Vinnige feite

  • Dok Craven was bekend vir sy kenmerkende bry.
  • Hy het nie net in rugby uitgeblink nie, maar was ’n veelsydige sportman. Hy het atletiek, krieket, tennis en waterpolo gespeel en was ’n baie goeie swemmer.
  • Een van Craven se jonger broers, Marius Craven, het as skrumskakel vir die Oostelike Provinsie gespeel.
  • Die landswye Cravenweek-skoletoernooi is na Dok Craven genoem. Die toernooi is in 1964 van stapel gestuur en was die eerste nierassige skoletoernooi. Craven was instrumenteel in die vorming daarvan.
  • Die US se rugbystadion in Coetzenburg, Stellenbosch, word die Danie Craven-stadion genoem.
  • Ná die Springbok-toer van 1937, het ’n bekende All Black-speler Syd Nicholls geskryf dat Craven die beste speler ter wêreld was.
  • Craven het byna 30 boeke geskryf. Sy eerste boek se naam was Die grondbeginsels van rugby.
  • Die ereburgerskap van Stellenbosch is aan Craven toegeken.
  • Baie Springbokke het hul loopbaan aan Craven te danke wat hul talent raakgesien het.
  • Die US het in 1979 ’n eredoktoraat aan Craven toegeken.
  • Hy het ook in 1981 die staatspresident se dekorasie vir voortreflike diens aan Suid-Afrika ontvang.
  • Craven was gekant daarteen dat rugby ’n professionele sport moes word. Dit beteken dat hy nie gedink het dat ’n mens ’n salaris moes kry om rugby te speel nie.
  • Craven is as kind Biebie genoem, omdat sy twee ouer boeties nie “baby” kon sê nie.
  • Die Internasionale Rugbyraad het hom in 2007 ’n plek in hul heldesaal (in Engels: Hall of Fame) gegee.
  • Dok Craven se hond, Bliksem, was dikwels saam met hom en die US het hulle albei in ’n standbeeld verewig.
  • Daar is baie teorieë oor waar die US se studente die naam Maties gekry het. Een daarvan is dat hulle weens hul maroenkleurige rugbytruie “tamaties” genoem is en toe bloot “maties”. Nog ’n verduideliking is dat dit ’n verkleining van die Afrikaanse woord “maat” is. 8

Suid-Afrika het ’n trotse rugbytradisie en het al baie talentvolle rugbyspelers opgelewer. Een van die bekendstes waaroor daar vandag nog gepraat word, is dr. Danie Craven, oftewel Dok Craven. Sy naam was so sinoniem met rugby dat hy Mnr. Rugby genoem is.

Hy was nie net ’n Springbokrugbyspeler nie, maar ook ’n Springbok-keurder, -afrigter en administrateur. Hy het veral tydens die apartheidsjare hard probeer dat die Springbokke teen ander internasionale spanne kon meeding, maar hy is ongelukkig oorlede voor sy droom bewaarheid is. Suid-Afrika is in daardie jare geïsoleer as gevolg van die apartheidsbeleid.

Hy het byvoorbeeld as lid van ’n sportafvaardiging met die ANC in Harare gaan praat sodat daar ’n einde aan die sportboikot kon kom. Hy het hom ook sterk in daardie tyd teen apartheid uitgespreek. Die Suid-Afrikaanse rugbyraad het onder sy leiding die eerste wit sportbeheerliggaam geword, wat apartheid veroordeel het. 1

Meer oor Craven

Danie Craven is as Daniel Hartman Craven op 11 Oktober 1910 op ’n plaas Steeton in die Lindley-distrik in die Vrystaat gebore. Craven se ouers se name was James en Maria en sy oupa aan vaderskant was van Steeton, Yorkshire (in Engeland) en dis waar hul plaas se naam vandaan gekom het. 2

Craven was een van agt kinders. Hy het ses broers, John Godfrey, James George, William Thomas, Walter Joseph, Marius Cornelis, James Roos en een suster, Pauline Susanne, gehad.  Hy was die derde oudste kind. Sy liefde vir diere is op die plaas gekweek. 3

Hy het reeds as skoolseun in rugby en krieket uitgeblink en hy was ook nie die enigste rugbyspeler in sy familie nie. Craven se ouma was Catherina Helena Roos en sy was familie van die eerste Springbokkaptein Paul Roos. Craven was ook familie van ’n bekende rugbykaptein in Engeland, W.S.D. Craven.

