Vinnige feite

  • In 2008 het ’n rolprent oor sy onderhoud met die joernalis David Frost, getiteld Frost/Nixon, verskyn. 3
  • Nixon is een van net twee mense (die ander is Franklin D. Roosevelt), wat vyf keer as kandidaat in ’n Amerikaanse presidensiële verkiesing gestaan het. Nixon het 4 uit die 5 gewen – twee keer as visepresident (in 1952 en 1956), en twee keer as president (1968 en 1972). 6
  • Nixon was op 22 November 1963 in Dallas. Dit was dieselfde dag as toe die sluipmoord op John F. Kennedy plaasgevind het. 12
  • Nixon kon vyf instrumente speel – klavier, saksofoon, klarinet, trekklavier en viool. 12
  • Hy is vernoem na Richard the Lionheart, die Middeleeuse Engelse koning. 12

Richard Nixon is waarskynlik een van die mees omstrede presidente in die geskiedenis van die Verenigde State van Amerika (VSA). Aan die een kant is hy die enigste Amerikaanse president ooit wat bedank het, en dit net omdat hy na alle waarskynlikheid afgedank sou word. Aan die ander kant het hy die spanning en vrees vir kernoorlog gedurende die Koue Oorlog verminder.

Grootwordjare

Richard Milhous Nixon is op 9 Januarie 1913 in Yorba Linda, Kalifornië, gebore. 1 Hy was die tweede van vyf seuns van Francis A. Nixon en Hannah Milhous Nixon. 2 Sy vier broers was Harold, Donald, Arthur en Edward. 1

Nixon se ma was ’n Kwaker. 3 Sy het ’n sterk konserwatiewe invloed op haar seuns se lewe gehad. 2

Die huis waarin Nixon grootgeword het in Yorba Linda, Kalifornië.

Twee van sy broers het vroeg in Richard se lewe gesterf: Arthur is in 1925 op 7-jarige ouderdom oorlede, 2 en sy oudste broer, Harold, in 1992 op 23. Harold was sy rolmodel en sy afsterwe het hom diep geraak. 3

Nixon se pa was eers ’n veeboer. Toe dít misluk het, het die familie na Whittier in Kalifornië getrek, waar hy ’n petrolstasie en kruidenierswinkel oopgemaak het. 2 Dit het egter deurentyd finansieel swaar gegaan. 1

Nixon se kinderjare was darem nie net swaarkry nie. Hy het self geskryf: “Ons was arm, maar die wonderlikste is dat ons dit nie geweet het nie.” 3 Hy het egter gestreef na ’n beter lewe en was dwarsdeur sy lewe uiters ambisieus. 1

Opvoeding

Nixon het die Whittier High School bygewoon. Hy was reeds ’n leier op skool, maar het die verkiesing vir president van die studenteraad verloor. 3

Hy het akademies uitstekend gevaar. Hy het ’n beurs gewen om by die Harvard-Universiteit te gaan studeer, maar sy familie kon nie die vervoer en verblyf bekostig nie. Hy skryf gevolglik by Whittier College, ’n plaaslike Kwaker-universiteit, in. 3

‘n Foto van Nixon as ‘n senior in Whittier College se jaarboek.

Hy was ’n uitstaande student, 2 en het ’n reputasie gebou as gedugte debatteerder, puik akteur en suksesvolle atleet. 3 Hy het hier wel die verkiesing vir president van die studenteraad gewen. 1

Hy voltooi sy graad in 1934 sy graad en ontvang ’n volle beurs, wat alles ingesluit het, om by die Duke University School of Law in Noord-Carolina te studeer. 3 Daar was hy die hoof van die studente se regsvereniging en een van die topstudente. 1

Die Duke University School of Law in Noord-Carolina.

Persoonlike lewe

Nixon was in sy vrye tyd ’n amateurakteur. Hy het vir Thelma Catherine “Pat” Ryan, ’n onderwyseres, ontmoet toe hulle in dieselfde verhoogstuk gespeel het. Hulle is in 1940 getroud. 3

Hulle het twee dogters gehad: Patricia (Tricia), wat in 1946 gebore is, en Julie, wat in 1948 gebore is. 4

Nixon saam met die joernalis Ted Knap.

Vroeë werksjare en diens in die vloot

Nixon het ná sy studies teruggekeer Whittier toe, waar hy as prokureur gepraktiseer het. 1

Nixon het egter te veel ambisie gehad om in Whittier te bly. Hy het dus in Augustus 1942 Washington DC toe getrek, waar hy in die staatsdiens gaan werk het.

