Vinnige feite

Grey-kollege
  • Fischer was op 11-jarige ouderdom toegelaat tot die Suid-Afrikaanse Kollege, die jongste leerling wat tot in daardie stadium ooit toegelaat is. Die gemiddelde ouderdom was tussen 13 en 14. 1
  • Fischer was van die vierde geslag van die Duitse stamvader Johannes Fischer, wat in 1761 in die Kaap aangekom het. Sy grootvader was die eerste van die familie wat op die plaas Klein Bottelary in die distrik Stellenbosch geboer het, en Fischer se pa is daar gebore. 2 Die plaas is vandag nog in die besit van nakomelinge, een van die min wynplase wat nog deur die oorspronklike familie besit word. 6
  • Kruger het vir Fischer só baie vertrou dat hy twee keer probeer het om Fischer te oortuig om vir die Transvaalse regering te kom werk eers as staatsprokureur en later as staatsekretaris. Fischer het beide poste van die hand gewys. 2
  • ’n Amerikaanse besigheidsman, John E. Milholland, wat Fischer ontmoet het toe hy tydens die Anglo-Boereoorlog deel was van die sending na die buiteland, het aan die president van die VSA geskryf: “[Fischer is] the ablest leader on the Boer side, a man of thought and feeling, culture and refinement, a Christian statesman as clearheaded and farsighted as any man I have met in Europe.” 1
  • Sy kleinseun was Bram Fischer, ’n advokaat en anti-apartheidsaktivis.

Abraham Fischer (1850-1913) was ’n advokaat en minister in die eerste kabinet van die Unie van Suid-Afrika. Hy was een van die grootste persoonlikhede in die Vrystaatse én Suid-Afrikaanse politiek rondom die draai van die 19de eeu, en een van die briljantste diplomate wat Suid-Afrika al ooit opgelewer het.

Vroeë jare

Fischer is op 9 April 1850 naby Kaapstad gebore. 1 Hy was die jongste van twee seuns van Johannes Jacobus George Fischer, ’n amptenaar, en sy vrou, Catharina Anna Margaretha Brink. 2

Hy het vroeë skoolopvoeding ontvang by die destydse bekende onderwysinrigting met die naam Tot Nut van ’t Algemeen. Dit was ’n privaat skool in Kaapstad waarin Nederlands as onderrigmedium gebruik is en waar van die mees vooraanstaande Afrikaans-Hollandse Kapenaars van die 19de eeu onderrig ontvang het. 3

Toe hy op 11-jarige ouderdom by die Suid-Afrikaanse Kollege inskryf om regte te studeer, was hy die jongste leerling ooit. 1 Onder leiding van Jan Brand, die latere Vrystaatse president, het hy as student uitgeblink. 2

Jan Brand

Vroeë loopbaan

Toe Fischer in 1868 sy regstudie voltooi het, was hy nog te jonk om as prokureur te werk, en daarom moes hy eers vir ’n paar jaar as klerk werk. 1 In 1871 het hy sy eie regspraktyk in Kimberley begin. In 1875 het hy Bloemfontein toe getrek en as advokaat in die hooggeregshof begin praktiseer. Hy het vinnig bekend geword vir die hoë gehalte van sy regswerk. In hierdie tyd het hy gereeld in kontak gekom met twee mense – M.T. Steyn, die latere president van die Oranje-Vrystaat, en J.B.M. Hertzog, die latere eerste minister van Suid-Afrika – met wie hy lewenslange vriende geword het. 2

Pres. Steyn (heel regs), Abraham Fischer (tweede van regs) en hul personeel te velde

Volksraadslid

Fischer is in 1879 as lid van die Volksraad verkies. Hy het dit nie beplan nie, maar toe iemand hom benoem het, het hy die posisie aanvaar. Hy het tot in 1896 (buiten vier jaar toe hy op sy regswerk gefokus het) ’n Volksraadslid gebly. Hy was baie bekwaam, en sy opinies is hoog geag. 2

Fischer was ’n onafhanklike denker. Hy het geglo dat wanneer mens eers verkies is tot die Volksraad, jy jou eie standpunte moes stel, selfs al was dit nie wat jou kiesers wou gehad het nie. Aan die ander kant wou sy kiesers natuurlik gehad het dat hy vir húl standpunte in die Volksraad moes veg. In 1896 het hy besluit om eerder uit die Volksraad te bedank as om ’n standpunt te ondersteun waarin hy persoonlik nie geglo het nie. 2

Ná sy bedanking in 1896 het Steyn, wat toe die Vrystaatse president was en ’n baie hoë dunk van Fischer gehad het, hom as lid van die Uitvoerende Raad aangestel. Daardie raad het die president bygestaan om die Vrystaatse Republiek te regeer. Hy het hierdie posisie beklee tot in Maart 1900. 2

