Vinnige feite

  • Die Slag van Bloedrivier het gevolg op ’n hele aantal gevegte tussen die Voortrekkers en die Zoeloes van Dingaan.
  • Daar was 470 Voortrekkers wat by Bloedrivier geveg het.
  • Daar was ongeveer 10 000 of meer Zoeloes wat teen die Voortrekkers by Bloedrivier geveg het.
  • Bloedrivier se naam was eers Ncomerivier.

Bloedrivier is die naam wat gegee is aan die belangrikste geveg wat tussen die Voortrekkers en Dingaan se Zoeloes plaasgevind het. Omdat daar soveel Zoeloes in die geveg dood is, word dit ook beskou as die grootste geveg wat daar nog in Suid-Afrika was. 1

Opmerking: Daar is twee spellings wat gebruik word vir die opperhoof van die Zoeloes – Dingane of Dingaan.

Aanloop tot Bloedrivier

Die groot geveg by Bloedrivier het gevolg op ’n hele aantal gevegte tussen die Voortrekkers en Dingaan se Zoeloes.

Retief en Maritz steek Drakensberg oor, 1837

Die moord op Piet Retief

Die begin was die moord op Piet Retief en sy groep manskappe op 6 Februarie 1838. Retief het ’n ooreenkoms met Dingaan gehad dat hy ’n sekere stuk grond aan die Voortrekkers sou gee indien hulle beeste wat deur Sekonyela, kaptein van die Batlôkwa, by die Zoeloes gesteel is aan hom sal terugbesorg.

Piet Retief
Dingaan en Retief, op ‘n paneel by die Voortrekkermonument

Toe Retief die beeste vir Dingaan teruggeneem het en nadat die ooreenkoms deur albei onderteken is, is Retief en sy hele groep mans deur Dingaan se krygers vermoor. 1

Retiefmoord

Aanvalle by Bloukrans- en Boesmansrivier

Ná hierdie moord op Retief en sy mense, het die Zoeloes in die rigting van die ander Voortrekkergroepe beweeg en in die nag van 16 Februarie baie laers aangeval. Ongeveer 282 wit en 250 bruin mense onder die Voortrekkers is doodgemaak. In hierdie gevegte het nie net die mans nie, maar ook ouer mans, vroue en kinders gehelp om teen die aanvallers te veg en uiteindelik is die res van die Zoeloes terug na Zoeloeland. Hulle het ongeveer 25 000 beeste van die Voortrekkers saam met hulle geneem asook baie skape en bokke en perde. Daar is later naby hierdie plek ’n dorp gestig met die naam Weenen. Hierdie nag van 16 Februarie en die dag van 17 Februarie sou nie maklik vergeet word nie.

Bloukrans

Toe hierdie aanvalle gebeur het, het die Trekkers nog nie geweet dat Retief en sy mense vermoor is nie. Hulle het dit eers op 20 Februarie gehoor toe ’n brief wat deur ’n Brit geskryf is, by die laers aangekom het. 1

Bloukrans

Geveg by Italeni

Op 6 April 1838 het die berede kommando wat uit 347 mans bestaan het, die laer in twee groepe verlaat op pad na Dingaan se stat. Hendrik Potgieter en Piet Uys was die twee leiers van die kommando.

Op 11 April is hulle by Italeni in ’n hinderlaag gelei. Die kommando kon vinnig omdraai en vir hulle ’n pad tussen die Zoeloes deur oopskiet. Daar is egter tien Trekkers doodgemaak en Piet Uys is ernstig gewond. Sy seun Dirkie, wat toe 15 jaar oud was, het omgekyk en gesien hoe sy gewonde pa deur die Zoeloes omring was. Hy het toe sy perd omgedraai en teruggejaag om sy pa te gaan help. Hy het langs sy pa gesterf. Hierdie heldedaad van Dirkie Uys het van hom ’n held gemaak wat altyd onthou sal word. 1

Dirkie Uys met die Slag van Italeni

Nog ’n aanval deur die Zoeloes

’n Paar dae ná die geveg by Italeni het ’n groep van 1 500 Zoeloes weer ’n aanval uitgevoer. Die Trekkers het nie moed opgegee nie en hulle begin voorberei op ’n geveg teen die Zoeloes. 1

Zoeloekoning Dingaan, deur A.F. Gardiner

Die koms van Andries Pretorius en die Gelofte

Andries Pretorius het na Natal vertrek om die Voortrekkers te gaan help. Hy het op 22 November 1838 by die Voortrekkers in Natal aangekom. Hy is as hoofkommandant van die strafkommando teen Dingaan gekies en op 24 November het hulle na Zoeloeland vertrek. Terwyl hulle op pad was, het Karel Landman en sy mense by Pretorius aangesluit. Hy was nou die leier van 470 mans met 64 waens. Pretorius se sekretaris, Jan Bantjes, het hierdie tog in Junie 1839 in De Zuid-Afrikaan beskryf. Pretorius het die hele veldtog goed beplan en hy het ook die manskappe onder sy bevel goed hanteer.