Die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het in dié tyd gewoed, en die VSA het in Desember 1941 teen Japan oorlog verklaar. Nixon het by die vloot in die Stille Oseaan aangesluit as offisier. Hy het nooit self aan ’n geveg deelgeneem nie. Hy het hom egter goed van sy taak gekwyt en met eervolle vermelding na die VSA teruggekeer.

Nixon het ná die oorlog in die vloot aangebly, en is tot luitenant-kommandeur, ’n hoë rang, bevorder. Hy het egter in Januarie 1946 uit die vloot bedank. 3

Arturo Frondizi en Richard Nixon.

Kongres

Nixon was lid van die Republikeinse Party. In November 1946 het hy ’n setel in die Huis van Verteenwoordigers gewen.

In sy eerste termyn het hy ’n reputasie opgebou as internasionalis in buitelandse beleid. Hy het byvoorbeeld Europa toe gereis om verslag te lewer oor die Marshall-plan. 3

Nixon is as lid van die Huis van Verteenwoordigers se Un-American Activities Committee aangewys. Dié komitee het Amerikaanse burgers wat daarvan verdink is dat hulle ontrou aan die VSA óf kommuniste was, ondersoek. 5

Nixon was betrokke by die hoëprofielsaak teen Alger Hiss, ’n staatsamptenaar wat aangekla is dat hy ’n spioen vir die Sowjetunie (vandag Rusland) was. 1 Nixon se aggressiewe ondervraging van Hiss, en Hiss se skuldigbevinding, het Nixon se reputasie as vurige antikommunis gevestig. 3

Nixon is in 1950 tot die Senaat verkies. In die aanloop tot dié verkiesing het hy geslepe taktieke gebruik om sy teenstander se naam deur die modder te sleep. As gevolg hiervan het die media vir hom die bynaam Tricky Dick gegee (Dick is ’n bynaam vir iemand wat se naam Richard is). 3 Hy het die verkiesing gewen, maar kon nooit van die bynaam ontslae raak nie. 2

Visepresident

Dwight D. Eisenhower, die toekomstige Amerikaanse president, het in 1952 vir Nixon as sy kandidaat vir visepresident genomineer. 1 Nixon was net 39 jaar oud. 6

’n Paar maande ná die benoeming is Nixon daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld aanvaar het. Om die beskuldigings te weerlê, het hy die bekende “Checkers”-toespraak gemaak. In dié toespraak het hy gespot dat die enigste geskenk wat hy ooit aanvaar het, ’n babahondjie genaamd Checkers was, wat hy vir sy jongste dogter gegee het. 1

As gevolg van dié toespraak het Nixon die nominasie behou. Eisenhower het die verkiesing gewen en Nixon is in Januarie 1953 as die visepresident van die VSA beëdig.

Omdat Eisenhower gedurende sy presidensie gereeld siek was, was dit nodig om die magte van die visepresident duideliker uit te stippel. Nixon en Eisenhower se besluite hieroor het in 1967 uiteindelik wet geword. 3

Tydens sy visepresidensie het Nixon hoëprofielreise na die Verre Ooste, Afrika en LatynsAmerika onderneem om die VSA se Koue Oorlog-belange uit te brei.

In 1959 het hy Nikita Chroesjtsjof, die leier van die Sowjetunie, in Moskou ontmoet. Hulle het die beroemde Kombuis-debat gevoer – oor die twee lande se vermoë om vir hul mense ’n goeie lewe te gee. 2

Terugslae

In 1960 het Nixon in die presidensiële verkiesing teen John F. Kennedy, die kandidaat vir die Demokratiese Party, te staan gekom.

Dit was die eerste verkiesing waartydens die presidensiële debatte op televisie uitgesaai is. Kennedy het baie beter op die televisie vertoon as Nixon. 3 Nixon was by tye siek, en het afgemat gelyk. Kennedy, aan die ander kant, het jonk en gesond gelyk. 2

Dit was een van die gelykste verkiesings in die VSA. Nixon het naelskraap verloor: met slegs 120 000 uit amper 69 miljoen stemme. 7

Dit was vir Nixon ’n massiewe terugslag. Hy het die media daarvan beskuldig dat hulle hom aspris laat sleg lyk het. 1