Paul Roos

Craven het later vertel hoe hy sy eerste rugby met ’n klip in die stofstrate gespeel het. Hy was so ’n kranige rugbyspeler dat hy reeds op 14 jaar oud vir die dorp se eerste span as skrumskakel gekies is.

Die skoolhoof het egter gesê dis nie veilig om teen grootmense rugby te speel nie, maar Craven het die volgende jaar gereeld vir die eerste span gespeel. 4

Craven is ná skool na die Universiteit van Stellenbosch (US) om daar vir predikant te leer. Die Universiteit van Stellenbosch staan nou as die Universiteit Stellenbosch bekend en die studente word Maties genoem.

Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch

Craven het vir die universiteit rugby gespeel. In daardie jare was daar ’n baie bekende rugbyafrigter, August Frederich Markötter (Oubaas Mark), en hy het Craven se talent al in 1929 as 19-jarige seun raakgesien. Craven het die volgende jaar eerste span gespeel en hy is in 1931 op 20-jarige ouderdom in die Springbokspan opgeneem. Hy was deel van die nasionale span wat in Engeland gaan toer het.

Daardie eerste wedstryd het hom al bekend gemaak en die Kaapse koerant Die Burger het oor hom geskryf: “Seun speel soos ’n reus”. Hulle het hom die Speler van die Wedstryd genoem en hy het ook die wendrie in die toets teen Skotland gedruk.

Terloops, ʼn drie (in Engels: try) het aanvanklik drie punte getel. Dit was eers van 1992 af dat Wêreldrugby ’n span vyf punte begin toeken het as hulle ’n drie druk – en daar was ‘n goeie rede daarvoor. Die vyf punte (in plaas van drie) was ’n aansporing om “aggressief”, oftewel harder, te speel en sodoende die wedstryd interessante te maak en meer toeskouers te lok. ’n Drie is ook vyf punte werd in rugby omdat dit baie moeiliker is om ’n drie te druk as wat dit is om ’n strafdoel of skepdoel te skop. 5

Craven het van 1931 tot 1938 so veel as 16 toetswedstryde vir Suid-Afrika gespeel. ’n Toetswedstryd is ’n internasionale wedstryd waar daar teen ander lande gespeel word. As rugbyspeler het Craven in die posisie van skrumskakel uitgeblink. ’n Skrumskakel is ’n speler wat die bal in die skrum ingooi en dit weer uitkry en aangee. Daar word gesê dat Craven die duik-aangee vervolmaak het en só gesorg het dat die bal vinniger uit die skrum na die agterspelers kon gaan.

Hy het ook in 1933 in al vyf toetse vir Suid-Afrika teen die toerspan van Australië gespeel. Hy was in 1937 die onderkaptein van die Springbokspan wat deur Australië en Nieu-Seeland getoer het. Hy was ook die kaptein van die span toe die Bokke teen Nieu-Seeland by Carisbrook-stadion in Dunedin gespeel het en was weer in 1938 die kaptein in die reeks teen die Britse Leeus (nou die Britse en Ierse Leeus). 6 Die Britse Leeus verteenwoordig die VK, naamlik Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland. Die Ierse Leeus verteenwoordig Suid-Ierland.

Die eerste toets, Suid-Afrika teen Australië, tydens die Wallabies-toer van SA en Rhodesië. Danie Craven druk ‘n drie vir SA

Hy het ook provinsiale rugby gespeel en was onder andere die kaptein van die Westelike Provinsie (word steeds Westelike Provinsie genoem, maar neem as die Stormers aan die Verenigde Rugby-kampioenskap deel), Noord-Transvaal (nou die Blou Bulle), Oostelike Provinsie (nou die Oostelike Provinsie-Olifante), Gekombineerde Suid-Afrikaanse Universiteite en die Suidelike Universiteite.

