Vinnige feite

  • 14,28% van die wêreld se bevolking (1,1 miljard mense) kan nie ’n selfoon besit nie omdat hulle nie toegang tot elektrisiteit het nie. So al het hulle ’n foon gehad, sal hulle dit nie kan laai nie.
  • Nokia se Nokia 1100- en 1110-modelle is boaan die lys selfone waarvan die meeste ooit verkoop is (250 miljoen van elk). Die topverkoperfoon met ’n raakskerm (touch screen) is Apple se iPhone 6 en 6 Plus (meer as 220 miljoen is verkoop) en die gewildste oopklapfoon is die Motorola RAZR V3 (130 miljoen is verkoop).
  • Vandag se selfone het meer verwerkingswoema (kan dinge vinniger bereken en uitvoer) as die Apollo 11-maantuig, Eagle, wat in 1969 gebruik is om op die maan te land.
  • Apple het in 2012 altesame 340 000 selfone per dag verkoop. 10 Dit is 262 fone per minuut of vier fone per sekonde.
  • Meer mense het toegang tot selfone as toilette of tandeborsels. 11
  • Die gemiddelde mens ontsluit (unlock) sy foon 110 keer per dag. 12
  • Mense gebruik hul selfone die meeste om te kyk hoe laat dit is. 13
  • Die eerste SMS is op 3 Desember 1992 deur Neil Papworth, ’n Britse stelselingenieur, met sy rekenaar na die foon van sy kollega, Richard Jarvis, gestuur. Die SMS het net gesê: “Merry Christmas”. Dit was jare voordat WhatsApp in 2009 begin is. Meer as 65 miljard boodskappe word per dag met WhatsApp gestuur. Dit is sowat 750 000 boodskappe per sekonde. 14
  • Die eerste emoji’s 16 (’n stel van 176 eenvoudige prentjies) is in 1999 deur die Japannese kunstenaar Shigetaka Kurita Vandag is daar al amper 3 000 emoji’s!
Foto: iStock

’n Selfoon of mobiele foon is ’n draagbare elektroniese toestel wat gebruik word vir stem- of datakommunikasie oor ’n netwerk van torings wat in selle opgedeel is (vandaar die naam selfoon). Selfone is aanvanklik net gebruik om te bel of boodskappe te stuur, maar tegnologie het vinnig verander en verbeter en vandag het ons selfs die internet op ons fone. Amper almal het vandag ’n selfoon en ons kan enige tyd met enigiemand op amper enige plek in die wêreld kommunikeer.

Dit is amper onmoontlik om jou ’n tyd sonder selfone te verbeel. Om te dink ons ouers in Suid-Afrika moes tot 1994 1 wag voordat hulle selfone kon gebruik! Selfone het ’n onmisbare deel van ons lewe geword en is vandag baie meer as nét ’n telefoon. Ons kan foto’s en video’s neem, op die internet snuffel, op sosiale media met ons vriende en familie kontak maak, werk doen en selfs skoolgaan.

Die eerste oproep en selfoon

Die heel eerste mobieletelefoonoproep is op 3 April 1973 deur Martin Cooper gemaak. Hy het sy grootste mededinger, Joel Engel van AT&T se Bell Laboratories, gebel om met sy uitvinding te spog. 2

Martin Cooper

Die eerste mobiele foon wat mense kon koop, was die Motorola DynaTAC 8000x wat in 1983 bekendgestel is. Dié foon was groot en is “die baksteen” genoem. Dit het $4 000 gekos (amper $10 000 of R150 000 in vandag se geldwaarde). Die foon het 10 ure geneem om te laai en jy kon vir 30 minute gesels voordat jy dit wéér moes laai. Die Motorola DynaTAC 8000x het meer as ’n kilogram geweeg en was 23 cm lank. 3

Selfone in Suid-Afrika

Waar ons nou uit honderde selfone kan kies, kon Suid-Afrikaners toe Vodacom en MTN in 1994 begin is, hoofsaaklik net uit fone van Alcatel, Ericsson, Motorola, Nokia en Siemens kies. Een van die gewildste fone was die Alcatel HB100 wat R2 000 gekos het. Jy kon 50 name stoor en vir 1,3 uur lank gesels voordat die battery pap was. Dié foon se kalender- en sakrekenaarfunksie was toe baie indrukwekkend! Die Nokia 2110 (teen R3 000 te koop in 1994) was die eerste selfoon met die ikoniese Nokia-luitoon op en jy kon 125 nommers stoor. 4

Die Hagenuk MT-2000, wat in Denemarke gemaak en deur MTN in Suid-Afrika verkoop is, was die eerste selfoon met ’n speletjie op (Tetris) en was ook die eerste foon met sagte knoppies en ’n ingeboude antenna.

Hagenuk MT-2000

Cell C het in November 2001 Suid-Afrika se derde selfoonnetwerk geword. Saam met Vodacom en MTN het dié drie groepe ’n 90%-aandeel in die plaaslike mark – Vodacom het 40%, MTN sowat 30% en Cell C omtrent 17%. 5 Telkom Mobile het in 2010 ook ’n selfoondiens begin.

