Vinnige feite

Grenspos, Namibië
  • Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (ook die Bosoorlog genoem) het vir 23 jaar geduur – dit was een van die heel langste oorloë in die geskiedenis van Afrika. 5
  • Die werklike getal soldate wat tydens die Grensoorlog gesterf het, sal waarskynlik nooit presies bekend wees nie. Volgens Suid-Afrikaanse bronne was daar teen 1 November 1988 altesaam 715 soldate van die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte wat gesterf het, 1 078 burgers van Suidwes-Afrika en 11 291 aan die kant van Angola. 4
  • SWAPO is in 1957 as die Ovamboland People’s Congress deur Herman Toivo ya Toivo in Kaapstad gestig. In Junie 1960 is die naam verander na SWAPO. 7
  • Die weermag het die term “kaplyn” gebruik vir die skoongemaakte strook op die grens tussen Suidwes-Afrika en Angola, waar alle bosse en bome afgekap is sodat die grens beter beskerm kon word. 8
  • Operasie Protea wat in 1981 gebeur het, was die grootste gemeganiseerde operasie deur die Suid-Afrikaanse Weermag sedert die Tweede Wêreldoorlog. In hierdie operasie het die weermag 10 soldate verloor en PLAN en FAPLA 1 000. Die SAW het ook 4 000 ton toerusting gebuit. Dit het tenks, pantservoertuie en lugafweerkanonne ingesluit. 9
  • Die soldate op die Grens moes nie slegs op die uitkyk wees vir die vyand nie, hulle moes ook versigtig wees vir krokodille wanneer hulle drinkwater uit riviere geskep het! Een soldaat moes gewoonlik met ’n geweer gereed staan wanneer sy makker water skep, net ingeval ’n krokodil dalk die waterskepper wil aanval. 4
  • Die Suiderkruisfonds wat in 1968 gestig is, het ’n belangrike rol gespeel om vir die dienspligtiges pakkies te stuur en te sorg dat hulle kry wat hulle nodig gehad het. 2
Foto: iStock

Normaalweg beteken “grens” net die plek waar twee lande bymekaar kom. In Suid-Afrika het die woord iets heeltemal anders vir mense begin beteken toe seuns, wat nog eintlik net tieners was en pas uit die skool gekom het, “grens” toe moes gaan om te gaan oorlog maak. Kom ons kyk na die wie, wat en waar van die Grensoorlog.

Omvang van bedrywighede in die Suid-Afrikaanse Grensoorlog

Wanneer en waar die Grensoorlog gebeur het

Die Grensoorlog het vanaf 1966 tot 1989 geduur. 1

Die oorlog het in die noorde van Namibië plaasgevind. In daardie tyd was Namibië se naam nog Suidwes-Afrika. Die oorlog was ook in die suide van Angola – hierdie gebied is die operasionele gebied (waar die oorlog plaasgevind het) of die werklike “grens” genoem. Daar was soms ook gevegte in die suidweste van Zambië, Botswana, Rhodesië (vandag Zimbabwe), Mosambiek, Lesotho, Swaziland en ook soms in Suid-Afrika self. 1

Aanvalle op buurlande soos Mosambiek het gebeur wanneer die buurlande terroriste toegelaat het om basisse in hul lande te hê. Dit is waarom die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) byvoorbeeld in 1981 teikens (trefpunte waar terroriste gewerk het) in Maputo, hoofstad van Mosambiek, aangeval het. In 1982 het die SAW ook soortgelyke teikens in Maseru, hoofstad van Lesotho, aangeval. 1

People’s Liberation Army of Namibia aan die beweeg

Waarom die Grensoorlog in Namibië begin het

Ná die Eerste Wêreldoorlog het Suid-Afrika die mandaat gekry om Suidwes-Afrika (vandag Namibië) te regeer. Suidwes-Afrika (SWA) of Suidwes, soos in daardie tyd genoem is, is as ’n vyfde provinsie van Suid-Afrika beskou. 1

Die ander vier provinsies was toe Transvaal, Natal, Kaap en die Vrystaat.