Nasionale Konvensie: Die Unie van Suid-Afrika is op 31 Mei 1910 ingehuldig met Louis Botha as eerste minister

Fischer het hom tussen 1879 en 1900 beywer vir veral drie sake:

  • Opvoeding: Opvoeding was vir hom baie belangrik, en sy droom van verpligte basiese onderwys vir alle Vrystaatse kinders het in 1895 waar geword. 2
  • Vervoer en kommunikasie: Hy het onverpoosd gewerk aan die ontwikkeling van die spoorweë en telegraafverbindings. Hierdie twee sake het veral ná die ontdekking van diamante belangrik geword. Dit sou die vervoer en kommunikasie tussen Bloemfontein en die diamantvelde by Kimberley vergemaklik. 1
  • Politieke samewerking: Laastens het hy hard gewerk aan nouer samewerking tussen die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), ook genoem Transvaal. 2 Hy wou nie noodwendig hê hulle moes in een land verenig nie. Hy het eerder ’n ooreenkoms tussen die twee lande gesoek waar hulle onafhanklik sou bly (elkeen sou homself regeer) maar polities en ekonomies met mekaar sou saamwerk. 1 Fischer (en ander) se pogings het in 1889 gelei tot ’n politieke verbond – die eerste tussen die twee Republieke. 2

Die oorlogswolke dreig

In 1895 het die Jameson-inval Suid-Afrika se geskiedenis onherroeplik verander. Dit het die vrees vir Britse imperialisme (die moontlikheid dat Brittanje die Transvaal wou oorneem) laat opvlam, en was ’n keerpunt in die verhouding tussen die ZAR en die OVS. 1 [Lees meer oor imperialisme.] President Steyn het Fischer aangewys om ’n sterker bondgenootskap tussen die twee Republieke te skep. Dit het gelei tot die Verdrag van Ewigdurende Vrede en Vriendskap van 1897. 2

M.T. Steyn en sy seun Colin, voor die ABO

Fischer het alles in sy vermoë gedoen om ’n oorlog af te weer. Hy was in daardie stadium die mees betroubare en bekwaamste diplomaat in Suid-Afrika. Hy het die hooftussenganger tussen die Britse hoë kommissaris, sir Alfred Milner, president Paul Kruger van die ZAR en president Steyn geword omdat hy die enigste persoon was wat vir al drie aanvaarbaar was. Milner het hom as die invloedrykste man in die Vrystaat beskou, veral weens sy progressiewe manier van dink. Die Boereleiers het hom vertrou weens sy konstruktiewe en vredeliewende optrede. 2

By die Bloemfontein-samesprekings van Mei en Junie 1899 tussen Milner en Kruger het hy as tolk opgetree. Omdat die konflik in daardie stadium net tussen Transvaal en Brittanje was, was die Vrystaat nie amptelik genooi na dié samesprekings toe nie. Maar Fischer is tog toegelaat om namens die Vrystaat sy opinies te lug – hy was dus nie net ’n tolk nie. Die pogings tot vrede by Bloemfontein het egter misluk. Fischer het Milner se oorlogsugtige en negatiewe optrede die skuld hiervoor gegee. 1

Anglo-Boereoorlog (1899-1902)

Ten spyte van Fischer se wens vir vrede, het hy tog gesê die Vrystaat moet voorberei vir oorlog, want mens kan nie net vrede teen enige prys aanvaar nie. Hy het Kruger se ultimatum (die brief waarin hy sy eise aan die Britse regering gelys het) in sy finale vorm geskryf. 2 Hy is verkies tot die Vrystaatse Krygsraad en het hard gewerk om die voorbereiding vir die oorlog vlot te laat verloop deur telegramme, briewe en proklamasies te skryf. 1 President Steyn het hom ook na die Boerelaers gestuur waar hy die kommando’s moed ingepraat en krygstaktiek bespreek het. 2

In Maart 1900, toe die gang van die oorlog vir die Boere begin skeefloop het, is Fischer aangewys as lid van ’n spesiale sending na Europa. Die doel was om ander lande te probeer oortuig om die Boere in die oorlog te help. 2 Fischer was die leier van die sending, saam met C.H. Wessels en A.D.W. Wolmarans. 1 Hulle het Nederland, Amerika, Frankryk, Duitsland en Rusland besoek. Hulle is vriendelik ontvang, en hul versoeke het bewondering afgedwing, maar geen van die lande was bereid om aan Boerekant teen die Britse Ryk op te staan nie. 2