Nixon het teruggekeer na Kalifornië en weer as prokureur gepraktiseer. Hy het ’n memoir, Six Crises, oor sy tyd in die regering geskryf. 3

In 1962 het hy ook die verkiesing vir goewerneur van Kalifornië verloor. Hy was weer vies vir die media, en het aan die verslaggewers gesê: “Nou het julle nie meer vir Nixon om rond te skop nie.” 1

Al was sy politieke toekoms duister, het Nixon in die politiek betrokke gebly. In die 1960’s het die VSA al hoe meer betrokke geraak in hulle antikommunistiese stryd in Viëtnam. Nixon het te midde die chaos van Viëtnam ’n kalm stem gebly. Mense het hom as ʼn ervare staatsman beskou en hy het steeds baie ondersteuners gehad. 3

Pad na presidensie

Nixon was nie seker of hy weer vir president wou staan nie. Dinge het egter in Maart 1968 verander. Lyndon Baines Johnson, die president wat vir John F. Kennedy opgevolg het ná laasgenoemde se sluipmoord, het aangekondig dat hy nie ʼn herverkiesing as president sou soek nie. 8

Hierdie aankondiging het Nixon aangespoor om homself weer verkiesbaar te stel. 3

Die Viëtnam-oorlog het die VSA in twee geskeur. Daar was gewelddadige opstande en baie ongelukkigheid met die regering. 3 Terselfdertyd het vroue in die VSA op gelyke regte aangedring. Om dinge erger te maak, was daar ook rassegeweld. 1

Nixon se Demokratiese opponent was Hubert Humphrey. Nixon het die verkiesing met 500 000 stemme gewen, en is op 20 Januarie 1969 as die 37ste president van die VSA beëdig. 3

Nixon se binnelandse beleid

Nixon se binnelandse beleid was oor die algemeen suksesvol en deur meeste Amerikaners goedgekeur. Die volgende is noemenswaardig:

  • Die VSA het op 20 Julie 1969 op die maan geland. Dit was tydens Nixon se presidensie, hoewel die meeste van die werk in Kennedy en Johnson se jare gedoen is. 9
  • Die VSA se minimum ouderdom om te stem, is verlaag na 18 jaar. 2
  • Die desegregasie van skole is sonder te veel teenstand deurgevoer. 3
  • Hy het meer vroue in sy regering aangestel, ten spyte van teenkanting binne sy eie party. Hy het ’n taakmag aangestel om vroueregte te ondersoek, en probeer om geslagsdiskriminasie te verbied. 3
  • Die Clean Air Act (CAA) van 1970 het agentskappe geskep om na omgewingskwessies om te sien. 3
  • Hy het die gedwonge opkommandering van soldate vir die Vietnam-oorlog beëindig. 5

Nixon se buitelandse beleid

Nixon se buitelandse beleid was ’n sukses. Hy het die VSA se betrokkenheid in Viëtnam beëindig, en die VSA se verhouding met sy twee grootse Koue Oorlog-teenstanders, China en die Sowjetunie, opgeknap. 5

Viëtnam-oorlog

Die Viëtnam-oorlog was die vernaamste kwessie tydens Nixon se eerste termyn.

Nixon moes die VSA uit Viëtnam onttrek, maar terselfdertyd die VSA se reputasie probeer red. Hy het dus Amerikaanse troepe onttrek terwyl hy ’n reusagtige bomveldtog in Viëtnam, en Viëtnam se twee buurlande, Laos en Kambodja, van stapel gestuur het. 3

Hy het ook die Nixon-leer, ook bekend as Viëtnamisering, aanvaar. Die idee was om Amerikaanse troepe in Viëtnam met Viëtnamese troepe te vervang, sodat die Suid-Viëtnamese hul eie verdediging kon oorneem. 3

In 1973 is die oorlog beëindig, en die laaste Amerikaanse troepe het Viëtnam verlaat. 1

Pres. Richard Nixon, Shirley Temple Black en Brent Scowcroft.

China

In Februarie 1972 het Nixon ’n historiese besoek aan China gebring. Nixon en sy vrou, Pat, het vir ’n week lank deur China gereis en die leiers, insluitende Mao Zedong, ontmoet. 2

Die besoek was ongehoord: die twee lande het nie diplomatieke bande, en inderdaad ook geen kontak met mekaar gehad nie.

