Vinnige feite

  • Audrey Hepburn se twee seuns, Sean Hepburn Ferrer en Luca Dotti, het ná hul ma se afsterwe die Audrey Hepburn-kinderfonds gestig.
  • Haar seun, Luca Dotti, is ʼn skrywer en het al twee boeke oor sy bekende ma geskryf.
  • Audrey Hepburn en die ontwerper Hubert de Givenchy was meer as 40 jaar vriende. Sy het gesê dat sy klere die enigste is waarin sy soos haarself kon voel en dat hy baie meer as net ʼn modeontwerper was. Hy was ʼn “skepper van persoonlikheid”.
  • Hepburn moes tulpbolle tydens die Tweede Wêreldoorlog geëet het omdat daar ernstige voedseltekorte was. ʼn Nuwe tulpsoort is in 1990 na haar vernoem. Die wit Hepburn-tulp is as ʼn huldeblyk na haar vernoem.
  • Hepburn kon vyf tale praat: Engels, Spaans, Frans, Nederlands en Italiaans.
  • Sy het in ʼn onderhoud met LIFE Magazine erken dat sy ʼn introvert is en alleentyd benodig.
  • Haar gunstelingkleur was blougroen.
  • Hepburn het op die ouderdom van vyf begin dans. 6
  • Een van die bekendste Givenchy-rokke wat Hepburn gedra het, is die bekende swart rok wat sy aan die begin van die rolprent Breakfast at Tiffany’s gedra het.
  • Audrey Hepburn se ouers was glo albei ondersteuners van die Nazi’s, maar nie hul dogter nie. Dit het eers latere jare aan die lig gekom.

As jy van rolprente hou, het jy waarskynlik ʼn gunstelingakteur. Audrey Hepburn was baie mense se gunstelingakteur, en mense kyk steeds na haar rolprente en bewonder haar werk. Hoewel sy in Europa gebore is, het sy groot roem in Hollywood verwerf en wêreldwyd ʼn bekende naam geword.

Grootwordjare

Sy is as Audrey Kathleen Ruston op 4 Mei 1929 in Brussel, België, gebore. 1 Haar ma se naam was Ella van Heemstra, ʼn Nederlandse barones, en haar pa was ʼn Britse bankier genaamd Joseph Victor Anthony Ruston. Hoewel Audrey in België gebore is, het sy Britse burgerskap verkry omdat haar pa Brits was. Hulle het in Engeland gebly, en sy het daar skoolgegaan. Haar ouers is egter later uitmekaar, en sy en haar ma het met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog na Nederland getrek. Haar ma het gedink dat Nederland, as ʼn neutrale land, veiliger as Engeland sou wees. As ʼn land neutraal is, beteken dit dat die land nie aan die oorlog deelneem nie en nie kant kies nie. Dit was egter nie veiliger nie, want Duitsland het ook Nederland ingeneem. Daar het swaarkryjare voorgelê, want daar was groot kostekorte en baie mense, insluitend Hepburn, het aan wanvoeding gelei.

Haar ma het ook in daardie tyd tydelik haar dogter se naam en van na Edda Van Heemstra verander, want sy was bang dat haar Britse naam haar Britse bande sou verklap. Duitsland en Brittanje het toe teen mekaar geveg.

Ten spyte van die moeilike tye was Hepburn ʼn baie goeie balletdanser en het soms vir mense konserte gehou. Sy het later vertel dat die gehore net nie kon handeklap nie, want hulle was bang dat die Nazi’s hulle sou vang. Soos baie ander Nederlandse kinders het sy ook geld en dokumente tussen ondersteuners van die weerstandsbeweging gesmokkel. Kinders het hierdie werk gedoen, want die Nazi’s het hulle nie maklik deursoek nie. Die weerstandsbeweging was ʼn groep gewone mense wat hul bes probeer doen het om die vyand se planne in die wiele te ry. 2

Audrey Hepburn in Funny Face

Ná die oorlog het Hepburn ballet in Amsterdam en in Londen studeer en in haar twintigerjare het sy ook toneelklasse geloop en as ʼn model en danser gewerk.

Sukses op die silwerdoek

Hepburn het aanvanklik klein rolle in rolprente vertolk, maar haar lewe het handomkeer verander toe haar talent op ʼn dag raakgesien is. Sy was besig om ʼn rolprent in Monte Carlo, Monaco, te verfilm toe die Franse skrywer Colette haar raakgesien het. Sy het gevoel dat Hepburn ideaal vir die hoofrol van die verhoogweergawe van haar boek Gigi sou wees en het daarop aangedring dat sy die rol moes kry. Hepburn het die rol gekry en in 1951 in dié Broadway-stuk opgetree. Sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt en het baie goeie resensies vir haar vertolking ontvang. Sy het daarna haar eerste groot rol in ʼn Amerikaanse rolprent gekry. Dit was die rol van ʼn jong prinses in Roman Holiday (1953), en dit het vir haar daardie gesogte Oscar-beeldjie in die hand besorg. Hepburn het daarna op die verhoog as ʼn waternimf in Ondine verskyn, en dit is deur die rolprente Sabrina (1954), Funny Face (1957), War and Peace (1956), Love in the Afternoon (1957), Green Mansions (1959) en The Nun’s Story (1959) gevolg.

Audrey Hepburn en Andrea Dotti
‘n Skermskoot van die rolprent, Charade
Skermskoot van Audrey Hepburn en Mel Ferrer uit die film War and Peace
Skermskoot van Audrey Hepburn uit die film Charade

Een van haar bekendste rolle was die van Holly Golightly in Breakfast at Tiffany’s (1961). Die spannende rolprent Charade (1963), My Fair Lady (1964), Two for the Road (1967), Paris when it Sizzles (1964) en How to Steal a Million (1964) was volgende.

