Vinnige feite

  • Juan Perón was baie sportief. Hy was die nasionale weermagkampioen in boks, ski en skerm. Hy was byna gekies as deel van Argentinië se span vir die Olimpiese Spele. 3
  • Evita se gesig is in 2012 op 20 miljoen Argentynse geldnote gedruk. 17
  • Evita het op 14 Julie 1947 op Time-tydskrif se voorblad verskyn. 18
  • Ciudad Evita (Evita-stad) is ’n voorstad van die hoofstad Buenos Aires. Die Eva Perón-stigting het dié woonbuurt gefinansier sodat werkers ʼn plek kon hê om te bly. Dit is egter nie net na haar vernoem nie – dit lyk ook soos sy! ʼn Lugfoto van die stad wys dat Evita-stad in die vorm van haar profiel gebou is, met die gesig wat na regs kyk en haar hare in die kenmerkende bolla vasgemaak. 19
  • In Julie 2002, om 50 jaar ná haar afsterwe te gedenk, is die Museo Evita (die Evita-museum) in Palermo, Buenos Aires, geopen. Die museum is geleë in ʼn gebou wat die Eva Perón-stigting gebruik het vir behuising vir hawelose vroue en kinders. By dié museum kan jy foto’s van Evita sien en die klere wat sy gedra het – sy was bekend vir haar Dior-rokke, stylvolle pakkies en glinsterende juwele. 19
  • Andrew Lloyd Weber en Tim Rice het ʼn musiekblyspel genaamd Evita geskryf wat op 25 September 1979 vir die eerste keer opgevoer is. Die blyspel, gebaseer op Eva Perón se lewe, is 1 567 keer opgevoer en het verskeie toekennings ontvang. Dit het in 2012 met ʼn nuwe rolverdeling herleef en is weer 337 keer opgevoer. 20
  • In 1996 is ʼn rolprent van die musiekblyspel Evita vrygestel met Madonna as Eva Perón en Jonathan Pryce as Juan Perón. Antonio Banderas het as die karakter Ché in die fliek verskyn. 21
  • Die legende lui dat die kantoor van die president in Argentinië, die Casa Rosada, pienk is omdat dit met beesbloed geverf is wat later drooggeword het. 22
  • Patagonië, die Argentynse provinsie waar Juan Perón gebore is, het ʼn hele gemeenskap wat ná 120 jaar steeds Afrikaans praat. Hierdie gemeenskap is afstammelinge van Afrikanerfamilies wat ná die Suid-Afrikaanse Anglo-Boereoorlog na Argentinië geëmigreer het (as iemand van een land na ʼn ander land verhuis). 23
  • Argentinië is die agtste grootste land in die wêreld. 25
Foto: iStock

As jy ʼn kind in Argentinië was, sou Eva (Evita) Perón waarskynlik jou held gewees het. Gedurende haar tyd as die president se vrou het sy speelgoed aan kinders uitgedeel en selfs pretparke vir kinders begin.

As jy ʼn arm kind in Argentinië was, sou jy nóg meer van Evita gehou het, want sy het in die tyd wat sy die geleentheid gehad het, alles in haar vermoë gedoen om die omstandighede van arm werkersklasmense te verbeter.

Hoewel sy en haar man Juan daarin geslaag het, was daar ook baie kritiek teenoor hierdie presidentspaar, soos dat hulle sakeondernemings gedwing het om vir hierdie liefdadigheid te betaal. Verder is daar gesê dat hulle hierdie goed gedoen het net om die steun van die werkersklas in Argentinië te kry. Nog kritiek teen Eva was dat sy baie geld gehad het om aan juwele en duur rokke uit te gee (te bestee), wat die werkers laat twyfel het oor hoeveel sy werklik vir hulle omgegee het.

Of jy van haar hou of nie, daar is een ding wat seker was: Sy het – soos sy in haar outobiografie geskryf het – haar stem laat hoor. 1 Verder het sy beslis die aandag van die wêreld getrek en die omstandighede van baie mense verbeter, maak nie saak wat haar rede daarvoor was nie.

