Vinnige feite

  • William Wilberforce het 26 jaar lank die veldtog teen slawerny gevoer. 2
  • John Newton, William se mentor, het die bekende lied “Amazing Grace” geskryf. As ’n mens in gedagte hou dat hy later in sy lewe blind geword het, is die eerste en laaste strofe van die lied nóg treffender:

Amazing grace how sweet the sound

That saved a wretch like me

I once was lost, but now I’m found

Was blind but now I see

  • William Wilberforce se biografie is deur sy seuns Robert Isaac en Samuel Wilberforce geskryf. 2
  • Die film Amazing Grace handel oor William Wilberforce se stryd teen die slawehandel.

William Wilberforce (1759-1833) was ’n Britse politikus en toegewyde Christen, wat dit sy lewensmissie gemaak het om die slawehandel te beëindig. Hy word in Brittanje as ’n volksheld beskou, en is in Westminster-abdy begrawe. 1

Lees gerus ook ons artikel oor slawerny in Suid-Afrika, waarin ons ook na William Wilberforce se werk verwys.

Vroeë lewe

William se pa was ’n suksesvolle handelaar, en die gesin het heelwat geld gehad. Toe hy nege was, is sy pa oorlede, en sy ma het hom Londen toe gestuur waar hy by sy oom en tante gewoon het. Die oom en tante was toegewyde Christene, en in hul huis het die jong William mense soos George Whitefield en John Newton leer ken.

Whitefield en Newton was gewilde en invloedryke predikante wat baie sterk teen die slawehandel gepreek het. Vir hulle was dit ’n beginselsaak, en hulle het geglo dat dit sonde is om ’n ander persoon te besit en daardie persoon te koop en verkoop. John Newton was self vroeër in sy lewe ’n slawehandelaar totdat hy tot bekering gekom het. 2 Hy het dus geweet presies wat alles met die slawe gebeur en hoe wreed hulle behandel is.

John Newton

William is later terug huis toe, en ná skool het hy by die Universiteit van Cambridge gaan studeer. Tydens hierdie jare was hy soos enige ander student – sorgvry en gelukkig om net tussen sy vriende te wees – en daar het nie veel oorgebly van die ernstige seun wat so baie tyd in predikante se geselskap deurgebring het nie. 3

Hy het wel in hierdie jare vriende geword met William Pitt junior. Pitt was ’n baie slim man, en sy pa, William Pitt senior, was self in die politiek. Dit het Pitt jr. die geleentheid gegee om ’n politieke loopbaan te begin, en hy het met slim politieke skuiwe reeds op 24 die Britse eerste minister geword. 4

Met die eerste minister as William Wilberforce se beste vriend, sou hy self natuurlik ook ’n goeie loopbaan in die politiek kon hê. In 1780, die jaar nadat hy met Barbara Spooner getroud is, saam met wie hy twee dogters en vier seuns sou hê, het hy ’n verkose verteenwoordiger in die Britse Laerhuis geword. Hy was net 21 jaar oud, die vroegste ouderdom waarop iemand tot so ’n posisie verkies kon word. 3

Barbara en haar eersteling

Bekering

Sy lewe het egter heeltemal verander toe hy in 1784/’85 tot bekering gekom het. In 1790 het hy by ’n groep met die naam van die Clapham Sect aangesluit en baie gou hul leier geword. Die doel van hierdie groep mense was om sosiale hervorming te bewerkstellig, veral in fabrieke waar werkers lang ure onder slegte omstandighede en vir baie min geld gewerk het. 5

Maar dit was ook in hierdie tyd dat Wilberforce weer met John Newton, die prediker wat eers ’n slawehandelaar was, in aanraking gekom het. Newton het vir hom ’n mentor geword, en het hom aangemoedig om by die beweging teen slawehandel betrokke te raak. 1

Sy stryd teen slawerny

Wilberforce was ’n begaafde spreker. In 1789 het hy in die Britse Laerhuis (in Engels: House of Commons) 12 resolusies teen slawehandel voorgestel, en baie koerante het berig dat dit van die beste toesprake was wat ooit in die Laerhuis gemaak is. Pitt het die resolusies ondersteun, maar daar was nie genoeg steun onder die res van die lede van die parlement om dit tot wet te maak nie. 2

‘n Voorstelling van die Britse Laerhuis van 1834

In 1791 het Wilberforce weer probeer om slawehandel afgeskaf te kry, maar sy voorstelle is nie goedgekeur nie. In 1792 het hy ’n veldtog teen slawehandel van stapel gestuur en honderdduisende Britte sover gekry om petisies teen slawehandel te onderteken. Op hierdie manier het hy gewone mense se steun vir sy idees gekry. Die Laerhuis wou steeds nie slawehandel heeltemal afskaf nie, maar het ingestem om dit stelselmatig te beperk. 2 Wilberforce was baie teleurgesteld hieroor, want hy het geweet dit gaan eintlik nie ’n verskil maak nie.

Vir die volgende 15 jaar het hy steeds probeer om ’n einde aan die slawehandel te maak, maar dit was nie vir die Britse publiek ’n prioriteit nie – Brittanje was toe in ’n oorlog met Napoleon gewikkel, en dit was vir hulle belangriker om die Franse te oorwin. 2

Op 23 Februarie 1807 het hy egter uiteindelik in sy doel geslaag toe die Britse Laerhuis besluit het om slawehandel in die hele Britse Ryk af te skaf. Op 25 Maart 1807 het dit wet geword. 2 Nege maande daarna, op 21 Desember 1807, is Wilberforce se mentor, John Newton, oorlede.

