Vinnige feite

  • Die doel van die meeste verwerkingsmetodes is om materiale meer bruikbaar te maak.
  • Die meng van twee stowwe vorm soms ʼn oplossing. Dit gebeur wanneer die twee stowwe in die mengsel eweredig meng/versprei.
  • Materiale soos gips, beton, tekstiele, keramiek, glas, plastiek en verf het hul eie spesiale eienskappe.
  • Verwerkte materiale is nuttig as gevolg van hulle spesiale eienskappe. Hulle kan sterk, duursaam, waterdig of brandbestand wees en kan interessante en kleure en teksture wees.
Foto: iStock

Verwerkte materiale is materiale wat deur mense vanuit die natuurlike vorm verfyn of opgebou is. Voorbeelde hiervan sluit papier, staal en glas in. 1 ʼn Rou materiaal, darenteen, is materiaal wanneer dit in sy natuurlikste vorm is; dit is dus nog nie verwerk of geprosesseer tot die volgende stap waarin die materiaal sy funksie verrig nie.

Rou materiale, ook genoem grondstowwe, is oral in die omgewing om ons, soos die bome in ʼn woud en steenkool en olie wat ondergronds aangetref word. Wanneer hierdie rou materiale verwerk is, beteken dit dat mense dit verander het, en dan is dit nie meer in sy natuurlikste vorm nie. 2 Dan word dit verwerkte materiale genoem. 3

Materiale kan op verskillende maniere vewerk word om nuwe materiale en produkte te maak. Die doel van die meeste verwerkingsmetodes is om materiale meer bruikbaar te maak. Wanneer materiale verwerk word, mag die nuwe materiale se eienskappe anders wees as die rou materiale. 1

Rou materiale vanaf lewende objekte

Sommige rou materiale is afkomstig vanaf lewende objekte. ʼn Voorbeeld van lewende objekte is bome. In dié geval is bome die natuurlike vorm en dus die rou materiaal wat verwerk word, sodat daar verskeie items, insluitend sommige bote en huise, daarvan vervaardig kan word. ʼn Ander voorbeeld is diervelle wat van diere afkomstig is en die natuurlike vorm is wat gebruik word as leer om mooi handsakke, tasse, skoene en gordels mee te maak. Pêrels wat gebruik word om juwele of ander versierings mee te maak, kom vanuit lewende seeskulpe. 4

Die onderstaande tabel wys voorbeelde van hoe rou materiale vanaf lewende objekte in verwerkte materiale verander word.

Lewende objek Rou materiaal Verwerkte materiaal
boom hout papier, potlode, meubels, bote, huise
plante katoen Klere en beddegoed
koeie koeivel

melk

leerhandsakke, leerskoene en leertasse

botter, kaas, pasta en brood

skape en sekere bokke wol truie, serpe, beddegoed en klere
volstruise vere en vel klere of hoede met veerbedekkings, asook leerartikels soos handsakke en beursies
sywurms 5 sy wat deur die sywurm gespin word sy-agtige klere en linne

Rou materiale vanaf nielewende voorwerp

Sommige rou materiale is afkomstig vanaf nielewende voorwerpe. Metale en duursame stene soos diamante word vanuit rotse in die grond verkry. Juwele soos ringe en oorbelle word daarvan gemaak wanneer dit verwerk word tot verwerkte materiale. 4 Metale as rou materiale word verwerk om onder andere voertuie, masjinerie, kombuisware (potte en panne) en vele ander items mee te vervaardig. Klei, steenkool en olie is nog voorbeelde van rou materiale wat uit die grond kom. Klei word in vorms gegiet en gebak om keramiek soos teekoppies, teepotte en vase te maak. Steenkool en olie word gebruik om plastiek, verf en lap te maak en is ook nodig vir die funksionering van voertuie.

Die onderstaande tabel wys voorbeelde van hoe rou materiale vanaf nielewende voorwerpe in verwerkte materiale verander word.

