Vinnige feite

  • Smith het beveel dat al sy ongepubliseerde werke ná sy dood vernietig moes word. 2 Dit het 16 volumes van geskrifte oor letterkunde, filosofie, poësie, geskiedenis en regering beslaan. 1
  • Smith was ’n lid van die Skotse Verligting, wat ook filosowe soos David Hume en wetenskaplikes soos James Watt, die uitvinder van die stoomenjin, ingesluit het. 7
  • Hy het oor sy studies aan Oxford gesê: “Die meeste professors het heeltemal opgehou om eens te maak of hulle vir studente iets leer.” 8
  • Smith het tussen 2007 en 2022 op die Britse £20-noot verskyn. Hy was die eerste Skot en ekonoom wat op ’n Britse banknoot verskyn het. 9
  • Voltaire, die Franse filosoof, het van Smith gesê: “Hierdie Smith is ’n uitstekende man! Ons het niemand wat met hom kan vergelyk nie, en ek is skoon verleë oor my eie landgenote.” 1 Dit is ’n ongelooflike kompliment van een van die beroemdste filosowe in die geskiedenis.
Grafika: Hildegard Brummer

Adam Smith (1723-1790) staan bekend as die vader van ekonomie. Hy was ’n Skotse ekonoom en filosoof, en sy boek, The Wealth of Nations, het letterlik die wêreld waarin ons vandag leef, verander.

Dit word deur baie mense beskou as een van die belangrikste boeke van die afgelope duisend jaar en een van die invloedrykste boeke wat al ooit oor ekonomie gepubliseer is!

The Wealth of Nations het tot ’n totale ommekeer in hoe lande se ekonomieë bestuur word, gelei. Die verstommende vooruitgang in die Westerse wêreld is dan ook tot ’n groot mate aan hom te danke.

Grootwordjare

Ons weet min van Adam Smith se grootwordjare. Ons weet byvoorbeeld nie wanneer hy gebore is nie. 1 Hy is wel op 5 Junie 1723 in Kirkcaldy, Skotland gedoop. Hy is deur sy ma, Margaret Douglas, 2 grootgemaak omdat sy pa kort voor sy geboorte oorlede is. Hy was ’n enigste kind. 1

Adam se ma

Smith het die Burgh-skool in Galashiels in die Skotse Grense bygewoon, waar hy vakke soos Latyn, wiskunde, geskiedenis en skryfwerk gehad het. 3

Smith het op 14-jarige ouderdom by die Universiteit van Glasgow ingeskryf. 4 Hier is hy diep beïnvloed deur Francis Hutcheson, ’n professor in filosofie. 5

Smith het ’n beurs gewen en toe aan Balliol College, deel van die Universiteit van Oxford, gaan studeer. 2 Sy vakke was Engelse, Franse, Griekse en Latynse letterkunde. 1 Tog het hy nie sy tyd by Oxford geniet nie, want hy het gevoel dat die onderrig swak was, en het homself eerder met biblioteekboeke onderrig. 5

Die gebou waar Adam Smith as kind gewoon het

Vroeë werksjare

Ná sy studies het hy na Skotland teruggekeer. Hy het ’n reeks lesings gehou wat baie gewild was en hom bekend gemaak het. 6

Hy het in hierdie tyd vriende geword met David Hume (1711-1776), die beroemde Skotse filosoof en historikus. Smith en Hume sou lewenslank vriende en vertrouelinge bly. 1

Smith het ’n pos by die Universiteit van Glasgow aanvaar: eers as professor in logika (in 1751) en toe as professor van morele filosofie, wat in daardie tyd teologie, etiek, politiek, ekonomie en regsgeleerdheid ingesluit het. 5

In Skotland het sy eerste boek, The Theory of Moral Sentiments, in 1759 verskyn. 5 Dit was een van slegs twee boeke wat in sy leeftyd gepubliseer is. 1

Tydperk in Europa

In 1763 het Smith ingestem om die tutor te wees vir Henry Scott, die hertog van Buccleuch. Die salaris was beter as wat ’n professor gekry het en hy is ’n goeie pensioen aangebied. 2 Hy het vir die volgende drie jaar saam met Scott deur Frankryk en Switserland getoer. 6 Dit was op tye vervelig, maar daar was tog hoogtepunte. Hy het byvoorbeeld vir Voltaire (1694-178), die beroemde Franse filosoof, en ander denkers van die Verligting ontmoet. 5

Voltaire

Terug in Kirkcaldy

In 1767 het Smith teruggekeer Kirkcaldy toe. Hy kon nou op die pensioen van die hertog leef en dus aan sy boek skryf sonder om hom oor inkomste te bekommer. 5 Hy kon ook na sy siek ma omsien. 1

Hy het oor die volgende amper tien jaar sy meesterwerk, An Inquiry into the Nature and Causes of the Wealth of Nations (kortom The Wealth of Nations), geskryf, wat in 1776 gepubliseer is. 2

In 1778 is Smith aangestel as doeane-kommissaris van Edinburg. 4

In hierdie tyd was Smith betrokke by klubs en organisasies, en het met vriende soos Edmund Burke (1729-1797), die Ierse filosoof, gekuier.

