Vinnige feite

  • Die Slag van Congella was die eerste gewapende botsing tussen Boer en Brit sedert 1806. 4
  • Dick King se jaagtog na Grahamstad is ’n bekende heldedaad in Suid-Afrika se geskiedenis. Hy het in tien dae meer as 1 000 km met twee ryperde en ’n Zoeloe as gids afgelê om hulp te kry. 4
  • Pietermaritzburg, wat deur die Voortrekkers gestig is, is vandag die mees Engelse stad in Suid-Afrika. Bloemfontein, wat deur die Britte gestig is, is vandag die mees Afrikaanse stad. 1
  • Die ironie van Susanna Smit se woorde is dat sy nooit Natal verlaat het nie. Sy is in 1863 in Pietermaritzburg oorlede. 1
  • Een van die redes waarom Brittanje bereid was om vir die ZAR en OVS onafhanklikheid te gee, was omdat Brittanje in daardie tyd by die Krimoorlog teen Rusland betrokke was. 4

Sedert die eerste Europeërs in Suider-Afrika aangekom het, was daar by sommige van hulle ’n drang om van die koloniale owerhede weg te breek en hul eie regerings daar te stel. Hulle het gevoel die owerhede dra nie hul belange op die hart nie, en hulle moes as vrye mense na hul eie belange omsien.

Die eerste pogings om vrye gemeenskappe te vestig, was in 1795 in die Kaapse distrikte Graaff-Reinet en Swellendam. Dit het ongelukkig totaal misluk. Latere pogings in die 19de eeu het uitgeloop op die stigting van verskeie republieke, insluitend Natalia, die Oranje-Vrystaat, die Zuid-Afrikaansche Republiek, Lydenburg, die Nuwe Republiek, Stellaland en Goosen.

Wat is ’n republiek?

Vir ’n land om ’n republiek te wees, beteken dat daar ’n grondwet of stel wette as basis vir die regering moet wees, en ’n regering wat demokraties (volgens die definisie van daardie tyd) verkies is. 1

Dit was veral die voorsate van die Afrikaners – die trekboere en later Boere – wat hierdie soort regerings voorgestaan het.

Republiek Natalia (Natal), 1839-1842

Die Voortrekkers van die Groot Trek se groot droom was om hul eie republiek in die binneland te stig, ver weg van Britse beheer. Nadat hulle die Zoeloes by die Slag van Bloedrivier in 1838 verslaan het, het hierdie droom ‘n werklikheid geword met die stigting van die Republiek Natalia in Februarie 1839. 2 Die Portugese het die kus Natalia genoem nadat Vasco Da Gama op Kersdag 1498 die kus bereik het.

Andries Pretorius was die eerste leier. Wette sou gemaak word deur ’n volksraad. Die volksraad se lede is demokraties verkies deur wit mans (al die lede van die volksraad was mans). 1

Andries Pretorius.

Die grense van die Republiek Natalia was tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier, dié grense wat Piet Retief en Dingaan erken en in die traktaat onderteken het. 1

Die Republiek Natalia.

Die hoofstad was Pietermaritzburg, wat vernoem is na die Voortrekkerleiers Piet Retief en Gerrit Maritz. Pietermaritzburg het aanvanklik min inwoners gehad. Meeste burgers het op plase gewoon. 1 Daar was nooit meer as omtrent 6 000 Afrikaners in totaal wat in Natalia gewoon het nie. 2

Piet Retief.

Wes van die Drakensberge was daar vir ’n kort rukkie ’n Republiek van Winburg-Potchefstroom, maar hulle het in 1840 met Natalia saamgesmelt. Verteenwoordigers van dié republiek het Natalia se volksraadsittings bygewoon. 1

Natalia se ekonomie – die stelsel waarvolgens ‘n land se goedere vervaardig en geld gebruik word – het nooit juis aan die gang gekom nie. Die ekonomie het gedraai om spekulasie – die koop en verkoop van plase. So byvoorbeeld het een boer, kommandant Gert Rudolph, meer as 40 plase besit. 1

Die inwoners het meer gestroop (die nabye swart groepe se vee geplunder) as geboer. In 1840 het hulle byvoorbeeld die Bhaca-gemeenskap onder hoofman Ncaphayi van hul vee beroof en enkele Bhaca-kinders as inboekelinge (of inboekselinge) – jong mense wat vir ’n tydperk as werkers op Boere se plase gaan woon het – weggevoer. 2

