Vinnige feite

  • Die beheersing van vuur word saam met die ontwikkeling van die eerste werktuie as een van die eerste en kritieke stappe in die menslike kultuur beskou. Voordat mense in staat was om self vuur te maak, was hulle afhanklik van toevallige ontbranding, soos deur weerlig veroorsaak word.
  • Vuur speel verskillende rolle in kulture en tradisies. Dit is ook ʼn belangrike tema in sekere godsdienste en word soms selfs gesien as ʼn voorwerp van verering. Sekere tradisionele gebruike sluit selfs ʼn vuurdans in.
  • Oop kaggels, ʼn braaivleis en fondues is vorme van vuur wat vandag nog verbind word aan sosiale geleenthede en kulturele tradisies.
  • Volgens die Griekse filosofie is vuur een van die vier elemente; die ander drie elemente is water, aarde en lug.
  • Die spoed waarteen die middele wat deel van ʼn vuur vorm met suurstof meng, is wat die hitte van die vuur bepaal, veral die hoeveelheid suurstof wat in die lug is.
  • Vlamme word in twee chemiese waarskuwingsimbole gebruik om ons te waarsku dat stowwe hoogs vlambaar of oksiderend is. 5
Foto: iStock

Vuur is die sigbare verskynsel van iets wat brand en vlamme, hitte, ʼn gloed of lig uitstraal. 1 Vuur is ook die sigbare teken van ʼn eksotermiese chemiese reaksie wat tussen die suurstof in die lug en ʼn brandstof plaasvind. 2

Eksotermies is die woord wat gebruik word om ‘n chemiese reaksie waarin daar hitte vrygestel word, te beskryf. (Dié hitte is ook warmer as die omgewing.) Voorbeelde van vuur uit ons alledaagse lewens is braaivleisvure, veldbrande, ens.

Wat word benodig vir ʼn vuur?

Vir verbranding om plaas te vind, word ʼn brandstof, suurstof en ʼn hittebron benodig. Sonder een van dié drie, kan daar nie verbranding plaasvind of ʼn vuur wees nie. Ons noem dit ʼn vuurdriehoek, soos hier onder voorgestel word.

Elke keer wanneer ons met vuur werk of een sien, is die vuurdriekhoek altyd ter sprake. Dink aan ʼn braaivleisvuur: Die brandstof is die vuuraansteker, hout of houtskool. ʼn Vuur het suurstof nodig sodat verbranding kan plaasvind, wat dan hitte gee sodat jy jou vleis kan braai. Wanneer jy jou braaivleisvuur blus nadat jy gebraai het, neem jy een van die komponente weg. As jy die vuur byvoorbeeld met water blus, neem jy die hitte weg, en sonder hitte kan die vuur nie brand nie. Gooi jy sand op die vuur, neem jy die suurstof weg.

ʼn Veldbrand het ook brandstof nodig, naamlik hout van die bome, gras, takke of enige ander brandbare materiaal. Boere wat op plase woon, gebruik dikwels trekkers om langs hulle heinings paaie te skraap om bome en gras te verwyder. Ons noem dit ʼn brandstrook. Hierdeur verwyder hulle die potensiële brandstof, en sonder brandstof kan ʼn vuur nie hiér brand nie.

Brandstowwe

Sommige brandstowwe word verbrand om hitte en lig te produseer, wat nodig is vir vuur. Voorbeelde van hierdie stowwe is soos volg:

Hout

Wanneer hout verbrand word, kan dit hitte en lig produseer. Hout is afkomstig van plante, veral bome. Wanneer hout verbrand word, verander die gestoorde energie (ligenergie van die son, asook koolstofdioksied en water) na lig en hitte wat bruikbaar is vir die mens om kos te maak of as ʼn bron van hitte te dien. Die verbrandingsproses skei dus koolstofdioksied (CO2), water (H2O) en hitte af.

Steenkool

Dit is ʼn soort fossielbrandstof en verskaf hitte wanneer dit verbrand word. Dit word ook gebruik om kos gaar te maak of huise te verwarm.

Was

Was, wat byvoorbeeld in ʼn kers is, bevat ook gestoorde energie wat in lig verander as dit aan die brand gesteek word. Sommige mense gebruik dit ook om vuur mee te maak.

Suurstof

Brandstowwe het suurstof nodig om te brand. Suurstof word vanuit die lug verkry en is nodig vir die proses van verbranding om ʼn vuur te maak. 3

Hitte

ʼn Vuur straal hitte uit. Indien die hitte weggeneem word deur iets wat die vuur blus, sal die vuur nie meer brand nie. Daarom is hitte ook ʼn vereiste vir vuur.