Karel Landman

Tydens die kommando se trek na Zoeloeland het drie Trekkers saans beurte gemaak om die aandgodsdiens waar te neem. Cilliers was een van hulle en sy preke uit die Ou Testament het moontlik vir Pretorius aan ’n Gelofte laat dink. 1

Andries Pretorius

Dit is nie seker wie die Gelofte geskryf het nie, maar dit was waarskynlik Cilliers. Hy word ook meesal ‘die vader van die Gelofte’ genoem. 2

Sarel Cilliers was die persoon wat die Gelofte op Sondag 9 Desember 1838 in ’n gebed vir die eerste keer afgelê het. Dit het gebeur by die spruit wat vandag Wasbankspruit genoem word. Hy het op ’n kanon gestaan terwyl hy dit gedoen het. Die Voortrekkers het daarna elke aand die Gelofte afgelê tot en met die geveg met die Zoeloes. 1

In die Gelofte is die volgende belowe: Dat as God die Trekkers sal help om die geveg te wen, hulle en hul nageslag dié dag sal onthou en herdenk en dat hulle ’n kerk sal bou ter ere van God. 3

Aanloop tot die geveg

Terwyl die kommando Zoeloeland ingery het, het hulle al hoe meer Zoeloes langs die pad gekry.

Pretorius het op hierdie stadium nog probeer vrede maak en probeer om ’n geveg te voorkom. Hy het ’n boodskap na Dingaan gestuur en gesê as Dingaan skadevergoeding betaal vir wat hy gedoen het, sal die Voortrekkers hom nie aanval nie. Dit het egter nie gewerk nie. 1

Op Maandag 10 Desember het die walaer van die Voortrekkers deur die Wasbankspruit getrek. Op ongeveer 13 Desember is die walaer deur die Buffelsrivier en op Saterdag 15 Desember het hulle tot by die Ncomerivier gevorder. Hier het hulle ’n boodskap van Hans de Lange ontvang dat die Zoeloe-leër ongeveer 20 km verder was. Daarom is besluit om die laer daar te maak. 4

Kaart van Bloedrivierveldtog

Die laer is op ’n baie goeie plek gemaak – aan die een kant was ’n baie diep sloot en aan die ander kant die Ncomerivier. Omdat die Zoeloes nie deur die sloot of die rivier kon aanval nie, het die Voortrekkers nie nodig gehad om alle kante van die laer te veg nie. Beeste en perde is in die laer vasgemaak. Daar is ook brandende waskerse aan sweepstokke vasgebind en ’n ent van die laer af in die grond ingedruk sodat die Voortrekkers kon sien as die Zoeloes in die nag naby die laer probeer kom.

Daardie aand het Sarel Cilliers die aanddiens gelei en hulle het weer die Gelofte herhaal. 4

Sarel Cilliers

Die dag van die geveg – Sondag 16 Desember 1838

Die vorige aand was die weer mistig, maar op die oggend van 16 Desember het die mis verdwyn.

Daar was ongeveer 10 000 Zoeloekrygers wat in groepe op die laer afgestorm het maar hulle is elke keer deur die Voortrekkers teruggedryf. Sommige bronne noem dat daar tussen 15 000 en 20 000 Zoeloes was. 5

Daar is ook met die Trekkers se kanon, wat Grietjie genoem is, op die Zoeloes geskiet. Nadat daar vir ongeveer twee uur geveg is, het Pretorius die bevel gegee dat die hekke van die laer oopgemaak moes word. Toe het perderuiters op die Zoeloes afgejaag en hulle uiteindelik verdryf. 1

Ou Grietjie in aksie
Ou Grietjie, Voortrekkermonument, Pretoria

Daar is soveel Zoeloes wat in die Ncomerivier geval het, dat die water ’n rooierige kleur gekry het. Dit is waar die naam Bloedrivier ontstaan het. Aan die kant van die Voortrekkers is slegs drie mans gewond – Andries Pretorius, Christiaan van der Merwe en Gert Raath. Daar is ongeveer 3 000 Zoeloes in die geveg dood. 4

Skildery deur A.A. Telford en W.H. Coetzer

Nadat almal terug was in die laer, het Pretorius almal bymekaar geroep om die Here te dank. In ’n brief met die datum 22 Desember 1838 het Pretorius weer die Gelofte herhaal dat dié dag uit dankbaarheid aan die Here gewy sal word.

Pretorius het sy kommando agter die Zoeloes laat aanry. Hulle het gery tot by Dingaan se stat Umgungundlovu wat ongeveer 70 km vanaf Bloedrivier was. Die stad was heeltemal verlate en afgebrand. Op die koppie waar Retief en sy mense vermoor is, het hulle die verweerde leertas gekry waarin die ooreenkoms tussen Retief en Dingaan nog was. 4

Mgungundlovu

Pretorius se kommando het nou bekend gestaan het as die Wenkommando. 1

Woordbank

manskappe ’n Ander woord vir soldate.
hinderlaag ’n Wegkruipplek waarvandaan ’n mens sy vyand onverwags aanval. 6

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

’n Kort video wat wys hoe die geveg by Bloedrivier waarskynlik gebeur het. Mens kan ook sien hoe die waens in ’n laer getrek is.

Bloukransmoorde

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Junie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023