Vinnige feite

  • Die groot fout wat baie mense maak, is om te voel dat hulle as individu nie ’n verskil kan maak in ’n hele gemeenskap wat nood het nie. Maar dikwels kos dit net een persoon se inisiatief, bereidwilligheid en diensbare hart om ’n hele gemeenskap te transformeer.
  • Deur betrokke te wees by ’n gemeenskapsprojek, is daar ’n hele rits vaardighede wat jy kan slyp terwyl jy terselfdertyd ’n positiewe verskil in mense se lewens maak.
  • Om by ander gemeenskappe – veral behoeftige gemeenskappe – betrokke te raak en hulp te verleen deur byvoorbeeld kospakkies uit te deel, strate skoon te maak, geboue te verf of ander oprigtings- of instandhoudingswerk te verrig, sal nie net ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap maak nie, maar jou as persoon verryk en seën.
Foto: iStock

’n Gemeenskap bestaan uit ’n aantal individue (menslik/dierlik/plantaardig) wat ’n samehorige groep vorm. 1 ’n Gemeenskap kan ook verwys na mense wat in ’n spesifieke area, streek of land woon of word gesien as organismes wat afhanklik van mekaar in ’n sekere omgewing woon.

Voorbeelde van hoe daar na gemeenskappe verwys kan word:

  • ’n Plaaslike gemeenskap.
  • ’n Politieke of godsdienstige gemeenskap.
  • ’n Boeregemeenskap.
  • ’n Studentegemeenskap.

Die mens se behoefte aan ’n gemeenskap

Mense is lewende wesens wat wisselwerking met ander mense nodig het om te funksioneer. Mense het mekaar nodig. Ná ’n besige dag by die skool, is dit dalk vir jou lekker om bietjie alleentyd in jou kamer te spandeer: ’n boek te lees, musiek te luister of net stilte te soek. Indien jy wel vir sewe dae stoksielalleen sou wees, met geen mens in sig om mee te praat, speel of selfs te sien nie, sal ’n gevoel van verlatenheid jou heel waarskynlik beetpak!

Elke individu se behoefte aan interpersoonlike kommunikasie verskil. Sommige mense het meer behoefte aan alleentye en stilte as ander, maar selfs introverte wat gewoonlik meer van hul eie geselskap hou, het ook mense nodig om vervuld en gelukkig te voel. 2

Die verskillende behoeftes wat by mense geïdentifiseer kan word, is saamgevat in ’n model deur Abraham Harold Maslow, ’n Amerikaanse sielkundige wat die bekende “Maslow se hiërargie van menslike behoeftes (1943)”, saamgestel het. Volgens sy navorsing en bevindinge het hy menslike behoeftes in ’n piramide gerangskik vanaf die belangrikste tot die minder belangrike behoeftes. Hierdie model word vandag nog gebruik as ’n riglyn om mense se behoeftes te verstaan en te bevredig.

Maslow se hiërargie van menslike behoeftes

Vlak 1: Fisiologiese/Liggaamlike behoeftes

Hierdie vlak word gesien as die belangrikste vlak van menslike behoeftes. Vir mense om te oorleef, beteken dit noodsaaklike benodigdhede soos byvoorbeeld water, kos, slaap en vars lug.

Vlak 2: Veiligheids-/Sekuriteitsbehoeftes

Hierdie is die volgende vlak van behoeftes wat belangrik is vir die mens. Om veilig te voel en te wees, is ’n belangrike behoefte wat deel vorm van ’n mens se daaglikse bestaan. Voorbeelde van veiligheid wat ons benodig, is skuiling of behuising, veiligheid en ’n finansiële inkomste wat sekuriteit bied om noodsaaklike dinge aan te koop.

Vlak 3: Sosiale behoeftes

Betekenisvolle verhoudings met familie en vriende en aanvaarding in sosiale kringe, is ’n belangrike behoefte van mense.

Vlak 4: Behoefte aan aansien

Mense het ’n behoefte om erkenning te ontvang vir hul prestasies en waardevolle insette wat hulle in die lewe bied. Mense hou daarvan dat ander hulle respekteer en waardeer.  Selfrespek is ook belangrik en elke persoon moet ook respek vir hom- of haarself hê.

