Vinnige feite

  • ʼn Medepolitikus het hom soos volg beskryf: “ʼn Voortreflike Engelsman, ʼn uitstaande Afrikaner en ongetwyfeld die skitterendste intellek in die politieke lewe van my tyd.” 1
  • Merriman het na die Anglo-Boereoorlog verwys as “onregverdig en onverskoonbaar”, asook ʼn “skandelike en skadelike onderneming”. 1
  • Merriman was ʼn Engelse liberalis wat nierassigheid en die regte van swart mense gepropageer (om iets aanvaarbaar, bekend of gewild te maak) het. 5 Dit was teenstrydig met die gevoelens van die meeste Engelse mense in Suid-Afrika in sy tyd.
  • Merriman was vir 54 jaar lank in die politiek. 1
  • Die Britse besluit om vir Botha eerder as Merriman die eerste minister van die Unie te maak was die einde van Engelse heerskappy in Suid-Afrika. 4 Vir die res van die twintigste eeu sou Afrikaners, nie Engelse nie, die botoon voer.

John Xavier Merriman (15 Maart 1841 tot 2 Augustus 1926) was ʼn politikus en staatsman, en die laaste premier van die Kaapkolonie. 1

Hy is veral bekend as een van die hoofontwerpers van die Uniegrondwet.

Vroeë jare

Merriman is in Somerset in Engeland gebore, die oudste van nege kinders van Nathaniel Merriman en Julia Potter. 1 Die gesin het hulle in 1848 in Grahamstad gevestig, waar sy pa die biskop van Grahamstad geword het. 2 Merriman was eers by die huis onderrig en van 1851 af by die Diocesan College (ook bekend as Bishops) in Kaapstad. Daarna het hy sy skooljare voltooi by Radley College in Engeland. Hy wou graag daarna by die Oxford-universiteit gaan studeer, maar sy ouers kon dit nie bekostig nie. Merriman het dus begin werk. 1

Radley College

Vroeë loopbaan

In 1862 het Merriman na Suid-Afrika teruggekeer. In sy eerste werk as landmeter – ʼn mens wat stukke grond afgemeet en aantekening maak van die landmerke daarop – het hy deur die Kaapkolonie en Namakwaland gereis. Van 1870 af het hy op die diamantvelde gaan werk, maar hy het lewe by die delwerye, in sy eie woorde, “afstootlik” gevind. 1

Diamantmark op delwerye

Teen 1874 het hy die diamantvelde verlaat en na Kaapstad teruggekeer om ʼn wynhandelsaak en kreefinmaakfabriek te stig. Dit het nie lank gehou nie, want in 1875 het hy beide ondernemings verkoop, toe hy ʼn minister geword het in die kabinet van die Kaapse premier, J.C. Molteno. 1

In 1878 het hy weer as landmeter gewerk, en toe tussen 1880 en 1881 as joernalis. Tussen 1881 en 1884 was hy weer ʼn minister, dié keer in die kabinet van premier T.C. Scanlen. 1

Van 1885 tot 1892 was hy betrokke by verskeie ondernemings, eers weer op die diamantvelde en van 1887 af op die goudvelde. Dit was nie vir hom baie suksesvol of aangenaam nie. In 1892 het hy uiteindelik met ʼn onderneming begin wat vir die res van sy lewe een van sy passies sou bly: Hy het die Stellenbosse plaas Schoongezicht gekoop en daar onder meer vrugte en wyn suksesvol verbou en uitgevoer. 1

Schoongezicht, Stellenbosch

Politieke loopbaan

Die groot doelwit van Merriman se lewe was om betrokke te wees in die politiek. Alreeds in 1869 is hy die eerste keer as lid van die Kaapse parlement verkies. 2 In die 1870’s en 1880’s was hy ook ʼn paar keer aangewys as kabinetslid, soos hier bo vermeld.

Nasionale konvensie

Die politiek van sy tyd was moeilik. Merriman het tussen twee passievolle groepe gestaan – Suid-Afrikaanse Engelssprekendes lojaal aan Brittanje aan die een kant, en Afrikanernasionaliste – Afrikaners wat hul eie belange wou bevorder ten koste van ander groepe – aan die ander. Merriman het ʼn diep wantroue in aggressiewe Britse imperialisme – die Britse idee om die hele Suid-Afrika onder Britse beheer te plaas – ontwikkel, en hy was heftig gekant teen die Britte se plan om Suid-Afrika ʼn konfederasie te maak. In 1881 het hy met die leier van die Afrikanerbond, J.H. (Onze Jan) Hofmeyr, saamgewerk om die Eerste Vryheidsoorlog te beëindig. Hy het die idee van ʼn onafhanklike Transvaal goedgekeur, wat baie onpopulêr was onder die Kaapse Engelssprekendes lojaal aan Brittanje. Hy was ook teen tweetaligheid en gelyke regte vir die Nederlandse taal en Afrikanernasionalisme gekant. 1

