Vinnige feite

  • Daar is nie sekerheid oor waarom Eduard se naam die Swart Prins was nie. Dit is miskien oor sy swart wapenkleed, maar ook miskien oor sy hardhandige houding in oorlog. 7
  • Die Swart Dood was een van die ramspoedigste siektes in die mens se geskiedenis. Tussen 75 en 200 miljoen mense is dood, die meeste tussen 1348 en 1350. 5
  • Die Slag van Agincourt is een van die beroemdste veldslae in die Engelse geskiedenis. 5
  • Johanna van Arkel (Joan of Arc) is op 30 Mei deur die Engelse skuldig bevind en het op die brandstapel gesterf. Sy was omtrent 19 jaar oud. Eers 25 jaar ná haar dood het die Rooms-Katolieke Kerk haar onskuldig verklaar. In 1920 is sy deur die Kerk as heilige verklaar. 7
  • Die Honderdjarige Oorlog is tot vandag toe die langsdurende militêre konflik in Europa se geskiedenis. 8
  • Karel II is ook Karel die Wyse genoem. 2

Mens sou dink die Honderdjarige Oorlog word so genoem omdat dit honderd jaar geduur het, maar jy sal jou lelik misgis! Dit het 116 jaar geduur – vanaf 1337 tot in 1453! 1

Die Honderdjarige Oorlog was ’n oorlog tussen die konings en koninkryke van Frankryk en Engeland. Dit word vandag as een oorlog gesien, maar dit was eintlik ’n reeks oorloë wat oor meer as ’n eeu gestrek het, en waarby vyf geslagte van konings betrokke was.

Oorsake van die oorlog

Die langtermynoorsaak van die oorlog gaan terug na 1066, toe Willem die Veroweraar, ’n Franse hertog, groot dele van Engeland verower het. Sy nageslag het land in beide Engeland en Frankryk besit. Vir die volgende twee eeue het dit tot botsings tussen Engelse en Franse adellikes gelei. 2

Nóg ’n oorsaak was spanning oor Skotland. In 1333 het die Engelse koning Eduard III (regeer 1327-1377), Skotland binnegeval. 2 Die Franse het die Skotte ondersteun, wat die Engelse woedend gemaak het. 3

Die derde en hoofoorsaak was die kwessie van troonopvolging in Frankryk ná die dood van die Franse koning, Karel IV (regeer 1322-1328), in 1328. Karel IV het geen manlike erfgename gehad nie. 4

Karel IV

Karel IV was een van drie seuns van die Franse koning Filips IV (r. 1285-1314). Filips IV se ander seuns, Lodewyk X (regeer 1314-1316) en Filips V (regeer 1316-1322), het ook sonder manlike erfgename gesterf. 4

Daar was twee aanspraakmakers op die Franse troon:

  • In Frankryk het die Franse adellikes in 1328 vir Filips van Valois as koning Filips VI gekroon. Hy was Filips IV se broer, Karel, se kleinseun. 3
  • Eduard III het aanspraak op die Franse troon gemaak omdat hy Filips IV se kleinseun was. (Sy ma, Isabella, was Filips IV se dogter en Karel IV se suster). 3

Filips VI het vir Eduard III gevra om sy aanspraak te erken. In ruil daarvoor sou Filips vir Eduard beheer oor ’n waardevolle hertogdom in Frankryk genaamd Guyenne (ook in Engels genoem Gascony of Aquitaine) 5 gee. Eduard het dit so aanvaar en in 1331 vir Filips VI as koning van Frankryk erken. Hy het dus sy regmatige aanspraak tot die kroon opgegee. 4

Filips VI

Eduard was ongelukkig oor die feit dat Guyenne ’n fief (leengrond) van die Franse kroon gebly het. Dit was vir hom onaanvaarbaar: hy wou alleenbeheer daaroor gehad het. 1

Gereelde skermutselings het die spanning tussen die Engelse en die Franse laat opvlam. Beide konings het vir oorlog – wat nou onafwendbaar gelyk het – begin voorberei. 3

Die verloop van die oorlog

Om die verloop van die oorlog maklik te verstaan, word die oorlog in drie fases, met periodes van vrede tussenin, verdeel: Die Eduardiaanse Oorlog (1337-1360), die Karolynse Oorlog (in Engels: Caroline War (1369-1389)) en die Lancaster-oorlog (1415-1453).