Vlak 5: Behoefte aan selfverwesenliking

Hierdie behoefte beteken dat mense graag wil groei en hul volle potensiaal wil bereik. 3

Al die behoeftes waarna in Maslow se model verwys word, word is op ‘n manier verbind aan die gemeenskap waarvan jy deel is.

Verskillende gemeenskappe

’n Gemeenskap word tradisioneel gesien as daar waar ’n persoon leef, werk en woon en dat dit dien as die plek waar hy voel dat hy (aan iets) behoort. Om deel van ’n gemeenskap te wees, kweek dus ’n gevoel van behoort en belang by ’n mens. Daar is egter verskillende gemeenskappe en ’n kleiner gemeenskap kan weer deel vorm van ’n groter gemeenskap. Om deel van ’n gemeenskap te wees, is ook nie noodwendig aan ’n spesifieke plek of area gebonde nie. Met die moderne tegnologie van ons era is daar ook verskeie aanlyn- of kubergemeenskappe. Daar is dus nou meer opsies van ’n verskeidenheid van gemeenskappe waaruit mense kan kies om van deel te wees, op grond van hul behoeftes.

Gemeenskappe kan om verskeie redes gevorm word:

Gedeelde belangstellings

Mense word deel van ’n gemeenskap waar hulle hul passie kan uitleef saam met ander mense wat dieselfde passie, stokperdjie of belangstelling deel. ’n Skyfskiet-, skryf-, sport- of musiekgemeenskap is maar enkele voorbeelde hiervan.

Aksie of beweging

Mense word deel van ’n gemeenskap wat ’n verandering wil aanbring in hul omgewing, omliggende gebiede, of selfs ’n land of die wêreld. ’n Voorbeeld hiervan is die antipelsgemeenskap.

Plek

Mense word deel van ’n gemeenskap op grond van die area of geografiese gebied waarin hulle woon soos die Namakwalandse gemeenskap. Die plek kan ook aanlyn wees, byvoorbeeld, Facebook.

Praktyk

Mense wat soortgelyke beroepe volg of dieselfde aktiwiteite doen. Die mediese gemeenskap is ’n voorbeeld hiervan.

Omstandighede

Mense se paaie kruis weens eksterne of toevallige faktore, meestal onbepland. Byvoorbeeld, skoolgemeenskap (verwysende spesifiek na die ouers van leerders wat saam in ’n klas is. Die ouers leer mekaar noodgedwonge ken en vorm saam ’n gemeenskap wat mekaar ondersteun). 4

Kenmerke van ’n ware gemeenskap

Om werklik as ’n gemeenskap beskou te word, is daar gewoonlik een of meer vereistes waaraan ’n gemeenskap voldoen:

Kommunikasie

’n Gemeenskap bestaan uit ’n groep mense wat interaktief in kontak met mekaar is. Daar vind dus wedersydse kommunikasie tussen die individue wat deel van die groep vorm, plaas. 4 Kommunikasie word as die hart van ’n gemeenskap beskou deurdat lede mekaar ook sodoende kan ondersteun, bemoedig, ervarings deel, bydraes maak en selfs kritiseer. 5

Plek

Vir ’n gemeenskap is daar ’n plek nodig vir ontmoeting of om saam te verkeer. Hoewel die plek meestal fisiek is (soos die skaakgemeenskap van De Rust wat weekliks in die stadsaal vergader), kan dit ook ’n virtuele plek van ontmoeting wees soos sosiale media. Die “plek” wat assosieer word met die gemeenskap, speel ’n belangrike rol in dit waarmee die gemeenskap geïdentifiseer word. 5

Waardes, geloof en gedrag

Die lede van die gemeenskap deel meestal dieselfde waardes, geloof en gedrag. ’n Gemeenskap wat sterk voel oor aktivisme en vir die beskerming van renosters veg, gaan geensins ’n persoon in hul gemeenskap aanvaar wat renosters jag nie. 4

