Vinnige feite

  • Meer as 235 000 kopieë van Leon Schuster se CD “Hie’ kommie Bokke!” het in 1995 van die rakke af gevlieg. 13
  • Engeland se 2003-Wêreldbekerheld, die losskakel Jonny Wilkinson, is die voorste puntemaker in die geskiedenis van die Wêreldbeker-rugbytoernooi. Hy het altesaam 277 punte aangeteken met een drie, 28 doelskoppe, 58 strafskoppe en 14 skepdoele. 14
  • Twee vleuels deel die prestasie vir die meeste drieë in een Wêreldbeker-toernooi. Nieu-Seeland se Jonah Lomu (1975-2015) en Suid-Afrika se Bryan Habana het elk agt drieë in onderskeidelik 1995 en 2007 gedruk. Habana het uiteindelik 15 drieë in drie toernooie aangeteken, wat die 15 drieë deur Lomu in twee toernooie geëwenaar het. 15
  • Dieselfde fluitjie word in die openingswedstryd van elke Wêreldbeker-rugbytoernooi gebruik. Dié fluitjie is die eerste keer in 1905 deur die Walliese skeidsregter Gil Evans tydens ’n wedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland gebruik. Dit is ook in die rugby-eindstryd by die Olimpiese Spele in Parys in 1924 gebruik. 16
  • In die hoogste telling ooit in ’n Wêreldbeker-rugbytoernooi, het Nieu-Seeland die span van Japan in 1995 met 145-17 afgeransel. Die All Blacks het ’n rekordgetal van 21 drieë gedruk! Die Wallabies het Namibië in 2003 met ’n reusetelling van 142-0 geklop. 17
  • Suid-Afrika se vyf skepdoele in die kwarteindstrydoorwinning van 44-21 oor Engeland in 1999, is ’n Wêreldbeker-rekord. Jannie de Beer was die man met die goue skopskoen! 19
  • Die FNB-stadion (ook genoem Soccer City of die Kalbas), naby Soweto in Johannesburg, is spesiaal teen ’n koste van sowat R3,3 miljard vir die 2010-FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi gebou, en is die grootste stadion in Afrika met ’n kapasiteit vir meer as 87 000 mense. 20
  • Die grootste rugbystadion ter wêreld is die Twickenham-stadion in Londen, wat ’n kapasiteit vir 82 000 mense het. 21
  • Rugby was ’n Olimpiese sport tussen 1900 en 1924, waarna dit van die Spele se sportspyskaart verdwyn het. Dit het egter eers by die 2020-Spele (wat weens Covid-19 eers in 2021 in Tokio, Japan, plaasgevind het, weer ’n amptelike Olimpiese sport geword. 22

Rugby is so sinoniem met Suid-Afrika – en veral die Afrikaanse kultuur – soos biltong en braaivleis, koeksisters en koekstruif. Wat is dan nou lekkerder as om ’n vleisie op die kole te gooi en as ’n gesin of klomp vriende op ’n Saterdagmiddag bymekaar te kom en saam te kyk hoe die Springbokke ’n ander land se rugbyspan ’n lekker loesing gee!

Of jy nou ’n Bulle-ondersteuner is, vir die Haaie skree, die Stormers aanmoedig of mal is oor die Cheetahs, wanneer die Springbokke speel, is daar net één span wat saakmaak: die Bokke! Net een vyand of mededinger, en dit is die ander span of teenstanders (goed, soms bevind die skeidsregter hom ook aan die ontvangkant van kwaai kritiek deur ons vurige Bokondersteuners!) Almal trek hul Springboktruie aan (maak nie saak hóé oud dit is nie) en skree soos een man (óf vrou) vir die manne in groen en goud.

Selfs Suid-Afrikaners wat na die buiteland geëmigreer het, laat die Suid-Afrikaanse vlag trots wapper, trek ’n Springboktrui aan, kerf ’n stukkie biltong en peusel aan eg Suid-Afrikaanse blatjang (Mrs Balls) as die Bokke uitdraf. Maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie, township of Tweespruit, Thabazimbi of Tongaat – as Bokrugby eers in jou bloed is, sal die kranse antwoord gee (en die bure bewe) as die aksie eers afskop!

Jou ouers was waarskynlik nog op skool toe iets gebeur het wat Suid-Afrikaners nie net soos nog nooit tevore saamgesnoer (verenig) het nie, maar ook ’n liefde vir rugby in ons land laat vlamvat het waarby min ander nasies (of lande) kan kers vashou. Dit was natuurlik die Springbokke se oorwinning in die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995.