Die besoek het die wêreld geskok. Dit was die eerste keer dat ’n sittende Amerikaanse president ’n kommunistiese land besoek het. 2 Dit het tot ’n nuwe era in die verhouding tussen die VSA en China gelei. Dit het ook die Sowjetunie gedwing om sy verhouding met die VSA te verbeter. 3

Richard en Pat Nixon (middel) by die Manila Internasionale Lughawe saam met Imelda en Ferdinand Marcos en hul kinders Irene, Bongbong en Imee.

Détente met die Sowjetunie en kernwapenbeperkings

Nixon het ’n beleid van détente in die Koue Oorlog voorgestaan. Die doel hiervan was om spanning met die Sowjetunie, wat sedert die 1960’s aan die opbou was, te verminder.

In 1972 het die VSA en die Sowjetunie die beroemde SALTooreenkoms onderteken. Dit het die doel gehad om die kernwedloop te beperk, en sodoende spanning tussen die VSA en die Sowjetunie te verminder. 10

Kort ná sy besoek aan China het Nixon in Mei 1972 ook ’n historiese besoek aan die Sowjetunie gebring. Hy het met Leonid Brezjnjef, die leier van die Sowjetunie, vergader. Dit was die eerste keer dat ’n sittende Amerikaanse president die Sowjetunie besoek het. 11

Ander buitelandse betrokkenheid

Nixon het die VSA se invloed in MiddeOoste uitgebrei.

Hy het in Latyns-Amerika kommunisme teengestaan deur antikommunistiese diktators te ondersteun. In Chili, byvoorbeeld, het hy ongeoorloofde operasies teen ’n demokraties-verkose regering onder leiding van Salvador Allende goedgekeur. Allende se regering is met ’n staatsgreep omvergewerp en is deur die antikommunistiese diktator Auguste Pinochet vervang. 3

Richard en Bebe Rebozo.

Watergate en bedanking

Nixon het die 1972-verkiesing oortuigend gewen. Hy het met meer as 20 miljoen stemme gewen, 2 een van die grootste oorwinnings in die VSA se geskiedenis. 5

Nixon het egter gedurende die verkiesingsveldtog politieke sabotasie en spioenasie gebruik om sy teenstander, George McGovern, te ondermyn. 3

Kort ná die oorwinning het gerugte die rondte begin gedoen dat Nixon by ’n inbraak by die Watergate-kompleks in Washington D.C. betrokke was. 3 Watergate was die hoofkwartier van die Demokratiese Party se Nasionale Komitee, die komitee wat die party se sake reël. 1 Die doel van die inbraak was om afluisterapparaat te plant. 2

Nixon se bedankingsbrief.

’n Ondersoek is begin wat bewys het dat Nixon se assistente betrokke was. Die ondersoek het ook bewys dat Nixon daarvan geweet het. Nixon het dit ontken. 3

Verhore het in Mei 1974 begin, en daar is van meet af aan bewys dat Nixon betrokke was. 3 Daar het boonop ook bewyse uitgekom dat hy afluisterapparaat in die Withuis laat plant het. 2

Pres. Richard Nixon, met sy familie langs hom, lewer sy afskeidstoespraak.

Dit het gou duidelik geword dat hy vervolg sou word. Hy het daarom op 9 Augustus 1974 bedank. 3

Hy is deur sy visepresident, Gerald Ford, opgevolg. Ford het hom op 8 September 1974 van skuld kwytgeskeld, wat beteken dat hy nie vervolg mag word nie. 3

Aftrede en dood

Nixon het in Kalifornië gaan aftree. Hy was aanvanklik baie ontnugter oor wat gebeur het.

Teen 1977 het hy sodoende herstel dat hy ’n reeks onderhoude met die Britse joernalis David Frost gevoer het om sy reputasie te red. Dit het gemengde reaksie ontlok. 3

In 1978 het sy outobiografie, RN: The Memoirs of Richard Nixon, verskyn. Dit was ’n uiters persoonlike ontleding van sy lewe en presidensie. Die boek het gou ’n topverkoper geword. Saam met sy ander boeke oor buitelandse beleid het sy reputasie wel begin herstel.

Hy is al hoe meer as kundige op buitelandse beleid gesien. 3 Hy het baie gereis en is deur Demokratiese én Republikeinse presidente vir advies genader. 1

Richard Nixon en presidentsvrou Pat Nixon saam met die aktrises Debbie Reynolds en Carrie Fisher.