As rugbyspeler, was Craven besonder vaardig, want hy kon in verskeie posisies speel. Hoewel hy ’n skrumskakel was, het hy dikwels in ander posisies soos losskakel, agsteman en senter gespeel, en het selfs in een wedstryd as heelagter gedien. 3

Verskeie rugbyrolle

Craven het in 1949 die keurder, bestuurder en afrigter van die Springbokke geword. Hy was ’n baie suksesvolle afrigter en onder sy leiding het die Springbokke tien wedstryde ná mekaar gewen.

Hy het in 1956 die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad geword en het daardeur ’n groot bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby gelewer. Hy het daardie posisie tot en met sy afsterwe in 1993 behou en het hard probeer dat die Springbokke internasionaal rugby kon speel. Daarby was hy in 1962, 1973 en 1979 die voorsitter van die Internasionale Rugbyraad.

Craven was ook jare lank die afrigter van die US se rugbyspan. 7

Adriaan Pelzer, Danie Craven, Daan Swiegers en prof. De Villiers

Akademie en loopbaan

Craven wou aanvanklik ’n predikant geword het, maar het in ’n wedstryd teen Skotland ’n besering opgedoen wat sy planne in die wiele gery het. Hy het ’n skop teen sy strottehoof gekry en sy stembande het ernstig seergekry. Hy het daarom besluit om nie meer ’n predikant te word nie, maar liewer volkekunde te studeer.

Hy het in 1935 die eerste van sy drie doktorsgrade verwerf. Dit was ’n doktorsgraad in volkekunde. Craven het in 1936 by die Engelstalige kerkskool St. Andrew’s op Grahamstad begin onderwys gee. 1

Hy het in 1938 by die Suid-Afrikaanse weermag aangesluit en is selfs na lande, soos Duitsland, Nederland, België, Italië, Frankryk en  Brittanje, waar hy kursusse in liggaamsopvoedkunde bygewoon het.

Hy moes egter met die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika terugkeer. In hierdie stadium het hy steeds vir die weermag in Pretoria gewerk en is in 1940 as hoof van die
afdeling liggaamlike opvoeding van die SA Militêre Kollege aangestel. Hy is in 1942 as hoof van die Liggaamsopvoedingsbataljon aangestel en is tot luitenant-kolonel bevorder.

Hy het in 1948 na Stellenbosch teruggekeer, waar hy in April 1949 op 38-jarige ouderdom die eerste professor in liggaamlike opvoedkunde geword het. Hy het dié pos tot 1975 beklee.

In 1961 het hy sielkunde begin studeer, in 1963 sy honneursgraad met lof verwerf en in 1973 sy tweede doktorsgraad behaal.

Craven het in 1978, op 68-jarige ouderdom, sy derde doktorsgraad verwerf. Dié keer in liggaamlike opvoedkunde.

Hy was ook van 1976 tot 1982 die direkteur van sport aan die US. Hy het in 1982 uit dié pos getree en toe die direkteur van die US se Sportinstituut geword. Hy het dit reggekry om aandag aan die akademie, Suid-Afrikaanse rugby en universiteitsrugby te gee. 2

Persoonlike lewe

Craven is op 2 Julie 1938 met Beyera Hayward, ’n onderwyseres, getroud. Hulle het vier kinders gehad – drie seuns, George, Daniël en James, en een dogter, Joan – maar is in 1974 geskei.

