Vinnige feite

  • Ongeveer 85% van alle plantlewe kom in die see voor.
  • Meer as 70 000 verskillende plantsoorte word vir medisyne gebruik en die aarde het omtrent 80 000 soorte eetbare plante. 6
  • Bamboes is volgens SoftSchool.com die plant wat die vinnigste groei. Daar is meer as 1 500 soorte bamboes en dié lang dun plant groei elke dag amper ’n meter!
  • Die meeste mense dink aan rose net as blomme. Die roosfamilie bevat ook vrugte. In werklikheid is appels, perskes, appelkose, kersies, pruime, aarbeie en ander bessies deel van dieselfde familie. Nog ’n prettige feit is dat roosblare eetbaar is. 7
  • Aarbeie is die enigste vrugte wat se saadjies aan die buitekant van die vrug sit. En hulle het báie saadjies – tot 200 per aarbei. 8
  • Die kremetartboom, wat in Afrika voorkom, kan 1 000 tot 120 000 liter water in sy geswelde stam bêre! 9 Nog ’n interessante feit is dat die kremetartboom eintlik ’n vetplant is – die grootste in die wêreld. 10
Foto: iStock

Net soos mense, gaan alle lewende organismes deur ’n aantal verskillende lewensiklusse. Elkeen van ons het as ’n sigoot (bevrugte eiersel) begin en tot ’n embrio en fetus in ons ma se baarmoeder ontwikkel. Kinders word groot en kry weer kinders van hul eie. Ons kyk dikwels na plante en vergeet dat dit ook lewende dinge is, net soos mense en diere. Daar is so baie dinge wat binne ’n plant gebeur, wat ons nie eens raaksien nie. Tog het plante ook ’n hele lewensiklus van saadjie tot groot plant of boom wat vrugte en/of blomme dra en nuwe saad maak.

Sommige volwasse plante gaan ná net een seisoen dood. Hierdie plante word eenjarige plante genoem omdat hulle net vir een jaar lank lewe. Ander plante bly lank leef en maak elke lente en somer nuwe blomme, vrugte en sade. Hierdie plante word weer meerjarige plante genoem. 1

Hoewel die meeste plante as saadjies begin, is daar plante wat nie uit saadjies begin groei nie. Sommige plante soos varings en mos groei nie uit sade nie. Pleks van saadjies, groei hulle uit klein, fyn korreltjies wat ons spore noem. Spore word deur die wind na ander plekke gewaai, waar dit op die grond beland en nuwe plantjies vorm. Dié niesaaddraende plante, wat ook nie blomme dra nie, se lewensiklus lyk bietjie anders as die meeste plante s’n wat uit saadjies ontstaan.

Kom ons kyk hoe verloop die proses van saadjie tot ’n volwasse plant wat weer sy eie saad maak. Op die foto kan die sorusse of voortplantingsorgane van ’n varingplant gesien word.  Wanneer die sorusse ryp is, word die spore vrygestel. Die lieweheersbesie kan moontlik van die spore op sy lyf kry en na ’n gunstige habitat versprei waar ’n nuwe plant sal groei. Spore word egter meestal deur wind of water versprei.

Bestuiwing

Plante wat blomme dra, maak sade deur ’n proses wat ons bestuiwing noem. 2 Die blom het twee baie belangrike deeltjies wat nodig is vir bestuiwing om te kan plaasvind: die meeldraad en die stamper. Die meeldrade is die manlike deel van die plant en die stamper, tesame met die styl en vrugbeginsel, die vroulike deel. Die meeldraad maak stuifmeel (dit lyk amper soos ’n fyn poeier en is baie keer bruin of geel), en die stamper maak klein eiertjies wat groei tot sade as die plant bestuif word.

Wanneer stuifmeel van die meeldraad op die stamper val, vind bestuiwing plaas en word daar saad geproduseer. Net soos ’n baba ontwikkel as ’n sperm- en eiersel bymekaar kom, net so moet die plant se stuifmeel by die stamper uitkom en met die stuifmeelbuis afbeweeg tot binne-in die vrugbeginsel, om ’n saadjie te vorm. Bestuiwing kan net tussen plante van dieselfde soort plaasvind. Slegs ’n madeliefie kan byvoorbeeld ’n madeliefie bestuif.

Wanneer ’n plant se stuifmeel op sy eie stamper val, word dit selfbestuiwing genoem. Wanneer meeldrade van ’n plant stuifmeel na die stamper van ’n ander plant van dieselfde soort oordra, word dit kruisbestuiwing genoem. Kruisbestuiwing is baie goed, want dit verseker sterker en gesonder plante. Maar hoe kom die stuifmeel van een plant tot by ’n ander plant? Daar is ’n paar verskillende maniere waarop dit kan gebeur.