Fase 1: Eduardiaanse Oorlog, 1337-1360

Die oorlog het in Mei 1337 begin toe Filips VI Guyenne by Eduard III afgeneem en beset het. 3 Terselfdertyd het Franse magte strooptogte langs die Engelse kus begin uitvoer. 4 Die Engelse hawestad Southampton is in een van die strooptogte vernietig. 5

Dit het vir Eduard die ideale verskoning gegee om oorlog te verklaar. 5 Hy wou vir almal wys dat Engeland ’n magtige moondheid met ’n sterk koningshuis was. 3 Eduard III het dus weer sy aanspraak op die Franse kroon aangekondig. Hy het bondgenootskappe met Franse adellike families, wat teen Filips VI se koningskap gekant was, gesluit en Frankryk binnegeval. 4

Eduard het ’n reeks chevauchées van stapel gestuur. 5 Chevauchées is strooptogte waarin jy ’n ander land se grondgebied plunder en landerye vernietig. Die doel daarvan is om jouself te verryk en die ander koning se gesag te ondermyn, omdat hy nie sy eie mense kan beskerm nie. 6

Op see het die Engelse die Franse in 1340 tydens die Seeslag van Sluys verslaan. Dit was ’n betekenisvolle oorwinning, want dit het vir Eduard III beheer oor die Engelse kanaal gegee, 4 en dus Franse strooptogte langs die Engelse kus beëindig. 2

Seeslag van Sluys

In 1345 het die Engelse Guyenne verower, en daarna in Normandië weer chevauchées gebruik in ’n poging om die Franse koning in ’n groot veldslag in te lok. 5

Dit het gewerk en die Franse het hulle aangeval. Gedurende die Slag van Crécy in Augustus 1346 het die Engelse deur die slim gebruik van boogskutters en onberede ridders die Franse verpletterend verslaan.

Die Engelse aanvoerder by Crécy was Eduard III se seun, Eduard van Woodstock, beter bekend as die Swart Prins. Hy was maar 16 jaar oud. Die Engelse het die hawestad Calais beset. 5

Calais

Eintlik moes die Franse die eerste fase van die oorlog maklik gewen het. Hulle het meer geld en ’n groter weermag gehad, en was die magtigste en hoogs bevolkte staat in Europa. Engeland se grondgebied en bevolking was baie kleiner. 1 Die Engelse magte was egter goed gedissiplineerd. Hulle het ’n taktiese voordeel gehad omdat hulle hul langboë (in Engels: longbows) baie effektief gebruik het om Franse ruiteraanvalle te keer. 1

Tussen 1346 en 1353 het die builepes, beter bekend as die Swart Dood, deur Europa getrek en miljoene mense afgemaai. Dit het die oorlog vir eers stopgesit. 5

Filips VI het in 1350 gesterf en is deur sy seun, Jan II (regeer 1350-1364), opgevolg.

Ná die ergste van die plaag oor was, is die oorlog hervat. In 1356 het die Engelse onder leiding van die Swart Prins die Franse in die Slag van Poitiers verslaan. 2 Dit was ’n roemryke oorwinning, veral omdat die Franse magte baie groter as die Engelse magte was. 5

Slag van Poitiers

In die loop van die geveg by Poitiers het die Engelse vir koning Jan II gevangene geneem. 5

Onderhandelinge oor die volgende vier jaar het uitgeloop op die Verdrag van Brétigny (1360). 7 Hiervolgens moes Frankryk 24% van hul grondgebied, wat Guyenne ingesluit het, aan Eduard III afstaan. Frankryk het ook ’n massiewe losprys vir koning Jan II se vrylating betaal. 2 In ruil daarvoor het Eduard weer sy aanspraak tot die Franse kroon laat vaar. 5

Die Verdrag van Brétigny was die einde van die eerste fase van die oorlog. 7

Fase 2: Karolynse Oorlog, 1369-1389

In 1364 het Jan II gesterf en is opgevolg deur sy seun, Karel V (regeer 1364-1380). 5 Karel het die Franse weermag opgebou, 4 en in 1369 Guyenne weer geannekseer. 2

Karel V het vir Bertrand du Guesclin, ’n bekwame guerrillavegter, as Franse bevelvoerder aangestel. Hulle het besef hulle moes stellingsgevegte met die Engelse vermy. 2 Hulle het dus die Engelse magte uitgedaag net om weer na die veiligheid van hul kastele toe terug te val wanneer die Engelse hulle aangeval het. 5 Eduard III was boonop siek ek kon dus nie die Engelse effektief lei nie. 4

Bertrand du Guesclin

Teen 1372 het die Franse die grootse deel van Guyenne teruggewen, en in dieselfde jaar die Engelse vloot verslaan. Teen 1375 was die enigste oorblywende Engels-beheerde land in Frankryk Calais en ’n stukkie van Guyenne. 5

