Vinnige feite

  • Paul Roos se Springbokpet, wat hy tydens die 1906-toer gedra het, is nou in die Ellispark-rugbymuseum te sien. 11
  • Toe die Springbokke in 1937 teen die All Blacks op Eden Park in Auckland gespeel het, het Paul Roos vir hulle die volgende boodskap gestuur: “Skrum! Skrum! Skrum!” Die Bokke was briljant in die skrums en het een van hul beste oorwinnings behaal. 12
  • Roos was ’n toegewyde Christen en het geweier om op ’n Sondag ’n wedstryd te speel of selfs na ’n wedstryd te reis.
  • Roos het in 1904 geweier om in die Curriebeker-toernooi te speel omdat hulle op ’n Sondag moes gereis het. Die WP se kaptein het toe een van Roos se professore gevra om Roos te oorreed om te speel. Die professor het Roos toe oorreed dat ’n mens steeds die Here kan dien terwyl jy op ’n trein reis en hy het toe gaan speel. Die WP het die Curriebeker gewen. 13
  • Hy is as ’n “sagmoedige reus” beskryf en toe ’n rugbyspeler hom eenkeer op die veld geklap het, het hy sy ander wang gedraai en gesê hy moet dié wang ook klap. 13
  • Hulle sê dat Roos altyd vinnig bestuur het. As Springbok het hy orals op ’n fiets rondgery en later het hy ’n motor gekry, maar mense was te bang om saam met hom te ry omdat hy so vinnig bestuur het.
  • Roos was glo dikwels laat en het sy spanmaats mal gemaak omdat hulle menige kere treindrywers moes vra om vir hul spanmaat te wag!
  • In die vroeë 1900’s was daar natuurlik nie vliegtuie nie, en as spanne oorsee gereis het, was hulle vir omtrent vier maande of langer weg van die huis!
  • Paul Roos Gimnasium se geskiedenis dateer terug na 29 Januarie 1864.

Al hou jy nie van rugby nie, is ek seker jy weet wie die Springbokke is. Dit is Suid-Afrika se nasionale rugbyspan. Die man wat aan die naam “Springbokke” vir ons rugbyspan gedink het, se naam was Paul Roos. Paul Roos (1880-1946) was die kaptein van die eerste Suid-Afrikaanse rugbyspan wat oorsee getoer het.

Paul Roos se naam is baie bekend, want dis ook die naam van ’n bekende seunskool op Stellenbosch, naamlik Paul Roos Gimnasium.

Wie was Paul Roos?

Paulus Johannes Roos (ook bekend as Polla) is op 30 Oktober 1880 op Rust-en-Vrede naby die dorp Stellenbosch gebore. Hy het vier broers en drie susters gehad en sy pa se naam was Tielman Roos. Hy het op tien jaar oud sy eerste rugbywedstryd gesien en die gogga het hom gebyt. Hy was reeds op skool ’n talentvolle rugbyspeler.

Sy eerste skool was ’n klein plaasskool tussen Stellenbosch en Somerset-Wes en daarna het hy vir ʼn jaar by die skool van Meester Stucki in Blouvlei, Wellington skoolgegaan. Hy het sy hoërskooljare aan die Stellenbosch Gimnasium (later na Paul Roos Gimnasium herdoop) deurgebring en sou later ook daar ’n onderwyser word. 1

Hy het ’n BA-graad aan die Victoria-Kollege (later Universiteit Stellenbosch) studeer en gedurende hierdie tyd in rugby uitgeblink. 2 Hy was in 1897 in die derde span, in 1898 in die tweede span en in 1899 in die eerste span. Hy het in 1900 saam met die Villagers rugby gespeel en in 1901 weer vir Stellenbosch. 1

Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch

Sy eerste pos as onderwyser was op Rustenburg in die destydse Transvaal. Hy het van Rustenburg af na Pretoria fietsgery (meer as ’n 100 km!) om daar te gaan rugby speel en het ná die wedstryd weer met sy fiets teruggery!

Hy het weer in 1903 na Stellenbosch teruggekeer en het in dié dorp een van die bekende name in rugby geword. Hy was ’n voorspeler, het vir die Wes-Kaap uitgedraf en is vir die nasionale span gekies. 3

Roos se rugbyloopbaan

Paul Roos was deel van die span wat die eerste oorsese rugbytoer na Brittanje sou onderneem. Hy was ’n gewilde rugbyspeler en sy span het hom tot kaptein verkies.

