Vinnige feite

  • Sowat 2,1 miljard mense, of 3 uit 10 mense wêreldwyd, het nie toegang tot veilige drinkwater by die huis nie en omtrent 4,4 miljard mense, of 6 uit elke 10 mense, het nie toegang tot veilige sanitasiegeriewe (soos toilette) nie. Toegang tot skoon water en basiese sanitasie kan tot 16 000 lewens per week red. 7
  • Byna 97% van die wêreld se water is sout of andersins ondrinkbaar. Nog 2% is in ys en gletsers. Dit laat net 1% vir al die behoeftes van die mensdom – landbou-, residensiële, vervaardigings-, gemeenskaps- en persoonlike behoeftes. 8
  • Teen 2025 sal 1,8 miljard mense in lande of streke met ’n absolute waterskaarste woon, en twee derdes van die wêreld se bevolking sal baie min water hê. 9

Foto: iStock

Toegang tot skoon water is wêreldwyd ’n baie groot probleem. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het byna 30% (of 3 uit elke 10 mense) nie toegang tot skoon drinkwater nie en gebruik sowat 2,2 miljard mense water wat met menslike afval besmet is. Besmette water kan siektes soos diarree, cholera, disenterie, tifus en polio oordra. Na raming veroorsaak besmette drinkwater jaarliks 485 000 diarree-verwante sterftes.

Suid-Afrika se varswaterbronne sal teen 2030 uitgeput wees as ons nie verantwoordelik met water begin werk nie. Daarom sal ons anders oor water moet begin dink en besef dat ons hierdie lewensbron moet beskerm. 1

Veilige en maklik beskikbare water is baie belangrik vir mense, diere en die natuur se gesondheid, of dit nou gebruik word vir drinkwater, huishoudelike gebruik, voedselproduksie of ontspanningsdoeleindes. Verbeterde watervoorsiening en sanitasie, asook beter bestuur van ons waterbronne (soos riviere, damme en mere), kan lande se ekonomiese groei ’n hupstoot gee en bydra tot die vermindering van armoede. 2

Waar munisipaliteite doeltreffende dienste lewer, word munisipale water gesuiwer en is die water skoon,  vars en veilig om te drink. Die water uit ’n kraan is egter nie aanvanklik skoon en vars nie. Dit kan uit ’n rivier of dam kom, of kan dalk selfs afvalwater wees wat deur ’n gemeenskap of fabriek gebruik is.

’n Rivier, spruit of ander waterloop is dikwels iets pragtigs om te aanskou, maar selfs die skoonste rivierwater is nooit 100% suiwer nie. Trouens, suiwer water kom selde in die natuur voor. Daar is so baie dinge wat in water kan oplos of dryf dat dit baie maklik deur skadelike stowwe besoedel raak of deur allerhande soute brak (souterig) en ondrinkbaar ge­maak word. Hoe kry ons dan die lekker skoon drinkwater in ons krane?

Die proses om water skoon te maak, word watersuiwering genoem, en die plek waar dit gebeur, word ’n watersuiweringsaanleg genoem.

Waarom is skoon water belangrik?

Ons liggame bevat baie water. In werklikheid bestaan ons meestal uit water! Ons het elke dag water nodig omdat ons elke dag water verloor met die afval wat ons liggame produseer en uitskei (soos in urine of as ons sweet). Die water wat ons drink, moet skoon wees om te voorkom dat ons siek word of vergiftig word. 3

Plante en diere het ook skoon water nodig, sodat hulle kan groei en gesond kan wees. Ons het gesonde plante en diere in ons omgewing nodig, want dit bied ’n ekologiese balans en voedsel. Ekologie is die verhouding tussen lewende organismes en hulle omgewing.

Water word ook gebruik vir pret. Watersport is ’n baie gewilde ontspanningsaktiwiteit en sluit in dinge soos swem, branderplankry en waterski. Ons wil skoon water in die see, damme en mere hê, sodat ons in die water kan baljaar sonder om siek te word.