Die Swart Prins het in 1376 gesterf. Eduard III het met vredesonderhandelinge begin, maar in 1377, voor dit voltooi was, gesterf. 4 Hy is opgevolg deur koning Richard II (regeer 1377-1399), wat nog minderjarig was. 4

Drie jaar later het beide Karel V en Du Guesclin ook gesterf. Karel V se opvolger was Karel VI (regeer 1380-1422), wat ook minderjarig was. 4

Die oorlogspogings aan beide kante het nou op niks uitgeloop nie. Daar was nog kol-kol plundertogte, maar beide het groot gevegte vermy. 2

In 1396 het hulle ’n wapenstilstand gesluit. As deel van dié ooreenkoms het Richard II op 12 Maart 1396 met Isabella, Karel VI se dogter, getrou. Sy was maar ses jaar oud. 5

Tussen 1396 en 1415 was daar ’n tydperk van vrede. In Engeland was Richard II só ongewild dat hy in 1399 deur Hendrik IV (regeer 1399-1413) onttroon is. Hendrik IV wou weer Frankryk inval, 4 maar hy het te veel interne probleme gehad, soos rebellies in Engeland, Wallis en Skotland. 5

Richard II

In Frankryk het Karel VI aan kranksinnigheid gelei. 4 As gevolg hiervan het daar ’n burgeroorlog uitgebreek tussen twee families – die Armagnacs en die Boergondiërs – oor watter familie as Karel VI se regent sou optree. 5

Fase 3: Die Lancaster-oorlog, 1415-1453

Hendrik IV se seun, Hendrik V, (regeer 1413-1422), wou ’n magtige Engelse ryk skep en Frankryk daarby inlyf. 5

Hy het dus oorlog met Frankryk hervat en in 1415 saam met sy troepe in Frankryk geland. Ná ’n paar aanvanklike terugslae het hulle oorweldigende Franse magte in die beroemde Slag van Agincourt in Oktober 1415 vernietig. 4 In die proses is duisende Franse adellikes uitgewis. Die Engelse het hierna Calais beset. 5

Hierdie oorwinnings het Hendrik uiters gewild gemaak en Engelse veggees aangemoedig. Dit het hom toegelaat om makliker fondse te stig om die veldslag voort te sit. 2 Oor die verloop van die volgende vier jaar het die Engelse Normandië en die grootste dele van noordelike Frankryk verower. 4 Teen 1419 was hulle naby Parys.

Ná ses maande van onderhandelinge is die Verdrag van Troyes gesluit. Hendrik V is as Karel VI se regent aangewys, en hy het met Karel se dogter, Katharina van Valois, getrou. Hul kinders sou die Franse troon erf, en Karel VI het dus sy seun, Karel VII, onterf. 4

Hendrik V en Katharina van Valois se troue

Keerpunt: Johanna van Arkel

Die Armagnacs en Karel VII het geweier om die Verdrag van Troyes te aanvaar en het voortgeveg. In Maart 1421 het hulle die Engelse in die Slag van Baugé verslaan. Hendrik V het egter uit Engeland na Frankryk teruggekeer om die veldtog te red en teen Mei 1422 het hy nog grondgebied verower. Hy het egter onverwags in Augustus 1422 gesterf. 4

Slag van Baugé

Die mal koning Karel VI het in Oktober 1422 gesterf. Hendrik V se seun, Hendrik VI, nou nege maande oud, was die koning van Engeland en volgens die Verdrag van Troyes ook die koning van Frankryk. 2 Baie Franse, en natuurlik Karel VII, wou hom nie aanvaar nie, en die oorlog het voortgeduur.

In 1428 het Engelse troepe Orleans beleër, en die oorhand begin kry. 4 In 1429 het daar egter ’n Franse meisie, Johanna van Arkel (beter bekend as Joan of Arc), by die slagveld aangekom. Sy het die Franse bevelvoerders oortuig dat God haar gekies het om die Franse magte te lei. 4 Te danke aan haar kon die Franse die beleg van Orleans lig. 1 Dit het Karel VII toegelaat om die Engelse magte te oorwin, en hy het homself in Julie 1429 as die koning van Frankryk laat kroon. 4

Johanna van Arkel

Laaste fase: Franse oorwinning

Op hierdie tydstip het die Engelse die ondersteuning van hul Franse bondgenote, die Boergondiërs, verloor, toe laasgenoemde met Karel VII vrede gemaak het. Dit het die Franse burgeroorlog tot ’n einde te bring. 5

