Vinnige feite

  • Die eerste vorm van rugby, anders as wat dit vandag gespeel word, is in die 1820’s by ’n skool met die naam Rugby School in Brittanje gespeel. Dit het in 1823 gebeur toe ’n seun met die naam William Webb Ellis tydens ’n sokkerwedstryd die bal opgetel het en daarmee gehardloop het. Die reëls van die nuwe spel is in 1846 by hierdie skool ontwikkel en die eerste rugbywedstryd met 15 spelers aan elke kant is in 1877 tussen Engeland en Ierland gespeel. 7
  • Eerwaarde George Ogilvie wat in 1826 in Engeland gebore is, is die man wat rugby in Suid-Afrika bekendgestel het toe hy die soort rugby wat hy op skool in Brittanje gespeel het, vir leerlinge aan ’n skool in Rondebosch in die Kaap geleer het terwyl hy daar skoolhoof was. 8
  • Toe Brittanje in 1891 vir die eerste keer ’n span na Suid-Afrika gestuur het vir ’n rugbytoer, het die skip waarop hulle gereis het, die reis in ’n rekordtyd van 16 dae afgelê! 10
  • Cecil John Rhodes was Eerste Minister van die Kaapkolonie toe die eerste Britse toerspan in 1891 in die Kaap aangekom het. 9
  • In 1896 het Suid-Afrika die eerste keer ’n wedstryd teen Brittanje gewen en hierdie wedstryd was ook die eerste een waarin hulle die groen rugbytruie gedra het. 2
  • Die bekende Loftus Versfeld rugbystadion in Pretoria is na een van vier Versfeld-broers met die naam Loftus vernoem. Die ander drie broers was John, Charles en Marthinus. Marthinus het in 1891 in al drie die toetse teen Brittanje gespeel in die eerste Internasionale toer na Suid-Afrika. Charles – wie se bynaam Hasie was – het die enigste drie van Suid-Afrika in hierdie toer gedruk.  Loftus het ’n belangrike rol gespeel om rugby in Transvaal te vestig en daarom is dit heel gepas dat Pretoria se rugbystadion na hom vernoem is. 4
  • In 1891 het ’n span nét een punt gekry wanneer hulle ’n drie gedruk het! 4
  • Die kaptein van die eerste Suid-Afrikaanse Internasionale span in 1891, was H.H. Castens.  En in 1894 was hy ook die kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan wat in Brittanje gaan toer het. 4
  • In 1891 het die Suid-Afrikaanse rugbyspelers langbroeke gedra in hulle wedstryde teen Brittanje! 4
  • In 1981 het die Springbokke in Nieu-Seeland getoer. Daar was die hele tyd betogings teen die Springbokke en die tweede toets moes afgestel word omdat honderde betogers op die veld gegaan het en geweier het om dit te verlaat. 2

Mens kan byna nie dink dat daar ’n tyd was toe rugby nog nie in Suid-Afrika gespeel is nie. Geen Springbokvlae en Springboktruie wat die pawiljoene op Loftus en Ellispark en Nuweland groen maak nie, geen skooltoere of bulletjierugby (rugby vir baie jong seuntjies) in Pretoria nie. En tog was daar so ’n tyd. Kom ons kyk hoe alles met rugby in ons land begin het.

Die eerste vorm van rugby, anders as wat dit vandag gespeel word, is in die 1820’s by ’n skool met die naam Rugbyskool in Brittanje gespeel. Dit het in 1823 gebeur toe ’n seun met die naam William Webb Ellis tydens ’n sokkerwedstryd die bal opgetel het en daarmee gehardloop het. Die reëls van die nuwe spel is in 1846 by hierdie skool ontwikkel en die eerste rugbywedstryd met 15 spelers aan elke kant is in 1877 tussen Engeland en Ierland gespeel. 7

Die begin van rugby in Suid-Afrika

Die eerste amptelike rugbywedstryd in Suid-Afrika is op 21 Augustus 1862 in Groenpunt in Kaapstad gespeel. Dit is georganiseer deur die skoolhoof van Bishop’s College – George Ogilvie. Die twee spanne wat teenmekaar gespeel het, het bestaan uit lede van die Weermag en lede van die Staatsdiens. Daar was Britte en Afrikaners onder die spanlede. Hulle het die spel gespeel soos ’n paar van die Britte dit op skool in Brittanje geleer het. 1

Die eerste rugbyklub – Hamilton Klub – is in 1875 gestig en die tweede klub is in die volgende jaar gestig – Villager Klub. Van die Kaap af het die spel na Kimberley, die Oranje-Vrystaat, die destydse Transvaal (vandag en Rhodesië (vandag Zimbabwe) versprei.

Om te sorg dat alle klubs dieselfde reëls volg, is die Suid-Afrikaanse Rugbyraad in 1889 gestig. Daarna het die verskillende provinsies hulle eie streeksunies onder die beheer van die Rugbyraad begin stig. 2

Frankryk en Suid-Afrika, 1913

Waar kom die naam Springbokke vandaan?

