Vinnige feite

  • Plaatbewegings wissel van 10 tot 40 mm per jaar in die Mid-Atlantiese rif (ongeveer so vinnig soos wat vingernaels groei) tot ongeveer 160 mm per jaar by die Nazca-plaat (ongeveer so vinnig soos wat hare groei). 11
  • Die Hawaise eilande is geskep deur die Stille Oseaan-plaat, die wêreld se grootste plaat op meer as 100 miljoen vierkante kilometer. 12
  • Die Himalaja-bergreeks en die Tibetaanse plato is gevorm as gevolg van die botsing tussen die Indiese plaat en die Eurasiese plaat wat 50 miljoen jaar gelede begin het en vandag steeds voortduur. Die Himalajas styg steeds meer as 1 cm per jaar namate Indië verder noordwaarts na Asië beweeg, wat die voorkoms van aardbewings in die streek vandag verklaar. 13
Foto: iStock

Die kors van die aarde bestaan uit groot, bewegende stukke wat tektoniese plate genoem word. Tektoniese plate bestaan uit oseaniese en kontinentale litosfeer. Al die land en water is bo-op hierdie plate. Die plate bestaan uit soliede rots en onder die plate is ’n swakker laag gedeeltelik gesmelte rots. Die plate beweeg gedurig oor hierdie swakker laag. 1

 

Jy kan ook aan tektoniese plate dink as ’n reuse-legkaart wat die aarde onder die grond bedek. Die grense van hierdie “legkaartstukke”, wat ons nie met die blote oog kan sien nie, stamp en skuur teen mekaar en beweeg gedurig, hoewel dit net ’n paar sentimeter per jaar is. Die grenslyne word gekenmerk deur verskuiwingslyne. Hierdie beweging laat allerlei natuurverskynsels, soos vulkane, aardbewings en tsoenami’s, gebeur.

Daar is sewe hoof- tektoniese plate asook ’n klomp kleiner plate. 2 Die Wêreldatlas noem sewe hoofplate: Afrika-, Antarktika-, Eurasiese, Indo-Australiese, Noord-Amerikaanse, Stille Oseaan– en Suid-Amerikaanse plate. Tektoniese plate is enorm en tot sowat 100 km dik. 3

Vernaamste plate

  • Afrika-plaat – ’n Belangrike tektoniese plaat onder Afrika wes van die Oos-Afrika-skeur – 61 300 000 km2
  • Antarktiese plaat – ’n Tektoniese plaat waarop die vasteland van Antarktika rus en wat uitwaarts onder die omliggende oseane uitstrek – 60 900 000 km2
  • Eurasiese plaat – ’n Tektoniese plaat wat die grootste deel van die vasteland van Eurasië insluit – 67 800 000 km2
  • Indo-Australiese plaat – ’n Belangrike tektoniese plaat wat gevorm word deur die samesmelting van die Indiese en Australiese plate – 58 900 000 km2. Dit word dikwels as twee plate beskou: 4
    • Australiese plaat – ’n Groot tektoniese plaat, oorspronklik ’n deel van die antieke kontinent Gondwana – 47 000 000 km2
    • Indiese plaat – ’n Klein tektoniese plaat wat van Gondwana geskei is – 11 900 000 km2
  • Noord-Amerikaanse plaat – ’n Groot tektoniese plaat onder die grootste deel van Noord-Amerika, Groenland en ’n deel van Siberië – 75 900 000 km2
  • Stille Oseaan-plaat – ’n Oseaniese tektoniese plaat onder die Stille Oseaan – 103 300 000 km2
  • Suid-Amerikaanse plaat – ’n Groot tektoniese plaat onder die grootste deel van Suid-Amerika en ’n groot deel van die suidelike Atlantiese Oseaan – 43 600 000 km2.

Twee soorte

Daar word tussen twee hoofsoorte tektoniese plate onderskei, naamlik oseaniese en kontinentale plate. Oseaniese plate bestaan uit ’n oseaniese kors genaamd “sima”. Sima bestaan hoofsaaklik uit silikon en magnesium (dit is waar dit sy naam kry). Kontinentale plate bestaan weer uit ’n kontinentale kors genaamd “sial”. Sial bestaan hoofsaaklik uit silikon en aluminium. 5

Só beweeg tektoniese plate

Die beweging van tektoniese plate is die duidelikste by die grense (of foutlyne) tussen die plate.

