, lady Anne Cooke Bacon, was lid van ’n vooraanstaande adellike familie. 1 Lady Anne Bacon was ’n geleerde vrou, iets seldsaams in daardie tyd. Sy was ’n Puritein, en het haar kinders ook so grootgemaak. 3 Die Bacons was dus ’n prominente gesin. 3

Francis Bacon was die jongste van lady Anne en sir Nicholas se twee seuns. 1 Hy het ook ses stiefbroers en susters uit sy pa se vorige huwelik gehad. 4

Bacon het tuis skool gegaan tot op die ouderdom van 12. 5 Daarna het hy Trinity College in Cambridge in die Verenigde Koninkryk bygewoon, en twee jaar later, in 1575, sy studies daar voltooi. 1

Sy klasse het rekeningkunde, sterrekunde, meetkunde, taalkunde, musiekteorie, logika en retoriek ingesluit. Bacon het ’n reputasie as ’n ernstige en hardwerkende student gevestig. 3

Hy het die volgende jaar ingeskryf om regte by die Honourable Society of Gray’s Inn, ’n Britse regsorganisasie, te studeer. Sy studies was egter vir hom outyds en afgesaag. 1

Vroeë werksjare

Bacon het ná ’n jaar Gray’s Inn verlaat en vir die Britse ambassadeur in Frankryk gaan werk. Hier het hy instruksie in politiek en diplomatiek ontvang. 4

Toe Bacon 18 jaar oud was, 2 het sy pa skielik gesterf, en hy moes terugkeer Brittanje toe. Hy het maar min geërf en was platsak. Hy moes dus dringend werk soek. 1

Politieke loopbaan

In 1584 is Bacon as parlementslid verkies. Hy sou op die ou end vir vier dekades, van 1584 tot 1617, lid van die Britse parlement bly.

Bacon het teruggekeer Gray’s Inn toe en sy opvoeding voltooi. In 1852 het hy as advokaat begin praktiseer.

In 1584 het hy ’n openbare brief, “A letter of advice to Queen Elizabeth”, geskryf. Dit was sy eerste belangrike politieke optrede. 1

Bacon maak opgang

Elizabeth I was die Britse monarg tussen 1533 en 1603. Ná Bacon se brief het sy nie baie van hom gehou nie, en geweier om hom te bevorder. 6 Sy het in 1603 gesterf.

Anders as sy voorganger was haar opvolger, James I, wél ’n bewonderaar van Bacon. Bacon is nog in dieselfde jaar tot ridder geslaan. 1

Daarna het hy redelik vinnig opgang gemaak:

  • In 1613 is hy as prokureurgeneraal.
  • In 1616 is hy verkies tot die Geheime Raad (in Engels: Privy Council), ’n liggaam wat die monarg adviseer.
  • In 1617 is hy as Rykseëlbewaarder (dieselfde pos as sy pa) aangestel. 1
  • In 1618 is hy as Lord-Kanselier (in Engels: Lord Chancellor) aangestel, een van die magtigste poste in Engeland. 4

In 1621 is hy as burggraaf van St. Albans benoem, ’n hoë rang in die Britse adelstand. 1

Aanklagte van korrupsie

Bacon is in 1621 deur die parlement van korrupsie aangekla. 1

Hy het erken dat hy presente ontvang het. Hy het egter ontken dat dit sy behandeling van die mense wat vir hom die persente gegee het, verander het. Hy het selfs bewyse gelewer dat sy omkopers deur hom benadeel is. 4 Daar is heelparty mense wat reken dat hy aspris deur sy politieke opponente om die bos gelei is. 5

Bacon is eers swaar beboet en tot aanhouding in die Londense Tower gevonnis. Die koning het hom begenadig, en sy vonnis is verminder en sy boete gelig. Hy was op die ou end net vier dae in die tronk. 1 Dit was egter die einde van sy loopbaan in die staatsdiens. 6

Bacon het afgetree en by sy huis in Gorhambury in Hertfordshire gaan woon. 4

Wetenskaplike filosoof

Met Bacon se reputasie nou in skerwe, kon hy tyd wy aan sy ander liefde: die filosofie van wetenskap. 1

Hy het van jongs af oor politiek, regsake, kennis en wetenskap geskryf. 2

Bacon het opgemerk dat die Europa van sy tyd beter tegnologiese uitvindings gehad het as wat daar in die klassieke wêreld was:

  • Ontdekkingsreisigers soos Christopher Columbus (1451-1506), Ferdinand Magellan (1480-1521) en Vasco da Gama (1469-1524) het ontdekkingsreise gedoen met uitvindings soos die magnetiese kompas.
  • Buskruit het weermagte versterk. 7
  • Die drukpers het ’n ontploffing in die verspreiding van idees veroorsaak. 3

Maar twee dinge het hom gepla:

  • Hy het gevoel mense het nog op dieselfde manier oor filosofie gedink as denkers van die Klassieke tyd, soos die Griekse filosoof Aristoteles. 3
  • Hy het gevoel dat al die tegnologiese ontdekkings half per ongeluk gebeur het.

