Vinnige feite

  • Die Spartane het geglo dat hul afstammelinge van Hercules was. 12 Hercules is in die Romeinse mitologie die seun van Jupiter en ’n sterflike vrou. Hy is bekend vir sy krag en buitensporige avonture. 13
  • Spartaanse kinders is tydens hul opleiding ook geleer hoe om kos te steel as deel van oorlewingstegnieke. 12
  • In Sparta is swak babas, wat gelyk het of hulle nooit soldate sal kan wees nie, op ’n heuwel gelos om dood te gaan. 14
  • Soms is die kinders in Sparta eerder in wyn as in water gebad. As babas gehuil het, is hulle ook nie getroos nie, sodat hulle “sterk” kan word. 12
  • Shaka het sy soldate soms vir 80 km op rowwe terrein laat marsjeer sodat hulle gewoond kon raak aan die moeilike omstandighede tydens gevegte. 14
  • Die departement van verdediging in die VSA is die wêreld se grootste werkgewer met 2,9 miljoen persone in sy diens. 15
  • Suid-Afrika was die eerste land wat kernwapens gebou het en tot dusver die enigste land wat die hele program vrywilliglik geskrap het. 16
  • Suid-Afrika het in 2021 die wêreld se 32ste sterkste weermag gehad. Suid-Afrika het 66 500 aktiewe personeel wat vir die weermag werk en 15 000 reserviste (mense wat opgeroep kan word om oorlog te voer). Daar word geskat dat meer as 14 miljoen Suid-Afrikaners gereed kan wees vir oorlog indien hulle opleiding sou ontvang en diensplig weer verpligtend gemaak word. 11
  • Israel is die land met die meeste wapens per aantal inwoners. Daar is 2 546 600 wapens vir elke 1 miljoen mense. 17
  • Die Wêreldwye Vredesindeks het Ysland in 2021 as die vreedsaamste land in die wêreld aangewys. Ysland was eerste met ’n punt van 1 185. Denemarke was tweede met 1 265 en Nieu-Seeland derde met 1 306. Hierdie rangorde word bepaal deur die vlak van veiligheid en sekuriteit vir die inwoners, die hoeveelheid konflik en die graad van militarisasie wat in ’n land teenwoordig is. 18
Foto: iStock

Dink hoe dit moet voel as jy ná skool vir twee jaar saam met die weermag in ’n oorlog ver van die huis af moet gaan veg. Pleks van universiteit toe gaan, moet jy gaan baklei in ’n bloedige oorlog waar jy kan sneuwel en nooit eers kans kry om met ’n grootmenslewe te begin nie.

Hoewel Suid-Afrika nie tans ’n militaristiese staat is nie, het baie van ons ouers en grootouers (pa’s en oupas) in die Suid-Afrikaanse Grensoorlog gaan veg. Tydens hierdie oorlog, wat 23 jaar lank geduur het (1966 tot 1989), is baie jong mans dood.

Die oorlog is egter nie net in die noorde van Namibië (destyds Suidwes-Afrika) en die suide van Angola geveg nie. Die weermag het veral townships gepatrolleer en vrees onder mense gesaai. Met die einde van apartheid het die militaristiese aard van Suid-Afrika na ’n demokrasie verander, maar in lande soos Noord-Korea en Rusland gebruik regerings steeds militarisme om hul politieke ideale te verwesenlik. [Lees hier oor demokrasie.]

Wat is militarisme?

Militarisme, of ’n militaristiese ideologie, is die manier waarop mense of ’n regering na die samelewing kyk. Iemand wat só ’n ideologie aanhang, sê die samelewing moet soos die weermag wees. Hulle word militariste genoem. 1 Militariste glo dat ’n regering aggressiewe en militaristiese maniere moet gebruik om hul nasionale belange te beskerm, hul doelwitte te bereik en beheer oor die inwoners van die land uit te oefen. 2

Dissipline is baie belangrik vir militariste. Dissipline is om gehoorsaam te wees aan die reëls wat gemaak is. Oefening help om dissipline onder mense te vestig. Militariste glo ʼn sterk weermag is goed vir dissipline. Die beginsels van militarisme kan in die sakewêreld, opvoeding, vermaak en die regering toegepas word. 1

Militaristiese lande het gewoonlik ’n sterk weermag wat die land regeer of help om die land te regeer. ’n Militêre persoon is dikwels die leier van ’n land, maar ʼn land is nie noodwendig militaristies net omdat ’n militêre persoon aan die hoof van die land staan nie. 1

Militaristiese regerings

Die algemene doel van militaristiese regerings sluit in om kulture, openbare menings (dit wat mense dink) en die media te beïnvloed. Só ’n regering is dikwels betrokke by ’n stryd met ander lande om die meeste en die beste wapens te koop en te maak. Sonder om twee keer te dink, sal hulle wettige regerings oorneem om beheer oor hulle te hê.