Toe dit duidelik word dat die sending nie gaan slaag nie, het hulle in Nederland gebly om deur middel van koerante, briewe en toesprake die twee Republieke se saak te stel. Hulle het ook geld ingesamel vir mense wat deur die oorlog benadeel is. 2

Ná die oorlog

Ná die oorlog het Fischer teruggekeer Suid-Afrika toe. Soos ander politici het hy besluit om nie met die nuwe Britse regering van die Oranjerivierkolonie (soos wat die Oranje-Vrystaat ná die oorlog bekendgestaan het) saam te werk nie. Hy het dus weer as advokaat begin werk. 1

Dit beteken egter nie hy het uit die openbare lewe verdwyn nie. Hy het hom toegespits op die heropbou van die Vrystaat. 1 In 1906 het hy saam met generaals J.B.M. Hertzog en Christiaan de Wet ’n nuwe politieke party, die Orangia-Unie, gestig, 4 waarvan hy die leier was. 1

Parlementshuis van die Oranje Vrystaat

Die Orangia-Unie het die versoening van die Afrikaners ten doel gehad, 1 en die verkryging van selfbestuur – met ander woorde ’n regering waar Vrystaters aan die hoof was, en nie Britte nie. 2 Die Vrystaat het gou selfbestuur gekry, en in die verkiesing vir die nuwe regering het die Orangia-Unie maklik gewen. 1 Toe was daar die kwessie oor wie die eerste minister van die Oranjerivierkolonie onder selfbestuur sou word. Meeste mense, Fischer ingesluit, het geglo dat dit Hertzog moes wees. Hertzog self het egter vir Fischer ondersteun, omdat Fischer die senior en meer ervare lid was. 1 Fischer is daarom as leier verkies.

Generaal J.B.M. Hertzog

Tussen 1907 en 1910 het Fischer se regering gefokus op eenheid tussen wit groepe, nouer samewerking tussen die vier Britse kolonies in Suid-Afrika (Transvaal, Oranjerivierkolonie, Natal en die Kaap), veral met betrekking tot die spoorweë en doeane, ’n gesonde onderwysstelsel, 2 en ’n oplossing vir die armblankeprobleem. 1

Uniewording

Tussen 1908 en 1909 is ’n Nasionale Konvensie byeen gebring om ’n vereniging van die vier Britse kolonies in Suid-Afrika in die Unie van Suid-Afrika te bespreek. 2 Fischer was saam met Steyn, De Wet, Hertzog en A. Browne die Vrystaatse afgevaardigdes. Fischer het aktief deelgeneem aan die besprekings. Sy groot bydrae was dat sy rustige, diplomatiese geaardheid ’n noodsaaklike atmosfeer van goedgesindheid by die Konvensie geskep het. Die Nasionale Konvensie het ’n grondwet vir die nuwe Unie opgerig. Fischer het daarna hard gewerk – en dit reggekry – om die Vrystaatse burgers te oortuig om die grondwet te aanvaar. 1

Die eerste kabinet van die Unie van Suid-Afrika in 1910 onder leiding van Eerste Minister Louis Botha
Agter: J.B.M. Hertzog, Henry Burton, F.R. Moor, C. O’Grady Gubbins, Jan Smuts, H.C. Hull, F.S. Malan, David Graaff
Voor: J.W. Sauer, Louis Botha, Abraham Fischer

Die Unie se eerste minister, generaal Louis Botha, het vir Fischer die pos van minister van lande en besproeiing in die eerste Unie-kabinet aangebied. In hierdie pos het hy die grondslag gelê van ’n gesonde beleid en administrasie vir nedersettings en besproeiing. 2 Na ’n parlementskommeling in 1912 is hy aangewys as minister van binnelandse sake. 1 Hier was hy veral bekend vir die Immigrasiewet van 1913, wat die beleid van die Unie teenoor die Indiër-bevolking uiteengesit het. 2 Hierdie wet het, onder meer, die gevolg gehad dat immigrasie uit Indië na Suid-Afrika basies opgehou het. 1

Louis Botha

Die grootste politieke partye van elke provinsie, soos die ou kolonies toe genoem is, het kort ná Uniewording saamgesmelt in die Suid-Afrikaanse Party, waarvan Fischer ’n stigterslid was. Die Orangia-Unie is op 31 Julie 1912 ontbind en Fischer het met ’n swaar hart afskeid daarvan geneem. Nasionale eenheid tussen die vier provinsies was egter nou vir hom belangriker as sake wat net die Vrystaat geraak het. 1

In 1913 het hy ernstig siek geword met, onder meer, aanvalle van buikvliesontsteking en stres. Hy het dit eers weggesteek, maar is op advies van sy dokter Europa toe, waar hy goed aangesterk het. Hy het in November teruggekeer, maar het weer siek geword.