Jan Hofmeyr

Merriman het in die 1880’s reeds besef dat Suid-Afrika nooit ʼn witmensland kon wees nie. Hy het gedink wit mag is slegs aanvaarbaar as wit mense die arm en benadeelde swart meerderheid wou ophef. 3 Hy was gekant teen die Kaapse Bantoebeleid, wat hy gesien het as ʼn plan om grond op die Kaapkolonie se grense by swart groepe weg te vat en dit vir die Kaap toe te eien. 1 Hierdie houding was die beleid van die Kaapse liberales – Kapenaars wat bereid was om ander groepe, soos die swart mense, se idees te aanvaar en respekteer. Hulle het byvoorbeeld geglo dat regstelsels en stemreg nie op rasgronde geskei moes word nie. 1

Merriman was tussen 1869 en 1898 in die Kaapse parlement ʼn lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering, eers as verteenwoordiger van Aliwal-Noord en toe Namakwaland. 2 Tussen 1875 en 1878 was hy die Kommissaris (Minister) van Kroongrond en Openbare Werke in premier J.C. Molteno se kabinet. In hierdie tyd het hy dit reggekry om die spoorweë geweldig uit te brei, sonder om die regering se geld te oorbestee. Hy was ook verantwoordelik vir die eerste wet in Suid-Afrika wat besproeiing – die natgooi van landerye – beheer het. 1

Tussen 1881 en 1884 was hy weer die Kommissaris van Kroongrond en Openbare Werke, dié keer in die kabinet van premier T.C. Scanlen. 2 Van 1884 tot 1890 was Merriman in die opposisie – sy politieke party was nie deel van die regering nie. Hier was hy veral besig gehou met pogings om ʼn ooreenkoms oor spoorweë en doeane (belasting op in- en uitvoergoedere) tussen die Kaap en die Boererepublieke te sluit. Hy kon nie die Kaapse regering oortuig om ʼn billike ooreenkoms met die republieke te sluit nie en was ontevrede oor wat hy “Kaapse selfsugtigheid” genoem het. 1

Merriman se ongelukkigheid met die Kaapse regering het gemaak dat hy met Onze Jan Hofmeyr en die Afrikanerbond begin saamwerk het. Met Merriman en die Afrikanerbond se ondersteuning het Cecil John Rhodes in 1890 die Kaapse premier geword. Merriman was sy tesourier-generaal (minister van finansies). Hy het hom goed van sy saak gekwyt, onder meer deur die instelling van die Bankwet van 1891. Hy het probeer om Delagoabaai (vandag se Maputo) vir die Kaap te koop, maar dit was onsuksesvol. 1

Cecil John Rhodes
Alfred Milner

In 1895 het die mislukte Jameson-inval tot die ineenstorting van Rhodes se regering gelei. Merriman het Rhodes se optrede ten sterkste veroordeel, en hierna van Rhodes vervreem. 4 Die Jameson-inval het hom laat vermoed dat die Britse regering die Transvaal wou oorneem. Sy vermoede is versterk toe die Britse imperialis sir Alfred Milner as nuwe goewerneur in die Kaap aangekom het. Merriman en ander Kapenaars wat vrede wou hê, soos die Engelsman W.P. Schreiner en die Afrikanerbond, het in 1898 ʼn bondgenootskap gesluit wat hulle in staat gestel het om die parlementsverkiesing te wen. 2 Schreiner het die premier geword, en Merriman weer die minister van finansies. 1

Arrestasie van Jameson
W.P. Schreiner

Merriman het voorsien dat ʼn oorlog tot baie bitterheid sou lei. Hy het ook besef die kwessie van Kaapse rebelle – Kapenaars wat aan die Boererepublieke se kant wou veg – sou ʼn brandpunt word. Hy het probeer vrede bewaar deur die Transvaalse republiek te oortuig om te hervorm, maar Britse eise het dit onmoontlik gemaak. Hy was selfs deel van ʼn vredesending na Brittanje om die oorlog te keer, maar dit was tevergeefs. Die oorlog het uitgebreek, en in 1901 het hy hom vir eers van die politiek onttrek. 1

Die pad na Uniewording

Merriman het ná die oorlog weer tot die politiek toegetree as leier van die Suid-Afrikaanse Party (SAP). Sy party het vir versoening tussen Engels- en Afrikaanssprekendes gestaan, asook selfbestuur – regering sonder inmenging van Brittanje – vir die twee eertydse Boererepublieke. 1 Hy het geglo dat toenadering tussen Boer en Brit makliker sou wees indien Britse imperialisme vir eens en altyd kon verdwyn. 2 Hy het in hierdie tyd met Jan Smuts, die latere eerste minister, asook M.T. Steyn, die vorige president van die Oranje-Vrystaat, begin saamwerk en idees verwissel oor die moontlikheid van ʼn verenigde Suid-Afrika. 1