Die eienskappe van ’n militaristiese regering kan soos volg opgesom word:

  • Groot uitgawes deur die regering vir die weermag, spesifiek wat wapens betref.
  • Spesiale instellings wat militêre opleiding verskaf.
  • Baie soldate in die weermag.
  • Militaristiese regerings het nie vreedsame verhoudings met ander lande nie.
  • Groot militêre parades met soldate en wapens (magsvertoon). 2

Militarisme in die antieke tyd

Spartaanse militarisme is een van die bekendste voorbeelde van ’n militêre staat in die antieke tyd, want hul oorwinnings het nie net antieke Sparta gevorm nie, maar ook antieke Griekeland. 2

Sparta was ’n stadstaat (’n stad wat sy eie regering het en nie afhanklik is van die land waarin hulle geleë is nie) wat in die Lakonië-omgewing in antieke Griekeland rondom 800 voor Christus (v.C.) gestig is. Sparta was baie anders as Atene, nog ’n stadstaat in antieke Griekeland. Die Spartane het nie baie waarde geheg aan kuns of filosofie soos die Ateners nie; vir hulle was dapperheid, krag en gehoorsaamheid baie belangrik. 3

Sodra ’n seun sewe jaar oud geword het, het hy sy ouers verlaat om saam met ander seuns opgelei te word om later as ’n soldaat vir Sparta te kan veg. Hul opleiding het baie oefening en sport ingesluit om hulle sterk en fiks te maak. Die sterkste en dapperste seuns het uiteindelik kapteins (’n soldaat wat opdragte aan ander soldate gee) in die weermag geword. Hoewel meisies ook Spartaanse waardes aangeleer is, was hul opvoeding nie so streng nie. 3

Op twintig het alle seuns soldate geword en op sestig het hulle uit hul militêre loopbaan getree. Hulle het daarna as Raad van die Oudstes Sparta se twee konings gehelp om besluite te maak om die land te regeer. 3

Die Spartaanse samelewing het ook bestaan uit handelaars en ambagslui (mense wat opgelei is om sekere goed te doen) wat buite die stad gewoon het. Nog ʼn groep mense, die helote, die grootste bevolkingsgroep van Lakonië, is soos slawe behandel en hulle het op plase in die omgewing gewerk. 3

Die Spartaanse weermag het help keer dat mense van Persië (vandag bekend as Iran) Griekeland binneval. Hierdie oorloë is die Persiese oorloë (492-449 v.C.) genoem, waartydens die weermag van Atene die grootste oorwinnings behaal het. Tydens die Peloponnesiese oorlog (431-404 v.C.) tussen Sparta en Atene het Sparta as oorwinnaar uit die stryd getree en só die magtigste Griekse stad van daardie tyd geword. 3

Sparta se mag het nie lank gehou nie. Latere oorloë het Griekeland se stadstate verswak. Teen 339 v.C. het koning Phillip II van Masedonië die grootste deel van Griekeland, Sparta ingesluit, verslaan. Teen 100 v.C. het Romeinse magte Sparta oorgeneem en in 396 het die Wes-Gotiese Germaanse groep die stad vernietig. 3

Militarisme: Rede vir Eerste Wêreldoorlog

Saam met alliansies (vennootskappe tussen lande), imperialisme en nasionalisme is militarisme een van die grootste redes vir die Eerste Wêreldoorlog omdat dit sekere Europese lande gemotiveer het om hul weermagte sterker te maak. [Lees hier oor imperialisme en nasionalisme.] Militarisering – die proses om ’n land se militêre mag uit te brei – gebeur deur die aantal soldate te vermeerder en om meer wapens of weermagvoertuie te kry. 4

Hierdie militariseringsproses het reeds tussen 1870 en 1914 begin toe Frankryk en Duitsland in ’n hewige wapenstryd (’n kompetisie om te sien wie die beste en meeste wapens het) gewikkel was. Dié twee lande het ’n geskiedenis van konflik gehad en daarom het albei lande in dié tydperk hul weermag verdubbel. Pruise (die grootste Duitse staat voordat Duitsland verenig is) het Frankryk tydens die Franko-Pruisiese oorlog verslaan. As deel van die Duitse oorwinning is die Franse grensgebied Elsas-Lotaringe by Duitsland ingelyf. Dit was ʼn groot frustrasie vir Frankryk en het die spanning tussen die twee lande verhoog. 4