Hy het begin glo dat daar meer en vinniger vooruitgang sou wees indien die uitvindings- en ontdekkingsproses beter gestruktureerd kon wees. 7

Aristoteles

Bacon se alternatiewe beskouing tot die Aristoteliaanse model

In Bacon se tyd was wetenskaplike ondersoek op die idees van Aristoteles gebaseer. Dit kom op die volgende neer: As slim mense lank genoeg oor ’n wetenskaplike idee dink en debatteer, sal die waarheid oor die idee uiteindelik uitkom. 6

Bacon het dit verwerp. Hy het Aristoteles as ’n diktator wat in die pad van wetenskaplike vooruitgang gestaan het, beskou. 3

Bacon het ook gevoel dat filosowe wat oor die natuurlike wêreld gedink het, te veel gefokus het op hoekom dinge gebeur het – met ander woorde wat die doel van die natuur was – in plaas daarvan om eers vas te stel wat presies gebeur het. 7

Hy het nie geglo dat daar ’n hoër doel aan die wette van die natuur was nie. Daarom moes godsdiens (die vraag oor hoekom goed gebeur) en wetenskap (die studie van wat presies gebeur) apart bestudeer word. 3

Die wetenskaplike metode

Bacon wou, in teenstryd met Aristoteles, ’n ommekeer bring deur ’n skema vir wetenskaplike ondersoek te skep.

Die proses moes empiries wees: Kennis oor die natuurlike wêreld word ingewin deur eksperimentering en observering. Uit hierdie twee goed maak ’n mens inligting (of data) bymekaar. Hierdie data kan dan bestudeer en analiseer word. 2 Sodoende vind ’n mens uit wat in die natuur gebeur. 1

Beheer oor die natuur

Vir Bacon was die natuur ’n wetenskaplike probleem wat ’n mens kan ondersoek, analiseer en oplos. Volgens hom kan sy wetenskaplike metode lig werp op die diepste geheime in die heelal. 1

Wanneer die geheime van die natuur opgelos is, kan die mens die natuur beheer. 7 Dan kan jy die natuur gebruik om mense se lewens verbeter. 3

Induktiewe vs. deduktiewe metodes van wetenskaplike ondersoek

Aristoteles se metode was deduktief. Dit beteken ’n mens beweeg van ’n algemene reël tot ’n spesifieke punt. Die algemene reël word deur middel van argument of debat ontwikkel. Daarna gebruik jy die algemene reël om afleidings (in Engels: deductions) oor spesifieke dinge daaruit te maak. 3 Byvoorbeeld:

  • Alle mense is sterflinge.
  • Sokrates (die Griekse filosoof) is ’n mens.
  • Dus: Sokrates is ’n sterfling.
Sokrates

Bacon se metode was induktief. Dit beteken ’n mens beweeg van ’n spesifieke waarneming tot ’n algemene reël. 3 Byvoorbeeld:

  • Die son kom elke oggend op.
  • Dus: Die son sal moreoggend en elke oggend daarna opkom.

Die Baconiaanse metode

Bacon se wetenskaplike metode bestaan hoofsaaklik uit die volgende stappe:

  1. Bepaal wat die bestaande kennis is, en raak ontslae van alles wat nie geldig is nie.
  2. Versamel data deur eksperimentering en waarneming.
  3. Analiseer die data.
  4. Deel die data met ander.
  5. Maak dit relevant, met ander woorde, maak die data nuttig deur mense se lewens daarmee te verbeter. 7

Publikasies

Bacon het opstelle oor politiek, analises van antieke mitologie, en verskeie boeke oor geskiedenis en wetenskap geskryf. 1

Hy het oor ’n wye reeks onderwerpe geskryf, soos vriendskap, wysheid, skoonheid, gesondheid, ouers en kinders, geloof en innovasie. 3

Sy skryfwerk het hoofsaaklik een gemeenskaplike faktor: Hy wou ou maniere van dinge doen vernuwe.