Baie mense onthou vandag nog presies waar hulle op 24 Junie 1995 was. Die reuse-Boeing van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat laag oor die Ellispark-stadion (vandag Emirates Airline Park) se dak vlieg, duisende (nuwe) Suid-Afrikaanse vlae wat wapper, Leon Schuster se “Hie’ kommie Bokke!” wat skaars hoorbaar deur die skare se gejuig oor die luidsprekers basuin.

’n Naelbytgelykopstryd (12 – 12) tot die bitter einde toe. En toe Joel Stransky se skepskop wat in ekstra speeltyd die geskiedkundige (historiese) wen van 15 – 12 vir die Springbokke én die hele Suid-Afrika beklink het. Almal onthou ook nog die oomblik toe oudpresident Nelson Mandela trots met sy Springboktrui op die veld verskyn en breed geglimlag het toe kaptein Francois Pienaar die blink Webb Ellis-trofee bo sy kop gelig het. Voorwaar ’n goue onthou-oomblik soos min!

Al was dit die eerste keer dat Suid-Afrika aan dié toernooi deelgeneem, dit aangebied én gewen het, sou dit nie die laaste keer wees dat die Springbokke in die Wêreldbeker-rugbytoernooi koning kraai nie. Trouens die Bokke het in 2023 die eerste span geword wat die trofee vier keer kon verower!

200 jaar van rugby

Hoewel sommige mense dit as ’n mite (of opgemaakte verhaal) beskou, meen talle bronne dat rugby 200 jaar gelede ontstaan het danksy ’n Britse seun genaamd William Webb Ellis (1806-1872) wat ’n leerling aan die Rugby School was. Volgens die legende het Webb Ellis in 1823 die bal tydens ’n skoolsokkerwedstryd opgetel en daarmee gehardloop en sodoende die spelstyl van rugby geskep. 1

William Webb Ellis.

Die bewering dat Webb Ellis rugby “uitgedink” het, het eers jare ná sy dood na vore gekom. Die oorspronklike bron van die verhaal van Webb Ellis wat die bal optel, kom van ene Matthew Bloxam, ’n plaaslike oudhedekenner/-handelaar en oudleerling van die Rugby School in Engeland. In Oktober 1876 skryf hy aan The Meteor (die Rugby School-tydskrif) dat hy by ’n naamlose bron verneem het dat die verandering van ’n skopspel na ’n hanteringspel “… ontstaan het met ’n dorpseun met die naam Ellis, William Webb Ellis”. 2

Of dit nou feit of fiksie is, daar is ’n gedenksteen by die Rugby School in Warwickshire, Engeland, opgerig, wat vryelik vertaal lees: “Hierdie steen herdenk William Webb Ellis wat met ’n fyn verontagsaming van die reëls van sokker, soos in sy tyd gespeel, eers die bal in sy arms geneem en daarmee gehardloop het en sodoende die kenmerkende styl van die spel van rugby laat ontstaan het. 1823.” 3

Rugby School in Warwickshire, Engeland.

Hy het ná skool (daar is ook ’n standbeeld van hom met ’n bal in die hand by die Rugby School opgerig) aan die Brasenose College in Oxford gestudeer voordat hy by die kerk aangesluit het. As student het hy ook krieket vir die Universiteit van Oxford gespeel. Hy is in 1872 in Menton, Frankryk, oorlede, waar sy graf ’n toeristeaantreklikheid vir veral rugbygeesdriftiges geword het.

Die trofee wat aan die Wêreldbeker-rugbywenners oorhandig word, is na William Webb Ellis vernoem. Dié sterlingsilwertrofee is met 24 karaat-goud bedek en in 1906 gemaak. Dit is 38 cm hoog en weeg 4,5 kg. 4

Ontstaan van die Wêreldbeker-rugbytoernooi

Die idee van só ’n toernooi is reeds vir jare bespreek, maar ’n amptelike voorstel is eers in Maart 1985 by die Internasionale Rugbyraad (IRR) se jaarvergadering in Parys, Frankryk, ter tafel gelê (voorgelê of voorgestel). 5

Die dryfkrag agter dié blink plan was Nicholas Shehadie van Australië en Richard Littlejohn van Nieu-Seeland. Hulle het die rugbyunies (die organisasies of sambreelliggame wat elke land verteenwoordig) in Engeland, Ierland, Skotland en Wallis besoek om steun vir die voorstel te kry. Hoewel nie almal ewe geesdriftig (entoesiasties) oor die voorstel was nie, is daar gestem. Met ’n uitslag van 10 – 6 ten gunste van ’n Wêreldbeker-rugbytoernooi, was die bal deur pale! Die komitee keur toe ook goed dat Australië en Nieu-Seeland saam die eerste toernooi twee jaar later aanbied. 6

