Vinnige feite

  • Nóg ’n bekende wapenwedloop is die vloot wapenwedloop tussen Brittanje en Duitsland voor die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918). 7
  • Ná die Sowjetunie se eerste suksesvolle kernwapentoets in 1949 het Stalin alreeds opgemerk: “Atoombomme kan nie regtig gebruik word sonder dat dit die einde van die wêreld sal beteken nie.” 7
  • Teen die jaar 2000 was daar meer as 30 “broken arrows”, oftewel ongelukke met kernwapens. Daar is ook ten minste ses plofkoppe wat êrens in die see verloor is en nooit teruggekry is nie. 5
  • Die media in die VSA het die SVI spottenderwys “Star Wars” genoem. Dit was ’n verwysing na die rolprent Star Wars Episode VI: The Return of the Jedi wat in dieselfde jaar verskyn het. 5
  • Sommige mense reken dat daar vandag ’n nuwe kernwedloop aan die gang is, tussen die VSA, Sowjetunie en China. 11

Wat is ’n wapenwedloop? Dit is as een land meer en beter wapens bou, sodat hulle kan wys dat hulle beter as ’n ander land is. Wat doen die ander land? Dieselfde. Dan moet die eerste land nóg wapens bou om te bewys dat hulle steeds beter is, en so hou dit aan en aan.

’n Kernwedloop is dieselfde ding, maar met kernwapens, wat heelwat gevaarliker is.

Wat was die kernwedloop?

Die kernwedloop het tydens die Koue Oorlog afgespeel. Die Koue Oorlog was ’n tydperk van konflik tussen die Sowjetunie en die Verenigde State van Amerika (VSA). Die kernwedloop was een van die dinge waaroor hulle meegeding het. 1

1945: Die aanvang van die kern-era

Die kern-era het op 16 Julie 1945 afgeskop toe die VSA die eerste suksesvolle kernwapentoets, genaamd Trinity, in Los Alamos, Nieu-Mexiko, uitgevoer het. 2

Ná Duitsland se oorgawe tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) is ’n vredeskonferensie by Potsdam in Duitsland gehou. Harry Truman, toe die president van die VSA, het tydens dié konferensie vir Joseph Stalin, die leier van die Sowjetunie, oor die bom ingelig. Hy het hom meegedeel dat hy dit sou gebruik om Japan te dwing om oor te gee. 1

Dit het dan ook so gebeur. Op 6 en 9 Augustus 1945 het die VSA atoombomme op die Japannese stede Hirosjima en Nagasaki laat val. 1

Kernontploffings word in trinitrotolueen (TNT), oftewel hoeveel energie deur die ontploffing vrygestel word, gemeet. Die bomme op Hirosjima en Nagasaki, genaamd Little Boy en Fat Man, 3 was onderskeidelik 15 000 en 20 000 ton TNT. 4

Little Boy

Meer as 100 000 mense het gedurende die aanvalle gesterf, en tienduisende later aan siekte en beserings.

Die aanval het sy doel bereik: Japan het oorgegee. 1

Daar was egter nóg ’n rede waarom Truman besluit het om die atoombom te gebruik. Dit was nie om Japan tot oorgawe te dwing nie, maar om die Sowjetunie te intimideer. 5

1949: Die resies skop af

Stalin het besef dat sy land agter was en het die Sowjetunie se kernwapenontwikkeling versnel. Op 29 Augustus 1949 het hulle hul eerste suksesvolle kernwapentoets by die Semipalatinsk-toetsterrein in Kazakstan gedoen. 2

Die Sowjetunie se suksesvolle toets het skokgolwe deur die VSA gestuur. Hul monopolie op kernwapens was op ’n einde. 6 Die Amerikaners het gereken dat die Tweede Wêreldoorlog die Sowjetunie só vernietig het, dat dit tussen agt en vyftien jaar sou vat voor hulle ’n bom sou bou. 5 Hulle was verkeerd: dit het die Sowjetunie vier jaar geneem. 7

Dit het nou soos ’n wapenwedloop begin voel en die Amerikaners moes dus reageer. Bowendien het die geopolitiese wedywering tussen die twee lande in die volgende paar jaar gestyg, byvoorbeeld tydens die Koreaanse Oorlog (1950-1953).

