Vinnige feite

  • Tydens ʼn beroerte sterf byna 120 miljoen breinselle elke uur. In vergelyking met die normale tempo van selverlies tydens breinveroudering, verouder die brein 3,6 jaar vir elke uur wat die persoon nie behandeling ontvang nie. 7
  • Om ʼn beroerte te kry, verhoog die risiko van ʼn tweede een (een uit elke vier mense kry nóg ʼn beroerte). Voorkoming is baie belangrik omdat ʼn tweede beroerte gewoonlik baie meer (permanente) skade kan aanrig.
  • Altesaam 80% van beroertes kan voorkom word deur gesond te eet, aktief te wees en leefstylaanpassings te maak.
Foto: iStock

Suid-Afrika spog met baanbrekerswerk op die gebied van hartgesondheid: van die eerste hartoorplanting deur dr. Christiaan Barnard meer as vyf dekades gelede tot Suid-Afrikaanse en Italiaanse navorsers wat in 2020 ʼn geen (erflikheidsfaktor) geïdentifiseer het wat die diagnose en doelgerigte behandeling van hartspiersiektes moontlik maak.

Volgens die Suid-Afrikaanse Hart-en-beroertestigting sterf altesaam 225 Suid-Afrikaners elke dag aan hartverwante siektes en is daar tien beroertes elke uur in ons land. Boonop kon 80% van hartsiektes en beroertes voorkom word. 1

ʼn Beroerte vind plaas wanneer die bloedtoevoer na ʼn deel van die brein onderbreek of verminder word, wat veroorsaak dat breinweefsel nie genoeg suurstof en voedingstowwe kry nie. Dit lei daartoe dat breinselle binne minute begin doodgaan. ʼn Beroerte is ʼn ernstige mediese noodgeval, en vinnige behandeling deur ʼn dokter is noodsaaklik. Vroeë optrede kan breinskade en ander komplikasies verminder.

Soorte beroertes

Die drie hoofsoorte beroertes is ʼn iskemiese beroerte, ʼn hemorragiese beroerte en ʼn verbygaande iskemiese aanval (ʼn waarskuwing of miniberoerte). 2

Iskemiese beroerte

Die meeste beroertes (87%) is iskemiese beroertes. ʼn Iskemiese beroerte vind plaas wanneer bloedvloei deur die slagaar wat suurstofryke bloed aan die brein verskaf, geblokkeer word. Bloedklonte veroorsaak dikwels blokkasies wat tot iskemiese beroertes lei.

Hemorragiese beroerte

ʼn Hemorragiese beroerte vind plaas wanneer ʼn slagaar in die brein beskadig of stukkend is en bloed daaruit vloei. Dié bloed wat “uitlek”, plaas te veel druk op die breinselle, wat dit beskadig. Hoë bloeddruk en aneurisme (ballonagtige bultjies in ʼn slagaar wat kan rek en bars) is voorbeelde van toestande wat ʼn hemorragiese beroerte kan veroorsaak. Daar is twee soorte hemorragiese beroertes:

  • Intraserebrale bloeding is die algemeenste hemorragiese beroerte. Dit kom voor wanneer ʼn slagaar in die brein bars en die omliggende weefsel met bloed oorstroom.
  • Subaragnoïede bloeding is minder algemeen en verwys na bloeding in die gebied tussen die brein en die dun weefsel wat dit bedek.

Verbygaande iskemiese aanval (“Transient ischemic attack”)

ʼn Verbygaande iskemies aanval (VIA) word soms ʼn miniberoerte genoem, en dit verskil van die ander soorte beroertes omdat bloedvloei na die brein slegs vir ʼn kort tydperk afgesny word – gewoonlik nie vir langer as vyf minute nie.

Belangrik om te weet:

  • ʼn VIA is ʼn waarskuwingsteken van ʼn toekomstige beroerte.
  • ʼn VIA is ʼn mediese noodgeval, net soos ʼn ernstige beroerte.
  • Dit is aanvanklik moeilik om te onderskei of die persoon ʼn VIA of ernstige beroerte kry.
  • Soos iskemiese beroertes, is bloedklonte dikwels die oorsaak van VIA’s.
  • Meer as ʼn derde van die mense wat ʼn VIA ervaar en nie behandel word nie, kry binne ʼn jaar ʼn ernstige beroerte. Tot 15% van mense sal binne drie maande ná ʼn VIA ʼn ernstige beroerte kry.
  • Die identifisering en behandeling van ʼn VIA kan die risiko van ʼn ernstige beroerte drasties verlaag.

Simptome van ʼn beroerte

Waarskuwingstekens en simptome van ʼn beroerte sluit in: 3

  • As die persoon sukkel om te praat en te verstaan wat ander sê, is dit moontlik ʼn teken van ʼn beroerte. Die persoon kan verwarring ervaar, sy of haar woorde sleep en die persoon sukkel om iemand te verstaan.
  • ʼn Beroerte gaan dikwels gepaard met ʼn skielike gevoelloosheid, swakheid of verlamming van die gesig, arm of been. Dit kom dikwels net aan die een kant van die liggaam voor, gewoonlik aan die linkerkant. Die een kant van die mond of gesig sal byvoorbeeld skuins trek of hang.
  • Sig verswak skielik in een of albei oë – voorwerpe lyk vaag, wasig of donker of die persoon sien dubbel beelde.
  • ʼn Skielike, erge hoofpyn – wat gepaard kan gaan met braking, duiseligheid of bewusteloosheid – kan aandui dat die persoon ʼn beroerte kry.
  • Die persoon struikel of verloor sy of haar balans. Skielike duiseligheid of ʼn verlies aan koördinasie is ook moontlike aanduiders.