In die 1840’s het Brittanje om twee redes belangstelling in die gebied begin toon. Eerstens het Britse sendelinge by die Britse regering gekla dat die inboekelingstelsel dieselfde ding as slawerny was – en slawerny was onwettig. Die Britte was vasbeslote om slawerny uit te roei. Tweedens het die Britse owerheid nie daarvan gehou dat daar skepe van ander lande by Natalia toegelaat is om mee handel te dryf nie. 1

In Mei 1842 het daar 250 Britse soldate in Natalia aangekom – per voet, heelpad van die Oos-Kaap af! In ’n geveg by Congella het die Voortrekkers hierdie soldate verslaan en daarna hul kamp by Port Natal (vandag bekend as Durban) omsingel. Een van die Britse handelaars wat daar gewoon het, Dick King, het egter weggeglip en te perd na Grahamstad gery om versterkings te kry. Die versterkings het op die nippertjie per skip in Port Natal opgedaag en die Boere weggedryf. 1

In die onderhandelings hierna het die Voortrekkers ingestem om Britse gesag te erken in ruil daarvoor dat hulle hul eie binnelandse administrasie kon beheer. Die Republiek van Natalia is amptelik op 15 Julie 1842 aan die Britse magte oorgegee, en dit was dus die einde van Natalia se bestaan. Natal is in 1845 tot ’n distrik van die Kaapkolonie verklaar. 1

Die Voortrekkers van Natalia was natuurlik nie gelukkig hiermee nie – die rede hoekom hulle in die eerste plek aan die Groot Trek deelgeneem het was juis om van Engelse beheer weg te kom! Baie het getrek – wes oor die Drakensberge na Transvaal of die Oranje-Vrystaat. Sommige het agtergebly in die hoop dat hulle die Britte sou oortuig om te onttrek, maar dit was tevergeefs.

Dit was uit protes teen hierdie anneksasie wat een van die Voortrekkervroue, Susanna Smit, aangekondig het dat hulle eerder kaalvoet oor die Drakensberge sou stap voor hulle onder Britse gesag sou lewe. Meeste Afrikaners het Natal eindelik verlaat, en daarom het dié gebied ’n oorwegend Engelse area gebly, soos dit vandag nog is. 1

Susanna Smit.

Die Oranje-Vrystaat (OVS), 1854-1902

Die Republiek van die OVS was geleë tussen die Garieprivier (Oranjerivier) in die suide en die Vaalrivier in die noorde. Die gebied het, volgens die Bloemfontein Konvensie, sy onafhanklikheid op 23 Februarie 1854 van Brittanje verkry, en in dieselfde jaar ’n grondwet aangeneem. 1

Die vlag van die Oranje-Vrystaat.

Teen 1854 het daar ongeveer 15 000 burgers in die Oranje-Vrystaat gewoon. 2

Die Oranje-Vrystaat was oor die algemeen ’n goed georganiseerde republiek met ‘n doeltreffende regering. Omdat dit so naby aan die Kaapkolonie was, was daar gereeld nuwe intrekkers. Veral president Jan Brand het baie gedoen om dié republiek op te bou. 1

Pres. Jan Brand.

Gedurende sy leeftyd is die Oranje-Vrystaat deur verskeie uitdagings in die gesig gestaar. Die eerste was die sogenaamde Basoetoevraagstuk, naamlik die konflik oor grond met die Basoetoes onder Mosjesj. Dit het gelei tot verskeie oorloë, wat uiteindelik geëindig het toe Brittanje Basoetoeland in 1868 geannekseer het. 1

Die tweede was die Diamantveldkwessie. Diamante is ontdek op grond wat die Oranje-Vrystaat geglo het aan hulle behoort. Daar was egter ook ander aanspraakmakers op die gebied. Die grond is aan die Griekwas toegeken, waarop die Britte onmiddellik Griekwaland geannekseer het. Hierdie gebeure het veroorsaak dat die meeste Vrystaters die Britte as vyande beskou het. 1

Die derde uitdaging was Brittanje se belangstelling in Transvaal. Die konflik tussen Transvaal en Brittanje het op twee oorloë uitgeloop, waarby die Oranje-Vrystaat eers indirek en toe direk betrokke was. Tydens die eerste oorlog (die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881) het heelwat Vrystaters op hul eie saam met die Transvalers teen die Britte geveg. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902), was die OVS betrokke as toegewyde bondgenoot (iemand wat homself verbind om ’n ander te help) van Transvaal.