Brittanje, die VSA se grootse bondgenoot, het op 3 Oktober 1952 hul eerste suksesvolle kernwapentoets uitgevoer. 3

1952-1955: Die waterstofbom

Die volgende vlak van wedywering was om die volgende kategorie van kernwapens, bekend as termonukleêre- of waterstofbomme, te bou.

Die VSA het hul eerste suksesvolle waterstofbom in November 1952 op die Marshall-eilande getoets. 1

Die Sowjetunie het húl eerste termonukleêre toets in Augustus 1953 in Kazakstan gedoen. 3

Die korter tydperk tussen die twee lande se suksesvolle toetse (nou minder as ’n jaar) het die indruk geskep dat die Sowjetunie besig was om in te haal.

Die waterstofbomme was yslik. Waar Little Boy en Fat Man se grotes in duisende TNT gemeet is, word waterstofbomme se grotes in miljoene TNT gemeet! Little Boy en Fat Man was onderskeidelik 15 000 en 20 000 TNT; die Amerikaners se waterstofbom was 10 000 000 TNT. 5

Dit het ook duidelik geword dat die supermoondhede nie beplan het om hul kernwapens te gebruik nie. Truman het inderdaad vir generaal Douglas MacArthur, die aanvoerder van die Amerikaanse troepe tydens die Koreaanse Oorlog, ontslaan ná hy aangedring het dat kernwapens daar gebruik word. 8

Termonukleêre bomme is uiters gevaarlik en die eerste toetse het groot skade aangerig. In 1954 het die Amerikaners ’n waterstofbomtoets, bekend as Castle Bravo, gedoen. Die wetenskaplikes het die radius van die bom verkeerd uitgewerk. Die radioaktiewe afval het groot skade aan inwoners van die Marshall Eilande gedoen.

Die Sowjetunie het hul eerste reusagtige termonukleêre toestel in November 1955 getoets. Hierdie toets het katastrofiese gevolge vir die inwoners van Kazakstan gehad. 1

1954: ‘Massive retaliation’ en kernafskrikking

In Januarie 1954 het die Amerikaanse regering van president Dwight D. Eisenhower hulle beleid van “massive retaliation” aangekondig. 2 Dit het daarop neergekom dat die VSA op enige aanval, groot of klein, met kernwapens kon reageer. 6

In dieselfde tyd het die idee van kernafskrikking ontwikkel. Die idee was dat omdat jy kernwapens het, ’n ander land jou nie sal aanval nie, want hulle kon nie die kans waag dat jy met kernwapens reageer nie. Dit sou dus verseker dat niemand mekaar sou aanval nie. 8

Vir kernafskrikking om te werk, moet jou land egter omtrent ewe veel kernwapens as jou vyand hê. Die twee supermoondhede moes dus voortbou aan hul kernarsenale, in getalle én in grootte en sterkte van wapens. 8

1957-1958: ‘Sputnik’ en die missiele

Die Sowjetunie het die wêreld geskok toe hulle in 1957 die eerste mensgemaakte satelliet, Sputnik I (ook as “Spoetnik” geskryf) die ruimte in lanseer het.

Om ’n satelliet in die ruimte te kan inskiet, moes die Sowjetunie ’n spesiale vuurpyl ontwikkel. 8 Hierdie selfde vuurpyl was egter sterk genoeg om ’n kernplofkop duisende myle ver te skiet. 6

Die Sowjetunie het dus in werklikheid in 1957 die wêreld se eerste interkontinentale ballistiese missiel (IBM of IKBM) ontwikkel. 1

Die Sowjetunie se snelle tegnologiese vordering het die Amerikaners geruk. 1 Vir die eerste keer in hul geskiedenis was hulle binne maklike bereik van ’n ander land se wapens. Die see wat hulle voorheen beskerm het, was nou nie meer ter sake nie. 5

Buiten die IKBM was daar voorts die moontlikheid dat die Sowjetunie ’n plofkop op ’n satelliet kon sit en ’n kernwapen uit die ruimte na die aarde skiet.

