Vinnige feite

  • Steven Spielberg het tot dusver in sy loopbaan 22 Oscar-nominasies en drie Oscar-toekennings (een vir Saving Private Ryan as beste regisseur; een vir Schindler’s List as beste regisseur; en nog een vir Schindler’s List as beste rolprent) ontvang. 24 Hy het reeds altesaam 199 toekennings in sy loopbaan ontvang. 25
  • Benewens die pryse wat hy in die rolprentwêreld gekry het, is hy in 2015 deur pres. Barack Obama met die presidensiële medalje van vryheid vereer. Dit is die hoogste toekenning wat aan ʼn burgerlike (mense wat nie in die weermag is nie) in die VSA toegeken word. 26
  • Nadat hy talle eredoktorsgrade (toekenning wat ʼn universiteit gewoonlik aan iemand maak wat baie goed in sy of haar vakgebied is) ontvang het, het hy op 55 na die universiteit teruggekeer en uiteindelik sy BA-graad in Filmproduksie en Elektroniese Kunste verwerf. Volgens hom het hy dit gedoen “sodat kinders en jongmense kan sien hoe belangrik dit is om jou studiedoelwitte te haal”. 27
  • Die 2022-rolprent The Fablemans was gedeeltelik gebaseer op Spielberg se kinderjare en sy vroeë kennismaking met rolprente. Hy het vir die eerste keer in meer as 20 jaar help skryf aan die draaiboek en ook in die regisseurstoel gesit. Gabriel LaBelle en Michelle Williams het die hoofrolle vertolk. Al is dié rolprent in sewe Oscar-kategorieë benoem, het hy nie een beeldjie gewen nie. 29
  • Die film Schindler’s List, waarvoor Spielberg onder meer ʼn Oscar-toekenning vir beste regisseur ontvang het, het meer as $300 miljoen (sowat R5,4 miljard) wins gemaak. Spielberg wou egter nie ʼn sent daarvan hê nie, omdat dit volgens hom “bloedgeld” sou wees. Hy het die geld gebruik om die Shoah-stigting te begin wat die verhale van die oorlewendes van die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog dokumenteer. 27
  • Steve se sniphond (Cocker Spaniel), Elmer, het meer keer as enige mens in sy rolprente verskyn. Die hondjie was te sien in Close Encounters of the Third Kind, 1941, The Sugarland Express, The Wiz en Jaws.
  • Die boot in Jaws het tydens verfilming gesink en moes deur ʼn nuwe boot vervang word. 28
  • Steven Spielberg is mal oor videospeletjies. 29 ʼn Paar van sy rolprente, soos die Indiana Jones-reeks, is ook as videospeletjies ontwikkel. 30
  • Die vervaardigers het Albert Einstein en ʼn mopshond (pug) in gedagte gehad toe hulle die gesig van E.T. gemaak het. 31
  • Spielberg was al drie keer die regisseur van die grootste lokettreffers. Jaws het die vorige rekord verdriedubbel toe dit $470 miljoen (bykans R8,5 miljard) in 1975 gehaal het. In 1982 het E.T. The Extra-Terrestrial altesaam $792 miljoen (meer as R14 miljard) in kaartjieverkope gehaal. Jurassic Park het in 1993 wêreldwyd $914 miljoen (sowat R16,4 miljard) gehaal. 28
  • Spielberg se rolprente het in totaal meer kaartjies verkoop as enige ander regisseur. Sy rolprente het altesaam al meer as $10 miljard (meer as R180 miljard) uit kaartjieverkope verdien. 32
Foto: iStock

ʼn Haai wat só realisties is dat jy vir jare daarna dit steeds nie in ʼn swembad wil waag as daar ʼn Kreepy Krauly naby is nie. ʼn Skreeulelike, maar oulike ruimtewesentjie wat jou in trane het wanneer hy na sy planeet moet terugkeer. ʼn Park waar dinosourusse herleef en amok maak…

Al hierdie rolprente (en nog ʼn hele rits ander) is deur die genie (slim, briljante persoon) van die silwerdoek, Steven Spielberg, gemaak. Oor die afgelope meer as vyf dekades vertel hy stories op só ʼn manier dat dit vir fliekgangers voel of hulle in die middel van die aksie is. Dáár waar jy vir jou lewe moet weghardloop om van ʼn reusagtige T-Rex weg te kom, of soos Indiana Jones voor ʼn yslike klip moet vlug.