Kinderjare

Die verhaal van een van Argentinië se bekendste inwoners begin op 7 Mei 1919 in die dorpie Los Toldos in Buenos Aires, toe Juana Ibaguren geboorte skenk aan Evita Perón, gebore as Maria Eva Duarte. Sy was die jongste van vyf kinders van Juana en Juan Duarte. Sy het drie sussies, Elisa, Blanca en Erminda, en een boetie, Juan, gehad. 1

Haar pa, wat eintlik met ʼn ander vrou getroud was, was ʼn welgestelde (ryk) boer van die nabygeleë dorp Chivilcoy. Eva was skaars ʼn jaar oud toe Juan besluit om na sy wettige vrou, Adela d’Huart, terug te keer. Skielik moes haar ma alleen vir ʼn gesin van ses sorg. Juana word gedwing om na die armste deel van die dorp Junín te trek, waar sy met naaldwerk die pot aan die kook probeer hou het. 2

Die bietjie ondersteuning wat Juana en haar kinders wel van Juan gekry het, kom tot ʼn einde toe hy in 1926 in ʼn motorongeluk naby Chivilcoy sterf. Evita was toe sewe jaar oud. 1

Omdat Juan nie wettiglik met Juana getroud was nie, word Evita se gesin nie toegelaat om die begrafnis by te woon nie. Sy kon nie hierdie onregverdigheid verstaan nie. Daar word gesê dat dié gebeure ʼn groot invloed op haar lewe gehad het en waarom sy gepoog het om onregverdigheid en diskriminasie in Argentinië te beveg. 3

Die Duarte-gesin se omstandighede in Junín het later verbeter toe die ouer kinders ook begin geld verdien het. Elisa het werk by die plaaslike poskantoor gekry, Juan het vir ʼn apteek gewerk en Blanco was ʼn onderwyseres by die Heilige Hart-skool in die dorp. Erminda het haar hoërskoolloopbaan begin en Eva was ʼn graad 3-leerder aan die staatskool. 1

Op skool word sy vir die eerste keer aan die wêreld van toneelspel voorgestel toe sy in skoolopvoerings en -konserte begin deelneem. 3 Sy het veral daarvan gehou om gedigte voor te dra. 1 Toe sy as 14-jarige ’n rol in haar skool se verhoogstuk Students Arise gespeel het, het dit haar finaal laat besluit om ʼn aktrise te word. 2

Haar ma het egter ander planne vir Eva gehad. Soos dit die gebruik in daardie tyd was, wou sy gehad het dat Eva trou, maar dit was beslis nie hoe Eva haar toekoms gesien het nie. As 15-jarige verlaat sy Junín om haar droom van ʼn loopbaan in die vermaaklikheidswêreld te volg. Sy kom by haar familie, die Bustamantes in Buenos Aires, die hoofstad van Argentinië, met net ʼn tas klere aan. 1

Evita, die aktrise

Hoewel sy werk by ʼn radiostasie gekry het, het dit finansieel maar moeilik gegaan. Sy doen modelwerk om ʼn ekstra inkomste te verdien en haar huurgeld te betaal. Haar eerste produksie vir die verhoog was Mrs. Perez (la Señora de Pérez) in 1935. Die volgende jaar gaan sy saam met ʼn toneelgeselskap op ʼn landwye toer. Sy het in ʼn paar rolprente gespeel, maar het nie goeie resensies gekry nie. 2

Die keerpunt in haar loopbaan kom toe sy ʼn rol kry om elke dag in ʼn radiodrama met die naam Muy Bien te speel. Sy verwerf uiteindelik bekendheid met ʼn historiese drama oor uitsonderlike (besondere) vroue, waarin sy die rol van, onder andere, koningin Elizabeth I van Engeland en die laaste tsarina (soortgelyk aan ʼn koningin) van Rusland vertolk het. 2

Op 20 word sy die mede-eienaar van die radiomaatskappy en teen 1943 is sy die radio-aktrise wat die meeste geld in Argentinië verdien het. Nog voor hulle ontmoet het, begin Evita ʼn sepie, Toward a Better Future, wat handel oor die prestasies van Juan Perón, ’n kolonel in die weermag. 2

Die politikus, Juan Perón

In 1943 word Juan Perón as die minister van arbeid in die regering aangestel en hy het baie goed in dié pos gevaar. Binne twee jaar het hy reeds groot hervorming verseker en op só ’n manier die ondersteuning van nywerheidswerkers (mense wat in fabrieke werk) gekry. Hy het seker gemaak dat alle werkers betaalde vakansies kry; hy het werkure beperk; en beter werktoestande verpligtend gemaak.