Die VSA moes vinnig reageer, en het ook. Hul eerste IKBM is laat in 1958 getoets. 1

1958-1961: Nuwe, groter wapens

Die jaar 1958 was die aktiefste jaar vir kernwapentoetse sedert die begin van die kernwedloop. Meer as 100 kerntoestelle is deur die Sowjetunie, Brittanje en die VSA laat ontplof. 1

In 1959 het die VSA Polaris-duikbote ontplooi, wat kernmissiele onderwater kon afskiet. 6

Frankryk het in 1960 die vierde land geword om ’n suksesvolle kerntoets te doen. 1

In Oktober 1961 het die Sowjetunie die Tsar Bomba laat ontplof. Dit was, en is tot vandag toe, die grootste termonukleêre bom wat al ooit ontplof het. Dit is dan ook die grootse ontploffing wat al ooit deur mense gemaak is. 6

Tsar Bomba

Die Tsar Bomba was om en by 50 miljoen TNT, of omtrent 5 keer so sterk soos die eerste waterstofbom. 4 Hierdie een bom het meer plofkrag gehad as al die plofstof wat saam deur almal in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is!

Hierdie bom het geen militêre waarde gehad nie. Dit was suiwer vir propaganda, en om die VSA die skrik op die lyf te jaag. 2

Vir ’n paar jaar daarna het die drie kernlande vrywilliglik kerntoetse opgeskort, terwyl hulle oor die moontlike beperking daarvan onderhandel het. 1

Missielgaping

Nikita Chroesjtsjof, die leier van die Sowjetunie, het ná Sputnik 1 en die Tsar Bomba wyd en syd oor sy land se tegnologiese bekwaamheid gespog. Dit het die indruk geskep dat daar ’n missielgaping in die Sowjetunie se guns was.

Dit was glad nie die geval nie: die VSA het meer én beter kwaliteitwapens gehad. Die persepsie onder die Amerikaanse publiek was egter dat die Sowjetunie voor was. John F. Kennedy, die Amerikaanse president, het ná sy inhuldiging in 1961 begin om die Amerikaners se kernarsenale op te bou. 5

John F. Kennedy

Kort hierna het dit in die openbaar bekend geword dat dié gaping eintlik in die VSA se guns was. Die Sowjetunie kon nou nie net meer grootpraat nie: hulle moes wapens bou, en baie daarvan.

In die 1960’s het albei lande dus meer en meer kernwapens gebou. 5

1962: Kubaanse missielkrisis

Kernwapens het vir die spannendste oomblik van die Koue Oorlog, en ook die spannendste oomblik in die mensdom se geskiedenis, gesorg: die Kubaanse missielkrisis.

Die Kubaanse missielkrisis het begin toe Chroesjtsjof kernwapens in Kuba, ’n Sowjet-bondgenoot wat omtrent 150 km van die VSA af geleë is, ontplooi het. Kennedy het gereageer deur die eiland te blokkeer, om te keer dat nog kernwapens Kuba bereik. 4

Vir die volgende 13 dae was daar ’n dooiepunt, waartydens die wêreld tot op die nippertjie van kernoorlog gekom het. 1

Die twee leiers het uiteindelik besluit om terug te treë, en die krisis het in kompromie geëindig. 4

MAD

Die Kubaanse missielkrisis het een goeie resultaat gehad: dit het die supermoondhede laat wakkerskrik en besef hoe katastrofies kernoorlog kon wees. 4

Ná die Kubaanse krisis is daar op die idee van kernafskrikking voortgebou met die beleid van wedersydse vernietiging, beter bekend as Mutually Assured Destruction (MAD). Omdat die supermoondhede so baie kernwapens gehad het, was dit duidelik dat oorlog die mensdom sou uitwis. 8

Hierdie wete het gemaak dat nie een van die lande ’n aanval kon waag nie, 4 en was dus die beste afskrikmiddel wat daar was. 8

1963: Kerntoetsverdrag

Samesprekings oor die verbanning van kerntoetse het in 1963 tot die Kerntoetsverdrag (in Engels: Limited Test Ban Treaty [LTBT], ook bekend as Partial Test Ban Treaty) gelei. Dit is deur die Sowjetunie, VSA en Brittanje onderteken.

Hierdie verdrag het kernontploffings in die aarde se atmosfeer, ruimte of onderwater verbied, en streng reëls gemaak oor hoe ondergrondse toetse uitgevoer mag word. 1

Die verdrag het ook gewys dat hulle die gevaar van radioaktiewe afval besef het. 5

Frankryk en China, wat húl eie eerste toets in 1964 sou doen, het nie hierdie verdrag onderteken nie. 1

1968: Beperking

Omdat al hoe meer lande nukleêre slaankrag ontwikkel het, het die gedagte ontstaan dat daar ’n internasionale verdrag moes wees om die verspreiding van kernwapens te keer.