Craven is in Mei 1975 met Merle Vermeulen getroud. Hy is op 4 Januarie 1993 in sy huis op Stellenbosch oorlede. Hy was 82 jaar oud. Dit was slegs twee jaar voor die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen het. 2

Danie en Beyera Craven

Bekende Dok Craven-aanhalings

  • “As dit met Maties en die Westelike Provinsie se rugby goedgaan, gaan dit goed met Suid-Afrikaanse rugby.”
  • ‘’n Rugbywedstryd is ’n kunswerk.”
  • “Ons kan Suid-Afrika op die rugbyveld verander.”
  • “’n Goeie rugbyspeler is ’n kind en dis waarom ek vir hulle voorsê, maar slegs as ek weet dat ek reg is!”
  • Craven het goeie spelers “ware voetbollers (in Engels: footballers)” genoem.
  • “As jy deel gehad het in die opheffing van Suid-Afrika se naam, het jy regtig niks meer nodig nie.”
  • “Ek het vir hulle (die buiteland) gesê ons baklei teen ons regering, ons baklei teen apartheid, en dan baklei julle teen ons.”
  • “Die mens is maar so. Hy sal jou die een oomblik aanprys en die volgende oomblik wil hy jou kruisig.”
  • “Ek is ’n student, ’n akademikus. En omdat rugby deel van my studieveld is, het ek hom bestudeer.” 1

Woordbank

administrateur Hoof van ’n openbare onderneming of uitvoerende mag, in die geval die rugbyraad.
apartheidsbeleid Die amptelike beleid wat die Nasionale Party-regering (1984-1994) gevolg het en wat Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei en afgesonder het.
agsteman ’n Voorspeler wat heel agter in die skrum druk.
bry Die klank “r” met trilling van die kleintongetjie uitspreek.
dekorasie ’n Ereteken wat iemand ontvang vir sy of haar goeie diens.
doktorsgrade Die hoogste akademiese graad.
duik-aangee ’n Rugbyspeler gee die bal aan terwyl hy deur die lug duik.
ereburgerskap Iemand word op ’n spesiale manier vereer deur ’n burger van die stad genoem te word.
eredoktoraat Die graad word aan iemand toegeken sonder dat hy of sy ’n eksamen moes ondergaan en die persoon kry dit as gevolg van uitsonderlike prestasies.
geïsoleer Afgesonder.
heelagter ’n Rugbyspeler wat gewoonlik agter die ander agterspelers van sy kant speel.
instrumenteel Iets het deur hom gebeur, hy was verantwoordelik daarvoor.
keurder Iemand wat keuring moet doen, besluit wie in ’n span of nie in ’n span is nie.
liggaamsopvoedkunde Kennis oor die versorging en ontwikkeling van die liggaam.
losskakel Dis die speler wat tussen die skrumskakel en senter speel.
senter Daar is twee senters in ’n rugbyspan en hulle speel tussen die losskakel en vleuels.
sinoniem Dieselfde betekenis.
skrum Twee stelle voorspelers sak af in ’n formasie en die bal word tussenin hulle gegooi. Hulle druk dan teen mekaar (skrum) om die bal te kry.
skrumskakel Dis die rugbyspeler wat die bal by die skrum ingooi en dit dan weer uitkry om na die agterspelers te gaan.
strottehoof Deel van die spraakorgane. Die stembande is daar binne-in.
toetswedstryde Wedstryd tussen verskillende lande.
vervolmaak Volmaak maak.
volkekunde Wetenskaplike kennis van die lewe en kultuur van verskillende groepe mense.

Lees die volgende artikels om meer oor Craven te leer

Kyk hierdie video’s oor Dok Craven

Craven in aksie!

Huldeblyke aan Craven

Craven gesels oor die wendrie

Craven kyk terug op sy lewe

Foto: iStock[foto: Docplayer. (2011). SAJAH, ISSN 0258-3542, volume 26, number 2, 2011: 101-125The spatial patterns of Tswana stone-walled towns in perspective. Beskikbaar by: https://docplayer.net/84974421-The-popular-perception-of-traditional-african-settlements-remains-the-evenly-spread-the-spatial-patterns-of-tswana-stone-walled-towns-in-perspective.html [Datum van gebruik: 24 Aug. 2021]
Gepubliseer op: 14 September 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024