Nielewende voorwerp Rou materiaal Verwerkte materiaal
rotse minerale soos diamante en ander edelstene

metale (aluminium, staal, koper) 5

edelmetale soos goud 6

juwele soos ringe en oorbelle

voertuie, masjinerie, kombuisware, muntstukke, ens.

juwele soos ringe, hangertjies en ander versierings

grond (ook onder die oseaan) klei

steenkool

olie

teekoppies, breekware, teëls en stene

die aandryf van stoomlokomotiewe, asook stoomturbines vir kragopwekking, ens.

Petrol, plastiek, verf en lap word vanuit ru-olie vervaardig. 7

sand Sand wat teen ʼn hoë temperatuur verhit word, word glas. glase en ander kombuisbreekware, asook vensters vir huise en voertuie
plante rubber waterstewels, rekkies en vele huishoudelike en sportitems

Metodes om materiale te verwerk

Daar is verskeie maniere om rou materiale te verwerk sodat dit verwerkte- of vervaardigde materiale word wat ander funksies verrig as die rou materiaal waarvandaan dit verkry is.

Hierdie metodes sluit in:

Kombinasie en vermenging van materiale

ʼn Mengsel bestaan uit twee of meer verskillende stowwe. ʼn Mengsel kan vaste stowwe, vloeistowwe en/of gasse bevat. 8 Die meng van twee of meer stowwe kan verandering meebring en ʼn nuwe materiaal word gevorm. Sommige van hierdie veranderinge kan weer terugkeer na hul oorspronklike materiale, ander is onterugkeerbaar. 4

Vermenging en verharding

  • ʼn Vaste stof soos gipspoeier en ʼn vloeistof, soos water kan gemeng word om ʼn harde pleister te maak as stut vir ʼn gebreekte been.
  • Polyfilla, ook ʼn vaste stof wat gemeng word met water, ʼn vloeistof, word ʼn harde pleister waarmee krake in mure gevul kan word.
  • Sand, gruis, sement (vaste stowwe) kan gemeng word met water om beton te vorm; ʼn harde, sterk soort boumateriaal wat veral gebruik word vir die fondasie van huise, brûe en ander konstruksies. 8

Vermenging

Meel en water kan ʼn taai pasta maak wat as gom gebruik kan word (papiermaché).

Meng en kook

Die kombinasie van verskillende vaste stowwe en vloeistowwe, soos meel, bakpoeier, suiker, kakao, eiers, olie en water, kan gebak word en ʼn heerlike koek maak.

Meng en verkoel

Jelliepoeier en water kan gemeng word wat saam ʼn vloeistof vorm. Wanneer hierdie vloeistof in die yskas geplaas word en met koue in aanraking kom, stol die jellie, en saam vorm dit ʼn nuwe materiaal en neem die vorm aan van die bak waarin dit gestol is.

Vermenging, droog en/of bak

Nat klei en strooi word gemeng en gebak om kleibakstene te vervaardig.

Oplossing

Die meng van twee stowwe vorm soms ʼn oplossing. Dit gebeur wanneer die twee stowwe in die mengsel eweredig meng/versprei. Wanneer suiker in water gemeng word, los die suiker op en vorm ʼn oplossing. Die klein molekules wat die suiker vorm, versprei eweredig deur die water. Die suikermolekules breek egter nie weg van mekaar nie. Daarom sal die oplossing se stowwe weer van mekaar kan skei wanneer die water in die oplossing verdamp (vanaf ʼn vloeistof verander in gasvorm) en die suiker agterlaat. 4

Eienskappe en gebruike

  • Materiale soos gips, beton, tekstiele, keramiek, glas, plastiek en verf het hul eie spesiale eienskappe.
  • Verwerkte materiale is nuttig as gevolg van hulle spesiale eienskappe. Hulle kan sterk, duursaam, waterdig of brandbestand wees en kan interessante en kleure en teksture wees. 4

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hier om nog meer te leer oor verwerkte materiale

ʼn Inleiding tot die produksieproses

Materiale en hul eienskappe

Materiesamestelling

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Februarie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024