Die Kernsperverdrag of KSV (in Engels: Treaty on the Non-Proliferation of Nuclear Weapons [NPT]) is op 1 Julie 1968 deur die Sowjetunie, Brittanje en die VSA onderteken.

Lande kon hierdie verdrag as kernlande of niekernlande onderteken. Lande wat die verdrag as niekernlande onderteken het, het belowe om nie kernwapens aan te skaf nie. Lande wat die verdrag as kernlande onderteken het, het beloof om ontwapening na te streef.

China en Frankryk het eers in 1992 geteken.

Vandag is 190 lande deel daarvan. Dit is die wydste ooreenkoms oor die beheer van wapens ooit.

Slegs Indië, Israel, Noord-Korea, Pakistan en Suid-Soedan het nie die verdrag onderteken nie. Die eerste vier van daardie lande het kernwapens. 1

Nuwe tegnologie

In die 1960’s het die VSA MIRV-tegnologie, oftewel multiple independently targetable reentry vehicle, ontwikkel. Dit kom basies daarop neer dat meer as een plofkop van ’n missiel af gevuur kon word. 6 Elke plofkop kan ook geprogrammeer word om sy eie mikpunt tref. 8

Die Sowjetunie het intussen ’n antiballistiese missielstelsel (ABM) ontwikkel. Dit is ’n stelsel wat kernmissiele kon afskiet. Dit was ’n bedreiging vir MAD. Indien mens verdediging teen missiele kon bou, was wedersydse vernietig nie meer gewaarborg nie.

ABM’s was egter ongelooflik duur. Dit benodig uiters gesofistikeerde radar, en daar moet duisende verdedigende missiele ontplooi word om ’n ander land se aanval af te weer.

Buiten dat dit kernafskrikking tersyde kon stel, sou die ABM’s ’n reuse-las op lande se ekonomieë wees. Beide kante was dus reg vir nuwe samesprekings om die kernwedloop te beperk. 5

1969-1979: Détente

Die laat 1960’s en vroeë 1970’s was ’n tydperk bekend as détente: verminderde spanning in die Koue Oorlog en ’n beter verhouding tussen die VSA en die Sowjetunie. 1

Die kernwedloop was ’n belangrike oorsaak van détente. ’n Beter verhouding kon die wedloop afskaal, met ander woorde hulle kon dan minder kernwapens bou. Die geld wat voorheen aan kernwapens spandeer is, kon nou eerder vir iets anders gebruik word. 9

Die belangrikste uitkoms van détente was die Samesprekings oor die Beperking van Strategiese Kernwapens (SALT). 9 Hieruit het twee belangrike verdrae tussen die VSA en die Sowjetunie gespruit:

  • Die ABM-verdrag: Elke land kon net twee ABM-stelsels ontplooi. Dit is later na een toe verminder. 5
  • SALT I: ’n Plafon is op die getal IKBM’s en kernduikbote wat hulle mag hê geplaas. 5 SALT I het egter nie bomwerpers of MIRV’s beperk nie. 1

Dit was egter ’n positiewe stap, en die eerste keer dat daar ’n plafon op hoeveelhede wapens geplaas is.

1979-1980: SALT II en Afghanistan

In Junie 1979 het die VSA en Sowjetunie die SALT II-verdrag onderteken. Dit het voortgebou op SALT I deur verdere beperkings op sommige wapens en bomwerpers te plaas.

Die Sowjetunie het egter in Desember 1979 die Sowjetunie Afghanistan binnegeval, en ’n oorlog begin wat nege jaar geduur het. Die VSA het die Sowjetunie skerp gekritiseer, en nie die SALT II-verdrag bekragtig nie. Ten spyte hiervan het beide lande by die bepalings van SALT II gehou. 1

1981-1983: Reagan se nuwe beleid

Ten spyte van al die verdrae en samesprekings het die twee lande teen die 1980’s reuse-kernarsenale gehad: in 1985 kon die VSA om en by 20 000 plofkoppe lewer, en die Sowjetunie 11 000. 5

Ronald Reagan is in 1981 as Amerikaanse president ingesweer. Hy wou die Koue Oorlog laat eindig in ’n Amerikaanse oorwinning.