Daar is drie hooftipes grense:

  • Samelopende of konvergerende grense – ’n Konvergerende grens is waar twee tektoniese plate teen mekaar druk. Soms beweeg die een plaat onder die ander in. Dit word subduksie genoem. Hoewel die beweging stadig is, kan samelopende grense geologiese aktiwiteite afgee, soos die vorming van berge en vulkane. Die Himalaja-bergreeks is gevorm toe die Indiese en Eurasiese plaat ongeveer 40 tot 50 miljoen jaar gelede gebots het. Dit kan ook gebiede wees waar aardbewings gereeld voorkom.
  • Afwykende- of divergerende grense – ’n Afwykende grens is een waar twee plate van mekaar wegbeweeg. Die gebied op die land waar die grens voorkom, word ’n breuk of skeurvallei genoem. Nuwe land word gevorm deur magma wat van die mantel af opstoot en afkoel soos dit die oppervlak bereik. Die 6 000 kilometer-lange Groot Skeurvallei aan die oostekant van die Afrika-kontinent is ’n voorbeeld van ’n afwykende grens. Dié vallei strek van die Mosambiekse kus tot in Sirië, in die noorde van Afrika. 6
  • Transformasiegrense – ’n Transformasiegrens is waar twee plate verby mekaar skuif. Hierdie plekke word dikwels foute genoem en kan ook gebiede wees waar aardbewings gereeld voorkom wanneer die plate skielik skuif en hul energie in konsentriese sirkels uitbeweeg. 7

Die kontinente beweeg!

Tektoniese plate het al honderdmiljoene jare oor die aarde se oppervlak beweeg. Soos die plate beweeg, beweeg die vastelande daarop ook. Hierdie beweging word kontinentale drywing genoem. 8

Wetenskaplikes reken dat dit ongeveer 500 miljoen jaar sal neem voordat al die vastelande saamsmelt in een groot kontinent – of superkontinent – en dan weer uitmekaar breek. ’n Aantal superkontinente het deur die eeue op aarde gevorm en uitmekaar gebreek. Die onlangste superkontinent, genaamd Pangaea, het ongeveer 270 miljoen jaar gelede ontstaan. Pangaea lê oor ’n plaatgrens en het stadig uitmekaar gebreek. Stygende magma het die ruimte ingevul wat uiteindelik die vloer van die Atlantiese Oseaan geword het.

Een stuk bevat dele van wat tans Noord-Amerika, Europa en Asië is. Hierdie stuk, genaamd Laurasia, het noordwaarts gedryf. Die ander stuk van Pangaea bevat dele van die huidige Antarktika, Afrika, Suid-Amerika en Australië. Hierdie deel, genaamd Gondwanaland, het suid gedryf. Uiteindelik het Laurasia en Gondwanaland ook uitmekaar gebreek en die vastelande het stadig beweeg na die plekke waar hulle nou is. As die vastelande teen mekaar geskuif sou word, sal dit soos legkaartstukke inmekaar pas. 9

Vulkane, aardbewings en tsoenami’s

Vulkane – ’n Vulkaan is ’n berg of heuwel met ’n opening aan die bokant waardeur lawa, rots en gasse ontsnap. Vulkane word gevorm wanneer swaarder tektoniese plate bots en onder ligter tektoniese plate ingly. Die ligter tektoniese plaat wat bo-op is, begin dan smelt en word magma genoem. Soos dit opwaarts stoot, afkoel en hard word, word die lae bo-op mekaar gestapel en vorm uiteindelik ’n vulkaan. Vulkane kom meestal voor in ’n sekere gebied van die aarde genaamd die Ring van Vuur 10 (“The Ring of Fire”). Die Ring van Vuur is ’n sirkel van vulkane wat langs die rand van Kalifornië in die VSA geleë is en strek tot by Asië. Hierdie gebied van die aarde bevat meer as 75% van die wêreld se vulkane!

Aardbewings – Aardbewings vind plaas wanneer tektoniese plate teen mekaar bots of as die rante van die plate by die verskuiwingsones vashaak en geweldige spanning veroorsaak. Wanneer die spanning vrygestel word, beweeg die energie deur seismiese golwe uitwaarts na die oppervlak. Hierdie vinnige beweging is wat die aarde laat bewe. Die episentrum is die plek op die aardoppervlak vertikaal bokant die oorsprong of hiposentrum. Meer as 80% van die ergste aardbewings kom rondom die Ring van Vuur voor, wat beteken dat aardbewings ook deur vulkaniese aktiwiteit gevorm word.

Tsoenami’s – ’n Tsoenami, of getygolf, is ’n reuse-golf wat in die middel van die oseaan begin en gewoonlik na die land toe beweeg. Tsoenami’s word ook veroorsaak deur die verskuiwing van tektoniese plate, en begin vanaf ’n aardbewing of ’n sterk vulkaniese uitbarsting in die middel van die oseaan. Sowat 80% van alle tsoenami’s begin in die Ring van Vuur.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Tektoniese plate – die vel van ons planeet

Tektoniese plate

Tektoniese plate en aardbewings

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024