Dood

Nixon se vrou, Pat, het op 22 Junie 1993 aan longkanker gesterf. Dit was vir hom ’n groot terugslag. 3

Minder as ’n jaar ná haar dood, op 18 April 1994, het hy aan ’n beroerte in New York City gesterf. 2

Meer as 50 000 mense het sy oop kis-besigtiging bygewoon. Sommige het tot 18 uur in die reën gestaan om ʼn beurt te kry .

Hy is langs sy vrou in sy geboortedorp in Yorba Linda, Kalifornië, begrawe. 3

Richard en Pat Nixon.

Nalatenskap

Nixon is een van daardie historiese figure wat tweedrag gesaai het.

Hy was altyd half ongemaklik in die openbare oog, en het daarvan gehou om goed geheim te hou. 2 Sy swak verhouding met die media het sy openbare beeld skade aangedoen. 3

Aan die een kant het sy buitelandse beleid die wêreld veiliger laat voel deur die spanning van die Koue Oorlog te verminder. Aan die ander kant het hy sy mag misbruik om sy politieke mag te versterk.

Aan die einde van sy lewe het baie mense hom weer begin sien as ’n gerespekteerde, afgetrede staatsman. Ander sal hom egter altyd met die Watergate-skandaal assosieer. 1

Miskien was hy ’n voorbeeld van die beste en die slegste wat ’n lewe in die politiek kan lewer.