Hy het geglo dat die Sowjetunie se ekonomie te swak was om by die VSA te hou. Indien hy die VSA se kernarsenale en kerntegnologie opgebou het, sou die Sowjetunie moes reageer. Hulle sou nie kon nie en hul ekonomie sou dan ineenstort. 1

Intussen het die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), die militêre alliansie waarvan die VSA lid was, in 1982 begin om Pershing II-missiele in Wes-Europa te ontplooi. Dit het nie net die Sowjetunie laat skrik nie. Dit het ook tot grootskaalse antikernwapenproteste in Europese Navo-lande gelei. 1

1983: ‘Bose ryk’ en die SVI

Reagan het intussen druk op die Sowjetunie vermeerder. Op 8 Maart 1983 het hy in ’n toespraak na die Sowjetunie as ’n “bose ryk” verwys. 1

Op 23 Maart 1983 het hy die Strategiese Verdedigingsinisiatief of SVI (in Engels Strategic Defense Initiative of SDI) aangekondig. Dit was ’n konsep van ’n ruimte-gebasseerde ballistiese missielstelsel wat as missielverdediging aangewend kon word. 1 Die stelsel sou bestaan uit ’n kombinasie van lasers en pyle wat op satelliete geplaas sou word en missiele uit die ruimte kon afskiet. Dit sou waarskynlik nooit werklik kon werk nie. 5

Dit was egter nie die punt nie. Die SVI het gewys dat Reagan besig was om weg te beweeg van MAD af. 1

Die SVI het bereik wat Reagan wou gehad het: die Sowjetunie se agterstand ís beklemtoon. 1 Of die SVI werkbaar was of nie, dit was duidelik dat die Sowjetunie nie kon bybly nie. 5

1986: Reykjavik-spitsberaad

In Oktober 1986 het Reagan en Gorbatsjof in Ysland ontmoet. Hulle het amper ingestem om alle aanvallende kernwapens vir ’n tydperk af te skaf. Alhoewel hulle nie kon saamstem nie, het dit die weg gebaan vir toekomstige verdrae. 1

Ronald Reagen en Michail Gorbatsjof

1987: Keerpunt

In 1987 het dit gelei tot die ondertekening van die Tussenafstand-kernmagte-verdrag of TKV (in Engels bekend as Intermediate-Range Nuclear Forces Treaty [INF]). Die belangrikste bepaling was dat hulle teen 1991 van hul tussenafstandkernmissiele ontslae sou raak.

Dit was ’n keerpunt in die kernwedloop. Dit was die eerste verdrag wat kernwapens verminder het, en nie net soos tydens SALT ’n plafon daarop geplaas het nie.

Dit het ook omvattende verifikasiemaatreëls ingesluit. 1

1989-1991: Einde van die Koue Oorlog

Die val van die Berlynse Muur in 1989 en die einde van die Koue Oorlog het gesprekke oor kernontwapening versnel.

Die laaste Koue Oorlog-verdrag is in Julie 1991 deur George H.W. Bush, die Amerikaanse president, en Gorbatsjof onderteken.

Die Verdrag vir die Vermindering en Beperking van Strategiese Aanvalswapens (in Engels bekend as Strategic Arms Reduction Treaty of START) wat in die doodsnikke van die Koue Oorlog onderteken is, was ’n groot sukses. Beide lande het ingestem om hul ontplooide strategiese plofkoppe teen 2009 na minder as 6 000 te verminder. 1

Analise

Die kernwedloop was die duurste, gevaarlikste en grootste wapenwedloop in die geskiedenis van die mensdom.

’n Hele generasie van mense het in die skaduwee van kernoorlog en dreigende rampspoed geleef. 5

Vir veertig jaar het die twee magtigste lande al hul energie ingespan om die magtigste vorm van energie te skep – en dit vir oorlog te gebruik. Elkeen het missiele geskep wat in minute duisende kilometers ver kon reis, asook plofkoppe wat saam die menslike beskawing kon uitwis.

Dit het nooit tot op daardie punt gekom nie, want MAD het gewerk, en kernoorlog is afgeweer.