Die voormalige Suid-Afrikaanse Weermagbasis in Outapi, Omusati, Namibië

Suidwes-Afrika het selfs aan die Curriebeker-kompetisie deelgeneem. 2

Dele van die plaaslike bevolking in Suidwes het teen hierdie reëling en teen die apartheidswette in Suid-Afrika in opstand gekom (wou dit nie aanvaar nie). Om daarteen te veg, het SWAPO (South West African People’s Organisation) in 1960 uit ’n ander organisasie, Ovamboland People’s Congress, ontstaan. SWAPO het ook ’n militêre vleuel (afdeling) gehad met die naam PLAN (People’s Liberation Army of Namibia).

PLAN het al hoe meer sabotasie gepleeg en aanvalle uitgevoer. Dit het die Suid-Afrikaanse regering gedwing om die polisie in Namibië met lede van die weermag te vervang om die grens te beskerm en aanvalle te probeer voorkom (te keer voor dit plaasvind). 1

Die SAW het op 1 April 1974 die beskerming van die grens oorgeneem. 3

Waarom daar ’n oorlog teen Angola was

In dieselfde tyd – die 1970’s – het Portugal ʼn burgeroorlog in drie van sy kolonies gehad, naamlik Mosambiek, Guinee Bissau en Angola.

In Angola was dinge buite beheer, want daar was drie verskillende bevrydingsbewegings bedrywig en hulle het dikwels ook teen mekaar geveg.

Hierdie drie bewegings was:

  • MPLA (People’s Movement for the Liberation of Angola). Hierdie organisasie was die sterkste, was Marxisties-georiënteerd (het Marxisme ondersteun) en het Agostinho Neto as leier gehad.
  • FNLA (National Liberation Front of Angola). Hulle is gesteun deur die VSA (Verenigde State van Amerika) en Zaïre en hul leier was Holden Roberto.
  • UNITA (National Union for the Total Independence of Angola). Hulle was pro-Westers (het die Weste gesteun) en het ondersteuning van Suid-Afrika en die VSA gekry. Hul leier was dr. Jonas Savimbi. 1

Portugal het saam met Suid-Afrika gewerk om seker te maak dat PLAN en SWAPO nie beheer in die suide van Angola kon kry nie. Daarom het Suid-Afrika in 1975 besluit om Operasie Savannah in Angola van stapel te stuur. Dit was die eerste keer dat die SAW ’n militêre operasie (’n militêre oefening) oor die grens aangepak (gedoen) het. 1

Gedurende 1975 het Kuba militêre personeel na Angola begin stuur. In April 1975 het die eerste 230 Kubaanse soldate aangekom en kort daarna is Kubaanse wapens ook na Angola gestuur. Rusland het hierdie hulp gefinansier. 3

In Maart 1976 was daar 36 000 Kubaanse militêre personeellede in Angola en in 1989 was daar reeds 55 000. Terwyl Suid-Afrika in hierdie stadium steeds deur die internasionale gemeenskap geboikot is as gevolg van die apartheidsbeleid, het die Westerse regerings tog in stilte Suid-Afrika se optrede goedgekeur omdat hulle die land se optrede as ’n stryd teen Kommunisme gesien het. 1

Diensplig

Hierdie woord het die lewe in Suid-Afrika vir altyd verander en ’n baie groot invloed op gesinne gehad.

Vanaf 1967 was diensplig verpligtend vir alle wit mans. Twee maande ná ’n seun se 16de verjaardag is hy vir diensplig geregistreer en wanneer hy 18 geword het, het sy opleiding begin. Die opleiding was eers nege maande en later 12 maande lank. Tussen 1951 en 1993 het meer as 600 000 dienspligtiges militêre diens gedoen. 2

Hierdie stelsel het beteken dat jong mans wat eintlik nog seuns was, direk nadat hulle matriek voltooi het, vir diensplig moes aanmeld en baie van hulle is direk ná hul basiese opleiding Grens toe gestuur.

Wat dinge vir ouers en familie baie moeilik gemaak het, was die feit dat die weermag se bedrywighede natuurlik geheim gehou moes word. Hulle het dus nie geweet waarheen hul seuns gaan en wat hulle doen nie. ’n Joernalis en skrywer, J.H. Thompson, het gesê: “Wat ek die beste onthou, is ouers wat huil. Ek dink nie hulle het regtig gehuil omdat hulle seuns weggaan nie, maar eerder omdat hulle nie geweet het waarheen die kinders gaan nie.” 2

In hierdie tyd kon gesinne pakkies Grens toe stuur met lekkernye en allerhande dinge wat die soldate nodig gehad het. Die soldate het baie daarna uitgesien om so ‘n pakkie te ontvang! Briewe was natuurlik ook baie belangrik, al is die briewe gesensor (deur amptenare deurgelees) omdat daarin geen inligting kon wees oor waar die soldate was of wat hulle gedoen het nie. Vra gerus vir jou oupa en ouma wat hulle jou van diensplig en die Grens kan vertel.

