Vinnige feite
- Die oor is nie die enigste deel van die mens en diere wat klank kan waarneem nie. Klankgolwe kan selfs deur verskillende liggaamsdele gevoel word. Soms voel jy die trillings wat donderweer of aardbewings maak terwyl jy dit hoor. Die trillings van harde basklanke van ’n motorradio kan ook gevoel word, al is dit ver van jou af. 9
- Klank beweeg drie keer vinniger deur staalmateriaal met ’n snelheid van 4 512 meter per sekonde. Lig beweeg vinniger as klank (amper 300 000 kilometer per sekonde). Daarom sien jy die weerlig voordat jy die geluid hoor. 10
- Hoewel die roepgeluid van ’n blouwalvis 188 dB kan bereik, wat harder is as die geluid wat ’n straler of selfs ’n handgranaat maak, maak die spermwalvis die hardste geluid – 230 dB.
- Die hardste mensgemaakte geluide is dié wat deur vuurwerk (tot 150 dB) en geweerskote (tot 155 dB) veroorsaak word. Die geluid wat ’n vuurpyl met lansering maak, is op 170 dB gemeet.
- Klank trek vinniger deur water as deur die lug. Die spoed van klank in die lug is sowat 340 meter per sekonde en 1 500 meter per sekonde onderwater. Omdat die atome in vloeistowwe digter verpak is as in gasse (die lug), beweeg geluide baie vinniger in byvoorbeeld die see. 11
- Bottelneusdolfyne het die beste gehoor. Terwyl mense klanke van 20 tot 20 000 Hertz (Hz) kan hoor, kan dié dolfyne klanke van tot 160 000 Hz hoor. Honde kan geluide tot 44 000 Hz optel.
- Hoe ouer ’n mens word, hoe meer neem die vermoë af om klanke op ’n hoër frekwensie te hoor.
Hoe harder die musiek, hoe geselliger die partytjie, of hoe? Het jy al gewonder hoe volume werk? Wel, voordat ons volume kan verstaan, is dit belangrik om eers te kyk na waar klank vandaan kom. Alle klank is ’n vibrasie of golf wat deur materie beweeg (vaste stof, vloeistof of gas) en gehoor kan word.
Die vibrasie begin deur meganiese beweging, soos iemand wat ’n kitaarsnaar pluk of aan ’n deur klop. Dit veroorsaak ’n trilling (soos ’n bewing) op die molekules langs die meganiese gebeurtenis (dit wil sê daar waar jou hand die deur tref wanneer jy klop). Wanneer hierdie molekules vibreer, veroorsaak dit weer dat die molekules rondom hulle vibreer. Die vibrasie versprei daarom van molekule tot molekule en veroorsaak dat die geluid beweeg. Dit is amper soos ’n golf in die see wat al groter word en dan teen ’n rots of op die strand spoel of breek. 1
Klank moet deur materie beweeg omdat dit die trilling van molekules nodig het om te kan beweeg of versprei. Die ruimte is ’n groot vakuum (groot leegte) en is tjoepstil. Daarom is ’n medium, soos die atmosfeer, nodig om klank te versprei. 2
As jy en ’n maat byvoorbeeld op die maan sou kon wees en daar praat sonder om ’n ruimtepak te dra, sal julle mekaar nie kan hoor nie, want daar is geen atmosfeer wat die klankgolwe kan oordra nie. Die klankgolwe of vibrasies bereik ons ore en word deur die oorkanaal na die oortromme gelei en veroorsaak dat dit vibreer.
Die hamer, aambeeld en stiebeuel (die kleinste beentjies in die liggaam) versterk hierdie vibrasies. Van daar af word dit deur die koglea (onderdeel van die binneoor) en gehoorsenuwee na die brein gestuur wat ons in staat stel om te hoor. Ons brein sê vir ons wát ons hoor en ook hoe hard dié geluid is (klankgolwe is verskillende groottes en vorms en dít bepaal die tipe klank). 3 4
Daar is ’n eeue oue vraag rakende die definisie van klank. As ’n boom in ’n bos val, ver van enigiets wat die geluid kan optel (soos ’n menslike oor of ’n mikrofoon), maak die boom enigsins ’n geluid? Die antwoord hang natuurlik af van hoe klank gedefinieer word. As dit beskou word as die golwe wat deur die lug gedra word, is die antwoord ja – oral waar klankgolwe is, is daar geluide. As klank egter subjektief gedefinieer word, byvoorbeeld dat dit die oor moet bereik om gehoor te word, is die antwoord nee. In daardie geval is daar geen klank nie. Die twee definisies is daarom albei korrek. 5
Wat is volume dan?
Volume beteken hoe hard of sag ’n klank is. Dink aan hoe jou pa met jou raas as jy die televisie te hard stel. Dan gebruik jy gewoonlik die afstandbeheerder om die volume sagter (of harder) te stel. ’n Motor- of ander radio werk dikwels met ’n ronde knop wat gedraai moet word om die volume te verstel. Linksom (antikloksgewys) vir sagter en regsom (kloksgewys soos die arms van ’n horlosie) om die volume harder te stel. Soms kan ’n mens glad nie die volume verander nie. Dink byvoorbeeld aan die geluid wat ’n dier maak of ’n donderstorm.
Hoe meet ’n mens volume?
Die volume van klank word in desibel (dB) gemeet. Daar is baie geluide in die omgewing, van ritselende blare (20 tot 30 dB), tot mense wat fluister (30 dB), ’n klapgeluid (120 dB) en die sirene van ’n brandweerwa of polisievoertuig (120 tot 140 dB). Geluide wat 85 dB of hoër is, kan ’n persoon se ore skade doen. Klankbronne wat hierdie drempel oorskry, sluit voorwerpe soos grassnyers (90 dB), treine (90 tot 115 dB) en harde musiekkonserte (110 tot 120 dB) in. 6
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) definieer geraas as enige geluid harder as 65 dB. Om presies te wees, geraas raak skadelik as dit 75 dB oorskry en enige klank wat harder as 120 dB is, kan pyn veroorsaak. As gevolg hiervan word aanbeveel dat geluidsvlakke gedurende die dag onder 65 dB gehou word en ongeveer 30 dB in die aand om ’n rustige nagrus te verseker. 7
Glo dit of nie, maar oorfone (veral dié wat binne jou oor pas) kan jou gehoor op dieselfde manier beskadig as dinge soos kettingsae, kragbore en motorfietse. Die probleem lê by die volume. Kettingsae en motorfietsenjins se geluid is ongeveer 100 dB. Só ’n harde geluid kan jou ore ná minder as ’n halfuur beskadig. Indien jou musiek op 70% van die hoogste volume gestel is, is dit ongeveer 85 dB. As jy die volume verhoog en langer luister, kan jy permanente gehoorverlies opdoen. Daarom beveel dokters aan dat jy nie harder as 60% van die maksimum volume luister nie en ook nie vir langer as 60 minute op ’n slag nie. 8
Woordbank
desibel | Eenheid vir die meting van die luidheid van klanke. |
geraas | Harde, onaangename, wanklankige geluid; rumoer; lawaai. |
klank | Hoorbare geluid; ritmiese geluid wat deur reëlmatige trillings voortgebring word. |
molekule | Kleinste deeltjie van ‘n stof wat die chemiese en fisiese eienskappe van dié stof behou en wat bestaan uit twee of meer atome wat deur chemiese bindings aanmekaar gehou word. |
vibreer | Bewe; tril; skud; skommel. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Eksperimente vir kinders
Volume en toonhoogte
Wat is klank?