 In 1906 het die Suid-Afrikaanse rugbyspan op hulle eerste toer na Brittanje gegaan. In daardie dae moes hulle nog met ’n skip daarheen reis en nie met ’n vliegtuig nie. Iemand het toe blykbaar vir die Springbokkaptein, waarskynlik Paul Roos, gevra of die span gereed en fiks sal wees om te speel na so ’n lang seereis. Hy het blykbaar na die span gewys wat juis toe besig was met ’n oefening en gesê: “Natuurlik sal hulle reg wees, kyk, hulle spring rond soos ’n trop springbokke!” 3

Paul Roos

Daar is ander weergawes ook oor presies hoe ons nasionale rugbyspan vir die eerste keer ‘Springbokke’ genoem is. Hoe dit ook al presies gebeur het, dit het ’n baie bekende en beroemde naam geword.

Rugbykompetisie tussen provinsies

Vanaf 1892 was daar twee provinsiale kompetisies – die Rugbyraadtrofee-kompetisie en die Curriebeker-kompetisie. Eers vanaf 1957 was die Curriebeker die enigste kompetisie tussen die provinsies. 2

Die Curriebeker-kompetisie is vandag steeds die belangrikste binnelandse kompetisie tussen rugbyspanne in die land.

Die eerste internasionale rugbytoer na Suid-Afrika

Die eerste internasionale rugbywedstryd van die Suid-Afrikaanse span is in 1891 in Port Elizabeth gespeel toe Suid-Afrika teen ’n span van Brittanje gespeel het. 2 Hierdie wedstryd was deel van die eerste toer van Brittanje na Suid-Afrika.

Springbokspan, 1906

’n Paar interessante dinge het tydens hierdie eerste toer gebeur. Die Britse span het nie geweet dat hulle sulke lang afstande tussen die verskillende wedstryde sal moes reis nie – Suid-Afrika is mos ’n baie groter land as Brittanje. En boonop was daar in daardie jare nog nie gerieflike snelweë tussen die groot stede soos vandag nie. Om van Kaapstad na Kimberley te ry, het die Britse span twee dae en ’n nag geneem. Toe moes hulle boonop in Kimberley op ’n rugbyveld speel waarop daar niks gras was nie, net grond. Blykbaar het die bal soms amper weggeraak in al die stof wat deur 30 spelers opgeskop is! 4

Die Springbokke speel gereeld internasionale wedstryde teen spanne soos onder andere die Britse Leeus (spelers van Engeland, Ierland en Skotland), Australië (hulle span word die Wallabies genoem), Nieu-Seeland (hulle span word All Blacks genoem), Frankryk (Hane) en Argentinië.

Springbokke en Australië

Politiek en ras in rugby

Politieke besluite en verskillende menings oor rasse, het vir baie jare probleme in Suid-Afrikaanse sport veroorsaak.

Rugby en sport in Suid-Afrika is deur oorsese lande geboikot omdat daar nie swartmense saam met blankes in die sportspanne was nie. In 1965 het die Springbokke ’n suksesvolle toer in Nieu-Seeland gehad. Na die toer het dr H.F. Verwoerd, wat toe die Eerste Minister van Suid-Afrika was, gesê dat Nieu-Seelandse spanne wat hier kom toer, nie Maori’s (inheemse bewoners van Nieu-Seeland) in hulle spanne mag insluit nie. In reaksie hierop het Nieu-Seeland hulle beplande toer van 1967 na Suid-Afrika gekanselleer.

Eerste Springbokspan in Nieu-Seeland, 1912

Suid-Afrika is as gevolg van die sportboikot nie toegelaat om in 1987 aan die eerste Wêreldbeker Rugbytoernooi deel te neem nie.

Gebeure soos hierdie het daartoe bygedra dat die Springbok in daardie jare as ’n simbool van apartheid beskou is. 1

1986

Nelson Mandela het egter ‘n deurslaggewende rol gespeel om die Springbok as rugby se nasionale embleem te behou. Hy het tydens die nasionale sportraad (Nasional Sports Council) se vergadering ‘n versoek gerig om die springbok te behou vir rugby, terwyl daar besluit is om die koningsprotea as die enigste sportsimbool vir alle sportsoorte te gebruik. Sy versoek was heel diplomaties, gegrond daarop dat die Sprinbok-simbool die land kan verenig. Die raad het die emblem in Maart 1996 aanvaar.

Hoewel dinge in Suid-Afrika se sportwêreld reeds vir baie jare anders is en beide swart en blanke spelers in dieselfde spanne speel, is daar ongelukkig steeds mense wat sê dat die springbok ’n simbool van apartheid is en dit nie wil aanvaar nie.

