Vinnige feite

  • Die term filosofie kom van die Griekse woord philo, wat liefde beteken, en die woord sophia, wat wysheid beteken. Dit beteken dus liefde vir wysheid. 1
  • Sokrates het glad nie oor standverskille omgegee nie. Hy het mense van hoër klasse presies dieselfde hanteer as vroue en slawe. 1
  • Die sokratiese metode is na Sokrates vernoem, maar dit het waarskynlik nie by hom begin nie. Dit het eerder by Zeno, ’n ander Griekse filosoof, begin. 2
  • Sokrates het in sy hofsaak die bekende woorde geuiter: “’n Lewe wat nie deeglik ondersoek word nie, is nie die moeite werd om te leef nie.” 5
  • Benjamin Franklin, die Amerikaanse president, skrywer, ontdekker en wetenskaplike, het eenmaal gesê: “Nederigheid: Boots vir Jesus en Sokrates na.” 5

Daar is min mense van wie daar gesê word dat hy of sy die verloop van die geskiedenis verander het. Een mens wat wél daarop aanspraak kan maak, is Sokrates, die antieke Griekse filosoof en leermeester.

Sokrates word as die vader van die Westerse filosofie beskou. 1 Die manier hoe hy gedink het, is die hoeksteen van hoe ons in die Westerse wêreld oor filosofie en logika dink. 2

Waar kry ons inligting oor Sokrates se lewe?

Sokrates het nie sy eie idees neergeskryf nie. Omdat hy so lank terug gelewe het – omtrent 2 500 jaar terug – is daar ook min bronne oor sy lewe beskikbaar.

Die inligting wat ons wel oor hom het, kom van drie van sy Griekse tydgenote af: die beroemde filosoof Plato, die filosoof en historikus Xenofon en die dramaturg Aristofanes. 3

Die inligting wat hulle verskaf, is nie altyd historiese feite nie. Sokrates is byvoorbeeld ’n karakter in Aristofanes se toneelstukke. Dit is dus soms moeilik om te weet presies wat hy alles gedoen en gesê het. Daarom reken baie historici dat die Sokrates waaraan mense vandag dink, meer ’n idee van hom is, en nie noodwendig hoe hy in werklikheid was nie. 1

Plato

Grootwordjare

Sokrates is in 469 of 470 v.C. in Athene gebore. 4 Sy vader was Sofroniskus, ’n messelaar en beeldhouer, 3 en sy ma was Pnaenarete, ’n vroedvrou. 1

Sokrates se familie was redelik arm en nie deel van die hoë stand nie. In antieke Athene het jou stand bepaal hoeveel opvoeding jy kon kry. Sokrates het dus slegs geleer lees en skryf. Sy pa het hom egter ook onderrig in poësie en musiek. Hy was lief vir musiek en het graag geoefen. 1 Soos ander jong Grieke het hy ook baie fisieke oefening gedoen. 2

Sokrates was van kleins af mal daaroor om te leer. Hy het alles gelees wat hy in die hande kon kry en graag by bekende geleerdes geleer. 5

Eerste werksjare

Sokrates het waarskynlik vir ’n paar jaar in sy pa se voetspore gevolg en as messelaar gewerk, voor hy besluit het om sy lewe aan filosofie te wy. 4

Die bronne verskil oor hoe Sokrates homself onderhou het. Xenofon en Aristofanes het geskryf dat sy studente hom betaal het. Plato sê weer uitdruklik dat hy nié geld daarvoor aanvaar het nie. 4 Volgens hom het Sokrates die roem en rykdom waarna ander Atheners gestreef het, verwerp. 5 Indien hy geld aanvaar het, was dit in elk geval nie baie nie. Die bronne stem saam dat hy ’n baie beskeie leefstyl gehad het. 1

Militêre diensplig

Op 18-jarige ouderdom is Sokrates opgeroep om diensplig te doen. Hy is opgelei as ’n hopliet, ’n voetsoldaat. 4

Gedurende Sokrates se leeftyd was Athene in die beroemde Peloponnesiese Oorlog met Sparta, hul Griekse buurstaat, gewikkel. Hy het onder meer in die bekende veldslae van Delium in 424 v.C. en Amfipolis in 422 v.C. geveg. 1

Sokrates was ’n uitstekende soldaat, met goeie uithouvermoë en baie dapperheid. In een veldslag het hy byvoorbeeld die lewe van Alkibiades, ’n generaal en toekomstige leier van Athene, gered. 5

Hoe het Sokrates gelyk?

