Die mens is van nature ’n nuuskierige wese en ons wil altyd nuwe dinge leer! In die natuurwetenskappe verken ons die onbekende wêreld daar buite. Dít wat ons vandag van die wêreld en die natuur weet, is verkry deur die herhaaldelike uitvoering van eksperimente of waarnemings. Dink maar aan die Amerikaner, Thomas Edison, wat saam met baie ander wetenskaplikes, die gloeilamp oor ’n tydperk van byna 7 dekades ontwikkel het. Hy het meer 3 000 ontwerpe getoets! 1

Die hoeksteen van die wetenskaplike metode is gelê deur sir Francis Bacon (1561-1626). Hy was ’n voorstander van induktiewe denke in wetenskap. 2 Dit beteken dat wetenskaplikes alledaagse feite of waarnemings deur eksperimente getoets en dan ’n gevolgtrekking gemaak word.

Francis Bacon

Ons weet byvoorbeeld dat ’n mielieplant sonlig nodig het om te kan fotosinteer en groei. Deur dit te toets en te sien wat gebeur, is ons besig met induktiewe denke! Ons doen dit eintlik elke dag, sonder dat ons dit weet!

Die wetenskaplike metode van ondersoek is dus ’n proses wat uit sekere stappe bestaan. Die stappe volg op mekaar en help ons om ’n antwoord op ’n wetenskaplike vraag te kry.

Dit bestaan uit die volgende 6 stappe:

  • Vra ’n ondersoekende vraag;
  • Doen navorsing oor die onderwerp;
  • Maak ’n voorspelling (hipotese);
  • Voer die eksperiment uit;
  • Verkry en bestudeer die resultate; en
  • Maak ’n gevolgtrekking.

Ondersoekende vraag

Enige eksperiment begin met ’n ondersoekende vraag. Die doel van die ondersoekende vraag is om ’n moontlike antwoord op die probleem te kry. Dit moet altyd met ’n vraagteken eindig. Kyk na die volgende voorbeeld: Sal ’n mielieplant in skaduwee kan groei?

Navorsing

In die tweede stap van die wetenskaplike metode word navorsing oor die onderwerp gedoen. Betroubare bronne moet gebruik word om soveel moontlik inligting in te samel sodat ’n goeie hipotese, wat op die navorsing gebaseer is, gemaak kan word.

Raadpleeg altyd verskillende bronne – moenie nét op die internet staatmaak nie, maar gebruik ook boeke, tydskrifte of ander gedrukte media. Dit is belangrik om al die bronne wat in die verslag gebruik is, in die bronnelys te erken. Kyk gerus na die bronnelys aan die einde van hierdie artikel. Wanneer iemand anders se werk gebruik word sonder om dit te erken, of as jou eie aan te bied, maak jy jouself skuldig aan plagiaat. Akademici verwys dikwels na plagiaat as akademiese diefstal. 3

Hipotese

In die derde stap van die wetenskaplike metode, word ’n hipotese gemaak. Dit is ’n moontlike antwoord op die ondersoekende vraag, gegrond op die inligting wat uit die navorsing verkry is. ’n Goeie hipotese word ’n as ’n stelsin in die toekomende tyd geskryf en kan ook getoets word. 4

Kyk na die volgende voorbeeld: ’n Mielieplant wat in die skaduwee staan, sal nie goed groei nie. Die mielies sal ook nie ten volle ontwikkel nie.

Eksperiment

In die vierde stap word die hipotese getoets deur die eksperiment uit te voer. Dit sluit die volgende in: 5

  • Maak ’n lys van die apparaat en materiaal wat benodig word;
  • Skryf ’n stap-vir-stap metode neer van hoe die eksperiment gedoen gaan word;
  • Maak ’n lys van enige veiligheidsmaatreëls wat van toepassing is;
  • Bepaal die veranderlikes; en
  • Stel ’n kontrole- en eksperimentele groep.

Om te verseker dat eksperimente akkuraat is, word slegs een faktor op ’n slag verander terwyl die ander faktore dieselfde gehou word. Hierdie faktore noem ons die veranderlikes. Dit is enige aspek wat die uitkoms van die eksperiment kan beïnvloed, byvoorbeeld die hoeveelheid water of die grondsoort.

Jy gaan leer van die volgende drie veranderlikes:

Onafhanklike veranderlike Dit wat ek doelbewus verander.

Byvoorbeeld om die mielieplant in die skaduwee te plant, sodat ek kan sien wat gaan gebeur.

Afhanklike veranderlike Die waarneming en eindresultaat (dit wat gebeur).
Gekontroleerde veranderlike Die faktore wat dieselfde gehou moet word sodat die eksperiment akkuraat is, byvoorbeeld die hoeveelheid water wat gegee word, die tipe plant, asook die tydsduur van die eksperiment.

In ’n eksperiment praat wetenskaplikes dikwels van die “kontrole” en “eksperiment”. Dit word gebruik wanneer twee groepe met mekaar vergelyk word. Die mielieplant wat byvoorbeeld in direkte sonlig staan, is die “kontrole”. Die mielieplant wat in die skaduwee staan, is die “eksperiment”. ’n Maklike manier om dit te onthou, is dat ons wil eksperimenteer wat met die mielieplant sal gebeur as dit heeltyd in die skaduwee staan en geen son kry nie.