Suid-Afrika is weens sportsanksies (uitsluiting) oor die regering se apartheidsbeleid nie toegelaat om aan die eerste twee Wêreldbeker-rugbytoernooie in 1987 en 1991 deel te neem nie. Die IRR het Suid-Afrika eers in 1992 weer tot internasionale rugby toegelaat, ná onderhandelings wat apartheid beëindig en tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994 gelei het. 7

Die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 was die eerste groot sportgeleentheid wat ná die einde van apartheid in Suid-Afrika plaasgevind het (Suid-Afrika was in 2010 ook die gasheerland vir die FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi). Die 1995-toernooi is ook geskiedkundig omdat dit die einde van die amateurera (tydperk) van rugby was. Net twee maande ná die toernooi het sport professionele (of beroepsport-) status bereik (spelers het vir groot bedrae geld begin speel en rugby as heeltydse werk of beroep begin beoefen) en Wêreldrugby (“World Rugby”) het die amptelike organisasie in beheer van die nuwe rugbyera én die Wêreldbeker-rugbytoernooi geword. 8

Die 1995-toernooi en die geskiedkundige gevolge daarvan vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika, het die wêreld só aangeraak, dat dit in ’n rolprent omskep is. Invictus (2009) – met Morgan Freeman as Nelson Mandela en Matt Damon as Francois Pienaar – is vir 38 toekennings genomineer, onder meer twee Oscar-benoemings, en het 12 pryse gewen. Clint Eastwood was die regisseur. 9

Só is sake oor die jare uitgespook

Jaar Gasheerland(e) Wenner (Finaal) Telling Naaswenner Wenner (Brons) Telling Naaswenner Getal spanne
1987 Australië en
Nieu-Seeland
Nieu-Seeland 29 – 9 Frankryk Wallis 22 – 21 Australië 16
1991 Engeland,
Frankryk, Ierland, Skotland en Wallis
Australië 12 – 6 Engeland Nieu-Seeland 13 – 6 Skotland 16
1995 Suid-Afrika Suid-Afrika 15 – 12 (ekstra tyd) Nieu-Seeland Frankryk 19 – 9 Engeland 16
1999 Wallis Australië 35 – 12 Frankryk Suid-Afrika 22 – 18 Nieu-Seeland 16
2003 Australië Engeland 20 – 17 (ekstra tyd) Australië Nieu-Seeland 40 – 13 Frankryk 20
2007 Frankryk Suid-Afrika 15 – 6 Engeland Argentinië 34 – 10 Frankryk 20
2011 Nieu-Seeland Nieu-Seeland 8 – 7 Frankryk Australië 21 – 18 Wallis 20
2015 Engeland Nieu-Seeland 34 – 17 Australië Suid-Afrika 24 – 13 Argentinië 20
2019 Japan Suid-Afrika 32 – 12 Engeland Nieu-Seeland 40 – 17 Wallis 20
2023 Frankryk Suid-Afrika 12 – 11 Nieu-Seeland Engeland 23 – 23 Argenitinië 20

Slegs 16 spanne het aan die eerste vier toernooie deelgeneem, maar sedert die toernooi in 2003, neem 20 spanne elke vier jaar aan een van die wêreld se grootste sportgebeurtenisse deel.

Nieu-Seeland was die eerste span om die Webb Ellis-beker omhoog te hou ná ’n sege van 29-9 oor Frankryk in die eerste toernooi. Nieu-Seeland het dié prestasie twee keer herhaal – toe hulle in 2011 die gasheerland was, en weer in 2015, toe die toernooi in Engeland aangebied is. Albei laasgenoemde oorwinnings was onder leiding van kaptein Richie McCaw. Dié flank het sy nasionale span in 110 van sy 148 toetswedstryde (internasionale wedstryde teen ander lande) aangevoer. 6

Die All Blacks is die enigste span naas Suid-Afrika wat die trofee tot dusver suksesvol verdedig het (in opeenvolgende toernooie in 2011 en 2015 koning gekraai het). Nieu-Seeland het ook in drie toernooie derde geëindig – in 1991, 2003 en 2019. Die toernooi in 2007 was die enigste wat dié span nie verder as die halfeindstryd kon vorder nie. 6