Sokrates was besonder onaantreklik. 1 Hy het ’n kort, stomp wipneus 4 en uitpeuloë gehad. Boonop het hy verkieslik kaalvoet rondgeloop, sy hare was lank en vuil, en hy het nie gereeld gebad nie. 5

Die Atheners van daardie tyd het fisieke skoonheid hoog geag en baie aandag aan hul voorkoms gegee. Dit het Sokrates se afskuwelike voorkoms nóg meer beklemtoon. 5

Sokrates was nie juis hieroor gepla nie. Hy het geglo die mens se brein is belangriker as die mens se liggaam. 4

Filosoof en leermeester

Sokrates het verkies om die meeste van sy tyd in Athene se agoras, of markpleine, te spandeer. Hy het daar met mense geselsies aangeknoop, om te probeer uitvind hoe en wat hulle gedink het. 1

Volgens oorlewering het die orakel van Delfi, wat namens die gode gepraat het, gesê dat Sokrates die wysste man op aarde was. Toe Sokrates dit gehoor het, het hy besluit om uit te vind of dit waar was. 3

Hy het al die Atheners wat as wys of slim beskou is, besoek, en met hulle gesels en geredeneer. Dié gesprekke het vir hom gewys dat almal gapings in hul kennis gehad het, en dat niemand werklik wys was nie. 3 Hy het ook geleer dat hy wat Sokrates was, ook nie die wysste man op aarde was nie. Al het hy baie kennis gehad, het hy besef dat hy eintlik maar min geweet het. 3

Hierdie gesprekke wat Sokrates gehad het, is meestal in die openbaar gehou waar enigiemand kon luister. As gevolg hiervan het hy ’n gevolg opgebou van jong mans wat dit geniet het om te hoor hoe hy ander se idees ondersoek het. 1

Sokrates se hofsaak

In die jaar 399 v.C., toe Sokrates 70 jaar oud was, is hy voor die hof gedaag. Hy is daarvan aangekla dat hy nie genoeg eer aan die Atheense gode getoon het nie, en ook dat hy die jeug van Athene met sy idees bederf en verlei het. 1

Sommige bronne reken dat hierdie aanklagte die ware rede vir sy inhegtenisname verdoesel het. 5 Volgens hulle was die ware redes polities: sommige Atheense leiers het gevoel dat die idees wat Sokrates verkondig het, ’n bedreiging vir hulle was. 1

Hy kon skotvry daarvan afkom deur sy eie idees te verwerp, maar hy het daarteen besluit. 3 Tydens die hofsaak het hy homself verdedig. Sy belangrikste verweer was dat hy – deur mense te dwing om oor hul idees na te dink – ’n diens aan die gemeenskap gelewer het. 4

Dit het nie gehelp nie. Hy is skuldig bevind en ter dood veroordeel. 4

Dood

As gevolg van ’n godsdienstige fees, is Sokrates se teregstelling vir 30 dae uitgestel. Hy het dit in huisarres spandeer. 5 Sy vriende het die tyd gebruik om by hom te pleit om te vlug, en het selfs aangebied om die wagte om te koop om hom vry te laat. 4

Sokrates het egter besluit om sy straf te aanvaar. Hy het homself vergelyk met ’n soldaat wat weier om die aftog te blaas. Hy was nie bang om dood te gaan nie, maar wou nie in ballingskap woon nie. Hy was ’n lojale burger van Athene wat die stad se wette wou eer, al sou dit dan ook beteken dat hy moes sterf. 4

Sokrates het self die gif wat hom moes doodmaak, gedrink. 4 Plato het geskryf dat hy dit sonder huiwering gedoen het, en “edelmoedig en sonder vrees” gesterf het. 5

Sokrates het ’n marteldood gesterf, met ander woorde hy het gesterf vir sy oortuigings. 5 Sy dood het sy studente soos Plato geïnspireer om oor hom te skryf en het hom só onverganklik gemaak. 3

