Vinnige feite

  • ’n Houtkapperfamilie (’n soort voël) kan tot 50 000 gaatjies gedurende herfs in bome maak om kos soos akkers vir die winter te bêre. Molle maak weer erdwurms vir die winter bymekaar en eekhorinkies is die diertjies wat die bekendste is om kos op te gaar. 9
  • Tot 60% van die kos wat ons elke dag eet, is geprosesseerde kos. Hoewel nie alle verwerkte kos jou gesondheid kan benadeel nie, is dit baie belangrik om elke dag vars kos soos groete, vrugte en vesel te eet. Ons moet oppas om nie te veel kitskos soos skyfies of ons gunstelingpizza of -hamburger te eet nie. 10
  • Die manier waarop ons kos bêre, kan dit baie langer vars laat bly. As ons melk, byvoorbeeld, agter in die yskas bêre waar dit lekker koud is (pleks van in die deur van die yskas) kan dit twee keer so lank hou. Het jy geweet jy kan melk vries om dit langer te laat hou? 11
  • Jogurt kan tot 3 weke ná die vervaldatum hou, mits dit dadelik in die yskas gesit word nadat dit gekoop is. 12
  • Heuning wat verseël bly, kan nooit verval nie. Argeoloë het al heuning in Egipte gevind wat na raming so oud as 5 000 jaar is! Natuurlike verandering soos verdonkering of kristallisering vind wél plaas in die teenwoordigheid van wisselende temperature, maar jy kan dit nog eet – sit die heuninghouertjie net in ’n bakkie warm water. Moenie heuning in die mikrogolfoond verhit nie, die uitermate hoë temperatuur sal die ensieme en vitamiene vernietig. Hou dit altyd in die oorspronklike bottel. 13 14
  • Die datums op blikkieskos sê gewoonlik dat dit vir drie jaar gebêre kan word, maar dit kan nog (as die blikkie nie ingeduik of geroes is nie) vir tot 4 jaar ná die vervaldatum gebruik word. Bêre blikkies altyd op ’n koel, droë plek. 15 Dit is belangrik om te weet dat die verbruiker vervalde voedsel op eie risiko inneem.
  • Harde kaas soos cheddar en parmesaan kan nog geëet word, selfs al is daar ’n bietjie muf op. Sny net die gemufte dele af. Persone wat egter allergies is vir penisillien, moet baie versigtig wees om gemufte kaas te eet en dit liefs vermy. Die spore en wortels van dié fungus kan steeds ’n allergiese reaksie veroorsaak.
  • En eiers? Jy kan eiers nog ná die vervaldatum eet. Om te toets of ’n eier nog eetbaar is, sit die eier in ’n bakkie water. As dit sink, kan jy dit nog eet, maar as dit dryf, moet jy dit weggooi. 16
  • Droë pasta kan vir baie lank gebêre word – tot drie jaar. Pasta wat met eiers gemaak is, kan egter ’n slegte reuk ontwikkel. 17
  • Gladde grondboontjiebotter, tamatiesous en mostert wat nog nie oopgemaak is nie en in die koskas of yskas gebêre is, kan tot ’n jaar ná die vervaldatum eetbaar bly. 18
  • Navorsers het bevind dat rou wit rys vir tot 30 jaar in ’n lugdigte houer gebêre kan word. Bruin rys kan ’n mens egter net vir omtrent 6 maande bêre as gevolg van die natuurlike olie wat in bruin rys voorkom. 19

 

Foto: iStock

Mense het oor honderde jare heen maniere ontwikkel om kos te bêre sodat dit nie sleg word nie en hulle dit later kan eet. Dit is amper soos miere wat in die somer kos bymekaarmaak en dit vir die winter bêre. Dink byvoorbeeld aan jou pa wat gaan jag en dan biltong maak waaraan julle maande lank kan smul.

’n Mens noem die proses om rou bestanddele te vat en dit te verander (of verwerk) sodat dit vir later gebêre kan word, voedselprosessering of voedselverwerking. 1

Vreeslik baie kos word daagliks vermors en daarom is voedselprosessering belangrik om kos langer te laat hou – of dit nou in ’n bottel, blikkie, pakkie of boksie is. Ons ouers se oumas en oupas het spense vol heerlike kos gebêre en daar is geen rede hoekom ons nie ook meer kan doen om minder te mors en meer te bêre nie.

Meer as 800 miljoen mense wêreldwyd (oftewel 10% van die wêreldbevolking) ly elke dag honger en dit is skokkend dat ’n derde van die kos wat jaarliks gemaak word – verlore gaan of vermors word. Dit is ’n derde van alle kos wat vir menslike verbruik geproduseer word. 2 Erger nog – dit is kos wat steeds eetbaar en gesond is! 3