ZiS-3 veldgeweer by die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Militêre Geskiedenis

Die soldate in die oorlog

Aan die begin van die oorlog was die soldate hoofsaaklik wit dienspligtiges uit Suid-Afrika in hul laat tienerjare asook beroepsoldate uit die Staande Mag (SM). Later was daar ook baie swart, bruin en Indiërsoldate wat vrywillig by die leër aangesluit het. Daar was selfs ’n bataljon Zoeloesoldate. Daar was ook soldate uit Suidwes-Afrika. Die tale wat deur die soldate gepraat is, was onder meer Afrikaans, Engels, Kwanyama, Ndonga, Silozi, Kwangali, Zoeloe, Portugees en ook ’n hele paar Sandialekte. 4

Bevelsraad en Personeelraad, 1989

Krygkor maak nuwe wapens

Toe die Grensoorlog in 1966 begin het, was die Suid-Afrikaanse weermag se wapens baie verouderd (nie meer modern nie en nie meer goed genoeg nie). Om hierdie rede het die regering Krygkor (Krygstuigkorporasie van Suid-Afrika) in 1976 begin met die doel om nuwe wapens vir die weermag te ontwikkel. Omdat die res van die wêreld Suid-Afrika geboikot het, kon die weermag nie wapens op die internasionale mark koop nie. Daarom het Krygkor self uitstekende nuwe wapens begin ontwerp en bou.

’n Paar hiervan was die Ratel-gevegsvoertuig (1976) en die Valkiri-kanon wat ’n teenvoeter vir die Russiese Stalin-orrel moes wees. Die ou Mirage-vegvliegtuie is gemoderniseer (beter gemaak) en die Cheetah is ontwikkel. 1

29 Aerospatiale Alouette III van die Suid-Afrikaanse Lugmag

Krygkor het die G5- en G6-kanon ontwerp. Hulle het ook die Samil 50-herwinningsvoertuig vervaardig wat gebruik kon word om voertuie wat by die vyand afgeneem is, mee te vervoer. Hierdie voertuig was ook bestand teen landmyne (dit was sterk genoeg gemaak dat landmyne dit nie kon beskadig nie). Daar was ’n paar verskillende modelle van hierdie vragmotor en elkeen is vir ’n ander soort werk gebruik. 3

Die weermag het ook baie ondervinding opgedoen oor landmyne, en Krygkor het verskillende tenks ontwikkel wat soldate binne-in die tenks teen landmyne kon beskerm. ’n Paar van hierdie voertuie was die Hippo, Buffel, Casspir, Nyala en Kwêvoël. 1

Wapens wat gebruik is deur 32 Bataljon by die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum van Militêre Geskiedenis, Johannesburg

Die SAW se soldate het mynopsporingsapparate gebruik om na landmyne te soek. Dit was ’n apparaat met ’n lang handvatsel wat die soldate gedra het en dan voor hulle net bokant die grond heen en weer beweeg het om te kyk of die apparaat registreer dat daar ’n landmyn onder die grond weggesteek is. Wanneer ’n landmyn só opgespoor is, moes dit met die hand uitgehaal en onskadelik gestel word. 3

Hierdie apparate was soortgelyk aan dié wat mense vandag soms op strande gebruik om na metaalvoorwerpe of muntstukke wat onder die sand begrawe is, te soek.

Krygkor se werk is streng geheim gehou sodat niemand geweet het waarmee hulle besig was nie. In 1982 het dit die wêreld verras toe Krygkor deelgeneem het aan ’n wapenskou in Athene, Griekeland. 3

Die eerste twee Suid-Afrikaanse G6 155-mm houwitsers tydens ‘n demonstrasie, kort voordat dit in gebruik geneem is vir die oorlog.