Parlementshuis van die Oranje-Vrystaat.

Die Boererepublieke het die oorlog verloor. Met die Vrede van Vereeniging wat aan die einde van die oorlog gesluit is, het die Republiek van die OVS tot ’n einde gekom. Die gebied het ’n kolonie van Brittanje geword en as die Oranjerivierkolonie bekendgestaan.

Die Presidensie in Bloemfontein, 1901.

In 1910 het die Oranje-Vrystaat weer een van die provinsies van die Unie van Suid-Afrika geword, met Bloemfontein as regsprekende hoofstad. 1

Die Zuid-Afrikaansche Republiek, 1857-1902

Die gebied wat later die ZAR genoem is, het op 17 Januarie 1852 met die Sandrivierkonvensie sy onafhanklikheid van Brittanje verkry. Daarna moes die inwoners ’n regering skep. 1

In die vroeë jare was Transvaal baie verdeeld. Ná onafhanklikheid was daar veral twee groepe, een onder Andries Pretorius en die ander onder Andries Hendrik Potgieter, wat verskil het oor watter soort regering hulle daar wou stel. Teen 1857 het Pretorius se seun, M.W. Pretorius, dit reggekry om almal te verenig en ’n grondwet te aanvaar.

Pres. M.W. Pretorius.

Die ZAR het eers amptelik in 1857 tot stand gekom met M.W. Pretorius as president. Die hoofstad was Pretoria. Die amptelike naam was die ZAR, maar die naam Transvaal is meer algemeen gebruik. Die ZAR was ’n demokratiese republiek waar wit mans stemreg geniet het. Geen swart groepe is by die regering betrek nie. 1

Die inwoners was meestal beesboere, maar hulle het ook met ander vee en gewasse geboer. Daar was ook mense wat ’n lewe gemaak het uit transportry en jag. 1 Die ekonomie was swak en die republiek het niks gehad om uit te voer vir inkomste nie. Die meeste mense was bestaansboere en daar was net enkeles wat vir die staat gewerk het. 2

Die ZAR het ‘n swak staatsdiens gehad. Probleme het onstaan omdat baie mense wat nie die nodige kennis gehad het om die staatsdiens te bedryf nie, aangestel is. Opvoedingsvlakke was laag en kinders is deur ‘n rondtrekkende onderwyser bedien. Hulle het net ongeveer drie maande van die jaar onderrig ontvang. Nepotisme en wanadministrasie was aan die orde van die dag.

Die Transvalers was deur die loop van dié republiek se bestaan deur konflik geteister.

Die eerste was onenigheid tussen die Transvaalse burgers. Hulle het verskil oor regeringstyle en kerkaangeleenthede. In 1859 het Pretorius homself as president van die OVS laat verkies. Die Transvaalse Volksraad het hom forseer om te bedank. Dit het die verdeling onder die burgers tot ’n punt gedryf en op die Transvaalse Burgeroorlog uitgeloop. Ná ’n paar ligte skermutselings het Pretorius as Vrystaatse president bedank en teruggekeer. Hy is weer tot president herkies, en die vrede is herstel. 1

Soos die OVS, was die ZAR ook in konflik met sy swart bure. Dit het ingesluit die Kwena en Rolong, Tswana-stamme, die Pedi, die Ndebele van Mokopane, en die Venda. Die konflik het in die meeste gevalle gegaan oor die swart groepe wat nie onderhorig aan die Transvaalse regering wou wees nie, oor belasting, asook oor grondbesit. 1

Die Zuid-Afrikaanse Republiek of Transvaal (groen), Oranje-Vrystaat (oranje), Republiek Natalia (rooi) en die Kaapkolonie (blou).

In 1877 het Brittanje besluit om Transvaal te annekseer. Hierdie anneksasie het drie jaar later op die Eerste Vryheidsoorlog uitgeloop. Die oorlog het minder as ’n jaar geduur. Transvaal het as oorwinnaar uit die stryd getree, en ná onderhandelings basies sy onafhanklikheid teruggewen. 1

Transvaal het arm gebly tot met die ontdekking van goud in 1886. Die regering het nie ’n groot bron van inkomste gehad nie, en pogings om die land te moderniseer, het misluk. Die ontdekking van goud het alles onherroeplik verander. Die regering het vir die eerste keer geld gehad om die land op te bou. Die burgers het nou ekonomiese moontlikhede gehad, soos om met die myne handel te dryf, transport te ry, en kos aan die myndorpe te verskaf. 1

Een van die gevolge van die ontdekking van goud was dat Brittanje begeer het om daardie rykdom in die hande te kry. Die uitlanders – buitelanders wat na die goudvelde gestroom het – het begin aandring op politieke regte wat Paul Kruger (president sedert 1883) nie wou toestaan nie.