Die stryd duur voort

Die feit dat onderdane van die Britse Ryk nie meer slawe kon koop en verkoop nie, het natuurlik nie beteken dat slawerny verby was nie. Veral in die kolonies was daar nog baie slawe wat teen 1807 reeds in mense se besit was, en kinders van slawe het outomaties ook die eienaar se besitting geword. 2 Dit werk net soos ’n boer wat beeste het – as die bees syne is, is die bees se kalfie ook syne.

Die Britse vloot het ’n nuwe West Africa Squadron gevorm, ’n groep skepe wat die tradisionele roetes vir slawehandel gepatrolleer het. Dié patrollieskepe kon enige kaptein met £100 (sowat £10 700 of byna R250 000 in 2023) beboet vir elke slaaf wat op sy skip gevind is – in daardie tyd was dit verskriklik baie geld. Die tragiese gevolg van hierdie patrollies is dat heelwat slawe dood is omdat hulle eenvoudig oorboord gegooi is as die patrollieskepe slawehandelaars onderskep het

Dit het baie gou duidelik geword dat slawehandel nie sommer net beëindig gaan word nie, 6 trouens, onwettige slawehandel het floreer. 7 En in plaas daarvan dat slawe al hoe minder gebruik is, het die slawe wat steeds in mense se besit was, of wat hulle op ’n onwettige manier in die hande gekry het, baie waardevol geword. 6 William Wilberforce het dus nog werk gehad om te doen.

In 1823 het hy ’n groep gestig met die naam Anti-Slavery Society. Die doel van hierdie vereniging was om slawerny self afgeskaf te kry. William Wilberforce het egter voorgestel dat dit stelselmatig gedoen moet word. Dit sou die slawe-eienaars kans te gee om hul besighede te herorganiseer sodat hulle nie bankrot speel nie, en die slawe moes opgelei word om werk te doen waarmee hulle op hul eie sou kon oorleef. 6

Slawerny kom tot ’n einde

Wilberforce se werk het uiteindelik vrugte afgewerp. Verskeie faktore het gehelp dat die Britse regering ingesien het dat slawerny besig was om ’n groot probleem te word. Slawe in verskeie kolonies het in opstand gekom teen hul eienaars, en daar was kort-kort bloedvergieting waar hierdie opstande onderdruk moes word. 6

Die wêreld se ekonomie was ook aan die verander. Brittanje het groot suikerplase op die Karibiese eilande gehad, waar daar van slawearbeid gebruik gemaak is. Maar die suikerbedryf was aan die verander – Kuba en Brasilië het ook suiker begin produseer, en handelaars wou nie meer net by die Britte suiker koop nie. Brittanje se inkomste uit die suikerplase was dus in die gedrang, en dit was eenvoudig nie meer die moeite werd om al die probleme met die slawe te probeer oplos nie. 8

Op 28 Augustus 1833 is die wet op die afskaffing van slawerny (in Engels: the Slavery Abolition Act) onderteken. Op 1 Augustus 1834 het dit van krag geword.

Wilberforce sterf

William Wilberforce is op 29 Julie 1833 oorlede, met die wete dat hy sy lewensdoel bereik het. Hy is in Westminster-abdy begrawe, langs sy vriend, William Pitt jr. In 1840 is daar ’n standbeeld van hom opgerig, en ’n gedeelte van die teks op die voetstuk lees:

His name will ever be specially identified with those exertions which, by the blessing of God, removed from England the guilt of the African slave trade, and prepared the way for the abolition of slavery in every colony of the empire …

[Sy naam sal altyd verbind word met die werk wat, deur God se seën, Engeland van sy skuld in die Afrika-slawehandel onthef het, en die weg gebaan het vir die afskaffing van slawerny in elke kolonie van die Britse Ryk …]

Woordbank

abdy ’n Kompleks geboue wat deur monnike of nonne gebruik word, dikwels met ’n kerk daarby ingesluit.
biografie Lewensverhaal.
Britse Laerhuis Een van die twee huise waaruit die Britse parlement saamgestel is. Die Laerhuis (In Engels: House of Commons) is die verteenwoordigers van “gewone” mense. Die ander huis is die Hoërhuis (in Engels: House of Lords) en was tradisioneel die verteenwoordigers van die adel.
floreer Baie vinnig meer word.
in die gedrang ’n Figuurlike uitdrukking wat beteken “in die moeilikheid”.
lewensmissie Die belangrikste doel en taak wat ’n persoon vir sy/haar eie lewe stel.
mentor ’n Leermeester en geestelike en sosiale leier wat ’n mens help om jou doel te bereik.
oorboord Oor die kant van ’n skip.
prioriteit Iets wat belangrik is.
resolusie Besluit wat by die parlement ingedien word; as dit aanvaar word, kan dit ’n wet word.
sosiale hervorming Veranderinge wat die samelewing en die omstandighede van gewone mense verbeter.
volksheld ’n Persoon wat belangrike en opbouende werk gedoen of heldedade verrig het wat tot die hele volk se voordeel was.
vrugte afgewerp ’n Figuurlike uitdrukking wat beteken “resultate oplewer”.

Lees meer hier

Twee artikels oor William Wilberforce se lewe:

Kyk ook hier

Die man wat slawerny beëindig het

Hierdie uittreksel uit die film Amazing Grace beeld die oomblik uit toe die Britse laerhuis die slawehandel afgeskaf het.

Schoeman, K. 2006 Kinders van die Kompanjie. Protea Boekhuis Pretoria.257
Gepubliseer op: 26 Oktober 2023 | Bygewerk op 15 November 2023