Abraham Fischer het op 16 November 1913 gesterf. Hy is in sy laaste ure bygestaan deur sy vrou en die eerste minister, Louis Botha.

Fischer en sy regering

Persoonlike lewe

Fischer het van jongs af meer volwasse as sy tydgenote opgetree. Hy het baie gelees en het ’n wye belangstelling gehad. 1

Sy vader is oorlede toe hy 11 jaar oud was.1

Fischer het op 9 Oktober 1873 met Ada Robertson, ’n Engelssprekende vrou van Fauresmith, getrou. Haar ouers was Skotse immigrante. Dit was ’n baie gelukkige huwelik. Die familie het in 1875 Bloemfontein toe getrek, en teen die einde van die eeu het sy gesin weer na die plaas Hillandale net buite die stad. 2 Hulle was ’n hartlike, gesellige paartjie wat graag onthaal het. 1

Fischer en gesin voor die ABO

Daar is twee seuns uit die huwelik gebore, waarvan die jongste, Percy Ulrich Fischer, later die regter-president van Vrystaatse hooggeregshof was. Fischer se huistaal het Engels geword, ’n feit wat sommige Afrikaners agterdogtig gemaak het. 2 Hyself het hieroor gesê dat iemand ’n goeie Afrikaner kan wees, maak nie saak watter taal hy/sy praat nie. 5

Fischer was ’n waardige man met ’n lang baard wat in latere jare spierwit was. Tydens sy ontgroening by South African College is hy met ’n akker in die oog getref. Sy regteroog is so erg beskadig, dat dit verwyder moes word, en dit het ook die sig van sy ander oog aangetas. 2 Hy is in 1884 Duitsland toe vir behandeling, wat sy linkeroog se probleem sodanig opgelos het, dat hy nooit weer probleme daarmee gehad het nie.1

In sy openbare loopbaan was hy ’n voorstaander van vooruitgang, administratief bekwaam en ’n skerpsinnige politikus. As diplomaat het hy waarskynlik nie sy gelyke in Suid-Afrika gehad nie. Hy was ’n Vrystater en Suid-Afrikaner in hart en siel, wat die idee van selfrespek verdedig en uitgebou het. Hy het meer daarvan gehou om die stryd te rig en self op die agtergrond te bly. 2

Fischer het ’n aangename geaardheid gehad. Hy was ’n geliefde persoon aan beide kante van die parlement. Hy het altyd ’n grappie gereed gehad en was, sonder uitsondering, vriendelik teenoor ondersteuner en teenstander. 1

Abraham Fischer by die Nasionale Konvensie, Durban, 1908

Woordbank

advokaat ‘n Regsgeleerde wat regsadvies aan kliënte gee en namens ’n beskuldigde, eiser of die staat sake in ’n (hoër) hof bepleit.
amptenaar Iemand wat ‘n openbare pos het, bv. in diens van die regering.
besproeiing Die natgooi/watergee van landerye.
bekwaam 
Knap en bedrewe in die werk wat jy doen.
doeane Belasting op in- en uitvoergoedere.
buikvliesontsteking 
Siektetoestand waar jy inflammasie kry van die buikvlies, die dun vlies aan die binnekant van die buik. 
diplomate Verteenwoordiger van ʼn staat by/in ʼn ander staat, bv. ʼn ambassadeur/gesant.
imperialisme Wanneer ʼn staat ander gebiede onder sy mag of invloed wil neem.
gang Verloop.
grondslag Dit waarop iets berus, die beginsel of fondament. 
grondwet reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit.
hooftussenger Iemand wat tussen twee mense staan en hulle idees met mekaar probeer versoen (bymekaarbring). 
hoë dunk n Goeie opinie/mening van iemand . 
invloedrykste Die mens wat die meeste invloed het/uitoefen. 
benoem Voorstel, nomineer.
kabinet Al die ministers wat saam die regering van die land vorm.
onafhanklik Die reg om jouself te regeer.
onverpoosd Sonder pouse of rus.
politici Iemand wat hom/haar met politiek bemoei of dit as beroep beoefen; staatsman, staatkundige.
praktiseer Jou beroep beoefen; werk.
progressiewe Ten gunste van nuwe, moderne idees en metodes.
telegraaf Elektriese seintoestel wat boodskappe oor groot afstande kon stuur.
ultimatum ’n Dreigement wat sê as iemand nie doen wat jy sê nie, gaan hy/sy/hulle gestraf word.
verbond ’n Belofte om iets of iemand onvoorwaardelik te ondersteun.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 November 2022 | Bygewerk op 18 April 2024