Só is daar oorlog gemaak

Spoorsny was ’n belangrike deel van die weermag se werk en sowel SWAPO as die SANW het deskundiges geword in spoorsny en ook in anti-opsporingstegnieke (om te keer dat iemand anders jou spore kan volg). Die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) het ’n teeninsurgensie-eenheid gehad wat ook Ovambo-spoorsnyers gebruik het (die Ovambo’s was een van die inheemse stamme in Suidwes). Hierdie spoorsnyers was so goed dat hulle dinge aan spore kon sien soos of iemand moeg was, of iemand ’n vrag gedra het en ook hoe lank gelede die spore gemaak is.

Die operasionele gebied was baie groot. Die grens tussen Suidwes en Angola was 1 600 km lank. Die SANW het in 1980 ongeveer 18 000 soldate in dié gebied gehad. 1

Die FAPLA-brigade se posisies na die Lombarivier-terugtog, Oktober 1987

Die oorlog het meestal uit kleiner skermutselinge (veldslae, gevegte) bestaan wat dwarsdeur die oorlog voortgeduur het.

Die SAW het invalle oor die grens tussen SWA en Angola gedoen om opleidingskampe van SWAPO en PLAN in Angola en in die suidweste van Zambië aan te val.

SWAPO en PLAN het SWA te voet binnegekom met groepe wat van ’n paar soldate tot groepe van 100 soldate gewissel het. Hulle het dan SAW-basisse in die noorde van Suidwes aangeval, landmyne in paaie geplant (begrawe) of infrastruktuur soos brûe beskadig.

Die SAW se basisse was gewoonlik ’n reghoekige gebied met ’n grondwal rondom van 2 tot 3 meter hoog. Op die hoeke was daar masjiengewere en ander wapens en in die kamp was daar ’n hoë uitkyktoring waarin wagte was om die gebied rondom die basis dop te hou. Soldate het in ondergrondse bunkers (versterkte vertrekke) of in tente geslaap. 1

Dit is die enigste beeld van die bemanning van die Antonov AN-12 No.11747 vragvliegtuig wat op 25 November 1985 in Angola, Cuando Cubango provinsie, neergeskiet is.

Teen watter organisasies het die SAW oorlog gemaak?

  • PLAN, SWAPO se militêre vleuel:
    Hulle het geveg vir die vryheid van Suidwes en wou Suid-Afrika uit Suidwes verdryf. Hulle is deur die Oosbloklande ondersteun.
  • FAPLA (People’s Armed Forces of Liberation of Angola), die MPLA se militêre vleuel:
    Hulle het in November 1975 beheer oor Luanda, die hoofstad van Angola, asook oor dele van Angola geneem en het geveg om daar in beheer te bly. Hulle is ook deur die Oosbloklande gesteun.
  • Die Kubane:
    Daar het uiteindelik ongeveer 350 000 Kubane militêre diens in Angola gedoen. Hul doel was om kommunistiese revolusies oor die wêreld te laat posvat (te laat gebeur). Hulle het ook deel gevorm van die Sowjetunie (die Sowjetunie bestaan nie meer nie; Rusland was deel van die Sowjetunie) se Koue Oorlog (die Sowjetunie se oorlog teen die Weste).
  • Ander: Militêre adviseurs en tegniese personeel vanaf Oos-Duitsland, China, Noord-Korea, die voormalige Sowjet Republiek. Hulle het as deel van die Koue Oorlog teen die Weste geveg. 5
Demonstrasie in Amsterdam, met ‘n beroep op Nederlandse boikot van Suid-Afrika weens die Suid-Afrikaanse Weermag se voortgesette operasies teen Angola se Marxistiese regering. Hierdie protes het plaasgevind in die nasleep van Operasie Protea.

Die oorlog eindig

Op 30 Augustus 1988 het die laaste Suid-Afrikaanse soldate uit Angola onttrek (uitbeweeg).