Tot vandag is daar steeds net twee kernwapens gebruik: Little Boy en Fat Man, die twee kleinste kernwapens wat al ooit gemaak is. 4

Watter lande het kernwapens gehad

Die lys hieronder is lande wat aangekondig het dat hulle kernwapens het, lande met kernwapens wat dit nog nooit amptelik aangekondig het nie, en lande wat voorheen kernwapens gehad het:

Lande met kernwapens

  • VSA: 1945
  • Rusland (as die Sowjetunie): 1949
  • Brittanje: 1952
  • Frankryk: 1960
  • China: 1964
  • Indië: 1974
  • Pakistan: 1998
  • Noord-Korea: 2006 4

Lande wat waarskynlik kernwapens het, maar dit nog nooit amptelik aangekondig het nie

  • Israel (datum onseker) 10

Lande wat voorheen kernwapens gehad het

  • Suid-Afrika: waarskynlik 1979; ontwapen in 1991
  • Kazakstan (as deel van Sowjetunie): ontwapen in 1995
  • Oekraïne (as deel van die Sowjetunie): ontwapen in 1996
  • Belarus (as deel van die Sowjetunie): ontwapen in 1996 10

Woordbank

aanvoerder Die persoon in beheer.
alliansie Vereniging/verbond tussen mense/volke; bondgenootskap.
analise Kritiese ondersoek.
antiballistiese Verdedigingsmissiel wat ’n ballistiese missiel in die lug onderskep.
antikernwapenproteste Wanneer mense marsjeer en publieke verset/protes aanteken teen die gebruik van kernwapens.
arsenale Plekke waar wapens en ander weermagtoerusting bewaar word.
atoombomme Bomme van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus. Ook ’n kernbom genoem.
ballistiese Met verwysing na die vlug van ’n projektiel/voorwerp deur die ruimte.
bekragtig Dit wettig maak; jou goedkeuring daaraan gee/heg.
bekwaamheid Knap en bedrewe in die werk wat jy doen.
bepalings ’n Voorskrif, met ander woorde iets wat moet gebeur.
Berlynse Muur Die Berlynse Muur was ’n bewaakte betonversperring wat Wes-Berlyn van die Bondsrepubliek Duitsland van 1961 tot 1989 omring het en dit van Oos-Berlyn en die Duitse Demokratiese Republiek geskei het.
blokkeer Afsluit, toemaak; om toegang/deurgang/voortgang te keer of te belet; ontoeganklik maak.
bomwerpers Vliegtuie waaruit bomme gegooi word.
bondgenoot Iemand wat hom verbind om ’n ander te help.
détente Tydperk van afkoeling van die spanning tussen die VSA en die Sowjetunie gedurende die Koue Oorlog in die 1970’s.
skrik op die lyf te jaag Iemand bang maak.
dooiepunt Die punt waar onderhandelings stol/ophou en nie verder gevoer kan word nie.
duikbote Boot wat onder die water vaar, wat meestal vir oorlogsdoeleindes gebruik word.
era ’n Tydperk in die geskiedenis.
geopolitiese Dit wat te doen het met die kombinasie van ’n land se politiek en aardrykskunde.
gekritiseer Om iets beoordeel, gewoonlik deur te sê wat daarmee fout is.
geprogrammeer Om aan ’n rekenaar of masjien ’n stel opdragte gee om uit te voer.
gesofistikeerde Gevorderd.
gespruit Iets wat uit iets anders ontstaan.
gewaarborg Om te verseker dat iets gebeur.
grootskaalse Baie groot, omvangryk.
in die doodsnikke Wanneer iets byna verby is.
ineenstort Tot niet gaan.
ingesweer Iemand ʼn belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen.
inhuldiging ʼn Owerheidspersoon plegtig in sy/haar amp bevestig.
interkontinentale ballistiese missiel ’n Missiel wat ’n gedeeltelike omwenteling van die aarde maak.
intimideer Deur dreigemente of geweld tot een of ander handeling dwing of daarvan weerhou; bang maak.
katastrofiese Ramspoedige.
keerpunt Tydstip wanneer daar ’n beslissende verandering plaasvind.
kernafskrikking Om die gevaar van kernoorlog te gebruik om te verhoed dat ’n ander land jou aanval.
kernarsenale ʼn Land se totale kernwapens.
kernplofkop Die kop van ’n torpedo of missiel wat met plofstof gevul is.
kerntoestelle ’n Toestel wat met kernkrag werk, soos ’n missiel of bom.