Gedurende dieselfde tyd was Brittanje en Duitsland besig om te kyk wie die beste en magtigste oorlogskepe kon bou. Brittanje het in daardie stadium die sterkste vloot gehad. Duitsland het die Britse vloot as ʼn bedreiging beskou en wou sy eie vloot verder uitbrei. Dit was vir Duitsland ook belangrik om seker te maak hulle kan Britse skepe in die Noordsee uitdaag – Duitsland se enigste kusgebied. Die Noordsee grens egter ook aan Brittanje en die Britse vloot het die gebied beheer. 4

Die vernietiging van die oorlog in die strate van Somme.

Die maritieme stryd tussen Duitsland en Engeland kan veral gesien word in die bou van oorlogskepe wat as “dreadnought” (“vrees niks nie”) bekendgestaan het. Die eerste HSM Dreadnought van Brittanje is in 1906 te water gelaat (in die water gesit om te vaar) en het die geskiedenis van maritieme oorlogvoering (oorlog op die see) verander. 4

Die opbou van verskillende lande se militêre magte het groot wantroue tussen Europese lande veroorsaak en hulle het begin om alliansies (groepe wat saamwerk) te vorm omdat die samevoeging van militêre magte die enigste manier was waarop hulle gedink het hulle sal sterk genoeg wees om oorloë aan te pak. 4

Voor die Eerste Wêreldoorlog was Europa in twee groepe verdeel. Aan die een kant het Brittanje, Frankryk en Rusland (toe nog die Sowjetunie) kragte saamgesnoer en aan die ander kant was dit Duitsland, Italië en Oostenryk-Hongarye. Met die uitbreek van die oorlog in 1914 het Frankryk ongeveer 4 miljoen soldate gehad. Die Duitse weermag het meer as 4,5 miljoen troepe (soldate) gehad wat gereed was om te veg. Die ander lande het nie naastenby soveel soldate gehad nie en ten tye van die uitbreek van die oorlog het die lande mekaar só min vertrou dat hulle reg was om mekaar in ’n volskaalse wêreldoorlog te pak. 4

Die kompetisie tussen die lande om te sien wie die grootste vloot of weermag kon opbou, het dus spanning tussen die lande laat ontstaan. As hulle nie sulke groot weermagte gehad het nie, sou dit dalk nie so maklik gewees het om oorlog te maak nie en die oorlog sou dalk ook nie so verwoestend gewees het nie. 4

Die Eerste Slag van die Marne.

Militarisme in Suid-Afrika

Shaka, een van die beste militariste ooit

Aan die suidpunt van Afrika was daar ook leiers wat as briljante militariste beskou kan word. Shaka Zulu het in die vroeë negentiende eeu die Zoeloe-koninkryk in Suider-Afrika gevestig en ʼn ommekeer in oorlogvoering gebring. Shaka, gebore in 1787, was die seun van Senzangakhona, een van die kleiner hoofde van een van die Zoeloe-stamme. Sy ma, Nandi, was van ʼn ander stam, waarteen hulle meegeding het.

Shaka word as ‘n briljante militaris gereken.

Shaka se geboorte is dus as ʼn sonde beskou, omdat sy ouers van verskillende stamme afkomstig was. Die leiers van die stam het druk op Shaka se ouers geplaas en Shaka en sy ma is uiteindelik uit die stam verban. Ma en seun het teruggekeer na Elangeni, maar hier is hulle ook nie met ope arms verwelkom nie. Shaka is gereeld deur ander kinders gespot en geboelie en hy is verwaarloos. 5

Toe hy ouer word, het hy die Elangeni-stam verlaat – steeds woedend oor wat die kinders aan hom gedoen het. Hy het besluit om by die sterker Mthetwa-stam aan te sluit en dien ses jaar lank as vegter in Dingiswayo se weermag. Dingiswayo was so beïndruk met Shaka se dapperheid en uithouvermoë, dat hy hom ’n belangrike rol in sy weermag aangebied het.

Dingiswayo help Shaka in 1816 om sy pa se kapteinskap (leierskap) oor te neem ná sy pa gesterf het. Hierdie posisie gee Shaka die kans om ’n magtige militêre ryk op te bou wat nie net goed kon verdedig nie, maar ook uitstekend kon aanval. 5

Ná Dingiswayo se moord in 1818 het Shaka wraak gesoek op die mense wat hom doodgemaak het, en kry dit toe hy die Ndwandwe-stam in 1820 oorwin. Sy volgende doel was om alle Zoeloesprekende stamme onder een koninkryk te verenig. In ’n stadium het die Zoeloeryk (mense van een koninkryk) uit meer as 250 000 mense bestaan. In 1827 was Shaka se mag op sy sterkste en kon hy op enige gegewe oomblik 50 000 soldate op een slag na die oorlogsveld stuur. 5

Dingaan, Shaka se halfbroer.