Op 1 November 1988 het Suid-Afrika en SWAPO op ’n skietstilstand besluit. Op 19 Mei 1989 word ’n gesamentlike verklaring deur Suid-Afrika, Kuba en Angola uitgereik wat beteken het dat die Grensoorlog uiteindelik verby was. 4

Gedenkplate ter ere van Suid-Afrikaanse dienspligtiges van die 61 Gemeganiseerde Gevegsgroep wat tydens operasies Dolfyn (1983) en Askari (1983-84) dood is.
Suid-Afrikaanse Polisiemedalje vir die bekamping van terrorisme

Muur van herinnering

By die Voortrekkermonument in Pretoria is daar sedert 2009 ’n muur van herinnering met die name van Suid-Afrikaanse soldate wat vanaf 31 Mei 1961 met Republiekwording tot en met 27 April 1994 in diens van die land gesterf het. Die name van soldate wat tydens die Grensoorlog gesterf het, is ook op hierdie muur. Die name is dus net van soldate wat in die ou SAW diens gedoen het omdat die nuwe SANW (Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag) met die eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 tot stand gekom het. 6

Die Koevoet Muur van Herinnering, by die Voortrekkermonument, Pretoria

Lys van afkortings

SAP: Suid-Afrikaanse Polisie

SAW: Suid-Afrikaanse Weermag

SANW: Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag

SWA: Suidwes-Afrika (vandag Namibië)

SWAPO: South West African People’s Organisation

PLAN: People’s Liberation Army, SWAPO se militêre vleuel

MPLA: People’s Movement for the Liberation of Angola

FAPLA: Die MPLA se weermag

FNLA: National Liberation Front of Angola

UNITA: National Union for the Total Independence of Angola

FRELIMO: Mozambican Liberation Front 5

‘n Ontvanger van die Pro Patria-medalje wat tydens die 1966-1989 Grensoorlog in Suid-Afrika in versendings genoem is, was geregtig om ‘n miniatuurwapen op die lint te dra. Die Pro Patria-medalje is in 1974 ingestel en is toegeken aan dienende lede van die Suid-Afrikaanse Weermag vir ‘n tydperk van 55 dae aaneenlopende of 90 dae nie-aaneenlopende diens in ‘n operasionele gebied soos deur die minister aangewys, in diens in die verdediging van die RSA vir die onderdrukking of voorkoming van terrorisme.

Woordbank

basisse Die plek waarvandaan soldate op patrollies of operasies vertrek en waar voorraad en ammunisie gestoor word.
bataljon Soldate-eenheid.
geboikot Die besluit om ʼn land/iets/iemand nie te ondersteun nie.
gebuit Dit wat aan die vyand behoort, deur verowering te vat.
bunkers Skuilplek ondergronds.
dienspligtiges Persone wat opgeroep word (opdrag kry) om in die weermag diens te doen.
gemeganiseerde ’n Optrede wat met die hulp van masjiene (soos byvoorbeeld weermagvoertuie en weermagtenks) plaasvind.
guerrilla-oorlogvoering Om oorlog op ’n onkonvensionele of ongewone manier te maak deur klein groepies soldate wat vinnig rondbeweeg, wat infrastruktuur (soos brûe, spoorlyne, ens.) van die vyand te vernietig.
laat posvat Laat begin; versprei.
makker Iemand wat saam met jou dinge doen of gedoen het. Dit word gewoonlik deur mans of seuns gebruik en dikwels ook in oorlogsituasies – “Hulle was groot makkers in die weermag”.
mandaat Die reg of mag om iets te doen of namens ’n groep of land besluite te neem omdat hulle daardie reg vir jou gegee het.
Oosbloklande Mongolië, Viëtnam, Laos, Kambodja, Noord-Korea, Sirië en China.
operasie Dis die woord wat deur die weermag gebruik is vir ’n veldtog of ’n sending.
operasionele gebied Gevegsgebied.
patrolleer Bespied, nagaan, ondersoek, verken, waghou.
sabotasie Om opsetlik (aspris) voertuie of toerusting te beskadig sodat jou vyand dit nie meer kan gebruik nie.
skermutselinge Veldslag, geveg.
skietstilstand Ooreenkoms tussen vegtende groepe om op te hou skiet; wapenstilstand.
spoorsny Die spoor van ʼn mens/dier/die vyand volg.
teeninsurgensie Optrede teen insurgensie, dit wil sê teen die gewelddadige opstand teen ’n regering.
teiken   Trefpunt. 10

Video’s

Die oorlog in Angola

Die werklikheid van die Grensoorlog

Troepe in Angola ontplooi – dokumentêr (1981-1982)

Die oorlog wat 23 jaar geduur het!

So word ’n landmyn opgespoor en onskadelik gestel

Die Buffel – militêre voertuig

Ratelvoertuig deur Krygkor ontwikkel (+ Russiese T72 tenk)

Grafika: Dawid BrandFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Mei 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024