Vier voordele van voedselprosessering

  • Beskikbaarheid en gerief – Voedselverwerking stel ons in staat om ’n groter verskeidenheid kos te kan eet as vroeër jare. Omdat ons kos veilig kan bewaar en verpak, kan ons voedsel van enige plek ter wêreld tot by ons vervoer. Ons is nie beperk tot wat plaaslik geproduseer word nie en ook nie tot seisoenaliteit nie (sekere vrugte en groente groei net op sekere plekke en op sekere tye van die jaar). Dié baie verskillende soorte kos wat beskikbaar is, help ons om ’n gebalanseerde dieet te kan volg met al die voedingstowwe wat nodig is om gesond te kan lewe.
  • Voedselveiligheid – Veilige kos is iets wat ons amper as vanselfsprekend aanvaar. Ons het datums op bederfbare kos wat vir ons wys tot wanneer dit veilig is om te eet (’n mens noem dit vervaldatums). Kos word ook gewas om gifstowwe en skadelike mikroörganismes te verwyder, en voedselverwerking – soos die pasteurisering van melk, inmaak of vries van kos – word gebruik om kieme dood te maak en kos veiliger te maak om te eet. 4
  • Voedingswaarde en gesondheid – Baie mense is allergies vir sekere kossoorte of het dalk diabetes. Voedselverwerking stel ons in staat om kos te koop wat spesifiek gemaak is om by ons verskillende gesondheidsbehoeftes te pas. Moderne verwerkingsmetodes help nie net om kos langer vars te hou nie, maar dit help ook om die vitamiene en minerale wat daar in kos is, in die kos te hou. Soms word ekstra vitamiene en minerale bygevoeg om kos nóg gesonder te maak.
  • Goedkoper en vinniger – Massaproduksie (om baie van dieselfde gereg of soort kos op een slag in ’n groot fabriek te maak) maak dit baie goedkoper as om een ete op ’n slag van vars produkte (wat gou kan sleg word) te maak. Voedselverwerking spaar ’n mens ook baie tyd. Mamma en Pappa werk dalk albei en kan nie ure lank staan en kosmaak nie. As ’n mens vinnig ’n blikkie of pakkie kan oopmaak en dit in die mikrogolfoond kan warmmaak, het jy ’n hele ete in ’n japtrap. Moderne supermarkte sou nie bestaan het as dit nie vir voedselverwerking was nie. 5

Vier nadele van voedselprosessering

  • Voedsaamheid – Partykeer gaan van die voedingswaarde in kos verlore as dit verwerk word, maar dit hang af van die proses (manier) wat gevolg word om die kos te verwerk. Hitte vernietig byvoorbeeld vitamien C, daarom sal vrugte in ’n blikkie minder vitamien C as vars vrugte bevat. Sommige kos bevat ook goeie bakterieë wat ons liggame help om slegte kieme vir ’n ses te slaan. Voedselverwerking vernietig dus nie altyd net die slegte kieme nie, maar ook die goeie. 6
  • Soet én sout – Suiker en sout (natrium) word dikwels by kos gevoeg om dit langer te laat hou. Te veel sout en suiker is egter baie sleg vir ons gesondheid. Dit kan lei tot, onder meer, diabetes, kanker en hartsiektes. Dit is daarom baie belangrik om die etiket (die plakker) op die verpakking van die kos te lees, want dan kan jy presies sien wat in dié verwerkte kos is.
  • Vervaldatum – Vervaardigers van verwerkte kos is verplig om vervaldatums (om die veiligheid van die verbruiker te verseker) op kos aan te bring sodat ons weet voor watter dag ons dié kos moet gebruik. Dié datums is net ’n riglyn en ons gooi baie keer kos weg wat “verval” het, maar dan is dit eintlik nog bruikbaar. Die verbruiker kan gesonde oordeel gebruik en self besluit of voedsel ná die vervaldatum geëet moet word, of nie. Maar onthou, geblikte voedsel waarvan die blikkies lek, opgeswel of ingeduik is, moet nooit geëet word nie.
  • Kunsmatige bestanddele – Meeste geprosesseerde kos bevat kunsmatige bestanddele soos kleurmiddels (om dit mooi te laat lyk) en geurmiddels (om dit lekker te laat proe). Al lyk en proe verwerkte kos dalk lekker, is dit nie noodwendig so gesond soos die vars alternatiewe nie. Ons het kos nodig vir energie (krag), maar verwerkte kos bevat goed soos vette wat ons liggame nie in energie kan omsit nie, en veroorsaak dat ons gewig optel. 7 Verwerkte voedsel bevat dikwels meer suiker en sout. Vra jouself gereeld: As vervaardigers van voedsel kleur- en geurmiddels moet bygooi om dit mooi te laat lyk en lekker te laat proe, is dit régtig goed vir my liggaam?

Verskillende maniere om voedsel te verwerk

Mense probeer al vir honderde jare om te keer dat kos bederf. In koue gebiede of gedurende koue wintermaande is kos met sneeu of ys koud gehou en in warmer dele of gedurende warm seisoene is voedsel in die son drooggemaak. Tans gebruik ons ou én moderne metodes om voedsel te verwerk. 8

Droog

Mense het vroeër jare vars vleis, vrugte en groente in die son en wind gelos om die vog (water) daarin te verwyder. Die rede? Droë kos bederf nie vinnig nie omdat die mikroörganismes in voedsel water nodig het om te groei. Vandag gebruik mense dikwels masjiene in fabrieke om kos te droog. Vrugte, groente, melk, aartappels, sopmengsels en vleis kan op hierdie manier verwerk word.