Hoe meer mag hy gekry het, hoe vreemder het Shaka optrede geword. Hy het ook al hoe meer soos ʼn tiran begin regeer en wreed opgetree. Sy ma sterf in 1827 en uit woede oor haar dood en oor hoe hy en sy ma deur die Elangeni-stam behandel is, het hy duisende stamlede vermoor. In 1828 word hy deur sy halfbroers Dingaan en Mhlangana doodgemaak. 5

Shaka se heerskappy oor suidelike Afrika het tot die Mfecane gelei – ʼn periode van politieke ontwrigting in die 1820’s en 1830’s en ʼn tydperk waar mense oor Suider-Afrika heen gemigreer het. Mense wou voor Shaka se weermag wegkom en hulle het noordwes na Zambië (voorheen Rhodesië) gevlug en noordoos na Tanzanië (voorheen Tanganjika) en Malawi. Die Mfecane se dodetal word tussen een en twee miljoen mense beraam. 6

Ndebele-krygers val ‘n groep Tswanas aan.

Suid-Afrikaanse militarisme in die twintigste eeu

In die laat 1960’s en 1970’s het die Suid-Afrikaanse regering al hoe meer op die weermag begin staatmaak om apartheid af te dwing. Tydens P.W. Botha se leierskap in die tagtigerjare het die regering die weermag begin gebruik om groepe soos die ANC (African National Congress), wat Suid-Afrika van apartheid wou bevry, binne en buite die land te onderdruk. 7

P.W. Botha, voormalige staatshoof van Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse regering wou seker maak dat buurlande nie die bevrydingsgroepe (so genoem omdat hulle die land van apartheid wou bevry) soos die ANC kan ondersteun nie. Ná Angola en Mosambiek se onafhanklikheidswording van Portugal in 1975, het Suid-Afrika hierdie buurlande ook as ’n bedreiging beskou omdat hulle kommunistiese regerings gehad het. Suid-Afrikaanse soldate is na hierdie lande gestuur om teen die bevrydingsbewegings te veg.

Die Suid-Afrikaanse Lugmag het sestien Buccaneer S.50’s bedryf.

Die buurlande het boonop uMkhonto weSizwe (MK), die bewapende militêre vleuel van die ANC, toestemming gegee om weermagbasisse in hul lande te vestig. Die Suid-Afrikaanse weermag het Namibië (toe as Suidwes-Afrika bekend) beset en ’n oorlog teen Angola begin voer. Daar was ook aggressiewe optrede teen Mosambiek, Lesotho, Swaziland, Botswana, Zambië en Zimbabwe. 7

Binne Suid-Afrika se grense is die weermag ook gebruik om orde te handhaaf en enige opstande teen apartheid te onderdruk. Die weermag het geweld en vrees gebruik om mense te manipuleer en te indoktrineer. 7

As gevolg van hierdie militarisasie van Suid-Afrika moes jong, wit mans ouer as agtien jaar by die weermag aansluit. Die diensplig is al hoe langer gemaak en teen die 1980’s was die verpligte dienstydperk twee jaar. Tydens die val van apartheid het die Suid-Afrikaanse weermag hul bedrywighede in die buurlande gestaak. Die verpligte weermagdiens is ook afgestel. 7

Militarisme vandag in die wêreld

Verskeie lande in die wêreld het steeds verpligte diensplig vir hul burgers. In sommige lande word daar van vroue ook vereis om diensplig te doen. Een van hierdie lande is Noord-Korea, waar mans ouer as sewentien 10 jaar lank diens moet doen in die weermag en vroue vyf jaar. 8

Die Verenigde State van Amerika (VSA) en Rusland is egter die twee lande met die sterkste weermagte. Dit word bepaal deur die hoeveelheid wapens wat ʼn land het, die verskeidenheid van wapens waaroor dit beskik, die aantal soldate en militêre personeel wat beskikbaar is, hoeveel geld ʼn land se weermag het en watter bedrywe in die land die weermag kan ondersteun. 10

