Vinnige feite
- Holi, wat ook die fees van kleure genoem word, is ’n Hindoe-lentefees wat oral in Indië gevier word om die koms van die lente en die oorwinning van goed oor kwaad te verwelkom.
- Elke jaar vier Christene oor die wêreld heen Paasfees. Dit is van die belangrikste Christelike vakansiedae
- Hajj en Eid al-Adha is die grootste Islamfeeste in die Moslemgodsdiens.
- Moslems beskou Ramadan as ’n heilige maand. Om te vas (niks te eet nie), is een van die vyf basiese pilare van Islam.
’n Fees is ’n byeenkoms of spesiale samekoms van mense om iets te vier. Dit kan ook verwys na ’n spesifieke dag of groep dae wanneer mense in ’n land vakansie hou sodat hulle iets kan vier. Feeste kan enigiets wees van musiek-, dans-, poësie– tot rolprentfeeste. Die belangrikste feeste wat deur die meeste mense wêreldwyd gevier word, is godsdienstige of geloofsfeeste. 1
Baie godsdienste of gelowe hou ’n fees ter ere van die god van daardie geloof. Die meeste gelowe het jaarliks feeste soos die Pasga, Paasfees en Eid al-Adha. Wanneer hierdie feeste gehou word, word bepaal deur maan– of landbousiklusse of deur die kalender wat in antieke tye gebruik is. Die Sed-fees het byvoorbeeld die dertigste jaar van die regering van ’n Egiptiese farao gevier en is daarna elke drie jaar (of vier jaar in een geval) gehou.
In die Christelike liturgiese kalender is daar twee hooffeeste, naamlik die Fees van die Geboorte van ons Here (Kersfees) en die Fees van die Opstanding (Paasfees). In die Katolieke, Oosters-Ortodokse en Anglikaanse liturgiese kalenders is daar ’n groot aantal kleiner feeste gedurende die jaar wat heiliges, heilige gebeure of leerstellings herdenk.
Boeddhistiese godsdienstige feeste, soos Esala Perahera, word in Sri Lanka en Thailand gehou. Hindoe-feeste, soos Holi, is baie oud. Die Sikh-gemeenskap hou weer die Vaisakhi-fees ter viering van die nuwe jaar en die totstandkoming van hul gemeenskap, die Khalsa. 1
Hier is van die vernaamste feeste wat deur Christene, Moslems en Hindoes wêreldwyd gevier word:
Christenfeeste
Paasfees
Elke jaar vier Christene oor die wêreld heen Paasfees. Dit is van die belangrikste Christelike vakansiedae. Dié fees vier die dood en opstanding van Jesus Christus as versoening vir die sondes van die mensdom. Daar is egter geen vasgestelde datum vir Paasfees nie. Dit kan op enige datum tussen 22 Maart en 25 April val. Mense hou Paasfees vir ’n periode van drie dae wat op ’n Vrydag begin. Hierdie dag staan bekend as Goeie Vrydag, die dag van Jesus se dood deur die kruisiging. Dit strek tot Sondag, ook bekend as Paassondag, toe Jesus uit die dood opgestaan het. Voordat Paasfees begin, vas en bid sommige Christene vir ’n tydperk van 40 dae. 2
Hemelvaart
Die viering van Jesus se hemelvaart is een van die hooffeeste en word Hemelvaartdag genoem. Hemelvaartdag val altyd op die veertigste dag ná Goeie Vrydag, vandaar dat die datum elke jaar verskil. Hemelvaartdag val wél elke jaar op ’n Donderdag en is tien dae voor Pinkster. Hemelvaart beteken in die Christendom die terugkeer van Jesus na sy Vader in die hemel. Die Lukas-evangelie en Handelinge vertel die verhaal van hoe Jesus ná die opstanding verskeie kere aan sy apostels en volgelinge verskyn het. Ná 40 dae styg Hy op na die hemel.
Pinkster
Pinkster is ’n Christelike herinnering van Jesus se belofte aan sy volgelinge dat hy 50 dae ná sy opstanding ’n helper, die Heilige Gees, sou stuur om hulle met nuwe krag te beklee. Pinkster word sedert die 3de eeu as ’n Christelike fees gevier en is gegrond op die Joodse tradisie van die Wekefees (Hebreeus: Sjawoe’ot), wat 50 dae ná die Pasgafees (Hebreeus: Pesach) gevier is. In ooreenstemming hiermee val die Christelike Pinksterfees op die vyftigste dag ná Paasfees.
Kersfees
Hierdie Christelike tradisie is een van die grootste Christelike feeste ter wêreld, wat die geboorte van Jesus Christus elke jaar op 25 Desember gedenk. As die Messias het Jesus gekom en gesterf vir mense se sondes. Mense in meer as 160 lande oor die wêreld heen vier dié geleentheid, selfs nie-Christene. Mense vier gewoonlik Kersfees deur geskenke vir mekaar te gee, welwillendheid te betoon en aan verskillende maaltye te smul. Daarbenewens kom die meeste gesinne oor dié tyd van die jaar saam om fees te vier.