Die span is in 1906 na Brittanje om 28 wedstryde te speel. Hulle het die Britte verstom, want hulle het 25 van die wedstryde gewen. Een wedstryd was gelykop en hulle het slegs teen Skotland en Cardiff verloor.

Springbokke, 1906

Roos het sy span Die Springbokken genoem. 4 Hy het die naam glo gegee voor die Britse media ’n onvleiende naam vir die span kon gee, want daar was immers net vier jaar tevore ’n oorlog tussen Brittanje en Suid-Afrika (die Anglo-Boereoorlog). Roos wou glo eenheid in die span skep omdat die span uit Engels- en Afrikaanssprekendes bestaan het. Hy het toe aan ’n oorlogskreet gedink wat die Bokke geoefen het. Dit was soortgelyk aan die All Blacks se bekende haka. Roos was as ’n inspirerende kaptein gesien wat goed geskrum het en ’n goeie voorbeeld aan sy span gestel het.

Hy het ’n kenmerkende snor gehad, is as jong man beskryf as onvoorspelbaar, maar ook ’n vinnige leerder as kaptein van sy span, en in sy middeljare as lid van die parlement wys en verstandig.

Hy was glo ’n nederige man wat met sy span se aankoms in Southampton, Engeland, gesê het dat sy span daar was om te leer. 5

Wallis was in daardie stadium as die beste span gereken omdat niemand hulle op hul tuisveld kon klop nie. Die Springbokke het hulle egter gewen en dit word as een van die grootste rugby-verrassings in rugby se geskiedenis bestempel. 6

Die media in Brittanje het selfs gesê dat die Springbokke beter as die All Black-span van 1905 was. 7

Vincent Cartwright en Paul Roos

Hy was die bestuurder van die junior Springbokspan wat in 1932 na Argentinië getoer het. Roos het verskeie kere die Suid-Afrikaanse Rugbyraad oorsee verteenwoordig, en was later die adjunkpresident van die Rugbyraad tot en met sy dood in 1948.

Paul Roos Gimnasium

Roos was ’n leerling aan dié skool toe dit nog bekend gestaan het as die Stellenbosch Gimnasium en het later daar as onderwyser gewerk. Hy het in 1910 die rektor (hoof) van die skool geword. Hy was vir 30 jaar in dié pos en daar word gesê dat onderwys sy lewe, en rugby sy eerste liefde was. Hy is as ’n werkoholis bestempel en het in 1940 afgetree. Hy het vir ’n ruk daarna as tydelike waarnemende inspekteur van skole gedien.

Die skool is op 27 September 1946 na die Paul Roos Gimnasium herdoop. In Januarie 1951 het die skool besluit om die laer- en hoërskoolgedeeltes te skei en dit staan toe as die Laerskool Paul Roos (LPR) en die Paul Roos Gimnasium (PRG) bekend. 8

Paul Roos Gimnasium

Persoonlike lewe

Paul het in 1908 met Susie Kühn getrou en hulle het vier kinders (twee seuns en twee dogters) gehad. 1

Een van hul seuns, Gideon, was ook ’n bekende Suid-Afrikaner. Dr. Gideon Daniël Roos was ’n regsgeleerde, akteur en omroeper wat later die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) gestig het en as direkteur-generaal van die destydse SAUK (vandag SABC) gedien het. 9

Paul Roos het by die Nasionale Party aangesluit en is in 1948 as lid van die parlement verkies. Hy het glo op die dag van sy dood in die parlement ’n toespraak gelewer waarin hy vir hulp vir behoeftige mense gevra het.

Roos het op 22 September 1948 aan ’n hartaanval gesterf. Sy vrou, Susie, het op 4 Januarie 1960 gesterf. Hy en sy vrou is by die Stellenbosch-begraafplaas begrawe. 10

Woordbank

onvleiende Beledigend.
nederige Iemand wat nie dink dat hy/belangriker as ’n ander is nie.
onvoorspelbaar Onvoorsiens; Wanneer mens nie vooruit kan bepaal wat gaan gebeur nie.
rektor Hoof van ’n universiteit (in die geval ’n skool).
sagmoedige Iemand wat nie graag baklei nie en saggeaard is.
verstandig Iemand wat ’n gesonde oordeel het.
voorspeler Speler in die voorhoede van die span.
werkoholis Iemand wat heeltyd werk.

Lees die volgende artikels om meer oor Roos te leer

Kyk na hierdie video’s om meer oor Roos te leer

Feite oor die Springbokke se eerste toer

Die interessante geskiedenis van Paul Roos Gimnasium

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 Oktober 2023 | Bygewerk op 5 Desember 2023