Pres. Paul Kruger.

In die konflik tussen die uitlanders en die Transvaalse regering het die Britse regering ’n kans gesien om hul invloed uit te brei deur die myne in te palm. Die konflik het uiteindelik tot die Anglo-Boereoorlog gelei – ’n driejarige oorlog tussen die ZAR en hul bondgenoot die OVS aan die een kant, en Brittanje aan die ander kant. Transvaal het die oorlog verloor, en dit het die einde van die ZAR beteken. Die leiers van die ZAR het in die jare ná die oorlog egter ’n leidende rol gespeel, en veral in die verenigde Suid-Afrika (Unie) wat ná 1910 tot stand gekom het. 1

Lydenburg, 1848

Die Lydenburgers was meestal Trekkers wat ná die anneksasie van die Republiek van Natalia na die Oos-Transvaal getrek het waar hulle in 1845 die dorpie Ohrigstad gestig het. Ná ernstige koorsepidemies het hulle in 1849 ’n ent suidwaarts verhuis en die dorpie Lydenburg gestig.

‘n Longtom-kanon naby Lydenburg.

Hulle het vir lang tye soos ’n onafhanklike republiek gefunksioneer en selfs hul eie vlag gehad. Hulle wou eers nie deel wees van Transvaal nie, want hulle wou ’n sterk volksraad as regeringsvorm hê, en nie net een sterk leier nie. Dit het hulle veral met Andries Hendrik Potgieter se volgelinge in konflik geplaas. 1 In 1857 het hulle ’n verdrag met die Sekwati gesluit waarvolgens die grens tussen die Pedi-koninkryk en die Republiek van Lydenburg neergelê is. 2 Dié republiek het uiteindelik deel van Transvaal geword.

Embleem van die Lydenburg-kommando.
Die Gereformeerde kerk in Lydenburg.

Die Nuwe Republiek (Vryheid)

Ná die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879 was daar ’n burgeroorlog tussen die voormalige Zoeloekoning Cetshwayo se seun, Dinuzulu, en ander ’n groep Zoeloehoofmanne. Dinuzulu het ’n klompie Boere as huursoldate in diens geneem, in ruil vir ’n stuk grond. Die huursoldate het in 1884 die Nuwe Republiek afgekondig, met Vryheid as die hoofstad. 1

Dinuzulu het ‘n klompie Boere as huursoldate in diens geneem.

Die eerste president was Lukas Meyer. Louis Botha, die latere eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, was ook een van hul leiers. 3 Die Nuwe Republiek het maar ’n kort bestaan gehad – dit is in 1888 by die ZAR as die distrik Vryheid ingelyf. 1

Genl. Louis Botha.

Stelleland (Stellaland) en Land Goosen (Gosen/Goshen)

Op die Transvaalse wesgrens het daar ook Afrikaners as huursoldate vir swart gemeenskappe soos die Tswana geveg. 3 Hulle is vrybuiters genoem, en is ook met grondgebied vergoed. Die vrybuiters het twee afsonderlike republieke gestig: Stelleland met Vryburg as hoofstad en Land Goosen met Rooigrond as hoofstad.

Die Vlag van Stellaland.

Hierdie republieke het ook nie lank gehou nie. Brittanje wou hulle nie erken nie, en in 1884 het Brittanje troepe gestuur om hul bestaan te beëindig. Hulle het oorgegee sonder om te veg. 1 Die oostelike dele van die twee republieke is by die ZAR ingelyf, en die westelike dele is deur Brittanje geannekseer. 3

Embleem van die Stellaland-kommando.

Woordbank

geannekseer Om besit van ʼn gebied te neem.
bondgenoot Iemand wat hom verbind om ‘n ander te help.
ekonomie Die stelsel waarvolgens ‘n land se goedere vervaardig en geld gebruik word.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit.
transportry Goedere vervoer.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video om meer te wete te kom

Die Boererepublieke

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Augustus 2022 | Bygewerk op 17 September 2024