In 1908 het die SAP die algemene verkiesing in die Kaap gewen. 3 Dit was moontlik omdat die Afrikanerbond, en dus die Kaapse Afrikaners, hom ondersteun het. 5 Merriman was uiteindelik die premier, maar nie vir lank nie. Met Uniewording in 1910 het hy die amp neergelê as die laaste Kaapse premier. 1

Merriman was ʼn sleutelfiguur in die opstel van die Uniegrondwet. Ná Jan Smuts het hy die grootste bydrae tot verenigde Suid-Afrika gelewer. 1 Van 1906 af het hulle voorbereidingswerk begin doen. Oor die meeste kwessies het hulle saamgestem, maar hulle het wel oor een sleutelkwessie – die rassebeleid – verskil. Merriman wou gehad het dat die Kaapse stemregstelsel, wat beperkte stemreg aan swart en bruin mense gegee het, geïmplementeer word. Hy kon egter nie vir Smuts hiervan oortuig nie. 3 Hy het dit wel reggekry om ʼn spesiale stemreg vir nieblankes in die Kaap te verskans, wat beteken dit kon slegs weggeneem word deur ʼn tweederdemeerderheid in die parlement. 1

Jan Smuts

Merriman en die Afrikanerleier Louis Botha was die twee hoofkandidate om die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika te wees. Die pos is vir Botha aangebied, wat dit aanvaar het. Merriman het ʼn lid gebly van die SAP en was vir nog 13 jaar ʼn lid van die Unieparlement. 1 Hy het wel ʼn pos in Botha se kabinet, en ook die pos van hoë kommissaris, van die hand gewys. 2

Botha, Merriman en Smuts

Persoonlike lewe

Merriman was ʼn lewendige, gevoelige mens, wat lief was vir letterkunde en die buitelewe, Latyn en roei. Hy het ʼn vurige persoonlikheid gehad. Hy was ʼn uitstekende spreker en spitsvondig, en het ʼn gawe gehad om mense op te som. Sy impulsiewe geaardheid, lewenskrag en reputasie vir ligsinnigheid het egter soms mense van hom vervreem. Dít, tesame met die feit dat hy tussen Britse imperialiste en Afrikanernasionaliste vasgevang was, het gemaak dat hy as té individualisties gesien is. Dit is die rede hoekom hy nie vir ʼn lang tyd eerste minister van die Kaap was nie, ten spyte van die feit dat hy waarskynlik vir groot dele van sy politieke lewe die geskikste kandidaat was. 1

Merriman se invloed het verder as die politiek gestrek. Hy was ook ʼn kampvegter vir geleerdheid. Hy was die voorsitter van die trustees van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, werksaam op die universiteitsrade van Kaapstad en Stellenbosch, raadslid van die Suid-Afrikaanse Museum, asook stigter en voorsitter van die Van Riebeeck-vereniging. 1 Hy het in 1915 ʼn eredoktersgraad by die Universiteit van Kaapstad gekry. 2 Hy was ook betrokke by die Kaapse Argief. Verder was hy die voorsitter van ander verenigings oor letterkunde, wetenskap en filosofie. 1

Merriman het in 1874 met Agnes Vintcent getrou. Hulle huwelik was gelukkig, maar kinderloos. Hy het op Schoongezicht geboer en was in die politiek betrokke tot met sy vrou se dood, waarna hy ʼn beroerte gekry het. 1 Hy was 85 jaar oud toe hy in 1926 op Schoongezicht oorlede is. 2

Merriman se vrou, Agnes

Woordbank

besproeiing Die natgooi van landerye. 6
doeane Belasting op die in- en uitvoer van goedere.
imperialisme Wanneer  ʼn staat ander gebiede onder sy mag of invloed wil neem.
konfederasie ‘n Groep of vereniging van mense, partye of organisasies.
landmeter Iemand wat stukke grond afmeet en aantekeninge maak van die landmerke daarop.
liberales Om bereid te wees om ander mense se idees te aanvaar en respekteer.
nasionaliste Mense van ʼn sekere groep wat hul eie belange wil bevorder.
spitsvondig Wanneer iemand vinnig is met ‘n gepaste antwoord, of woorde op ‘n slim (en dikwels snaakse) manier gebruik.
verskans Dele van die Grondwet wat alleen deur spesiale maatreëls, byvoorbeeld met ʼn tweederdemeerderheid van die parlement, gewysig kan word.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 November 2022 | Bygewerk op 13 Mei 2024