Ontbrandingstemperatuur

Die grade of temperatuur wanneer ‘n brandstof aan die brand gesteek word en aanhou brand, word die ontbrandingstemperatuur genoem. ʼn Middel wat in die lug aangesteek kan word, word as vlambaar beskou. Die vlambare temperatuur van ʼn vlambare vloeistof is byvoorbeeld laer as die ontbrandingstemperatuur. Dit is nie die uiteindelike temperatuur waarvolgens die brandstof sal aanhou brand nie.

In die antieke tye het mense vuur gemaak deur twee stokke vinnig teenmekaar te vryf. Daardie vonke wat letterlik gespat het, is dan gebruik om ʼn vuur mee te begin. Omdat die ontbrandingstemperatuur van hout baie hoog is, gebruik hierdie metode baie energie voordat daar genoeg vonke is om ʼn behoorlike vuur aan die gang te kry.

Die punt van ʼn vuurhoutjie is saamgestel uit middels wat onder gewone omstandighede ʼn lae ontbrandingstemperatuur het. Die hitte wat dan verkry word deur die punt van ʼn vuurhoutjie op ʼn growwe oppervlak te skuur, verskaf genoeg hitte om brandstof mee aan die brand te steek en verbranding voort te bring.

Verskeie faktore – soos die tipe brandstof, die lugdruk en hoeveel ander gasse in die lug is – kan ʼn rol speel in die temperatuur wat benodig word om verbranding voort te bring en die ontbrandingspunt te bereik. 4

Verlaagde temperatuur sal die vuur blus

Wanneer ʼn vuur ontstaan, sal dit slegs kan aanhou brand as die temperatuur wat deur die verbranding van die brandstof meegebring is, so hoog of hoër as die ontbrandingspunt is. Dit is een van die belangrikste wette van vuur. Byvoorbeeld, sekere harde houtsoorte, soos ebbehout, het baie hitte nodig om te brand. Indien ‘n mens die punt van ʼn ebbehoutstok in ʼn steenkoolvuur plaas, sal dit brand. Wanneer ‘n mens dit egter weer uithaal, sal die vuur aan die punt van die stok se temperatuur laer as die ontbrandingspunt van ebbehout wees, en die vlamme sal dus vanself doodgaan (blus).

Hierdie beginsel verklaar ook hoekom ʼn brandende vuurhoutjie uitgeblaas kan word. Die lug wat op die vlammetjie geblaas word, veroorsaak dat die hitte beweeg word, wat meebring dat die temperatuur tot onder die vuurhoutjie se ontbrandingspunttemperatuur daal. Om dieselfde rede het die water van ʼn brandblusser dieselfde uitwerking op ʼn vuur.

Vuur sonder vlamme

ʼn Vuur kan met óf sonder vlamme brand. ʼn Vlam dui daarop dat die hitte gas vanaf die brandende middel of brandstof forseer. Vlamme is die oorsaak van die kombinasie van dié gas tesame met die suurstof in die lug. ʼn Steenkoolvuur maak vlamme omdat die gas wat vanaf die steenkool forseer word, uit koolstof en waterstof bestaan, wat dan met suurstof in die lug meng.

In ʼn kersvlam word die helder vlam deur die gas wat deur die verhitte was afgegee word, veroorsaak. Wanneer die vlam uitgeblaas word, sien ʼn mens ʼn dun strepie rook. Indien ʼn mens ʼn aangesteekte vuurhoutjie deur die rook sou beweeg – ongeveer 2,5 sentimeter bo die lont – sal ʼn klein vlammetjie in die rooklyn afbeweeg en die kers weer aansteek. 4

Woordbank

brandstof Enige stof wat geskik is vir verbranding, veral petrol.
chemiese reaksie
Proses/gebeurtenis waartydens die eienskappe en/of samestelling van ‘n stof/stowwe verander.
gas Enige stof waarvan die vorm soos dié van lug is, veral een wat by gewone temperature nie in ‘n vaste stof of vloeistof verander nie.
suurstof Kleurlose, reuklose gas, hoogs reaktief, wat as die diatoom Omeer as ‘n vyfde van die aarde se atmosfeer uitmaak en ook die algemeenste element in die aardkors is.
temperatuur Meting wat aandui hoe warm/koud ‘n plek/iets is.

Lees hierdie om meer oor vuur te wete te kom

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer oor vuur

Bos- of veldbrande rig jaarliks groot skade aan

Is vuur ‘n vaste stof, vloeistof of ‘n gas?

Wat is vuur?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Desember 2021 | Bygewerk op 18 Desember 2023