Struktuur

Gemeenskappe het gewoonlik ’n mate van struktuur. Die skool het ’n beheerliggaam wat belangrike besluite moet neem en dit dan oordra aan die skoolgemeenskap. 4

Gevoel van belang

Die lede van ’n gemeenskap voel dat hulle daar hoort. Dit gee ’n mate van geborgenheid en ’n gevoel van ondersteuning deur deel te vorm van ’n groep mense wat dinge in gemeen het. Aanvaarding deur ander mense is ’n belangrike behoefte van mense. Om dus aanvaar te word in ’n gemeenskap, gee ’n individu ’n gevoel van belang wat sodoende hierdie belangrike emosionele behoefte kan help vervul. Dit vorm ook in ’n groot mate deel van ’n persoon se identiteit – die groep waarmee hy identifiseer word. 5

Gemeenskapsontwikkeling

Jy kan ’n positiewe bydrae tot jou eie gemeenskap maak, maar ook aan gemeenskappe rondom jou. Elke individu wat deel vorm van ’n gemeenskap, kan deur sy of haar optrede, gesindheid en diensbaarheid help om gesonde gemeenskappe te bou, asook om waarde toe te voeg tot gemeenskappe wat behoeftig is.

Hoe raak ek betrokke?

Ons kan alreeds ’n groot bydrae lewer deur in ons naaste gemeenskap diensbaar op te tree. En natuurlik is ons naaste gemeenskap ons familie en vriende. Net deur met ’n nuwe ingesteldheid te kyk na jou eie huis, kan jy alreeds ’n positiewe bydrae en verskil maak! Jou verantwoordelikhede, pligte en verhoudings speel ’n uiters belangrike rol in die funksionering van jou onmiddellike gemeenskap. Dit geld ook vir al die ander gemeenskappe waarby jy betrokke is, soos jou skoolgemeenskap, kerkgemeenskap, ensovoorts.

Om by ander gemeenskappe – veral behoeftige gemeenskappe – betrokke te raak en hulp te verleen deur byvoorbeeld kospakkies uit te deel, strate skoon te maak, geboue te verf of ander oprigtings- of instandhoudingswerk te verrig, sal nie net ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap maak nie, maar jou as persoon verryk en seën. Dit is ’n groot beloning om die vrug van harde werk te aanskou, maar selfs ’n groter beloning wanneer mens besef dat jy as (een) individu, ’n positiewe bydrae kan lewer wat waarde tot ’n hele gemeenskap kan toevoeg.

Wat jy alles kan leer deur gemeenskapsbetrokkenheid

Deur betrokke te wees by ’n gemeenskapsprojek, is daar ’n hele rits vaardighede wat jy kan slyp terwyl jy terselfdertyd ’n positiewe verskil in mense se lewens maak.

Jy leer, onder meer, hoe om beter te kommunikeer en te organiseer asook om dit wat jy in die skool en by die huis leer, prakties toe te pas. Daarmee saam sal jy ook die waarde daarvan leer om verbind te wees tot ’n projek en dit enduit te voer asook ’n passie ontwikkel om as vrywilliger mense te help. 6

Daar is baie verskillende gemeenskapsprojekte waarby ’n mens betrokke kan raak. Sommige gemeenskappe het reeds gestruktureerde gemeenskapsprojekte (byvoorbeeld, Solidariteit Helpende Hand) waarby ingeskakel kan word, of jy kan self ’n leemte in ’n gemeenskap naby jou identifiseer en ’n gemeenskapsprojek deur ’n nuwe inisiatief op die been bring. Die groot fout wat baie mense maak, is om te voel dat hulle as individu nie ’n verskil kan maak in ’n hele gemeenskap wat nood het nie. Maar dikwels kos dit net een persoon se inisiatief, bereidwilligheid en diensbare hart om ’n hele gemeenskap te transformeer. 7

 

Gaan maak ’n verskil waar jy kan! Onthou egter om nooit so ’n gemeenskapsprojek sonder die betrokkenheid van ’n volwassene, soos ’n ouer of ’n onderwyser, aan te pak nie.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockGrafika: Sandra AdendorffFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2022 | Bygewerk op 13 November 2023