Bacon het laat in sy lewe sukses met sy idees behaal. Dit was eers in 1620, met die publiksasie van die eerste volume van sy Novum Organum Scientiarum dat hy homself as ’n hoogs aangeskrewe wetenskapsfisoloof gevestig het. 1 Die volgende publikasies het tydens sy leeftyd uit sy pen verskyn:

  • Versameling opstelle oor politiek
  • Apothegms (1624)
  • Sylva sylvarium (1627)
  • The New Atlantis (1624)
  • De augmentis scientarium (1623)
  • Historia vitae et mortis (1622)
  • Historia ventorum (1622)
  • The history of Henry VII (1622)
  • Novum organum scientarium (1620)
  • On the wisdom of the Ancients (1609)
  • The advancement of learning (1605) 2

Kritiek oor Bacon se idees

Bacon het nie geglo dat jy jou teorie hoef te toets nie. Waarneming en analise was vir hom genoegsaam. 1 Hy het dus die konsep van ’n hipotese geïgnoreer. Hy het ook wiskunde verwaarloos. 7

Vandag gebruik ons ’n weergawe van die wetenskaplike metode wat deur Bacon geïnspireer is, maar ook hipotese insluit. Hiervolgens formuleer jy ’n hipotese wat jy dan deur eksperimentering en waarneming toets. 3

Dood

Bacon was in 1626 besig om ’n eksperiment uit te voer. Hy het in ysige weer ’n gans met ys gestop, waarskynlik om ’n nuwe metode van verkoeling te toets. 7

Hy het verkoue opgedoen, wat uiteindelik in longontsteking omgesit het. Bacon het op 9 April 1626, op 65-jarige ouderdom, gesterf. 4

Nalatenskap

Dit het ’n dekade of so geneem, maar teen die middel van die 17de eeu het Bacon se werk skielik invloedryk geword.

Sy teorieë het ’n magtige invloed op 17de eeuse Europese wetenskap gehad. 7 Buiten alles anders was hy die filosofiese inspirasie agter die ontwikkeling van die Wetenskaplike Revolusie, wat die grondslag vir die Industriële Revolusie gelê het. 5

Bacon was nie die eerste persoon wat oor die wetenskaplike metode gedink het nie. Net in sy eie tyd het denkers en wetenskaplikes soos William Gilbert (1544-1603), Galileo Galilei (1564-1642) en Johannes Kepler (1571-1630) soortgelyke idees gehad. Bacon was egter die eerste persoon wat alles in een werkbare teorie bymekaargebring het. 3

Galileo Galilei

Bacon word gesien as die denker wat die moderne era van menslike begrip ingelui het, vir twee redes:

  • Hy het ’n georganiseerde stelsel om kennis op te doen, voorgestaan.
  • Dit het ten doel gehad om die mens se lewe te verbeter. 1

Sy wetenskaplike metode het ander geïnspireer, soos Robert Boyle, die Ierse wetenskaplike en die vader van moderne chemie. Boyle was een van die eerste mense wat Bacon se metode gebruik en uitgebrei het. 3 Boyle en ’n groep wetenskaplikes, geïnspireer deur Bacon se konsep van ’n gesamentlike navorsingsinstituut, het in 1662 die Royal Society of London for Improving Natural Knowledge gestig. 1

Een van die beroemdste wetenskaplikes ooit, sir Isaac Newton (1642-1727), het Bacon se metode geneem, dit  met wiskundige beginsels gekombineer, en die wette van die natuur (soos swaartekrag) geformuleer. 7

Isaac Newton

Persoonlike lewe

Bacon het in 1606 met Alice Barnham, ’n adellike erfgenaam, getrou. 1 Hy was 45, en sy was 16. 4

Sy het blykbaar ’n spandabelrige leefstyl gehad. Bacon was in die skuld en kon dit nie bekostig nie. Dit het konflik in hul huwelik veroorsaak. 4 Sy het ook ’n buite-egtelike verhouding met sir John Underhill gehad. Toe Bacon hiervan uitvind, het hy haar uit sy testament verwyder. 4

Hulle het in 1625, ’n jaar voor sy dood, geskei. Daar was geen kinders uit die huwelik nie. 3 Sy het na Bacon se dood met Underhill getrou. 4