Hy kom voor sy eerste groot toets as politikus te staan toe ʼn aardbewing op 15 Januarie 1944 ʼn groot deel van die provinsie San Juan verwoes. [Lees hier oor aardbewings.] Meer as 7 000 mense sterf en 12 000 inwoners is beseer. 3

Perón organiseer ʼn landwye geldinsameling om hulp te bied aan die beseerdes en die mense wat hul huise verloor het. Deel van die geldinsameling was ʼn liefdadigheidskonsert deur Argentinië se beste kunstenaars (akteurs, sangers, dansers, ens.). Dit is tydens hierdie konsert waar Juan en Evita mekaar die eerste keer ontmoet. 4

Toe Evita hom in sy kantoor besoek om te hoor hoe sy verder by die geldinsameling vir die slagoffers betrokke kon raak, het Juan sy hart op die jong aktrise verloor. As gevolg van die groot ouderdomsverskil (Juan was 49 en Evita 25) het hulle die verhouding vir eers geheim gehou. Die aap word uit die mou gelaat toe hulle op 9 Julie 1944 saam ʼn galageleentheid bywoon. 3

As politikus het Juan só baie steun onder die werkersklas gehad dat ander politici hom as ʼn groot bedreiging beskou het.

In Oktober 1945 is hy van al sy pligte in die regering onthef en word hy na ʼn tronk op die eiland Martín García gestuur. Groot betogings dwing die regering om hom op 17 Oktober 1945 vry te laat. Evita se passievolle uitsendings op die radio het moontlik ook ʼn invloed gehad om die werkers aan te moedig tot ʼn opstand en ʼn staking. 5

Daardie aand, net ná sy vrylating, hou Juan ʼn toespraak voor 300 000 ondersteuners vanaf die balkon van die presidensiële paleis waartydens hy sy ondersteuners belowe dat hy as ʼn kandidaat vir die presidentskap in die volgende verkiesing sou staan. 6 Vyf dae later, op 22 Oktober 1945, trou hy en Eva in ʼn hof om hul huwelik wettig te maak. Op 10 Desember hou hulle ook ʼn diens in die kerk om hul belofte aan mekaar te bevestig. 3

Dit was egter nie Juan se eerste troue nie. Hy het in 1925 die 17-jarige Aurelia Tizón ontmoet. Ná ʼn vier jaar lange verlowing het die twee op 5 Januarie 1929 getrou. Aurelia was ʼn onderwyseres en baie slim. Sy het gereeld militêre handboeke uit Engels na Spaans vir haar man vertaal. Op 10 September 1938 en ná ʼn lang siekbed, is die 30-jarige Aurelia oorlede. Die diagnose was servikale kanker. 3

Juan en Evita (soos Eva algemeen bekend was) het ná hul troue ʼn groot verkiesingsveldtog van stapel gestuur. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van Argentinië dat ʼn presidensiële kandidaat deur sy vrou vergesel is. Op 8 Februarie 1946 het Evita die gehoor verras toe sy namens Juan op die verhoog verskyn het. Hy was te siek om die mense toe te spreek. Ongelukkig was dit ʼn ramp. Die werkers was dol oor Perón (vir die hervorming wat hy vir hulle gebring het) en het Evita nog nie vertrou nie. Hulle wou haar nie toelaat om te praat nie en het “Ons soek Perón!” bly skree. 3

Evita het egter stadig maar seker al gewilder geword. Haar talent as aktrise, haar stem én haar skoonheid het waarskynlik ook gehelp. 3