Karel VII

Die Franse het nou tot die aanval oorgegaan en Parys teen 1441 bevry. 1 Hierna het Karel sy weermag reggeruk. In 1450 het hulle die Engelse in die Slag van Formigny oorwin, waarna hulle Normandië teruggevat het. 1

Engeland se oorlogspoging is in hierdie stadium in die wiele gery omdat Hendrik VI oomblikke van waansinnigheid gehad het. Daar was ook struwelinge oor leierskap tussen ander belangrike Engelse leiers. 4

Teen 1451 het Karel VII Bordeaux en Bayonne oorgeneem, en die Engelse magte is in 1453 in die Slag van Castillon oorwin. 3

Slag van Castillon

Dit was die laaste slag van die Honderdjarige Oorlog. Hendrik VI moes sy troepe terugtrek Engeland toe om opstande te onderdruk. Hierdie opstande sou uiteindelik uitloop op die Oorlog van die Rose (1455-1487). 4

Die oorlog het geëindig sonder dat daar ’n amptelike vredesverdrag gesluit is. 1

Impak van die oorlog

Die oorlog het die beeld van Europa op die volgende maniere ingrypend verander:

  • Engelse beheer oor grondgebied op die Europese vasteland is vir die eerste keer sedert 1066 beperk tot slegs die hawestad Calais. 1
  • Frankryk was weer die leidende moondheid in Europa. 1 Die oorlog het verskillende gebiede in Frankryk wat voorheen in konflik met mekaar was, soos Boergondië, Provence en Bretagne (ook in Engels bekend as Brittany), in ʼn eennasiestaat verenig. 5 Al het Frankryk se bevolking as gevolg van die oorlog afgeneem, het dit herstel en Frankryk was gou weer een van die digsbevolkte state in Europa. 7
  • Op militêre vlak het die oorlog gelei tot die opkoms van die langboogskutters en die afname in belangrikheid van berede ridders. 4 Die kwaliteit van wapens, veral wapens wat met buskruit gewerk het, het verbeter. Kastele en fortifikasies was meer doeltreffend. 5
  • Weermagte, wat voorheen bestaan het uit kleinboere wat gedwing is om te veg, het plek gemaak vir staande leërs met professionele soldate. 7
  • Om vir só lank teen ’n ander land te veg het mense ’n groter besef laat kry dat hulle aan hul eie nasie behoort het. 5 Dit het dus beide Franse en Engelse nasionalisme aangevuur. 4
  • In beide lande was regeringsmag meer gesentraliseerd en regerings oor die algemeen het meer doeltreffend geword. 5
  • Die oorlog het helde opgelewer wat vandag nog in die volksmond bekend is, soos Hendrik V en Johanna van Arkel (in Frans: Jeanne d’Arc; in Engels: Joan of Arc). 8