Dié filmregisseur word beskou as ʼn baanbreker en is die skepper van die eerste Hollywood-lokettreffers. 1

Kinderjare

Steven Allan Spielberg is op 18 Desember 1946 in Cincinnati, Ohio in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. Hy was die oudste kind en enigste seun van Arnold Spielberg, ʼn elektrotegniese ingenieur, en Leah Posner, ʼn konsertpianis (klavierspeler). 2 Albei sy ouers is van Joodse families wat van die Oekraïne na die VSA geëmigreer het. 3

Ná Steven volg sy susters Anne, Sue en Nancy. Sue is die enigste kind van Arnold en Leah wat nie ʼn loopbaan in die vermaaklikheidswêreld het nie. Steven se oudste sussie, Anne, is ʼn draaiboekskrywer wat ʼn Oscar-benoeming vir die rolprent Big (met Tom Hanks en Elizabeth Perkins) gekry het. Sy sussie Nancy begin haar rolprentloopbaan as ʼn assistent (helper) tydens Steven se eerste rolprente. Vanaf 2014 vervaardig sy haar eie rolprente, veral dokumentêre rolprente. 3

Die eerste fliek wat hy in ʼn teater gesien het (sover as wat hy kan onthou), was The Greatest Show on Earth (1952), wat oor ʼn sirkus handel. Sy belangstelling was geprikkel en as agtjarige begin hy om met sy ma se kamera gesinsvakansies en familiebyeenkomste af te neem. Dit het hom vinnig verveel en hy begin storieflieks maak waar hy byvoorbeeld van verskillende kamerahoeke (hoek en hoogte van ʼn kamera wanneer iets afgeneem word) en eenvoudige spesiale effekte gebruik maak.

Toe hy 12 jaar oud was, het hy ʼn draaiboek en akteurs gebruik. Die fliekgogga het hom gebyt en sy loopbaan begin! 4

As 15-jarige wen sy 40 minuut lange oorlogsfliek Escape to Nowhere die eerste prys in ʼn kompetisie vir amateur-filmmakers in Arizona. 5

Sy eerste vollengte rolprent van twee uur en 15 minute lank, volg toe hy 17 jaar oud was. Firelight is ʼn wetenskapsfiksieprent oor ʼn aardbewoner wat ʼn ruimtewese ontmoet. Sy pa huur ʼn teater om die fliek te vertoon en tydens die openingsaand (eerste aand wanneer ʼn film gewys word) maak hy $500 en dek só die aanvanklike koste om die film te vervaardig. 4

Spielberg het $1 (sowat R18) wins gemaak met sy eerste fliek. Hy het later in ʼn onderhoud verduidelik hulle het die kaartjies vir $1 per persoon verkoop en 500 mense het die fliek kom kyk. Een persoon moes per ongeluk $2 betaal het, want aan die einde van die aand was daar $501 (nagenoeg R9 000) in die geldtrommeltjie. 6

Opleiding

Daar is verskeie redes waarom Steven nie goed op skool gevaar het nie. Benewens die feit dat hy aanhoudend geboelie is, het hy van jongs af eintlik net daarin belanggestel om rolprente te maak. Sy ouers was ook nie baie streng nie en het hom toegelaat om by die huis te bly en te maak of hy siek is. Tog was die grootste rede waarom hy op skool gesukkel het, die feit dat hy disleksie gehad het. 5

Disleksie is ʼn leerprobleem waar mense sukkel om te lees, te skryf of te spel. 7 Ongelukkig word disleksie eers op 60-jarige ouderdom by Steven gediagnoseer. 8