In Februarie 1946 word Juan met ʼn klein meerderheid as president verkies. Evita was net 27 jaar oud toe sy presidentsvrou geword het. Soos belowe, verbeter Perón die regte en omstandighede van die werkersklas tydens sy eerste presidensiële termyn (tyd wat iemand as president dien). Hy fokus veral daarop om die omstandighede van die werkersklas met beter lone (betaling) en maatskaplike voordele te verbeter. 7 Nog hervormings was gratis onderwys, gratis gesondheidsdienste, betaalde kraamverlof (verlof wat ʼn vrou neem nadat haar kind gebore is) en die reg vir vroue om te mag stem (danksy Evita se invloed). 3

ʼn Kampioen vir werkers en armes

Hoewel Eva haar man soveel as moontlik ondersteun het, het sy ook haar eie inisiatiewe begin om die omstandighede van die werkersklas te verbeter. 8

Gedurende haar tydperk as presidentsvrou tussen 1946 en 1952 stig sy die Eva Perón-stigting wat, onder meer, die volgende vermag het:

  • ʼn Pretpark is gestig met die naam Die Kinderrepubliek wat ʼn sprokiestema soos die Disney World-pretparke gehad het. Kinders kon daar “vir hul eie president stem” en kamma-kamma lenings by banke uitneem. Die idee was om kinders meer oor demokrasie te leer. 9 [Lees hier oor demokrasie.]
  • Speelgoed is aan 4 miljoen kinders van arm mense gestuur. Soms het sy dit persoonlik by die kinders afgelewer. 10
  • Evita het gereeld vergaderings met werkersvakbonde (verenigings wat die werkers van die land verteenwoordig het) belê om uit te vind wat hul behoeftes is. Sy het ook daagliks hospitale, kinderhuise en fabrieke besoek. 11
  • Saam met die minister van gesondheid het die stigting minstens 12 hospitale gebou. Evita het selfs ʼn opleidingsentrum vir verpleegsters laat bou. 12
  • Haar stigting word bekend daarvoor dat dit kos, medisyne, klere en geld aan behoeftige gemeenskappe in Argentinië asook ander streke in Suid-Amerika gee. 12 [Lees hier oor gemeenskappe.]

 

Al het die Perón-egpaar baie steun onder die werkers van die land geniet, het die elite en die ryk mense nie dieselfde oor die Peróns gevoel nie, hoofsaaklik omdat hulle nie ʼn keuse gehad het as om vir hierdie maatskaplike projekte te betaal nie. 13

Vegter vir vroue

Waaroor daar geen twyfel was nie, veral onder vroue, is dat Evita vir hul demokratiese regte geveg het. Tot in 1947 is vroue nie toegelaat om tydens verkiesings te stem nie. Hoewel daar voorheen vir hierdie reg geveg is, het Evita se bydrae beslis die bal aan die rol gesit. 14

Op 28 September 1947 word die Verkiesingswet verander dat vroue nie net kan stem nie, maar ook as verteenwoordigers (iemand wat namens inwoners van ʼn dorp of provinsie optree) van plekke verkies kan word. 14

In 1949 stig Evita die Peronistiese Vroueparty waaraan net vroue kon behoort. Indien Juan Perón die verkiesing in 1951 sou wen, sou die lede van Evita se party outomaties ook kans kry om deel van Argentinië se regering te word. 14

Die vakbonde het Juan Perón amptelik gevra om weer vir president te staan, dié keer met Evita as sy adjunkpresident. Evita het die aanbod egter van die hand gewys, moontlik weens druk van die weermag (wat haar nog steeds nie vertrou het nie) en haar swak gesondheid. Sy was baie moeg en het gereeld flou geword. Dié simptome het gedui op servikale kanker – dieselfde kanker wat Juan se eerste vrou, Aurelia, se lewe geëis het. Perón het dit egter nie vir Evita gesê nie en dit is moontlik dat hy dit, ter wille van die verkiesing, vir die publiek ook geheim wou hou. 3