Hy was ’n stigterslid van die Royal Society of Edinburgh, vandag steeds Skotland se vernaamste nasionale akademie vir wetenskap en kuns. Hy is ook later aangestel as die rektor van die Universiteit van Glasgow. 1

Privaat lewe en laaste jare

Sy ma het in 1784 gesterf. 1

Smith het nooit getrou of kinders gehad nie. Hy het op 17 Julie 1790 in Edinburg gesterf. 1

Smith was gewild en geliefd onder sy vriende en kollegas. 5

Smith se belangrikste idees

Smith was nie aan die begin van sy loopbaan al geïnteresseerd in ekonomie nie. Toe hy aan die Universiteit van Glasgow gewerk het, het hy verkies om lesings te hou oor teologie, etiek en regsgeleerdheid. 6

Sy idees oor ekonomie is egter wat hom so invloedryk gemaak het.

Sy belangrikste idees word hier in vyf afdelings bespreek:

  • Kritiek van merkantilisme.
  • Spesialisasie.
  • Eiebelang en die “onsigbare hand”.
  • Die vryemark.
  • Die rol van die regering.

Kritiek van merkantilisme

In Smith se tyd was merkantilisme die dominante ekonomiese stelsel in Europa. Dit het daarop neergekom dat:

  • ’n Land se ekonomie gesond was solank sy uitvoere meer as sy invoere was. 3 Dit het lande huiwerig gemaak om met ander handel te dryf.
  • ’n Land se rykdom kon gemeet word aan die waarde van die goud en silwer wat hulle gestoor het. 2

Smith het merkantilisme skerp gekritiseer, 4 en die teenoorgestelde voorgestel:

  • ’n Land se rykdom en voorspoed moet gemeet moet word aan hoeveel ’n land produseer en hoeveel handel gedryf is.
  • Uitvoere én invoere was ewe voordelig vir beide lande wat daarby betrokke was. 2

As gevolg van hierdie idees gebruik ons vandag bruto binnelandse produk (BBP) om ’n land se rykdom en vooruitgang te bepaal. 2 BBP is die waarde van alle produkte en dienste wat al die mense van ’n land in ’n sekere tydperk produseer.

Spesialisasie

Smith het spesialisasie en die skeiding van arbeid voorgestaan. Hy het die produksie van ’n speld gebruik om dit te verduidelik:

As een mens al 18 stappe moet doen om iets soos ’n speld te maak, kan daardie mens miskien een speld per dag maak. Maar indien die 18 stappe deur tien mense gedoen word, waar elke mens net een of twee take het wat hulle oor en oor verrig, in ’n tipe monteerbaan, sal die opbrengs na duisende per dag opskiet. 6

Eiebelang en die ‘onsigbare hand’

Smith het geglo: mense streef hul eie doelwitte na in hul eie belang. Met ander woorde: jy doen wat jy dink die beste vir jou sal wees. Jou eie belang bepaal hoe en waarop jy jou geld spandeer. 2

In ’n vryemarkekonomie wat op privaat besit gebaseer is, sal elke mens werk om homself te verbeter deur goed te vervaardig. Hoe meer mense dit doen, hoe meer produkte sal daar wees. In ekonomiese terme sal daar dan ’n groter aanbod wees, en die produkte sal goedkoper word. As die produkte goedkoper is, kan meer mense dit bekostig. Almal is dus in ’n beter geldelike posisie. 1

Om ’n voorbeeld te gebruik: ’n slagter, brouer en bakker hoop om geld te maak deur produkte – vleis, bier en brood – te verkoop. As kliënte hul produkte verkoop, maak hulle geld. Hulle kliënte kry wat hulle wil hê – anders sal hulle dit mos nie koop nie! Die drie ouens maak geld, die kliënte kry iets wat hulle wil hê, en almal wen. 2

Smith het geglo dat selfs ryk mense nie in ’n vakuum woon nie. Hulle moet die mense betaal wat vir hulle kos maak, meubels vervaardig en so aan. Hulle kan nie net al die geld vir hulself hou nie, anders sal dit op ’n stadium opraak. 4

Eiebelang kan deugsaam wees. Smith het eenkeer gesê: “Die mens het die hele tyd sy medemens se hulp nodig. Dit is nutteloos om te glo dat mense jou slegs uit liefdadigheid gaan help.” 6 Om ’n voorbeeld te gebruik: jy het jou dokter se hulp nodig om jou gesond te maak. Maar jou doktor kan dit nie gratis doen nie. Jy betaal hom of haar dus vir die diens. Jy word gesond, en jou dokter maak geld. Die dokter word dus ’n dokter uit eie belang, maar dis voordelig vir jou ook.