Woordbank

alliansies Vereniging/verbond tussen mense/volke wat saam aan iets werk of deelneem, soos oorlog.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners kragtens kleurgroepe geskei is.
demokrasie ʼn Regeringstelsel waarin elke burger van die land kan stem om die regeringsamptenare (die president, ministers, ens.) aan te wys.
diensplig Verpligte aansluiting by die weermag, waartydens jong mans vir ’n bepaalde tyd militêre opleiding ontvang en in oorloë moet veg.
diktator Heerser met onbeperkte mag, veral met geweld verkry; alleenheerser.
dissipline Gehoorsaamheid aan gesag; ordelike gedrag.
filosofie Die studie van die aard en betekenis van die lewe, waarheid, goed en sleg, ens.
ideologie Idees wat die grondslag vorm van een of ander staatkundige of ekonomiese teorie, program of stelsel.
indoktrineer Om sekere idees opsetlik by iemand in te prent (en hulle van daardie idees te oortuig) deur dit te onderrig en as propaganda in die media te versprei.
imperialisme Politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
manipuleer Iemand laat dink en optree presies soos jy wil hê deur hom/haar om die bos te lei of te beïnvloed.
maritieme Wat op seevaart betrekking het.
marsjeer Met ferm, reëlmatige treë stap, gewoonlik in een van ’n aantal rye saam met ander in ’n groep.
media Al die verskillende vorms (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet, ens.) waardeur nuus en inligting versprei word.
Mfecane Grootskaalse verstrooiing van groepe noordelike Nguni-mense gedurende die vroeë 19de eeu na die noorde, weste en suide van die huidige KwaZulu-Natal, wat gelei het tot bloedige gevegte en oorloë en tot die ontworteling en verarming van naburige groepe; volksuitwissing.
gemigreer ’n Land/streek/plek verlaat en jou in ’n ander een vestig.
militaristiese Die benadering/oortuiging dat ʼn land ʼn sterk weermag moet hê om hom te beskerm en te kry wat hy wil hê.
militêre Wat met ʼn weermag en/of oorlogvoering te make het.
mitologie Al die oorgelewerde mites (storie wat baie mense glo, maar nie waar is nie) van ‘n volk waarin hul herkoms, geskiedenis, gode, voorvaders en helde beskryf word.
nasionalisme Die begeerte van ʼn groep mense (van dieselfde volk, met dieselfde taal, ens.) om hul eie, onafhanklike land te vorm; liefde vir jou eie land en die mening dat dit beter as enige ander land is.
ontwrigting Probleme veroorsaak en verhinder dat iets op die gewone manier gebeur/voortgaan; deurmekaar maak.
opstande Verset op groot skaal; algemene oproer.
parades ʼn Militêre seremonie waarin soldate saam staan/marsjeer sodat belangrike mense hulle kan bekyk.
politieke Idees en aktiwiteite wat verband hou met die verkryging en gebruik van mag, meestal in ʼn land of stad.
reserviste Lid van ’n reserwemag (troepemag wat in ’n noodgeval opgeroep kan word).
slawe Iemand wat die eiendom van ’n ander persoon is en sonder enige vergoeding vir hom/haar moet werk.
sneuwel Om te sterf, veral so genoem wanneer soldate in ʼn oorlog dood is.
Spartaanse (Soos) van of wat betref Sparta of die Spartane.
staat Die regering en politieke organisasie van ʼn land.
tiran ʼn (Alleen)heerser wat met mag en wreedheid regeer.
townships Stedelike woongebied met lae-inkomstebehuising buite die gevestigde stedelike gebiede opgerig, vroeër uitsluitlik vir swart inwoners.
vloot Al die skepe van ’n land/staat/maatskappy; al die oorlogskepe van ʼn land; die seemag.
waardes Hoedanigheid wat iets wenslik/nuttig maak; betekenis deur gehalte.
wapens Voorwerp/toestel om mee aan te val of jou te verdedig; voorwerp/toestel waarmee jy ’n letsel kan toedien, soos gewere, spiese, messe ens.
weermag Gesamentlike land-, see- en lugmag wat ’n land verdedig.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die ontwikkeling van wapens en skepe voor die Eerste Wêreldoorlog het lande baie senuweeagtig gemaak

Wat is politieke ideologie?

Tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog moes troepe leer hoe om ʼn bed perfek op te maak

In die tagtigerjare is ’n televisiereeks met die naam Shaka Zulu gemaak. Die temalied is vandag nog steeds gewild

Militaristiese state soos Rusland wys dikwels hul mag deur parades wat soldate en wapens insluit. Meer as tagtig vliegtuie was deel van hierdie optog

Die verskil tussen imperialisme, nasionalisme en militarisme en hoe dit bygedra het tot die Eerste Wêreldoorlog

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Julie 2023 | Bygewerk op 8 Mei 2024