In sy matriekjaar was sy ouers besig om te skei en hy het glad nie goed gedoen in die eindeksamen nie. Sy punte was baie swak en sy aansoek word by twee universiteite (University of Southern California en University of California, Los Angeles), wat albei filmskole gehad het, afgekeur. Hy kry plek by California State Long Beach waar hy inskryf vir ʼn graad met Engels as sy hoofvak. 5

Steven wou steeds eintlik net rolprente maak. Op 22 maak Spielberg sy eerste fliek wat vir hom ʼn voet in die deur sou gee in die professionele filmbedryf. Amblin’ (1968) was ʼn film van 26 minute waarvoor Spielberg finansiering (geld) van $20 000 (byna $177 000 in vandag se geldwaarde, of sowat R3,2 miljoen) ontvang het. Die storie het gegaan oor ʼn duimgooier (iemand wat langs ʼn pad staan en ʼn rygeleentheid soek) en ʼn meisie wat later by hom aansluit en hom op sy reis vergesel. Daar was geen dialoog nie, slegs die temalied en byklanke.

Steven se pa, Arnold, het iemand geken wat by Universal Studios gewerk het, en het die rolprent vir hom gewys. Toe hierdie werknemer dit later aan een van die grootkoppe (base) by Universal wys, word Steven ʼn kontrak van sewe jaar aangebied waartydens hy vir die televisieafdeling van die maatskappy sou werk. 9

Professionele loopbaan

Die eerste program wat hy moes regisseer, was Eyes. Dit was die tweede deel van ʼn loodsepisode vir die TV-reeks Night Gallery (1969). Die aktrise Bette Davis – ʼn ster in die goue era van Hollywood, is aanvanklik vir die vroulike hoofrol gekies. Sy het egter geweier om met ʼn 23-jarige beginner-regisseur te werk. Joan Crawford – ook ʼn legendariese aktrise – wat ná Davis die rol aangebied is, was saam met die res van die rolverdeling ook skepties oor Steven se ouderdom. Hulle verander gou van deuntjie (begin anders daaroor dink) toe hulle uiteindelik saam met Steven werk en besef hoe vindingryk (goed, bekwaam en kreatief) hy is. 9

In 1974 bied Universal Steven ʼn kontrak aan om vier rolprente te regisseer. 10 Tot op hede het hy al in die regisseurstoel gesit vir bykans 60 rolprente en TV-reekse. 11

Steven Spielberg se ster op die Hollywood Walk of Fame, Hollywood, Los Angeles, Kalifornië

Hier is ʼn paar wat deur resensente uitgesonder word:

The Post (2017)

ʼn Geskiedkundige drama oor die Washington Post-koerant se pogings om geheime dokumente te publiseer in ʼn tyd waar Richard Nixon president van die VSA was. Die karakters gebruik in dié aksiefliek tikmasjiene pleks van vuurwapens. Tom Hanks en Meryl Streep is in die hoofrolle te sien. 12

Lincoln (2012)

Spielberg se eerste film met ʼn politieke tema handel oor die ware verhaal van pres. Abraham Lincoln wat die Amerikaanse burgeroorlog (oorlog tussen inwoners van dieselfde land) en slawerny tegelyk tot ʼn einde gebring het. Daniel Day-Lewis het ʼn Oscar vir beste akteur in dié rolprent ontvang. 11

The Terminal (2004)

Tom Hanks vertolk die rol van ʼn toeris van Oos-Europa wat gestrand raak op JFK-lughawe. As gevolg van ʼn staatsgreep in sy land, kan hy nie terugkeer nie, maar hy mag ook nie die lughawe verlaat nie. Hy vestig vir homself ʼn tydelike huis by die lughawe. 12

Minority Report (2002)

Op die oog af lyk dit of Minority Report net nog een van Spielberg se wetenskapsfiksierolprente is, maar dit het ʼn dieper storie. Tom Cruise vertolk die rol van ʼn speurder wat op vlug is. In ʼn toekoms waar ʼn spesiale polisie-eenheid moordenaars mag aankeer nog voor hulle die moord pleeg, word ʼn beampte van die eenheid self van ʼn toekomstige moord beskuldig. 11