Suiweringsmetodes

Daar is verskeie stappe (of prosesse) in die suiwering van water. Jy kan water kook of watersuiweringstablette byvoeg. Die vyf prosesse wat algemeen gebruik word om water te suiwer, is sifting, uitsakking, deurlugting, filtrering en ontsmetting. 4

Sifting

Die ongesuiwerde water wat by die aanleg aankom, kan grond, visse, vullis, plante en selfs riool bevat. Hierdie onsuiwerhede word dan uitgesif soos die water in die aanleg invloei. Dit beteken dat die water deur ’n groot sif (“screen”) gaan, en die vaste materiale bly dan op die sif agter. Ná die siftingstap is die water steeds vuil, maar die groter vastestofdeeltjies is verwyder. 5

Uitsakking

Gedurende hierdie stap word die vuil water toegelaat om in ’n tenk, wat ’n uitsakkingtenk genoem word, te staan. Wanneer die gedeeltelik gesuiwerde water in die tenk staan, sak die medium-grootte deeltjies van vaste materiale (wat slik genoem word) na die bodem van die tenk. Die water is steeds vuil, maar bevat nou net klein deeltjies vaste stowwe. Die stukkies wat oorbly, is klein genoeg vir klein organismes (soos bakterieë) om te eet.

Deurlugting

Aangesien bakterieë suurstof nodig het om aan die lewe en gesond te bly, word lug deur die water geborrel. Hierdie proses word belugting genoem.

Filtrering

Hier vloei die water deur ‘n spesiale filter, gemaak van lae van sand en gruis. Die gruislaag van die filter is omtrent 30 cm diep, en die sandlaag is omtrent 1 m diep. Die filtreringstap verwyder enige oorblywende deeltjies en meeste van die bakterieë wat nog in die water oor is. Ná hierdie stap is die water helder, maar sommige kieme en bakterieë mag nog in die water wees. Onthou dat kieme en bakterieë klein genoeg is om tussen die gapings tussen sand en gruis deur te glip.

Ontsmetting

Tydens ontsmetting word chemikalieë bygevoeg om enige oorlewende kieme dood te maak. Chloorgas is een van die algemene ontsmettingsmiddels wat by die water gevoeg word.

Ontsouting van seewater

Vars water bly gedurig in aanvraag, veral in die dor, droë dele van die wêreld. Dit is dan ook nie verbasend dat baie navorsing reeds gedoen is om doeltreffende en bekostigbare metodes te vind om see- en brakwater te ontsout nie.

Drie van die suiweringsmetodes behels verdamping, gevolg deur die kondensasie van die gevormde stoom (die proses van distillasie). In die gewildste van hierdie drie prosesse, ’n proses wat blitsverdamping genoem word, word seewater verhit en in laedruktenks ingepomp, waarin die water vinnig tot stoom verdamp. Die stoom kondenseer dan en word as suiwer water weggelei.

Bevriesing is ’n alternatiewe metode, wat op die verskillende vriespunte van vars- en soutwater gegrond is. Die yskristalle word uit die soutwater gehaal, gewas om die soutigheid buite om te verwyder en dan gesmelt om varswater te kry.

In nog ’n proses, wat omgekeerde osmose genoem word, word water deur ’n dun membraan geforseer wat slegs die varswater deurlaat maar nie die minerale in die water nie. Hierdie metode word tans nog ontwikkel.

Elektrodialise word gebruik om brakkerige water te ontsout. Wanneer sout in water oplos, breek dit op in positiewe en negatiewe ione, wat dan met ’n elektriese stroom deur middel van anione- en katione-membrane verwyder word, sodat die sout uit die water verdwyn.

Die ontsouting van soutwater, hoe dit ook al gedoen word, bly egter steeds ’n duur proses. Maar baie geleerdes stem saam dat navorsing daaroor broodnodig is om in die steeds toenemende vraag na varswater te voorsien. 6

Woordbank

brakkerige Souterig/alkalies/bitter.
disenterie Ontsteking van die ingewande met bloederige ontlasting; buikloop.
filter Toestel of proses waardeur ‘n mens water/lug/ens. laat vloei om ongewenste stowwe daaruit te verwyder en dit skoon en geskik te maak vir gebruik.
ontsmet Reinig met ‘n (chemiese) middel wat bakterieë vernietig en besmetting voorkom.
slik Bodembestanddele en ander vaste stowwe wat deur die water meegevoer en afgeset is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Leer hoe watersuiwering werk

Feite omtrent watersuiwering

Die ontsouting van seewater

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Julie 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023