Al hierdie mense word deur wat Smith die “onsigbare hand” genoem het, gelei. Niemand sê vir hulle wat om te doen nie. Hulle doen wat vir hulle logies en voordelig is, oftewel, hulle tree in eie belang op. 1

Die vryemark

Smith het die idee van die vryemark voorgestaan. Vir ’n mark om vry te wees, het mens die volgende nodig:

  • Kompetisie – met ander woorde daar moet meer as een mens wees wat ’n produk maak
  • Vraag en aanbod – hoe meer mense iets wil hê, hoe goedkoper word dit.
  • Eiebelang – mense moet toegelaat word om hul eie besluite te maak oor waarop hulle hul geld wil spandeer.

Wanneer hierdie drie dinge toegelaat word, sal dit op die ou end tot die beste uitkoms vir almal lei.

Ryk en voorspoedige lande is lande waar mense toegelaat word om hard en produktief te werk om hulself te verbeter en genoeg geld te maak om te koop wat hulle wil koop. Mense sal ook hul geld belê waar hulle die grootste opbrengste gaan kry. 2

Die rol van die regering

Smith wou die regering se invloed in die ekonomie beperk, deur mense so min as moontlik belasting te laat betaal. 2

Dit beteken egter nie hy was ’n anargis wat glad nie ’n regering wou gehad het nie. Hy was ’n voorstander van ’n beperkte, maar nie afwesige, regering. 2 Die doel van die regering:

  • Verskaf die raamwerk waarbinne mense besigheid doen, maar sonder om betrokke te raak. 2
  • Verseker
  • Beskerm mense se lewens en eiendom.
  • Maak seker dat kontrakte nagekom word.
  • Beskerm kopiereg en patente, omdat dit nuwe ontdekkings en idees aanmoedig. 6
  • Gebruik belasting om dienste te lewer wat tot almal se voordeel sal strek, soos die bou van paaie en infrastruktuur. 2

Kompetisie was noodsaaklik. Smith het besigheidsmense wat die wet wou gebruik om hul eie besigheid te beskerm, veroordeel. Hy het handelsversperrings, tariewe en monopolieë verwerp, omdat dit besighede toegelaat het om mense uit te buit.

Smith was basies gekant teen enige spesiale behandeling – deur middel van wette of regte – aan enige individu of uitgesoekte groep mense. Vir sy idees om te werk, móés almal dieselfde behandel word. 2

Invloed en nalatenskap

Smith het beroemde denkers, ekonome en filosowe soos David Ricardo (1772-1823), Karl Marx (1818-1883), John Maynard Keynes (1883-1946), Milton Friedman (1912-2006), Charles Darwin (1809-1882) en John Stuart Mill (1806-1873) beïnvloed.

The Wealth of Nations het in dieselfde tyd as die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring verskyn. Sy werk het ’n belangrike impak op Amerika se stigterslede gehad. Dit het onder meer gemaak dat Amerika as vryemark, en nie as merkantiele land, gestig is. Alexander Hamilton en James Madison, wat Amerika se vroeë ekonomie geskep het, het geglo aan vrye handel en beperkte regeringsinmenging in die ekonomie. 4

Smith het die manier hoe mens na politieke ekonomie kyk – met ander woorde, die verhouding tussen die regering, die landsburgers en die mark – onherroeplik verander.

Smith se idees is die grondslag van kapitalisme. Sy mees prominente idees: die “onsigbare hand”, die skeiding van arbeid, die idee dat kompetisie noodsaaklik is vir die ekonomie om te groei, en die noodsaaklikheid van die vryemark, is steeds lewendig in die 21ste eeu. Hierdie dinge is inderdaad kenmerkend van die rykste lande in die wêreld. 2