Catch Me If You Can (2002)

ʼn Interessante rolprent oor die ware verhaal van Frank Abagnale, wat baie mense in sy lewe om die bos gelei het (gekul) deur te maak of hy (onder meer) ʼn dokter, ʼn prokureur en ʼn vlieënier is. Hierdie rolprent is ʼn sukses as gevolg van die manier waarop Spielberg die beste uit Leonardo DiCaprio se toneelspel kon haal. 11

Saving Private Ryan (1998)

Hierdie film, met akteurs soos Tom Hanks en Matt Damon, handel oor D-dag, die dag waarop die geallieerde magte (soldate van veral die VSA, Brittanje en Kanada) Frankryk ingeval het om die Duitsers finaal te verslaan. Die verhaal gaan oor ʼn groep soldate wat een van hul makkers se lewe wil red. 11

Schindler’s List (1993)

Schindler’s List word beskou as Spielberg se eerste film met ʼn “volwasse” tema. Dit gaan oor Oskar Schindler, ʼn Duitser wat talle Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog weggesteek en as gevolg daarvan hul lewens gered het. Liam Neeson was in die rol van Schindler te sien. 11

Jurassic Park (1993)

ʼn Paleontoloog besoek ʼn pretpark op ʼn eiland in Sentraal-Amerika en moet ʼn paar kinders beskerm toe ʼn kragonderbreking veroorsaak dat die park se gekloonde dinosourusse vry kan rondhardloop. Dié fliek is ʼn tipiese voorbeeld van ʼn lokettreffer waar die storie, spanning en spesiale effekte saamspan om groot gehore na die rolprentteaters te lok. 11

Hook (1991)

Kaptein James Hook (gespeel deur Dustin Hoffman) ontvoer ʼn volwasse Peter Pan (gespeel deur Robin Williams) se kinders. Peter Pan moet na Neverland terugkeer en sy kinderlikheid terugkry voor hy sy vyand kan trotseer. 12

E.T. the Extra-Terrestrial (1982)

ʼn Seuntjie help ʼn vriendelik ruimtewese om van die Aarde te ontsnap en terug te keer na sy eie planeet. Hierdie film word beskou as een van Spielberg se bestes. Hy kry dit reg dat kinders (en volwassenes) empatie vir ʼn ruimtewese voel wat ver weg van sy huis is. Dan is daar natuurlik die magiese toneel waar E.T. en Elliot met ʼn fiets voor die maan verbyvlieg. Dié fliek het talle Oscar-benoemings gekry. 11

Indiana Jones and the Raiders of the Lost Ark (1981)

In 1981 verskyn die eerste film in die Indiana Jones-reeks met Harrison Ford in die hoofrol. Indiana Jones is ʼn argeoloog en in dié fliek is hy op soek na die Bybelse verbondsark. Hy kom teen Nazi’s te staan. Dit word beskou as die eerste weergawe van die moderne Hollywood-aksiefliek waar aksie, komedie en selfs geskiedenis met mekaar vermeng word. 11

Close Encounters of the Third Kind (1977)

Roy Neary, ʼn elektrisiën, se alledaagse bestaan word omgekeer toe hy met ʼn vreemde vlieënde voorwerp kontak maak. Hy gaan op ʼn landwye reis om na antwoorde te soek. Volgens kenners het Spielberg sy beste flieks in die eerste sewe jaar van sy loopbaan gemaak. Close Encounters of the Third Kind is een van net twee vollengte flieks wat Spielberg ook self geskryf het (die ander een is A.I. Artificial Intelligence in 2001). In hierdie rolprent gebruik hy temas wat regdeur sy loopbaan keer op keer opduik: wetenskaplikes wat gereedmaak vir ʼn ontmoeting met vreemdelinge, ʼn ma wat soek na haar ontvoerde seun en ʼn pa wat sy gesin verlaat vir ʼn onbekende wêreld. Die spesiale effekte ondersteun die hartroerende (hartseer) toneelspel van Richard Dreyfuss. 11

Jaws (1975)