Sommige plante word bestuif deur insekte soos bye en skoenlappers asook voëls. Hierdie diere eet die nektar of stuifmeel van die plante. Terwyl hulle eet, sit die taai stuifmeel aan hul lywe vas. As hulle dan na ’n ander blom vlieg om verder te eet, vryf die stuifmeel af en word die blom bestuif. Plante is spesiaal aangepas om deur sekere diere bestuif te word. Plante wat deur voëls en insekte bestuif word, dra dikwels blomme met helderkleurige kroonblare om dié diertjies – wat bestuiwers genoem word – te lok.

Soms waai die wind stuifmeel van een plant na ’n ander. Ander kere bestuif mense doelbewus plante deur die stuifmeel van een plant se meeldraad na ’n ander plant se stamper oor te dra. Terwyl sommige plante net een saadjie produseer vir elke blom of vrug wat aan die plant groei, maak ander honderde en selfs duisende sade vir elke blom.

Saadjie tot saailing

Sodra sade tydens bestuiwing gemaak word, begin die eerste fase van die plant se lewensiklus. Binne-in die saad is ’n embrio, of ’n piepklein plantjie. Die embrio word beskerm deur ’n buitenste dop of lagie wat ’n saadlaag genoem word. 3

Vir die embrio om uit die saadjie te kan groei, moet dit in die grond geplant word. Soms plant mense sade (soos die blom- of groentesade wat ’n mens by die kwekery koop). Sade kan ook vanself of deur insekte of voëls op die grond val laat val word of deur die wind rondgewaai word. Baie sade wat deur diere geëet word, is bestand teen die dier se spysverteringstelsel en word nie deur maagsappe verteer nie. Dié saad  word weer uitgeskei waar dit op die grond beland en ’n nuwe plant laat groei indien die toestande geskik is.

’n Saadjie begin nie dadelik groei nie. Dit het vier baie belangrike dinge nodig om te groei: koolstofdioksied, water, die regte tipe lig (sommige plante hou van baie sonlig en ander verkies skadu) en die regte temperatuur. As die saad al vier dié dinge kry, kan dit ontkiem.

Wanneer ’n saadjie ontkiem, stoot die loot (klein stingeltjie) en kiemblaartjies deur die saadhuid en begin bo die grond uitloer waar die saad geplant is. Die kiemwortels begin in die grond groei, waar dit voedingstowwe en water opneem om die nuwe plant te laat groei. Hierdie nuwe plantjie word ’n saailing genoem. Op die foto kan die kiemwortel en kiemblare mooi gesien word.

Volwasse plant

Met die verloop van tyd, sal die saailing groei tot dit ’n groot, volwasse plant is. Dit kan egter slegs gebeur indien die toestande reg is, soos sonlig, genoeg water en die regte voedingstowwe. ’n Volwasse plant is ’n plant met volgroeide (stewige) wortels en blare. 4

Raai wat gebeur nóg met ’n volwasse plant? Dit maak die mooiste blomme! Blomme is die voortplantingsorgane van plante en hul funksie is om sade te maak sodat die siklus van vooraf kan begin. Nou kan die plant bestuif word en sade produseer (voortbring), wat sal groei tot saailinge, wat dan weer groei tot volwasse plante wat gereed is om bestuif te word. Dan herhaal die siklus weer en weer! Is dit nie wonderlik hoe die natuur werk om nuwe plante te maak nie? 5

Woordbank

loot Spruit/takkie aan ‘n plant wat pas uitgeloop het; nakomeling.
mos
Benaming vir verskillende klein groen/geel/bruin plantjes wat in digte massas op die grond, op rotse en klippe in koel, natterige plekke groei.
sigoot Sel wat ontstaan uit die versmelting van twee gamete. In mense se geval, smelt ‘n spermsel en eiersel saam om ‘n sigoot te vorm.
spore Enkele (ongeslagtelike) sel wat in staat is om tot ‘n (nuwe) plant te ontwikkel.
spysverteringstelsel Die omskakeling in die liggaam van voedsel wat deur die bloedstroom opgeneem kan word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die lewensiklus van ‘n plant

Hoe word ‘n saadjie ‘n plant? 

Plante se lewensiklus

Foto: iStockFoto: Jacques du PlessisFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockGrafika: Jacques du PlessisGrafika: Jacques du PlessisFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Desember 2021 | Bygewerk op 19 Oktober 2023