Rook

Vleis en vis word soms gedroog deur dit te rook. Die vleis word opgehang of op rakke geplaas in ’n kamer wat vol rook van ’n hardehoutvuur is. Die vleis kan vir ’n paar uur of ’n paar dae gerook word, afhangende van die tipe vleis. Chemikalieë in die rook bewaar ook die vleis.

Fermentasie (gis)

Fermentasie is ’n chemiese verandering wat in plant- en dierestowwe voorkom. Mense gebruik al vir baie jare fermentasie om brood, wyn, bier, kaas en ander kos te maak. Fermentasie beheer die groei van mikroörganismes. Dit maak sommige mikroörganismes dood en laat ander, wat nie skadelik is nie, groei. Die onskadelike gis, bakterieë of skimmel wat groei, skep stowwe wat ensieme genoem word. Die ensieme breek voedsel in chemikalieë op. Die resultaat is ’n nuwe voedselproduk wat nie so vinnig bederf nie. Kaas is byvoorbeeld afkomstig van melk of room wat deur bakterieë gefermenteer is.

Verkoel en vries 

Koue of gevriesde kos keer dat mikroörganismes daarin groei. Lank voordat yskaste uitgevind is, het mense kos in sneeu en ys gevries of dit in waterstrome en grotte koel gehou. Ondergrondse kelders onder huise was koel, droë plekke waar mense kos gebêre het. Yskaste en vrieskaste het eers in die 1800’s ontwikkel. Dit laat toe dat bederfbare voedsel langer gehou word en na ander plekke vervoer kan word in groot vragmotors met koelkamers agterop.

Chemikalieë

Soms word chemikalieë by voedsel gevoeg om die groei van mikroörganismes te vertraag. Heuning en suiker word reeds vir baie jare by vrugte gevoeg om dit te bewaar – suiker is ’n belangrike bestanddeel in konfyt en marmelade. Asyn en sout word weer gebruik om groente en vleis te pekel. Om vleis te bewaar (soos biltong en droëwors), word ’n kombinasie van sout, suiker, asyn en ander kruie en speserye gebruik. Askorbiensuur word dikwels by appelskyfies en perskes gevoeg om te keer dat dit bruin word.

Verhitting en inmaak

Inmaak (of inlê) is ’n proses wat hitte gebruik om mikroörganismes in voedsel dood te maak. Die verhitte kos word in blikkies of botteltjies verseël. Die voedsel word afgekoel en vorm ’n vakuumseël wat voorkom dat mikroörganismes in die houer kom. In die middel 1800’s het die wetenskaplike Louis Pasteur die effek van mikroörganismes op voedsel bestudeer.

Sy studies het gelei tot ’n proses wat bekendstaan ​​as pasteurisering. Die proses behels die behandeling van voedsel met ligte hitte. Voedsel soos melk en vrugtesap word op hierdie manier “behandel” om langer vars te bly. Groente, vleis of vis kan ook gepekel word.

Dit is wanneer jy dit in soutwater of asyn in ’n bottel inlê en bêre. Wanneer voedsel (soos groente), té lank gekook word, word die vitamiene en minerale ook vernietig.  Groente word altyd in ’n klein hoeveelheid water gekook totdat dit net sag is en dan dadelik uit die water gehaal.

Het jy geweet?

  • Sowat 50% van alle groente en vrugte gaan verlore tussen die plaas en die kombuistafel.
  • Kos wat in Europa alleen gemors word, kan 200 miljoen honger mense voed.
  • ’n Gebrek aan tegnologie en infrastruktuur is die hoofrede waarom kos in ontwikkelende lande gemors word.
  • Louis Pasteur (1822-1895) was ’n Franse chemikus en bioloog wat pasteurisering ontwikkel het. Dit behels die proses om voedsel te stadig tot 63 ᵒC te verhit sodat alle patogene gedood word, sonder om die smaak van die voedsel te beïnvloed. Soms word dit baie vinnig verhit en dan weer vinnig afgekoel.  Danksy hierdie proses is produkte soos melk, eiers, vrugtesap en sommige kaas veilig om te eet. 20

Woordbank

geproduseer Gemaak, vervaardig.
bederfbare Kos wat gou sleg of vrot word.
chemikalieë Stof wat verkry of gebruik word in chemiese reaksies.
pasteurisering Vloeistowwe word verhit om kieme dood te maak wat siektes kan veroorsaak of vloeistof kan laat bederf.
bioloog ’n Wetenskaplike wat fokus op lewende organismes, insluitend plante en diere.
patogene Wat siekte veroorsaak.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
ensieme ’n Stof wat in die liggaam sekere stowwe in ander kan omsit.
fermentasie Iets laat staan sodat suiker in alkohol kan omsit.
bakterieë Organismes wat siektes by mense kan veroorsaak.
moderne Aangepas tot die jongste of nuutste smaak of styl.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Voedselprosessering

Voedselverwerking – en bewaring

Voedselverwerking – en bewaring

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Januarie 2022 | Bygewerk op 10 September 2024