Suid-Afrika is die enigste span wat die Wêreldbeker-rugbytoernooi al vier keer kon wen, naamlik as die gasheerland in 1995 (kaptein: Francois Pienaar; afrigter: Kitch Christie); in 2007 in Frankryk (kaptein: John Smit; afrigter: Jake White); 2019 in Japan (kaptein: Siya Kolisi; afrigter: Rassie Erasmus); en 2023 in Frankryk (kaptein: Siya Kolisi; afrigter: Jacques Nienaber. 6

Australië kan twee oorwinnings agter sy naam skryf. Die Wallabies het Engeland in 1991 met 12-6 geklop, en in 1999 in Wallis met 35 – 12 met Frankryk afgereken. Australië was twee keer die naaswenners: in 2003 en 2015, en was derde by die toernooi in 2011. 6

Engeland kon die Webb Ellis-trofee nog net een keer omhoog hou (en die manne in die Suidelike Halfrond se greep op wêreldrugby breek). Die Rose het Australië in 2003 met 20 – 17 op hul voorstoep (in Australië) gewen nadat hulle aanvanklik gelykop was en ekstra speeltyd toegelaat is. Dié epiese (indrukwekkende) wedstryd was baie soortgelyk aan die 1995-oorwinning van die Bokke, omdat dit ook deur ’n skepskop (deur losskakel Jonny Wilkinson) én in ekstra tyd beklink is. Dit is tot nog toe die enigste twee Wêreldbeker-eindwedstryde wat in bykomende speeltyd beslis is. Engeland was drie keer naaswenners: in 1991, 2007 en 2019. 6

Frankryk  het 2023-toernooi wéér met leë hande huis toe gegaan. Die Hane is sekerlik die ongelukkigste span in die geskiedenis van die toernooi. Hulle het in drie eindstryde gespeel (1987, 1999, 2011), maar telkens die onderspit gedelf (verloor). Hulle het ook ’n derde plek in 1995 en vierde plekke in 2003 en 2007 behaal. 6

Engeland is in 2025 die gasheerland vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi vir vroue. Die mans- en vrouetoernooi het dieselfde benaming (word presies dieselfde genoem) om nie op grond van geslag te diskrimineer nie. Australië bied die manstoernooi in 2027 en vrouetoernooi in 2029 aan. Die Verenigde State van Amerika (VSA) speel op sy beurt gasheer vir die manspanne in 2031 en 2033 vir die skoner geslag. 6

Wêreldbeker-rugbytoernooi vir vroue

Die idee van ’n Wêreldbeker-rugbytoernooi vir vroue het ontstaan ná ’n internasionale toernooi in Nieu-Seeland in 1990, en ná baie harde werk en toewyding deur vier (vroue)raakvatters: Deborah Griffin, Alice Cooper, Sue Dorrington en Mary Forsyth. In April 1991 het 12 spanne in die Walliese hoofstad Cardiff vir nege dae se rugby in die skrum gesak. Geld en borgskappe was maar skaars, en die meeste spanne moes hul deelname uit hul eie sakke betaal. 6

Die vrouetoernooi het hierna ongeveer elke vier jaar plaasgevind, en het twee keer na driejaarperiodes verander – in 1994 om te verhoed dat dit in dieselfde jaar as die manstoernooi (1995) plaasvind, en weer in 2017 om te verseker dat dit nie bots nie met die Wêreldbeker-sewestoernooi wat verskuif het om in die middel van die Olimpiese Spele-siklus te val. 6

Só het die vrouespanne oor die jare gevaar: 11

Jaar Wenners Naaswenners Telling
1991 VSA Engeland 19 – 6
1994 Engeland VSA 38 – 23
1998 Nieu-Seeland VSA 44 – 12
2002 Nieu-Seeland Engeland 19 – 9
2006 Nieu-Seeland Engeland 25 – 7
2010 Nieu-Seeland Engeland 13 – 10
2014 Engeland Kanada 21 – 9
2017 Nieu-Seeland Engeland 41 – 32
2021
(uitgestel na 2022 weens
die Covid-19-pandemie)
Nieu-Seeland Engeland 34 – 31

Drie vrouespanne gee die toon aan as dit by rugby kom. Die VSA het die eerste toernooi gewen en as naaswenner by die opeenvolgende twee toernooie uit die stryd getree. Dis egter die dames van Nieu-Seeland en Engeland wat jy nie sonder ’n skrumpet moet aanpak nie! Nieu-Seeland het die Wêreldbeker-rugbytoernooi vir vroue reeds ses keer gewen, terwyl Engeland met twee oorwinnings en ses tweede plekke spog. 6