Woordbank

afgedank Om iemand se diens te beëindig.
afgemat Baie moeg, gedaan, uitgeput.
agentskappe Plekke wat iets organiseer.
aggressiewe Aanvallend; bakleierig, veglustig.
akademies Skolasties, universitêr, wat die studie betref, geleerd.
amateur Iemand wat ʼn werk, sport of kuns vir die plesier beoefen en nie omdat dit ʼn werk is of om baie geld daaruit te verdien nie.
ambisieus ʼn Sterk begeerte om suksesvol te wees of mag te hê.
bedank Sê dat jy nie meer vir iemand of by ʼn plek gaan werk nie; jou diens beëindig.
beroerte Skielike vermindering/verlies van bewussyn wanneer are wat suurstof na die brein bring, bars of deur ’n bloedklont verstop word.
beurs Bedrag geld wat aan ʼn student geskenk word vir verdere studie; studiebeurs.
debatteerder Op ’n sistematiese en gestruktureerde manier onderwerpe bespreek.
desegregasie Die beëindiging van ’n beleid van rassesegregasie (“segregasie” beteken “skeiding”).
détente Tydperk van afkoeling van die spanning tussen die VSA en die Sowjetunie gedurende die Koue Oorlog, gedurende die 1970’s.
diktators Dit is leiers wat oor ’n land heers en onbeperkte mag het – dikwels deur middel van geweld.
diplomatieke bande Ooreenkoms tussen twee lande waar hulle verteenwoordigers in mekaar se lande het.
eervolle vermelding Amptelike erkenning vir werk gedoen of diens gelewer.
era Tydperk.
gedugte Gevaarlik; met ’n ontsagwekkende/gevreesde reputasie.
gedwonge opkommandering Wanneer die regering soldate dwing om in ’n oorlog te veg.
gepraktiseer Jou beroep beoefen; werk.
gerugte Onseker/onbevestigde berigte/praatjies/stories.
geslagsdiskriminasie Onderskeid word tussen mense of groepe getref, en een mens of groep word anders as die ander behandel. In hierdie geval word vroue anders, en in meeste gevalle swakker, as mans behandel.
geslepe Om iets op ’n skelm manier te doen.
gestreef Probeer; om iets te wil doen/reg te kry.
goed van sy taak gekwyt Goed gevaar in wat hy/sy moes doen; baie suksesvol gewees.
goewerneur Die hoof van ’n Amerikaanse staat.
hoëprofielsaak Hoëprofielsake handel gewoonlik oor ’n persoon wat ’n invloedryke posisie in die samelewing beklee, hetsy polities, kommersieel, godsdienstig of andersins.
Huis van Verteenwoordigers Een van die twee huise in die Amerikaanse kongres, die Amerikaanse parlement, wat verantwoordelik is vir wette maak.
internasionalis Iemand wat baie belangstel in verhoudings tussen lande.
kandidaat Iemand wat hom- of haarself beskikbaar stel vir ’n verkiesing tot ’n posisie in die openbare lewe, soos byvoorbeeld die posisie van ’n politikus.
kernoorlog Wanneer twee lande oorlog voer deur mekaar met kernwapens soos atoombomme aan te val.
kernwedloop Die stryd tussen die VSA en die Sowjetunie gedurende die Koue Oorlog, waarin albei probeer het om die ander te oortref met die aantal kernwapens wat hul gebou het.
kommuniste Mense wat voorstaanders is van ’n regeringstelsel waar die regering alles in die land besit en beheer.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend.
Koue Oorlog Toestand van uiterste vyandigheid tussen die VSA en USSR met hul onderskeie bondgenote; ongeveer van 1947-1991.
Kwaker Lid van ’n Protestantse groep.
kwytgeskeld Onthef van ʼn plig of verpligting.
LatynsAmerika Gebied wat dele van Suid- en sentraal Amerika en die Karibiese eilande insluit.
Marshall-plan Amerikaanse beleid om geld aan Europa te skenk om hulle te help met hul naoorlogse herstel.
media Al die verskillende vorms (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet ensovoorts) waardeur nuus en inligting versprei word.
memoir Lewensverhaal.
Middeleeuse Tydvak tussen die oud en nuwe tyd, ongeveer vanaf die jaar 476 tot 1492.
MiddeOoste Geografiese gebied rondom die suidelike en oosterse kus van die Middellandse See.
naelskraap Net-net, byna, so hittete, amper nie.
offisier Persoon wat in die leër of vloot bevel voer.
omgewingskwessies Kwessies wat te doen het met die bewaring van die natuur.
omstrede Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word.
omvergewerp Om iets te laat misluk.
ondermyn Heimlik iemand of iets se posisie verswak.
ongehoord Iets buitensporig en vreemd, wat heeltemal anders is as wat dinge normaalweg gebeur.
ongeoorloofde operasies Operasies (veldtogte deur ʼn militêre mag/polisie) wat teen die wet is en nie deur die regering goedgekeur is nie.
ontken Sê dat iets nie waar is nie.
ontlok Veroorsaak, teweegbring.
ontnugter Na die werklikheid terugbring.
opgeknap Herstel en verbeter.
outobiografie Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
prokureur Iemand wat (in die) regte gestudeer het en wie se werk dit is om aan mense wette te verduidelik, formele ooreenkomste op te stel en kliënte in die hof te verteenwoordig.
rang Dit beskryf die posisie wat ʼn persoon in die weermag het, soos sersant of kaptein.
reputasie Dit waarvoor iemand bekend is, hetsy goed of sleg.
sabotasie Doelbewuste beskadiging van eiendom.
SALTooreenkoms Ooreenkoms tussen die VSA en die Sowjetunie waarin albei toegestem het om hul kernwapens te beperk.
senaat In lande soos die VSA, Australië en Frankryk, is die senaat die kleiner en belangrikste deel van die twee dele van die regering met die mag om wette te maak; wetgewende liggaam wat deel vorm van ’n parlement, soms die Tweede Kamer genoem.
setel ’n Gebied wat deur iemand in die parlement verteenwoordig word.
sittende Iemand wat tans ’n spesifieke amp beklee.
skandelike Iets waaroor jy jouself behoort te skaam.
staatsdiens Die gesamentlike departemente wat die administrasie van ʼn staat behartig.
staatsgreep ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer.
studenteraad Groep studente wat deur ander studente gekies word om hulle te verteenwoordig.
taakmag Tydelike mag wat ’n spesifieke doel of opdrag het.
taktieke Oorlogsplan, krygsplan, aanvalsplan; die kuns om soldate in ’n geveg op die beste manier te rangskik en te gebruik.
termyn Vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting.
tweedrag Onenigheid of rusie.
uit te stippel Skets; in hooftrekke beskryf/uiteensit.
van meet af aan Van die begin af.
van stapel gestuur Begin, aan die gang sit.
verhore Die ondervraging van ʼn beskuldigde in ʼn hof.
vernaamste Belangrikste.
vervolg Iemand van ’n misdaad aankla en in ’n hof probeer bewys dat hy/sy skuldig is.
vloot Versameling van ’n aantal skepe wat saam vaar, bymekaarhoort.
weerlê Om te bewys dat iets nie waar is nie.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Richard Nixon (kort biografie)

President Nixon (animasievideo)

Kyk hier na Nixon se Checkers-toespraak

Hoe om die Watergate skandaal beter te verstaan

Die storie van Nixon se besoek aan China

Gepubliseer op: 6 Maart 2024 | Bygewerk op 18 April 2024