Samsung is die gewildste selfoonhandelsmerk in Suid-Afrika en vier uit elke tien (40%) selfone wat hier verkoop word, is van dié Suid-Koreaanse maatskappy. Kort op sy hakke is Huawei en Apple (omtrent 15% elk). 

Wie verkoop die meeste selfone wêreldwyd?

Volgens https://www.canalys.com 6 is 1,264 miljard selfone in 2020 verkoop. Samsung het in 2020 die meeste selfone, 255,6 miljoen, verkoop. Apple is in die tweede plek met 207,1 miljoen. Derde is Huawei met 188,5 miljoen, gevolg deur twee Chinese selfoonmaatskappye wat strawwe kompetisie vir die groot selfoongroepe is – Xiaomi met 149,6 miljoen en Oppo met 115,1 miljoen selfone.

As selfoonverkope ’n sjokoladekoek was, sou Samsung in 2020 die grootste stuk opgeëet het (20%). ’n Mens noem dit markaandeel. Apple het die tweede grootste stuk koek (of markaandeel) geëet – 16%. Huawei blaas in Apple se nek op 15%, en Xiaomi en Oppo staan op 12% en 9%.

Hoeveel mense in die wêreld gebruik ’n selfoon?

Volgens https://www.bankmycell.com 7 het 4,88 miljard mense in die wêreld ’n selfoon. Die wêreld se bevolking is 7,84 miljard, wat beteken dat ses uit elke tien mense ’n selfoon besit (62%). Vyf uit elke tien mense besit ’n slimfoon (3,8 miljard mense of amper 50% van die wêreldbevolking).

Die Verenigde Koninkryk is die land waar die meeste van die inwoners ’n slimfoon het – agt uit elke tien mense (82,9% uit ’n bevolking van 55,5 miljoen). In Suid-Afrika het vier uit elke tien mense ’n slimfoon (41,6% van die 55,8 miljoen inwoners). 8

China het die meeste selfoongebruikers in die wêreld, naamlik 851 miljoen. https://www.statista.com 9 voorspel dat gebruikers van mobiele toestelle teen 2023 tot 7,33 miljard sal toeneem. Dit beteken dat amper elke mens op aarde teen dan ’n selfoon of tablet sal hê.

Posisie Land Bevolking Gebruikers % van die bevolking met ‘n foon
1 China 1,42 miljard 851 miljoen 59,9%
2 Indië 1,37 miljard 346 miljoen 25,3%
3 VSA 329 miljoen 260 miljoen 79,1%
4 Brasilië 212 miljoen 96,9 miljoen 45,6%
5 Rusland 144 miljoen 95,4 miljoen 66,3%
27 Suid-Afrika 55,8 miljoen 23,2 miljoen 41,6%

Tabel: Lande met die meeste slimfoongebruikers in 2020. Bron: https://newzoo.com

Die ligste, grootste, duurste

  • Volgens https://www.guinnessworldrecords.com weeg die Modu-selfoon die minste in die wêreld – slegs 42,5 g. 17
  • Die grootste werkende selfoon, 18 ’n Samsung SCH-r450, is in 2009 deur Cricket Communications en Samsung Mobile. Dié foon se afmetings is 4,57 x 3,42 x 0,74 meter.
  • Die wêreld se duurste iPhone – teen $15 miljoen (of meer as R220 miljoen) – is uit 24 karaat goud (135 g) en 600 diamante gemaak. 19
  • Die meeste diamante 20 wat nóg op ’n foon aangebring is, is 6 576. Dié rekord behoort sedert 2018 aan Aaron Shum Jewelry Ltd in Hongkong.
  • Rod Baber van Brittanje het in 2007 die wêreld se “hoogste” selfoonoproep 21 gemaak – 8 848 m hoog op die kruin van die berg Everest.

Vreemde feite

  • ’n Selfoon het 18 keer meer bakterieë op as ’n toilethandvatsel. 22
  • Die eerste snuffelhond 23 wat opgelei is om selfone te vind, is ’n spanjoel (springer spaniel) met die naam Murphy. Hy is in 2006 in die Verenigde Koninkryk opgelei om onwettige selfone in tronke uit te snuffel.
  • As jy aan nomofobie 24 ly, is jy bang daarvoor om sonder jou selfoon te wees. ’n Mens kry selfs selfiefobie (vrees om ’n selfie te neem), kuberfobie (bang wees vir enigiets wat met rekenaars te doen het) en telefonofobie (’n vrees om oproepe te maak of ontvang).
  • Selfoongooi is ’n amptelike sportsoort in Finland. 25
  • 90% van alle selfone in Japan is waterdig omdat jongmense hul selfone selfs saamvat as hulle gaan stort! 26
  • Sowat 100 000 Britte laat val elke jaar hul fone in die toilet. 27
  • Wetenskaplikes van die Bristol Robotics Lab in die Verenigde Koninkryk het ’n manier gevind om selfone met uriene te laai. 28

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die evolusie van selfone

Geskiedenis van selfone en hoe drasties dit verander het

’n Kort geskiedenis van die selfoon

Hoe werk telefone?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024