Da-dum… da-dum… da-dum, da-dum, da-dum. Almal ken die musiek van dié fliek waar jou hartklop versnel en die vrees vlak in jou keel lê. ʼn Mensvreterhaai saai paniek onder ʼn strandgemeenskap naby Cape Cod. Die plaaslike sheriff, ʼn mariene bioloog en ʼn seeman moet die monster probeer aankeer. Jaws het Spielberg bekendheid laat verwerf en word vandag nog as een van die beste rillers ooit beskou. 11

ʼn Droom word waar

In 1981 word al Steven Spielberg se kinderdrome bewaarheid toe hy sy eie produksiehuis open om sy eie rolprente te begin vervaardig.

In 1994 brei hy verder uit deur DreamWorks saam met mediamagnate (baie suksesvolle sakemense in die mediawêreld) Jeffrey Katzenberg en David Geffen te stig. 13 DreamWorks het baanbrekerswerk in die genre van tekenprente gedoen deur flieks soos Shrek, Puss in Boots, Trolls, Abominable, die How To Train Your Dragon-reeks, die Madagascar-reeks en nog baie ander te vervaardig. 14

In 2016 word DreamWorks vir $3,8 miljard (meer as R68 miljard) aan NBCUniversal verkoop. 14

Persoonlike lewe

Spielberg ontmoet die aktrise Amy Irving nadat die regisseur George Lucas (Star Wars, Indiana Jones) hulle aan mekaar voorstel. Dit was net ná Amy ʼn oudisie afgelê het vir die rol van prinses Leia in Star Wars. Hulle was van die 1970’s af jare lank in ʼn verhouding voor hulle in 1985 trou aan mekaar beloof het. In 1985 word die egpaar se seun, Max Spielberg, gebore. Maar terwyl Steven aan sy loopbaan gewerk het, het dit nie so goed met sy huwelik gegaan nie en in 1989 skei Steven en Amy. 15

Spielberg ontmoet Kate Capshaw toe sy ʼn rol kry in die 1984-fliek Indiana Jones and the Temple of Doom. Die twee se eerste kind saam, ʼn dogter genaamd Sasha Spielberg, word in 1990 gebore. 16

Steven en Kate trou in 1991. Hy word in 1992 vir die derde keer pa toe hul seun Sawyer Spielberg sy opwagting maak. Hul dogter Destry Spielberg is in 1996 gebore. Steven en Kate neem ook twee kinders saam aan – seun Theo Spielberg (gebore 1988) en dogter Mikaela Spielberg (gebore 1996). 16

Kate is ook die ma van Jessica Capshaw uit haar eerste huwelik met Robert Capshaw. Al sewe kinders het al hul merk in die vermaaklikheidswêreld gemaak. 16

Vier maniere hoe Steven Spielberg die filmbedryf vir altyd verander het

Die begin van lokettreffers

Voor die koms van lokettreffers, het rolprente nie baie geld oor somervakansies gemaak nie omdat mense eerder in die buitelug as in ʼn teater wou wees. Jaws, wat algemeen as die eerste lokettreffer ooit beskou word, is juis in die somer (20 Junie 1975) van die Noordelike Halfrond vrygestel om strandgangers skrik op die lyf te jaag. 16 Hierdie supertreffers is blockbusters genoem omdat mense letterlik om straatblokke in rye gestaan het om kaartjies te koop. Binne ʼn paar jaar het lokettreffers die rolprentbedryf verander as gevolg van die groot begrotings wat hierdie rolprente gehad het. Lokettreffers het vanweë hierdie groot begrotings ook baie meer wins as ander films in ʼn kort tyd gemaak. 17

Films vir oud én jonk

Voor Spielberg op die toneel verskyn het, het óf die hele familie na ʼn fliek gaan kyk óf dit was slegs vir volwassenes bo agttien – daar was nie enigiets tussenin nie. Met rolprente soos E.T. the Extra-Terrestrial, Jurassic Park en die Indiana Jones-reeks het hy egter ʼn nuwe genre geskep waar die hele familie saam na ʼn fliek kon gaan kyk en almal dit geniet. Indiana Jones and the Temple of Doom het ʼn nuwe soort ouderdomsbeperking (ʼn aanwysing of ʼn film vir kinders geskik is of nie) begin, naamlik PG-13. 17 Hoewel kinders onder 13 in die teater toegelaat is, is ouers gewaarsku dat sekere dele van die fliek waarskynlik nie vir sulke jong kinders geskik is nie. 18

Spielberg en E.T.