Skermskoot uit die rolprent Roman Holiday

Sy het in die riller Wait Until Dark (1967) gespeel en daarna vir eers totsiens vir Hollywood gesê om op haar gesin te fokus. Hepburn het wel nou en dan rolle aanvaar, soos toe sy in 1967 as Marian saam met die akteur Sean Connery in Robin and Marian verskyn het. Haar laaste rolprentrol was dié van ʼn engel in Steven Spielberg se rolprent Always (1989).

Audrey Hepburn in Breakfast at Tiffany’s

Telkens bekroon

Die akroniem EGOT word gebruik om sterre wat ʼn Emmy-, Grammy-, Oscar- en ʼn Tony-toekenning gewen het, te beskryf. Hepburn is een van slegs 18 mense (in 2023) wat dit al reggekry het. Sy is met ʼn Oscar-toekenning vir beste aktrise vir haar rol in Roman Holiday (1953) bekroon. In 1994 het sy ʼn Tony-toekenning vir beste aktrise in ʼn drama vir haar rol in Ondine gewen.

Hepburn is in 1993 met ʼn Emmy-toekenning postuum (ná haar afsterwe) vir die dokumentêr Audrey Hepburn’s Gardens of the World bekroon. Hepburn se Grammy is ook postuum toegeken. Sy het in 1994 ʼn Grammy vir die beste gesproke woordalbum vir kinders gewen. Dit is vir die voorlees van sprokies op Audrey Hepburn’s Enchanted Tales. Sy is ook in haar leeftyd met drie Golden Globe- en drie Bafta-toekennings bekroon.

Audrey Hepburn se ster op die Hollywood Walk of Fame

ʼn Stylikoon

Audrey Hepburn was nie net bekend vir haar rolprentrolle en skoonheid nie, maar ook vir haar besonderse smaak en styl. Sy en die ontwerper Hubert de Givenchy het ʼn vriendskap gehad wat oor dekades gestrek het, en hierdie vriendskap het haar en sy lewe in baie opsigte verander. Givenchy het sy modehuis in 1952 geopen en was bekend vir elegante skeppings. Hepburn is Givenchy se muse genoem. Dit beteken dat sy as die inspirasie vir baie van die klere wat hy ontwerp het, gedien het. Sy het nie net sy klere op die rooi tapyt gedra nie, maar ook in rolprente soos Breakfast at Tiffany’s, Sabrina en Funny Face. 3

Audrey Hepburn in die rolprent Sabrina
Audrey Hepburn in My Fair Lady

ʼn Ware filantroop

Hepburn was iemand wat baie vir ander mense gedoen het. Ons noem iemand soos sy ʼn filantroop. Sy was ʼn groot kampvegter vir kinderregte en het in 1988 ʼn UNICEF-welwillendheidsambassadeur geword. Nadat sy as ʼn ambassadeur aangewys is, het sy eerstens Ethiopië besoek. Jare van droogte en burgerlike onrus het tot ʼn groot hongersnood in hierdie land gelei. Hepburn het ná die besoek projekte begin en praatjies gelewer om geld in te samel. Sy het verskeie UNICEF-reise onderneem en haar beywer om die lewe van mense te verbeter. Dit is veral kinders wat haar na aan die hart gelê het. Sy het verskeie toekennings vir haar humanitêre werk ontvang, soos Amerika se presidensiële vryheidsmedalje. Hoewel sy aan kanker gelei het, het sy steeds haar werk voortgesit en na verskeie lande gereis. 4

Persoonlike lewe

Hepburn het die akteur Mel Ferrer ontmoet toe hulle saam op die verhoog in die Broadway-toneelstuk Ondine opgetree het. Hulle het in 1954 in Switserland getrou en het een seun, Sean, gehad. Hulle is in 1968 geskei. Sy het in 1969 met Andrea Dotti, ʼn Italiaanse psigiater, getrou en hulle het ook een seun, Luca, gehad. Die paartjie is ook later geskei. Hepburn het ná haar twee ongelukkige huwelike ʼn gelukkige verhouding met ʼn Nederlandse akteur Robert Wolders gehad. Hulle was van 1980 tot en met haar dood saam. Hepburn is in 1992 met kolonkanker gediagnoseer. Sy is op 20 Januarie 1993 in die ouderdom van 63 by haar huis naby Lausanne, Switserland, oorlede. 5

Audrey Hepburn met die vervaardiger en akteur Mel Ferrer by hul besoek in Stockholm 1959

Gedenkteken ter ere van Audrey Hepburn in Tolochenaz

Woordbank

barones Dit is ʼn adellike titel.
filantroop Iemand wat die armoede en lyding van ander mense probeer versag, veral deur liefdadigheid.
huldeblyk ʼn Eerbetoon.
kampvegter Iemand wat die voortou neem in of stry vir ʼn saak waarvoor hy of sy hom of haar beywer.
postuum Ná afsterwe.
psigiater ʼn Dokter wat in die psigiatrie spesialiseer. Die psigiatrie is ʼn afdeling van geneeskunde wat te doen het met die diagnose, behandeling en voorkoming van geestesongesteldheid, emosionele versteurdheid en abnormale gedrag.
resensies Die beoordeling van ʼn boek, kunswerk of opvoering.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Audrey Hepburn

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Audrey Hepburn

Hepburn se bekendste rolprente

Dinge wat jy nie van Hepburn geweet het nie

ʼn Onderhoud met Audrey Hepburn

 

Gepubliseer op: 4 November 2022 | Bygewerk op 8 Desember 2023