Woordbank

aangevuur Aangespoor, geïnspireer.
aanspraakmakers Iemand/mense wat ’n reg op iets het.
adellikes Die groep mense (edelmanne en edelvroue) wat in sommige lande tot die hoogste sosiale stand behoort.
afgemaai In groot getalle laat sterf.
bekwame Knap en bedrewe in die werk wat jy doen.
beleër Met ʼn leër omsingel met die doel om tot oorgawe te dwing.
beleg Militêre insluiting van ’n stad of vesting.
berede Te perd.
beset Met geweld oorneem/inneem; in besit neem.
bevelvoerder Iemand wat beheer of gesag oor ander het.
Bretagne ’n Streek in die noordweste van Frankryk wat bekend is vir sy eiesoortige kultuur, taal en tradisies.
boogskutters Soldate met pyle en boë gewapen.
builepes Dit is ʼn dodelike pessiekte wat etterswere op die liggaam laat uitkom. Dit staan ook bekend as die Swart Dood vanweë die swart kolle wat op ’n slagoffer se vel verskyn.
effektief Doeltreffend
Engelse kanaal Die stuk van die see wat Engeland en Frankryk skei.
enigmatiese Geheimsinnig, misterieus, raaiselagtig.
erf Besittings of ʼn titel uit ʼn nalatenskap verkry.
fases Een stadium of trap van ontwikkeling, soos die eerste fase van ʼn nuwe projek; tydperk.
fief ’n Stuk grond wat deur ’n edelman beheer word, maar steeds die besitting van ’n koning bly.
fortifikasies Versterking met forte/vestings.
geannekseer Om besit van ʼn gebied te neem.
gedissiplineerd Om gehoorsaam en ordelik op te tree.
gesentraliseerd Wanneer die mag in die hande van net een persoon is.
geslagte Al die mense uit een gemeenskaplike stamvader, stamhuis, familie; generasies.
guerrillavegter Iemand wat deelneem aan ’n guerrillaoorlog. Hierdie soort oorlog word gemaak deur klein groepies soldate (guerrillavegters) wat vinnig optree teen die vyand en dan weer verdwyn. Hulle doen dinge soos om paaie, spoorlyne, ens. te vernietig sodat die vyand se treine nie kan ry nie.
hertog In sommige lande is dit die titel van ’n adellike met ’n hoë rang.
hertogdom ’n Stuk land wat deur ’n hertog beheer word.
in die wiele gery Belemmer, verhoed.
ingrypend Drasties, verreikend, radikaal.
inlyf Om deel van ’n land te word.
interne Binne die grense of mag van ’n staat, organisasie, ens.
kol-kol Plek-plek, hier en daar.
konflik Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande.
kranksinnigheid Wat nie normaal optree nie, omdat hy/sy aan ’n geestesiekte ly; waansinnig, gek; mal.
langboë ’n Groter boog as normaal, wat ook verder kan skiet.
losprys Die som geld wat betaal word om iemand vry te maak.
minderjarig Nog nie oud genoeg om volgens die reg selfstandige besluite te neem nie.
misgis ʼn Fout begaan.
moondheid Onafhanklike, dikwels invloedryke, welvarende land.
nageslag Afstammelinge, nakomelinge.
nasionalisme Liefde vir jou eie volk of nasie.
onafwendbaar Iets wat nie gekeer of vermy kan word nie.
onberede Te voet, en nie te perd nie.
onterf Nie laat erf nie; dit wat aan iemand voor sy dood behoort het, nie ná sy dood kry nie.
onttroon Om iemand van die troon te verdryf; om iemand se heerskappy/gesag/mag van hom/haar weg te neem.
oorhand Wanneer jy aan die wenkant is of meer mag as die vyand het.
oorweldigende Ontsaglik, verbasend, ontsettend; geweldig, buitengewoon, buitensporig.
opvlam Aanhits, aanwakker, begin, aan die gang sit.
plunder Beskadig en besteel.
professionele Wat verband hou met ’n beroep, in hierdie geval is “soldaat” die beroep.
rebellies Georganiseerde pogings om met geweld ʼn land se regering te verander of ʼn nuwe leier aan te stel.
regent Iemand wat optree as plaasvervanger vir ’n koning as hulle byvoorbeeld minderjarig of kranksinnig is.
regmatige Wettige, volgens die reg.
ridders Laagste rang van die adelstand.
ryk ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser) regeer.
skermutselings Botsing of geveg (gewoonlik klein) tussen vyande,.
staande leërs ’n Weermag wat altyd beskikbaar is om te veg.
stellingsgevegte Geveg waar die twee opposisies op een plek bly en veg.
strooptogte Die ander woord vir “strooptog” is rooftog. Dit word gewoonlik gebruik wanneer ’n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog (diefstal) uitvoer.
struwelinge Onenighede, rusies, bakleiery.
taktiese Taktiek is ’n oorlogsplan, krygsplan, aanvalsplan; die kuns om soldate in ’n geveg op die beste manier te rangskik en te gebruik. Wanneer mens dus takties optree, doen jy dit volgens ’n sekere soort taktiek.
troon Die posisie van ʼn koning of koningin.
troonopvolging Die volgorde waarin lede van die koningshuis geplaas word waarin hulle die troon sal opvolg. Die troonopvolger is die eerste in die ry.
van stapel gestuur Om met iets te begin.
veldslag Geveg tussen twee leërs in ’n oorlog.
verdrag ’n Ooreenkoms tussen twee of meer magte.
verower Om iets in jou besit te kry deur daarvoor te veg.
verpletterend Vernietigend.
vloot Versameling van ’n aantal skepe wat saam vaar, bymekaarhoort.
waansinnigheid Gekheid, kranksinnigheid, malligheid.
wapenstilstand Staking van vyandelikhede tydens ʼn oorlog; ʼn skietstilstand.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Honderdjarige Oorlog

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Honderdjarige Oorlog

Die Honderdjarige Oorlog (1337-1453)

Nog inligting om dié oorlog beter te verstaan (animasie)

Builepes (Swart Dood of Buboniese Plaag)

Waarom het die dokters gedurende die builepes-pandemie sulke snaakse maskers gedra?

Die storie van Johanna van Arkel (Joan of Arc)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 April 2024 | Bygewerk op 8 April 2024