In die 1951-verkiesing stem 4 miljoen vroue vir die eerste keer. Perón ontvang 63,9% van die stemme. Ná die verkiesing het 29 vroue vir die eerste keer die geleentheid gekry om deel te wees van Argentinië se regering (uit die vroue is 23 adjunkte en ses senators aangewys). 14

Dit was ongelukkig ook Eva se eerste en laaste keer wat sy haar demokratiese reg kon uitoefen om te stem. 14 Evita was aan Perón se sy toe hy as president ingehuldig is. Dit was een van haar laaste openbare verskynings. 3

Evita sterf op 26 Julie 1952, skaars 33 jaar oud. Perón het nooit vir sy vrou gesê sy het kanker nie. 15

Evita se begrafnis

Evita se sterfte en die voorbereidings vir haar begrafnis was net so dramaties soos haar lewe. ʼn Nasionale rouperiode is vir ʼn maand lank afgekondig. Alle Peroniste het ʼn swart das of armband gedra. Vlae het halfstok gehang en lamppale is met swart bedek. Ondernemings het drie dae lank hul deure in Argentinië gesluit en slegs blommewinkels was oop. 16

Vir dertien dae lank, waartydens dit nooit ophou reën het nie, het Evita in staatsie gelê. Haar liggaam was gebalsem sodat dit byna gelyk het of sy lê en slaap. Drie miljoen Argentyne het ure lank in ʼn ry gestaan om verby haar kis te loop – sowat 65 000 mense per dag. Hulle wou vir ʼn laaste keer “La Señora” sien, soos hulle na haar verwys het. Sommige het stilgestaan om die glasdeksel te soen. Talle het flou geval, terwyl ander weer ontroosbaar gehuil het. Verpleegsters was byderhand vir die 3 900 mense wat mediese aandag nodig gehad het. Sestien mense is dood in die stormloop – verskeie weens hartaanvalle. Duisende fakkels het reg oor die land gebrand – en dit is elke aand om 20:25 geblus, dieselfde tyd wat Evita gesterf het. 16

Op 10 Augustus, ná ʼn erediens en talle huldeblyke, is die kis, met ʼn vlag daaroor, deur die strate vervoer. Sowat 2 miljoen Argentyne het langs die straat gestaan en toekyk. Pres. Juan Perón, sy kabinet en Evita se familie het agter die lykswa gestap. Blomme is van balkonne en uit vensters gegooi. Drie uur later het hulle by ʼn laboratorium by die departement van arbeid aangekom, waar Evita se liggaam tydelik gehou sou word sodat ʼn mummifikasieproses afgehandel kon word en ʼn mausoleum vir haar opgerig kon word. Die proses sou byna ʼn jaar lank duur en is in Julie 1953 afgehandel. 16

Perón sonder sy Evita

Sonder Evita aan sy sy het Juan se gewildheid afgeneem. In 1955 word Argentinië deur die weermag oorgeneem en Juan vlug na Madrid. Midde-in al hierdie chaos verdwyn Eva se kis. 17

In 1961 in Madrid trou Perón vir ʼn derde keer. Sy nuwe vrou, María Estela (Isabel) Martínez, was ʼn Argentynse danseres. Toe genl. Alejandro Lanusse in Maart 1971 oorneem in Argentinië, keer Perón terug na sy land. Kort daarna, in 1973, word Perón vir ʼn derde keer as president verkies en sy vrou Isabel word die adjunkpresident. 7

Dit is eers in 1973, nadat Perón weer aan bewind gekom het, dat die waarheid oor Evita se kis uiteindelik aan die lig kom: Die regering van Argentinië vanaf 1955 was só bang dat Evita se liggaam ʼn simbool van vryheid sou word, dat hulle haar onder ʼn vreemde naam in ʼn begraafplaas in Italië begrawe het. In 1976 word Evita Perón finaal ter ruste gelê in haar familie se grafkelder. 17

Perón se derde termyn as president was baie kort. Op 1 Julie 1974, in die ouderdom van 78, sterf hy aan ʼn hartaanval. Sy vrou Isabel neem as president oor – die eerste vroulike hoof van ʼn regering in die Westelike Halfrond. 3