Woordbank

aangestel Om vir iemand ’n pos (werk) te gee.
adellike Die groep mense (edelmanne en edelvroue) wat in sommige lande tot die hoogste sosiale stand behoort.
advokaat ‘n Regsgeleerde wat regsadvies aan kliënte gee en namens ’n beskuldigde, eiser of die staat sake in ’n (hoër) hof bepleit.
afgesaag As iets jou verveel.
ambassadeur Die belangrikste diplomatieke verteenwoordiger van jou land in ’n ander land.
analiseer Om ’n voorwerp te ondersoek of te ontleed en te kyk hoe die verskillende dele daarvan werk en saamwerk.
beboet Geldstraf (geld wat jy moet betaal) vir ’n oortreding.
begenadig Om iemand se straf te verminder.
bevorder Aan iemand ’n beter werk of hoër rang gee.
bewind Die bestuur of regering.
burggraaf Lid van die Britse adelstand.
buskruit Ontplofbare mengsel wat in vuurwapens gebruik word.
debatteer Op ’n sistematiese en gestruktureerde manier onderwerpe bespreek.
deurslaggewende Beslissend, oorheersend; finaal, oortuigend.
diktator Iemand wat onbeperkte mag het en nie ander maniere van dinge doen, toelaat nie.
diplomatiek Internasionale onderhandelinge/besprekings met ander state.
drukpers Masjien wat gebruik word om afdrukke op papier of karton te maak.
empiries Dit beteken dat iets op ervaring of proefneming gegrond is. Alle bevindings moes dus eers getoets word voordat dit aan die wêreld verkondig word.
filosoof Iemand wat oor die lewe dink, die gedagtes neerskryf en aan ander mense leer.
geadviseer Om vir iemand raad te gee.
geesteskind Iemand se idee/uitvindsel.
geldig Van krag is.
gevonnis Straf wat aan iemand opgelê word wat aan ’n misdaad skuldig bevind word; veroordeling; strafoplegging.
hipotese ’n Stelling wat ’n mens maak of ’n idee wat jy het, wat nog bewys moet word.
hoogs aangeskrewe Iets waarvoor mense baie respek het.
in skerwe Stukkend.
innovasie Nuwigheid.
Klassieke tyd Tydperk van Antieke Rome en Griekeland.
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan.
logika Die wetenskap wat ’n mens leer om helder en reg te dink, om oorsaak en gevolg korrek op mekaar te laat volg.
musiekteorie Die reëls van musiek.
nuttig Bruikbaar vir mense.
om die bos gelei Kul, mislei, bedrieg; iemand vir die gek hou.
opgang gemaak Sukses behaal.
parlementslid Verkose lid van die hoogste wetgewende liggaam van ’n land – dit is die liggaam wat wette maak.
platsak Sonder geld; met ’n plat beursie.
praktiseer Jou beroep beoefen; werk.
prokureurgeneraal Die hoogste staatsamptenaar wat in ’n provinsie namens die regering in regsake optree.
prominente Vooraanstaande of belangrike.
Puritein Aanhanger van die Puriteinse geloof, ’n streng Protestantse geloof wat hulself beywer het vir ’n vereenvoudiging van, onder meer, die seremonies van die Anglikaanse Kerk.
seldsaams Wat nie dikwels gebeur nie.
rang Dit beskryf die posisie wat ’n persoon in ’n organisasie het.
regent Iemand wat namens ’n monarg optree as hulle nie op daardie oomblik kan regeer nie.
rekeningkunde Die leer van getalle.
reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is.
retoriek Die vermoë om ander deur debatvoering van jou standpunt te oortuig.
Rykseëlbewaarder Die persoon wat fisies die Engelse koningshuis se seël (die ding waarmee amptelike dokumente gewaarmerk word om te bewys dat iets eg is) bewaar.
sirkuleer Iets wat in omloop is.
skema ’n Uitgewerkte plan vir iets.
staatsdiens Die gesamentlike departemente wat die administrasie van ’n staat behartig.
staatsman ’n Belangrike en invloedryke politikus.
swaartekrag Krag wat ’n liggaam na die aarde toe trek; gravitasie.
teorie Grondreëls van ’n wetenskap om waargenome feite/verskynsels te verklaar; voorstelling van iets in ’n mens se gedagte sonder om rekening te hou of voordat rekening gehou is met die werklikheid.
tot ridder geslaan Dit is ’n eerbewys wat deur die koning of koningin van Engeland gegee word vir ’n persoon wat baie goed presteer; die persoon ontvang ridderskap. Dié persoon kry dan die titel “sir” voor sy naam.
vooraanstaande Welbekend, belangrik; hooggeplaaste persone.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Francis Bacon

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Francis Bacon

Francis Bacon se lewe en wetenskaplike metode

Die stappe in die wetenskaplike metode

Induktiewe en deduktiewe argumentering

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 April 2024 | Bygewerk op 3 April 2024