Woordbank

aanbod Die hoeveelheid/aantal van ’n produk of diens wat beskikbaar is.
akademie Opleidingsinrigting.
anargis Iemand wat glo wette/regerings/ens. is onnodig.
belang Dit wat ʼn persoon of ʼn saak raak, of tot voordeel van ʼn persoon of ʼn saak is.
belasting Verpligte betaling aan die staat of ander owerheidsliggame om uitgawes te dek.
beurs Bedrag geld wat aan ʼn student geskenk word vir verdere studie; studiebeurs.
deugsaam Iets/iemand se goeie eienskap.
doeane-kommissaris Die staatsamptenaar wat werk met belasting op die invoer en uitvoer van goedere.
dominante Die eienskap dat dit belangrik is en die meeste gesag afdwing.
ekonomie Stelsel waarin die handel, produksie, ens. van ’n land of streek verkeer.
ekonoom Sakekenner; beoefenaar van die ekonomiese wetenskap.
etiek Dit is die wetenskap van sedelike norme of wette, met ander woorde, hoe kan mens volgens goeie, innerlike lewensbeginsels dink en doen.
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
filosoof Iemand wat oor die lewe dink, die gedagtes neerskryf en aan ander mense leer.
geregtigheid Hoedanigheid wat ʼn mens in staat stel om reg aan ʼn ander te laat geskied; billikheid; regverdigheid.
grondslag Dit waarop iets berus, die beginsel of fondament.
handelsversperrings Dinge wat keer dat handel vry vloei.
hertog Lid van die adelstand in Brittanje.
historikus ’n Kenner op die gebied van geskiedenis.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
invloedrykste Wat groot invloed het/uitoefen.
kapitalisme ’n Ekonomiese stelsel wat op private besit, belegging en mededinging gegrond is en waar die staat nie veel beheer het nie. Die geld en besittings is dus in private besit.
kenmerkend ’n Duidelike teken waaraan jy iets kan herken.
kollegas Iemand wat saam met jou werk.
kompliment Om iets vir iemand anders te sê wat wys dat jy hulle bewonder of dat hulle iets goeds gedoen het.
kopiereg Die alleenreg wat ’n kunstenaar/maatskappy/persoon het op ’n bepaalde oorspronklike produk/kunswerk.
logika Die wetenskap wat ’n mens leer om helder en reg te dink, om oorsaak en gevolg korrek op mekaar te laat volg.
merkantilisme Merkantilisme is ’n ekonomiese beleid/stelsel waardeur ’n nasie daarop gemik is om meer uitvoere en minder invoere te hê.
monopolieë Dis die reg of beheer wat ʼn maatskappye het om alleen met ʼn sekere produk of in ʼn sekere gebied handel te dryf.
monteerbaan ’n Band of ander vervoerstelsel waarop dele van iets wat gebou word (soos ’n kar) outomaties van een punt na ’n ander beweeg.
morele filosofie Filosofie wat te doen het met dink oor wat reg en verkeerd is.
nasionale Iets vir die hele land.
ommekeer Wanneer iets heeltemal anders gedoen word as hoë dit voorheen gedoen is.
opbrengs Die wins wat jy kry wanneer jy ’n ekonomiese aktiwiteit doen.
patente ’n Dokument wat aan iemand die alleenreg gee om vir ’n sekere tyd ’n uitvindsel te maak en te verkoop.
pensioen ’n Bedrag geld wat ’n maatskappy of die staat gereeld betaal aan iemand wat nie (meer) vir hulle werk nie, byvoorbeeld omdat hy/sy reeds die ouderdom bereik het waarop mense aftree, of omdat hy/sy siek is.
politiek Bedrywighede waardeur mag in die openbare lewe verkry word.
privaat besit Wanneer individue hul besittings self besit en niemand dit by hulle mag vat nie.
gepubliseer Inligting, ʼn verhaal, gedigte, ens. in ʼn boek/tydskrif/ens. laat druk sodat mense dit kan lees.
raamwerk Die struktuur waarin iets gebeur.
regsgeleerdheid Wetenskaplike studie en opleiding in die regte; wetgeleerdheid.
rektor Hoof van ’n universiteit.
spesialisasie Wanneer jy in een gebied kundig word, of jou studie/tyd tot hoofsaaklik een vakgebied/aktiwiteit beperk.
streef Probeer; om iets te wil doen/reg te kry.
tariewe Produkte waarop mens in- en uitvoerkostes moet betaal.
teologie Bestudering van godsdiens en geloofsoortuigings; godgeleerdheid.
tot almal se voordeel sal strek Wanneer iets vir jou goed is.
tutor Privaat onderwyser.
uit te buit Om onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit iemand of iets te put.
vakuum Die toestand waar jy vry is van enige ander invloed.
verleë Skaam.
Verligting Tydperk in Europa se geskiedenis waar mense met nuwe idees oor politiek, godsdiens en mense se lewens gedink het.
vernaamste Belangrikste.
veroordeel Wanneer jy erg krities oor iets is.
vertrouelinge Iemand wat jy volledig vertrou en met wie jy alles kan deel.
voorstander Iemand wat iets voorstaan; pleitbesorger; verdediger; beskermer; aanhanger.
vooruitgang Wanneer jy vordering maak of sukses het.
vryemarkekonomie Waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit.

Lees hierdie artikels om jou kennis te verbreed

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Adam Smith se idees

Wat is kapitalisme?

Smith was deel van die Verligting

 

Foto: iStockGrafika: Hildegard BrummerGrafika: Hildegard BrummerGrafika: Hildegard Brummer
Gepubliseer op: 30 Januarie 2024 | Bygewerk op 3 April 2024