Woordbank

aap word uit die mou gelaat ’n Geheim bekendmaak.
aardbewing ʼn Skielike sterk trilling van die aarde se kors.
adjunkte Amptenaar direk onder ʼn ander (meestal die hoogste) amptenaar.
baarmoeder Orgaan waarin ʼn baba of die kleintjie(s) van ʼn soogdier leef totdat hul gebore word.
(die) bal aan die rol gesit Iets aan die gang sit of begin; die eerste stap doen.
gebalsem Die liggaam van ʼn mens/dier wat gesterf het, met spesiale olies en chemiese middels behandel om te keer dat dit vergaan.
betogings ʼn Optog deur mense wat beswaar maak teen iets of op iets aandring.
demokrasie ʼn Regeringstelsel waarin elke burger van die land kan stem om die regeringsamptenare (die president, ministers, ens.) aan te wys.
diskriminasie (Onbillike) onderskeid by behandeling.
elite ʼn Groep mense wat baie mag en invloed het omdat hul baie geld, kennis of spesiale vaardighede het.
gemeenskap Die mense wat in dieselfde gebied/dorp/ens. woon.
halfstok Tot/op die helfte van die hoogte van ʼn vlagpaal.
ideologie Idee(s) wat die grondslag vorm van ʼn politieke/ekonomiese teorie/stelsel, veral sulke idees wat tot starheid, onversetlikheid van denke/optrede lei.
kandidaat Iemand wat hom/haar beskikbaar stel vir verkiesing in ʼn openbare betrekking.
keerpunt Tydstip waarop of gebeurtenis waarmee ʼn beslissende verandering plaasvind.
lening ʼn Som geld wat jy leen of wat aan jou geleen word.
liefdadigheid Die handeling van steun/geld/goed/ens. te gee aan mense wat arm/siek/ens. is en hulp nodig het.
maatskaplike Wat met die samelewing te make het.
mausoleum Praalgraf; groot, majestueuse graf, dikwels met ‘n monument.
minister ʼn Politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering.
mummifikasie Proses van uitdroging (van die liggaam van ’n gestorwene) tot ‘n mummie.
outobiografie Lewensverhaal van iemand wat deur hom- of haarself op skrif gestel word.
politikus Persoon wat hom/haar op (die) politiek toespits, van die politiek ’n beroep maak.
provinsie Een van die groot dele waarin sommige lande verdeel word, gewoonlik met ‘n eie regering.
regte Regverdigheid wat betref hoe mense behandel word en wat hulle mag doen.
resensies Beoordeling van ’n boek/kunswerk/opvoering/ens.
senators In lande soos die VSA, Australië en Frankryk, die kleiner en belangrikste deel van die twee dele van die regering met die mag om wette te maak.
servikale Die nek van die baarmoeder.
skerm (As sport) aan ʼn skyngeveg met swaarde/sabels/ens. deelneem.
staatsie Lyk van ʼn hooggeplaaste of beroemde persoon wat voor sy/haar begrafnis in ʼn gewyde plek soos ʼn kerk deur lede van die publiek besigtig kan word om vir oulaas eer aan hulle te betoon.
staking Weiering van werkers om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.
toneelgeselskap ʼn Groep toneelspelers.
vakbond ʼn Vereniging van mense wat in ʼn besondere vak werk, gestig om na die belange van die lede (hul voorregte/werksomstandighede/lone/ens.) om te sien.
van stapel gestuur Aan die gang sit; begin.
verkiesing Wanneer mense stem om iemand tot ʼn amptelike posisie te verkies.
werkersklas Sosiale groep wat bestaan uit mense wat handearbeid verrig of in die nywerheidsektor werk.

Lees hier meer oor Evita Perón

Evita se lewe in video’s

Madonna se vertolking van “Don’t Cry For Me, Argentina”

Evita en Juan besig om stemme te werf

Evita se begrafnis

Hoe Evita uiteindelik haar finale rusplek gevind het

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 November 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024