Risikofaktore

Daar is verskeie faktore wat ʼn persoon se risiko verhoog om ʼn beroerte te kry.

Dit sluit in: 4

  • Oorgewig of vetsug
  • Te min oefening
  • Te veel alkohol
  • Gebruik van dwelmmiddels soos kokaïen en metamfetamien (byvoorbeeld tik)
  • Hoë bloeddruk
  • Rook of blootstelling aan tweedehandse rook (as iemand naby jou rook)
  • Hoë cholesterol
  • Suikersiekte (diabetes)
  • Slaapapnee
  • Kardiovaskulêre siektes, insluitend hartversaking, hartafwykings, hartinfeksie of abnormale hartritme
  • ʼn Familiegeskiedenis van beroerte of hartaanval
  • Mense wat 55 jaar of ouer is, het ʼn groter risiko vir beroerte
  • Mans het ʼn groter risiko vir beroerte as vroue
  • Die gebruik van geboortebeperkingspille of hormoonterapie, wat oestrogeen insluit, verhoog die risiko vir ʼn beroerte.

Gevolge van ʼn beroerte

ʼn Beroerte kan soms tydelike of permanente gevolge inhou, afhangende van hoe lank die brein nie genoeg suurstof ontvang het nie en watter deel geraak is.

Komplikasies kan die volgende insluit: 5

  • Verlamming of verlies van spierbeweging. Die persoon kan verlam raak aan die een kant van die liggaam, beheer verloor oor sekere spiere, soos dié aan die een kant van die gesig of een arm en been.
  • Moeilik praat of sluk. ʼn Beroerte kan die beheer van die spiere in die mond en keel beïnvloed, wat dit moeilik maak om te praat, sluk of eet. Die persoon kan ook probleme ondervind met taal, insluitend praat of verstaan ​​van spraak, lees of skryf.
  • Geheueverlies of denkprobleme. Baie mense wat ʼn beroerte gehad het, het geheueverlies. Ander kan sukkel om te dink, te redeneer, te oordeel en begrippe te verstaan.
  • Mense wat beroertes gehad het, kan sukkel om hul emosies te beheer, of kan aan depressie ly.
  • Pyn, gevoelloosheid of ander ongewone sensasies kan voorkom in die dele van die liggaam wat deur beroerte geraak word.
  • Veranderinge in gedrag en selfversorgingsvermoë. Iemand wat ʼn beroerte gehad het, kan teruggetrokke raak, hulp benodig om hulself te versorg en selfs om eenvoudige daaglikse take uit te voer.

Voorkoming

Om die risikofaktore vir beroerte te ken en ʼn gesonde leefstyl te volg, is die beste medisyne om ʼn beroerte te voorkom. Beroertevoorkomingstrategieë is dieselfde as die stappe om hartsiektes te voorkom.

Dit sluit in: 6

  • Beheer hoë bloeddruk (hipertensie). Dit is een van die belangrikste dinge wat jy kan doen om die risiko vir ʼn beroerte te verminder. Leefstylaanpassings en medisyne word dikwels gebruik om hoë bloeddruk te behandel.
  • Verlaag die hoeveelheid cholesterol en versadigde vet in jou dieet. Deur minder cholesterol en vet te eet – veral versadigde vet en transvette (wegneemetes en kitskos is propvol “slegte vette”) – hou die are gesond en keer vernouing. As die cholesterol nie deur dieetveranderinge onder beheer gebring kan word nie, kan ʼn dokter cholesterolverlagende medikasie voorskryf.
  • Rook verhoog die risiko van beroerte vir rokers én nierokers wat aan tweedehandse rook blootgestel word. Deur op te hou rook, word die beroerterisiko aansienlik verlaag.
  • Die bestuur van diabetes. Dieet, oefening en gewigverlies help om bloedsuiker in balans te hou. ʼn Mediese dokter kan ook diabetesmedikasie voorskryf.
  • Handhaaf ʼn gesonde gewig. Vetsug dra by tot ander risikofaktore soos hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siektes en diabetes.
  • Eet baie vrugte en groente. ʼn Dieet behoort vyf of meer daaglikse porsies vrugte of groente te bevat, wat die risiko van beroerte sal verminder.
  • Aërobiese oefening verminder die risiko van beroerte. Oefening verlaag jou bloeddruk en cholesterolvlakke en verbeter die algemene gesondheid van bloedvate en die hart. Dit help ook om gewig te verloor, diabetes te beheer en spanning te verminder. Minstens 30 minute se matige fisieke aktiwiteit per dag – soos stap, draf, swem of fietsry – word aanbeveel.
  • Beperk alkoholinname en vermy dwelms. Alkoholgebruik verhoog die risiko van hoë bloeddruk en beroertes. Dwelmgebruik is voorts ʼn groot risikofaktor vir beroerte.

Woordbank

baanbrekerswerk Iemand wat nuwe terreine ontsluit; voorloper; pionier.
beroerte Skielike vermindering/verlies van bewussyn wanneer are wat suurstof na die brein bring, bars of deur ‘n bloedklont verstop word.
bloedklonte Stuk gestolde bloed wat ‘n bloedvat verstop; trombus.
depressie Terneergedruktheid van die gemoed; ernstige bedruktheid/neerslagtigheid wat iemand laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
diabetes Stofwisselingsiekte waardeur daar te veel suiker (glukose) in die bloed is; suikersiekte.

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is ʼn beroerte?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Desember 2021 | Bygewerk op 4 Maart 2024