Die eerste toets, Suid-Afrika teen Australië, tydens die Wallabies-toer van SA en Rhodesië. Danie Craven druk ‘n drie vir SA.

Dr. Danie Craven

Daar is baie mense wat deur die jare belangrike dinge gedoen het vir Suid-Afrikaanse rugby maar, een van daardie mense waarvan mens meer moet weet, is Danie Craven.

Hy is in 1910 gebore – dit was dus so amper 20 jaar nadat die eerste internasionale rugbyspan in Suid-Afrika getoer het. Hy is in 1993 oorlede en het dus ongelukkig nie die vreugde beleef toe die Springbokke in 1995 die Wêreldbeker gewen het nie.

Adriaan Pelzer, Danie Craven, Daan Swiegers en prof. De Villiers

Danie Craven het nie verniet die bynaam van Mnr. Rugby gehad nie. Hy het rugby gespeel, hy was ’n afrigter, ’n rugby administrateur en ook een van die mees invloedryke en kontroversiële mense in Suid-Afrikaanse rugby.

Hy het in 16 rugbytoetse vir Suid-Afrika gespeel en het in ’n hele paar verskillende posisies gespeel: skrumskakel, losskakel, senter, agtsteman en ook heelagter. Hy was ook kaptein van die span in twee oorsese toere in 1937 en 1938.

In 1949 het hy keurder asook bestuurder en afrigter van die Springbokke geword. Vanaf 1956 tot en met sy dood in 1993 was hy president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad. 5

Die Cravenweek-toernooi wat elke jaar vir skole aangebied word, dra die naam van Danie Craven. 6

Mens kan dus sien dat dr. Craven sy merk gemaak het in alle afdelings van die spel.

Danie Craven standbeeld, Jannie Marais Huis

Wêreldkampioene

In 1995 het Suid-Afrika vir die eerste keer aan die Wêreldbeker-toernooi deelgeneem en dit is boonop in Suid-Afrika aangebied. Hoewel die Springbokke nie die gunsteling was om te wen nie, het hulle op 24 Junie 1995 die eindstryd teen die All Blacks gewen. President Nelson Mandela het in ’n springbok-rugbytrui op die veld verskyn en die trofee aan die kaptein van die Springbokke, Francois Pienaar, oorhandig.

Dit was nie alleen ’n wonderlike mylpaal vir Springbokrugby nie, maar ook ’n baie belangrike oomblik vir die land wat baie gedoen het om blanke en swart Suid-Afrikaners saam te snoer. Soos Francois Pienaar daardie dag gesê het, dit was nie net die 60 000 Suid-Afrikaners in die rugbystadion wat die span ondersteun het nie, maar al 43 miljoen Suid-Afrikaners. 1

In 2007 en in 2019 het die Springbokke weer die toernooi gewen. Dis net die Springbokke en die All Blacks wat dit al kon regkry om drie keer wêreldkampioene in rugby te wees.

Woordbank

administrateur Die bestuurder van ’n openbare onderneming.
geboikot Besluit om nie iets/iemand nie te ondersteun nie. In hierdie geval SA sport.
gepas Iets wat geskik of paslik is.
kontroversiële Wat twis of onenigheid kan veroorsaak.
merk maak Om te wys waartoe jy in staat is.
mylpaal ’n Belangrike tyd of gebeurtenis of prestasie.
saam te snoer Tot ’n eenheid of geheel verenig.
simbool Voorwerp of teken of woord wat mens met jou sintuie kan waarneem en wat ’n sekere begrip verteenwoordig.
vestig In hierdie sin beteken die woord vestig dat iets wat nog nie voorheen in ’n plek bestaan het nie, daar gestig word of tot stand gebring word.

Leer hier meer

Hier kan jy na ’n belangrike datumlys oor rugby kyk – vanaf 1820 tot in 2012.

’n Paar video’s oor Springbok rugby

Kyk na 10 goeie Springbokdrieë.

Kyk na 40 goeie Springbokdrieë teen die All Blacks.

 

[foto: Docplayer. (2011). SAJAH, ISSN 0258-3542, volume 26, number 2, 2011: 101-125The spatial patterns of Tswana stone-walled towns in perspective. Beskikbaar by: https://docplayer.net/84974421-The-popular-perception-of-traditional-african-settlements-remains-the-evenly-spread-the-spatial-patterns-of-tswana-stone-walled-towns-in-perspective.html [Datum van gebruik: 24 Aug. 2021] (Foto: Sabinet African Journals. (2011). The spatial patterns of Tswana stone-walled towns in perspective. Beskikbaar by: https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/EJC94127 [Datum van gebruik: 24 Aug. 2021][foto: Sabinet African Journals. (2011). The spatial patterns of Tswana stone-walled towns in perspective. Beskikbaar by: https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/EJC94127 [Datum van gebruik: 24 Augustus 2021] journals.co.za]
Gepubliseer op: 14 April 2023 | Bygewerk op 18 Januarie 2024