Moslemfeeste
Hajj en Eid al-Adha is die grootste Islamfeeste in die Moslemgodsdiens. Elke Moslem moet Hajj vier deur na Mekka te reis. Hierdie gebeurtenis is jaarliks die grootste enkele Moslembyeenkoms. Moslems vier normaalweg Eid al-Adha onmiddellik ná Hajj. Moslems onderneem die pelgrimstog as ’n godsdienstige plig wat deel uitmaak van die vyf basiese pilare van die Moslemgeloof. Daarbenewens is dit ’n bewys van eenheid onder die Moslems omdat hulle onderdanigheid toon aan Allah, hul god.
Moslems beskou Ramadan as ’n heilige maand. Om te vas (niks te eet nie), is een van die vyf basiese pilare van Islam. Die maand is ook vir die voordrag van die Heilige Koran, hul bybel. Ramadan vind in die negende maand van die Moslemkalender plaas as ’n seremonie om jouself geestelik te vernuwe. Moslems glo dat die poorte na die hemel gedurende hierdie tydperk oopgaan, terwyl die hel verseël is. Islamgelowiges bid meer as gewoonlik gedurende hierdie tydperk as ’n manier om die gees te voed. Eid al-Fitr dui die einde van die vastydperk aan.
Eid al-Adha is ’n vierdaagse viering. Moslems trek hul beste klere aan en gaan na die moskee om te bid en Allah te bedank vir die seën in hul lewe. Dié viering is ’n tyd om saam met familie en vriende te kuier, maar ook om iets terug te gee aan die gemeenskap, veral die armes. As deel van Eid al-Adha slag gesinne ’n dier ter nagedagtenis aan Abraham se gehoorsaamheid aan Allah.
Hindoefeeste
Holi, wat ook die fees van kleure genoem word, is ’n Hindoe-lentefees wat oral in Indië gevier word om die koms van die lente en die oorwinning van goed oor kwaad te verwelkom. Die fees strek oor ’n nag en ’n dag en begin op die aand van die volmaan-dag met godsdienstige rituele wat rondom ’n vreugdevuur uitgevoer word. Die volgende dag is Rangwali Holi en gekleurde poeiers genaamd “gulal” word in die lug gegooi. Die verskillende kleure is simbolies, met rooi wat liefde en vrugbaarheid voorstel, blou wat Krishna (’n Hindoe-god) voorstel en groen wat die lente en ’n nuwe begin voorstel.
Diwali, ook bekend as die fees van liggies, is nog ’n vername godsdienstige Hindoefees. Hindoes vier dit oor ’n periode van vyf dae. Tydens Diwali vier mense die triomf van goed oor kwaad. Hindoes vier die geleentheid deur kerse aan te steek en met kleurvolle vuurwerke. Hulle maak hul huise skoon en versier dit dan met kleurvolle patrone, genaamd rangoli, wat op die vloer geteken of met blomme gepak word. Gedurende hierdie tyd gee mense ook terug aan die gemeenskap en minderbevoorregtes, en gee vir mekaar geskenke en lekkers. Hulle bid ook elke aand tot Lakshmi, die godin van geluk en voorspoed.
Navarati is ’n tradisionele Hindoefees en een van die groot godsdienstige feeste van Indië. Hindoes vier dié fees oor nege dae. Uit die nege dae wy hulle drie dae aan die aanbidding van Maa Durga (die godin van dapperheid), Maa Lakshmi (die godin van rykdom) en Maa Saraswati (die godin van kennis). Gedurende die viering gee Hindoes voorrang aan vas en fees bo al die normale aktiwiteite van die dag. In die aande is daar godsdienstige danse. Ook die tiende dag, bekend as Dussehra, word met baie godsdienstige ywer gevier.
Nog tien feeste wêreldwyd
Aboakyere – Die Effutu-inwoners van Ghana offer elke lente ’n takbok aan die god Panche Otu. Twee spanne mans en seuns, geklee in helder kostuums, ding mee om die eerste te wees wat ’n lewendige takbok terugbring na die hoofman, waarna almal saam dans. Die mans en seuns mag egter geen wapens gebruik nie. 3
Arapaho-sondans – Dié godsdienstige fees vind gedurende die Amerikaanse somer in Wyoming in die VSA plaas. Cheyenne, Arapaho, Shoshone en lede van ander Indiaanstamme dans rondom ’n paal waarop ’n buffelkop gemonteer is. Die buffel is ’n simbool van oorvloed en die Indiane vra met dié seremonie vir geluk in die komende jaar.
La Posada – Dié fees word nege dae voor Kersfees in Mexiko en baie dele van Sentraal-Amerika gevier. Dit gedenk die reis wat Josef en Maria onderneem het om skuiling te vind voor die geboorte van Jesus.