kernwapens Bomme van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus. Ook ’n atoombom genoem.
klas ’n Groep dinge van dieselfde soort.
kompromie Ooreenkoms waarin al die betrokkenes minder aanvaar as wat hulle oorspronklik wou hê; skikking waarby elke kant iets toegee.
konsep ’n Voorlopige formulering van iets.
lanseer Die afskiet van ’n torpedo/vuurpyl.
las Skuld wat op jou rus.
lasers ʼn Apparaat wat ʼn baie sterk, smal ligstraal voortbring wat iets kan sny.
maatreëls Skikkings/reëlings.
media Al die verskillende vorms (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet, ensovoorts) waardeur nuus en inligting versprei word.
missielgaping Gaping tussen die hoeveelheid missiele wat twee lande het.
monopolie Wanneer jy die enigste land is wat ’n soort wapen of tegnologie het.
nippertjie Op die laaste oomblik.
nukleêre Wat dui op kernenergie.
omvattende Insluitend; breedvoerig.
ontplooi Om mense/goed êrens te plaas sodat dit ’n taak kan verrig.
ontslaan Iemand uit sy pos uit verwyder.
ontwapening Om wapens te verminder of weg te neem.
opgeskort Om iets uit te stel.
persepsie Die indruk wat iemand van iets het of oor hoe iemand aan iets dink.
plafon Die hoogste peil of vlak wat toegelaat is of wat bereik kan word.
propaganda Inligting wat vals is of net een kant van die storie vertel, gebruik deur ’n regering of politieke groep om mense met hulle te laat saamstem.
radar Apparaat wat radiogolwe gebruik om vas te stel waar ’n voorwerp is wat nie andersins sigbaar is nie.
radioaktiewe afval Afval/oorskot wat radioaktiewe materiaal bevat, gewoonlik die gevolg van aktiwiteite wat met kernkrag te doen het.
radius ’n Gebied wat van een middelpunt ewe ver in alle rigtings gaan.
satelliet Hemelliggaam wat om ’n ander, veral ’n planeet, draai; kunsmatige, mensgemaakte byplaneet wat in ’n baan om die aarde wentel, kunsmaan.
slaankrag Om die vermoë te hê om iemand te tref, seer te maak of te beskadig.
spitsberaad Noodsamespreking van die leiers van die vernaamste wêreldnasies; beraadslaging deur persone wat aan die spits staan van ’n land se regering.
spottenderwys Om oor iets te spot en dit nie (te) ernstig bedoel nie.
supermoondhede Baie invloedryke en welvarende lande, wat veral verwys na die VSA en die Sowjetunie gedurende die Koue Oorlog.
tegnologiese Nuwe masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is.
(nie) ter sake nie Iets wat nie meer belangrik of relevant is nie.
termonukleêre Bomme wat kernkrag gebruik, maar baie groter is as gewone atoom- of kernbomme; ook bekend as waterstofbomme.
tersyde kon stel Om iets een kant te sit om later weer daarna terug te kom.
tussenafstandkernmissiele ’n Missiel wat so tussen 2 500 en 6 500 km ver kan tref.
uitwis (Heeltemal) ontslae raak van iets; vernietig.
verbanning Afkeuring, verwerping, verbod.
verdrag ’n Ooreenkoms tussen twee of meer magte.
verifikasie Om ondersoek in te stel en seker te maak iets is waar, of iemand hou by iets.
vloot Die afdeling van die gewapende magte van ’n land/staat wat militêre operasies op see uitvoer.
vrywilliglik Om iets te doen uit vrye wil uit, nie gedwing nie.
vuurpyl Projektiel/missiel om projektiele die lugruim in te dryf.
waterstofbomme Bomme wat kernkrag gebruik, maar baie groter is as gewone atoom- of kernbomme. Ook termonukleêre bom.
wedersydse Van albei kante af.

Lees hierdie artikels oor die kernwedloop

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die kernwedloop

Die kernwedloop begin

Die atoombom

Wat was die Kubaanse missielkrisis?

Elke kernwapenontploffing in die geskiedenis

Vrae en antwoorde oor die atoombom

Wat sal ná ʼn kernoorlog gebeur?

Die storie van die Tsar Bomba

Foto: iStockFoto: Jacques du Plessis
Gepubliseer op: 18 April 2024 | Bygewerk op 18 April 2024