Resultate

Nadat die eksperiment gedoen is, word die resultate in die vyfde stap bestudeer. Dit kan gedoen word met behulp van grafieke, tabelle of stellings. 5

Dit is belangrik om deeglike notas te maak terwyl ’n eksperiment gedoen word, want dit word in hierdie stap gebruik. Dit help ons ook om patrone raak te sien, die resultate te verstaan en ’n goeie gevolgtrekking te maak. In ’n suksesvolle eksperiment is die afhanklike veranderlike ’n direkte gevolg van die onafhanklike veranderlike. Byvoorbeeld, die mielieplant gaan stadig groei en gelerige blare hê en nie mielies dra nie omdat dit in die skaduwee staan.

Gevolgtrekking

In die laaste stap van die wetenskaplike metode, word die resultate gebruik om die ondersoekende vraag te beantwoord en tot ’n gevolgtrekking te kom. Jy sal ook sê of die hipotese korrek was of nie (was jou voorspelling reg?). Wetenskaplikes sal dikwels sê: “Die hipotese word aanvaar.” of “Die hipotese word verwerp.”

Dit is belangrik om te onthou dat ’n gevolgtrekking ’n stelling is oor wat ons gedurende die eksperiment uitgevind het. Dit word in die teenwoordige tyd as ’n stelsin geskryf, byvoorbeeld: Die hipotese is korrek: mielieplante wat in skaduwee staan, sal nie goed groei nie en ook nie mielies dra nie.

Onthou: Die ondersoekende vraag, hipotese en gevolgtrekking moet altyd ’n eenheid vorm.

Die gevolgrekking moet die ondersoekende vraag beantwoord, byvoorbeeld:

Ondersoekende vraag

 

Sal ’n mielieplant in skaduwee kan groei?
Hipotese

 

’n Mielieplant wat in die skaduwee geplant is, sal nie so goed groei soos een wat direkte sonlig kry nie.
Gevolgtrekking Skaduwee het ’n negatiewe uitwerking op die groei van ’n mielieplant.

Wanneer jy weer ’n eksperiment by die skool of huis doen, sal jy agterkom dat jy die wetenskaplike metode volg sonder dat jy dit eers besef. Elke stap wat jy volg, voltooi ’n legkaart van kennis in die wonderlike wêreld van natuurwetenskappe!

Woordbank

akademici Geleerde mense, wat gewoonlik by ’n universiteit werk, daar klas gee en navorsing doen (meervoud van “akademikus”).
akkuraat Presies; korrek; noukeurig; sonder enige foute.
analiseer Om ’n voorwerp te ondersoek of te ontleed en te kyk hoe die verskillende dele daarvan werk en saamwerk.
bestudeer Die dele van iets noukeuring ondersoek om die geheel beter te verstaan.
bronne Persone/boeke of geskrifte waaruit inligting of gegewens verkry word.
doelbewus Om iets met opset te doen, vir ’n spesifieke rede.
faktor Een van verskeie dinge wat ʼn situasie skep/beïnvloed.
fotosintese Die proses waar plante deur sonlig sekere stowwe in ander omsit en so suurstof vorm.
geldig ’n  Idee of rede wat geld,  van toepassing is en  gesaghebbend is, of wat aanvaarbaar en goed is.
grafieke Voorstellings van gegewens deur middel van lyne op geruite grondvlakke/papier.
hipotese ’n Stelling wat ’n mens maak of ’n idee wat jy het, wat nog bewys moet word; ’n voorspelling.
hoeksteen Fondament, grondslag.
induktiewe Gedagtes wat op navorsing of feite gegrond is of daarvan afgelei is.
logika Die wetenskap wat ’n mens leer om helder en reg te dink, om oorsaak en gevolg korrek op mekaar te laat volg.
navorsing Om ʼn onderwerp deeglik te bestudeer en nuwe inligting daaroor in te win.
notas Aantekeninge.
ondersoekende vraag ’n Doelbewuste vraag waardeur jy moontlik ʼn antwoord op ʼn probleem kan kry.
plagiaat Wanneer jy (sonder om te sê waar dit vandaan kom) iemand anders se gedagtes/idees gebruik of sy/haar werk/sinne net so oorskryf en voorgee dat dit jou eie is.
rasioneel Idees of aksies wat op rede en logika gegrond is, en nie emosies nie, of wat getuig van ‘n goeie oordeelsvermoë en logiese besluitneming.
stelling Iets wat jy skryf of sê wat gebaseer is op wat jy geleer het of reeds weet.
stelsin ’n Sin wat ’n stelling maak en met ’n punt eindig.
veranderlikes Iets wat afgewissel of uitgeruil kan word en die uitkoms van die eksperiment kan  beïnvloed.

Kyk die volgende video’s om jou kennis te verbreed

Wat is die wetenskaplike metode?

ʼn Prettige manier om die 6 stappe van die wetenskaplike metode te onthou

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 September 2022 | Bygewerk op 3 April 2024