Persoonlike lewe

Daar is verskillende weergawes van sy persoonlike lewe. Hy was getroud met Xanthippe, ’n vrou heelwat jonger as hy. Hulle het drie seuns gehad: Lamprokles, Sofroniskus en Menexenus. 4 Lamprokles was omtrent 15 jaar oud toe Sokrates gesterf het. 5

Ander bronne hou vol dat hy weer getrou het terwyl hy nog met Xanthippe getroud was, moontlik omdat daar nie genoeg mans in Athene was nie. Lamprokles was sy seun by Xanthippe, en die ander seuns sy kinders by sy tweede vrou, Mirto. 1

Xanthippe het Sokrates daarvan beskuldig dat hy nie sy familie onderhou het nie. Dit was waarskynlik waar. Sokrates het erken dat hy nie veel met sy seuns se opvoeding te doen gehad het nie. Hy het veel meer in die opvoeding van Athene se ander jong mans belanggestel. 4

Sokrates se filosofie

Sokrates wou nie sy eie opinies op ander afdwing nie. Dit was blykbaar moeilik om ’n reguit antwoord by hom te kry omdat hy nie geglo het dat daar vir alles ’n regte antwoord was nie. Hy het eerder geglo dat mense gesprekke oor moeilike onderwerpe moes hê: nie om by die antwoord uit te kom nie, maar omdat die gesprek jou wyser sou maak. 3

Hy wou ander mense help om hulle eie idees oor die lewe, wysheid en deugde te vorm, deur hulle te dwing om dít waarin hulle geglo het, te ondersoek. 5 Hierdie ondersoek sou vir jou meer kennis gee, en ’n beter vermoë om self wyse besluite te neem. 4

Sokrates het geglo dat filosofie op ’n praktiese manier gebruik moes word ten goede van die gemeenskap. 4 Hy wou Athene ’n beter plek te maak om te woon, en hy het geglo dat as hy mense kon oortuig om meer om te gee oor hulle siele en minder oor hulle fisieke voorkoms en besittings, hy dit sou kon regkry. 3

Daarom het hy diep belanggestel in die ontwikkeling van deugde soos selfbeheersing, geregtigheid, wysheid, liefde en dapperheid. 3

Op politieke gebied het hy nie in diktatorskap óf demokrasie geglo nie. Hy wou ’n regering gehad het wat gelei is deur die mense met die meeste wysheid en kennis, en wat volgens die beste deugde gelewe het. 4

Die Sokratiese metode

Die manier hoe Sokrates mense ondervra het, is vandag bekend as die beroemde Sokratiese metode. 1

Dit werk soos volg: Die ondervraagde (die persoon wat moet antwoord), kom ons noem hom Piet, maak ’n stelling. Dan vra die ondervraer (die een wat vrae vra), Koos, vir Piet vrae oor sy stelling – tot hy ’n antwoord gee waarin hy homself weerspreek. Piet moet self besef dat sy oorspronklike stelling nou nie meer sin maak nie. Dan moet hy ’n oplossing vind, deur byvoorbeeld die oorspronklike stelling te verander, of heeltemal te verwerp. 5

Hierdie metode sluit ook in wat ‘n mens sokratiese ironie noem: al weet die ondervraer dalk baie van die onderwerp af, moet hy die vrae vra asof hy geen kennis het nie. 5

Sokrates se invloed

Daar is waarskynlik geen mens wat só ’n geweldige invloed gehad het op hoe ons vandag dink, soos Sokrates nie.

Sommige mense sien hom as ’n wyse man of godsdienstige leier, en vergelyk hom soms met Boeddha, die stigter van die Boeddhistiese geloof. Hulle het moontlik rondom dieselfde tyd geleef. Albei mans het hul lewe gewy aan die vraag oor hoe mense moes lewe, en het volgelinge gehad wat hul idees selfs ná hul dood versprei het. 3

Boeddha het hom egter slegs op die geestelike toegespits, terwyl Sokrates geworstel het met die metode, met ander woorde die manier hoe waarheid en wysheid verkry kan word.