Woordbank

afgeransel ’n Pak slae gee; deeglik oorwin.
amateurera Iemand wat ’n vak/kus/sport uit liefde beoefen sonder om ’n beroep daarvan te maak of veel geld daarmee te verdien.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948–1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in kleur-/rassegroepe geskei is.
bronne Geskrif waaruit ’n mens gegewens put; persoon wat inligting (gewoonlik vertroulik) aan ’n ander oordra.
feit Iets wat as die waarheid aanvaar word; iets wat werklik plaasgevind het.
fiksie Denkbeeldige voorstelling; versinsel; verdigsel.
fluitjie ’n Hol (gewoonlik silindriese of ronde) voorwerp wat ’n fluitgeluid voortbring as daarin geblaas word; deur skeidsregter geblaas as teken dat die spel gestaak moet word of kan voortgaan.
gedenksteen Stuk natuursteen, gewoonlik kunstig bewerk, wat opgerig is ter herinnering aan ’n afgestorwene of ’n belangrike gebeurtenis.
geskiedkundig Histories; belangrik; wat op die geskiedenis betrekking het.
held Iemand wat groot dapperheid/moed aan die dag lê of deur grootse dade onderskei word.
kalbas Pampoenagtige klimplant met groot wit blomme; groot, dikwels peervormige vrug van ’n kalbasplant.
legende Iemand wat beroemd is en bewonder word vir sy/haar goedheid of iets wat hy/sy gedoen het.
loesing Pak slae; afranseling.
mite Storie sonder grond; fabel.
rekordgetal Hoogste snelheid, verste afstand, sportprestasie, ens. wat tot nog toe onder amptelike kontrole behaal/bereik is.
sportsanksies Dwangmaatreël om besluite te laat uitvoer; strafmiddel, meestal met politieke motiewe.
skeidsregter Persoon wat by ’n wedstryd sorg dat ’n speler of span nie uit die oortreding van spelreëls voordeel trek nie.
skepdoele Doel (drie punte) behaal deur die bal met ’n skepskop oor die dwarspaal te skop.
skrum Onderafdeling van die spel waartydens die twee stelle voorspelers in ’n bepaalde formasie in gebukkende houding teen mekaar druk in ’n poging om die bal, wat tussen hulle ingegooi is, in die hande te kry.
stadion Groot sportterrein, meestal onbedek, met oplopende rye sitplekke daaromheen.
standbeeld Beeld van marmer/klip/metaal/ens., ter ere van iets/iemand opgerig; gewoonlik in die openbaar en op ’n voetstuk, veral lewensgroot of groter.
sterlingsilwertrofee Allooi van silwer (minstens 92,5% suiwer) en gewoonlik koper.
toeristeaantreklikheid Baken, interessante plek of besoekpunt van geskiedkundige of opvoedkundige waarde wat deur baie mense (toeriste of reisigers) besoek word.
toernooi Reeks sportwedstryde.
toks Spesiale stewels/skoene waarmee rugby gespeel word.
trofee Beker/skild wat deelnemers in sport of ’n kompetisie kan wen.
verenig Een maak; saamvoeg; saambind.
verontagsaming Geen ag slaan op nie; ignoreer; geringskat. 23

Lees meer oor dié sportskouspel

Kyk gerus hierdie hoendervleishoogtepunte

Só het die 1995-toernooi Suid-Afrika verenig

Tien geskiedkundige oomblikke in Wêreldbeker-rugby

Indrukwekkende drieë deur die Springbokke by die Wêreldbeker-toernooi

Die verbyvlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens-vliegtuig met die 1995-eindstryd in Johannesburg

Selfs die Nieu-Seelandse vrouespan doen die haka (die All Blacks se beroemde Maori-oorlogskreet) voor wedstryde

Rassie Erasmus vertel die emosionele storie oor Makazole Mapimpi, die blitsige Springbok met die geniepsige systappie

 

Foto: iStockFoto: iStock[foto: Docplayer. (2011). SAJAH, ISSN 0258-3542, volume 26, number 2, 2011: 101-125The spatial patterns of Tswana stone-walled towns in perspective. Beskikbaar by: https://docplayer.net/84974421-The-popular-perception-of-traditional-african-settlements-remains-the-evenly-spread-the-spatial-patterns-of-tswana-stone-walled-towns-in-perspective.html [Datum van gebruik: 24 Aug. 2021]
Gepubliseer op: 29 Maart 2023 | Bygewerk op 22 Januarie 2024