Obon – Japannese mense hou die herinnering aan hul voorouers lewend met ’n fees wat gedurende die Japannese somer gehou word. Mense steek kerse en lanterns aan en laat dit op die water dryf. Hulle besoek en maak ook die grafte van geliefdes skoon. In die antieke stad Kyoto steek mense reusevure aan. In die Japannese Boeddhistiese tradisie word ’n spesiale dans genaamd die Bon-dans gehou om die siele van oorlede familielede huis toe te lei. 3
St. Lucia-dag – Om hierdie 3de-eeuse heilige te vereer, trek talle meisies in Swede op 13 Desember as “Lucia-bruide” aan. Hulle dra lang, wit rokke met rooi serpe, en sit ook ’n krans van brandende kerse op hul koppe. Hulle maak hul gesinne wakker deur liedjies te sing en vir hulle koffie en gedraaide saffraanbroodjies genaamd Lucia-katte te bring.
Dag van die dooies – Día de Muertos in Spaans, is ’n viering ter ere van vriende en familie wat oorlede is. Hoewel die naam dalk somber klink, is dit ’n kleurryke affêre met tradisionele kostuums en grimering van skelette en kopbene. Daar word geglo dat die geeste van die dooies vir een dag terugkeer om by hul gesinne te wees. Offers bestaande uit kos, blomme (veral Mexikaanse gousblomme), kleurvolle suikerskedels en kerse word oral neergesit. Blomme stel die verganklikheid van die lewe voor en die kerslig is om die dooies op hul pad terug te lei. Vieringe vind regoor Mexiko plaas met markte, musiek en partytjies in begraafplase.
Inti Raymi – Dit is ’n godsdienstige seremonie ter ere van Inti, die Inka-songod, en beteken “fees van die son” in die hoof- Inkataal, Quechuan. Die fees vind op 24 Junie plaas ter viering van die wintersonstilstand en is ook die begin van die Inka-nuwejaar. Die sonstilstand is eintlik op 21 Junie in die Suidelike Halfrond, maar die Inka’s het geglo dat die son eers weer op die 24ste in die lug begin opkom. Die fees word oor die Andes heen gevier, maar die middelpunt is in Cuzco, die hoofstad van die Inkaryk. Die fees behels straatvertonings met volksdanse, optogte en kleurvolle kostuums.
Waisak – Dit is die viering van die Boeddha se geboorte, verligting en dood, en is die heiligste dag op die Boeddhistiese kalender. Dit word deur die hele Boeddhistiese wêreld gevier, maar nie oral op dieselfde dag of onder dieselfde naam nie. In Indonesië word Waisak tydens die volmaan in Mei gevier by die Borobudur-tempel in Java, ’n Unesco-wêrelderfenisterrein. Dié tempel is die grootste Boeddhistiese struktuur op aarde. Dit is ’n kleurryke fees met mense wat heilige water en kerse in optogte dra. Boeddhistiese monnike omring die tempel in ’n ritueel genaamd Pradaksina, en dan word puja-lanterns in die lug opgestuur as ’n simbool van lig en verligting.
Semana Santa (Heilige week) – Dié skouspelagtige fees word gevier in die aanloop tot Paasfees in ’n groot deel van die Katolieke wêreld, veral in Guatemala. Die geplaveide strate word versier met blomme en kleurvolle saagseltapyte (alfrombras). Swaar standbeelde van Jesus en die Maagd Maria word deur Cucurucho (mans in pers klere met hoede, wat onder meer nederigheid voorstel) gedra. Die viering is ’n samesmelting van die Katolieke en Maya-godsdienste en -tradisies. 3
Chinese Nuwejaar – Chinese mense oor die wêreld heen vier die Chinese Nuwejaar, ook bekend as die lentefees, aan die einde van die winter. Dit kan op enige dag tussen 21 Januarie en 20 Februarie plaasvind. Volgens oorlewering is dit ’n dag van gebed aan die gode en om mitiese monsters af te weer, onder meer met ’n magdom vuurwerke en klappers. Die vierings duur vir ongeveer 40 dae, wat dit die langste van al die vierings maak.
Die viering is meestal ’n familiegeleentheid en daarom reis Chinese mense van oral om in dié tyd by hul geliefdes te wees. Soveel mense reis gedurende hierdie tydperk dat dit amptelik die grootste beweging van mense tegelykertyd in die hele wêreld is. Daarbenewens is ’n vreemde tradisie dat dit verbode is om op Nuwejaarsdag te stort omdat dit die geluk van die jong jaar kan afwas. 3
Woordbank
daarbenewens | Buiten dit wat reeds genoem is. |
oorlewering | Mondelinge oorvertelling; tradisie. |
verganklikheid | Iets wat vergaan, of sterflik is. |
monnike | Dit is mans wat hulself aan die wêreld onttrek en hul saam met ander in ʼn klooster heeltemal aan die godsdiens wy. |
seremonie | ’n Formele openbare of godsdienstige gebeurtenis of plegtigheid. |
ortodokse | Om streng vas te hou aan die leer van jou geloof. |
versoening | Om ‘n vyandskap tot ‘n einde te bring. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Godsdienstige feeste
5 grootste godsdienstige byeenkomste ter wêreld