Hierdie fokus op die manier waarop kennis verkry kan word, eerder as die inhoud van die kennis, is sentraal tot hoe die Westerse filosofie werk. Dít is hoekom Sokrates die vader van Westerse filosofie genoem word. 3

Sy voorbeeld het ander besiel om ook húl lewe aan filosofie te wy. Die belangrikste van hierdie mense was Plato, een van sy studente. Plato staan soms as die stigter van die Westerse filosofie bekend. Plato was op sy beurt die onderwyser van Aristoteles, nóg ‘n denker wie se idees vandag nog in omgang is. 1

Woordbank

aftog te blaas

Letterlik om van ’n veldslag af te vlug, of figuurlik om tou op te gooi in ’n moeilike situasie.
ballingskap Wanneer iemand gedwing word om sy/haar land te verlaat en op ’n ander plek te woon.
bederf Om die oorsaak van iemand se ondergang te wees.
beeldhouer Kunstenaar wat beelde uitkap/uitsny/vorm uit marmer/klip/hout/metaal.
beklemtoon Om iets te laat uitstaan.
besiel Iemand vol moed/geesdrif maak.
beskeie Om nie te spog en van jou prestasies te vertel nie.
dapperheid Om braaf te wees, met baie moed, vreesloosheid in gevaar.
deugde Goeie eienskappe.
dialoog Gesprek tussen twee mense.
diensplig Verpligte diens in jou land se weermag.
dramaturg Iemand wat toneelstukke skryf.
filosoof Iemand wat oor die aard en betekenis van die lewe, waarheid en goed en sleg dink.
fisieke Dit wat te doen het met die liggaam.
geestelike Dinge wat nie op aardse goed toegespits is nie en verband hou met jou gees eerder as met jou liggaam en verstand.
generaal Iemand met een van die hoogste range in die weermag.
geregtigheid Om regverdig en billik te wees.
gevolg Groep volgelinge.
historici Die meervoud van historikus (geskiedkundige) – iemand wat navorsing oor die geskiedenis doen en daaroor skryf.
hoeksteen Iets waarop alles anders steun.
hoog geag As iets vir jou baie belangrik is.
hopliet Griekse voetsoldaat, gewoonlik gewapen met helm, skild, spies en kort swaard.
huisarres Om deur die wet verplig te word om in jou eie huis te bly.
voetspore gevolg Om iemand na te doen.
ironie Spotspraak, bedekte spot waar die teenoorgestelde gesê word van wat bedoel word.

 

logika Die regte manier hoe een ding op ’n ander volg as gevolg van oorsaak en gevolg.
martelaarsdood Iemand wat sterf vir dit waarin hulle glo.
messelaar Iemand wie se werk dit is om met bakstene/klip en sement of klei te bou.
om te koop Om iemand te betaal om iets verkeerds te doen.
onderhou Van die nodige kos, klere en skuiling voorsien om te oorleef.
onverganklik Iets wat nie vergaan nie, of onsterflik is.
orakel ’n Godsdienstige figuur soos ’n priester of priesteres wat namens die gode praat.
roem Om bekend te wees.
ryk ’n Gebied onder ’n koning of koningin se beheer.
skotvry Ongestraf.
stand Die groep waarin jy in die samelewing is, ook soms klas genoem, byvoorbeeld middelklas.
standverskille Verskille tussen mense in die samelewing, gewoonlik op rykdom gebaseer.
teregstelling Om iemand met die dood te straf.
tydgenote Iemand wat in dieselfde tyd as iemand anders geleef het.
uitdruklik Duidelik en presies.
verdoesel Weggesteek.
verlei Om iemand na kwaad toe te lei.
verweer Verdediging.
vroedvrou Iemand wat help met die geboorte van babas.
weerspreek Om iets te sê wat teen iets gaan wat jy vroeër gesê het.
Westerse Afstammelinge van Europese lande en gebruike.
wy Om al jou aandag op een ding te fokus.
wysste Om geleerd, verstandig en ervare te wees.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Sokrates, die legendariese filosoof

Hoekom is filosofie belangrik? Kyk of jy die antwoord in hierdie twee video’s kan vind

ʼn Les van Sokrates

Foto: iStock
Gepubliseer op: 7 November 2023 | Bygewerk op 29 Februarie 2024