Koning van spesiale effekte

Spesiale effekte is truuks wat filmmakers gebruik om ʼn illusie te skep van iets wat nie maklik gedoen kan word nie of iets wat dalk in die werklike lewe onmoontlik is. Rolprentmakers maak gebruik van dinge soos miniatuurbeeldjies, grimering, verskillende kameraskote, rekenaarprogramme en selfs tekenprente om ʼn spesiale effek te skep. Dit word veral in wetenskapsfiksie- of fantasieflieks gebruik waar voorwerpe en karakters geskep word wat nie werklik bestaan nie. In Hollywood-lokettreffers soos Jurassic Park, Avatar en Star Wars Episode IV – A New Hope is uitstekende meganiese en optiese effekte gebruik. 19

Beelde wat met rekenaars geskep word (in Engels bekend as computer-generated imagery, of CGI) word deesdae veral in flieks gebruik om ʼn wêreld of karakters te skep wat nie bestaan nie. 20

Jy kan jouself byvoorbeeld voorstel in ʼn fliek waar ʼn oorlogskip opgeblaas moet word, dit te duur sal wees om ʼn regte oorlogskip te vernietig. Rolprentmakers gebruik in só geval ʼn klein model van ʼn oorlogskip en dit word dan “opgeblaas”. 20

Steven Spielberg en Menachem Golan

Reeds met Jaws in 1975 het Spielberg ʼn nuwe era vir spesiale effekte ingelei. In Jaws het Spielberg byvoorbeeld gebruik gemaak van animatronika. 17 Met animatronika word ʼn marionet deur middel van masjiene of robotte beweeg sodat dit lyk of dit regtig is. 21 As ʼn mens vandag na Jaws kyk, lyk dit ʼn bietjie primitief (outyds), maar in daardie tyd het dit mense doodbang vir haaie gemaak. 17

Spielberg het ook baanbrekerswerk gedoen met die spesiale effekte wat hy in Jurassic Park gebruik het. In die vroeë 1990’s, toe die fliek vrygestel is, was mense al gewoond daaraan dat rekenaars soms ingespan word, maar dit het nooit werklik gelyk nie. In dié fliek het die dinosourusse egter baie werklik gelyk! Sonder Spielberg sou latere films soos Titanic en Lord of the Rings miskien nooit so skouspelagtig of suksesvol gewees het nie. 17

Regisseur Steven Spielberg en produksietoesighouer, Chandran Rutnam, op stel in Sri Lanka tydens die verfilming van Indiana Jones and the Temple of Doom

Verbeeldingryke filmtegnieke

Aan verbeelding het Steven nog nooit ʼn tekort gehad nie. Omdat hy nooit amptelik ’n filmskool bygewoon het nie, was die tegnieke wat hy gebruik het baie onkonvensioneel (ongewone manier van dinge doen). Deur sy karakters se gesigte van baie naby af te neem, word emosies beklemtoon waarmee kykers kan identifiseer. 22

’n Mens sien dit byvoorbeeld in Jurassic Park (1993) waar hy op Alan en Ellie se gesigte fokus wanneer hulle vir die eerste keer ʼn dinosourus sien, of in Jaws (1975) wanneer Martin Brody vir die eerste keer die haai sien. 22

Steven Spielberg se meesterklas by “La Cinémathèque Française” in Parys op 9 Januarie 2012

Sy gebruik van beligting word ook bewonder. In Lincoln (2012) het hy van agtergrondverligting gebruikgemaak – iets wat as ʼn baie moeilike tegniek beskou word. Hy het egter nie vir die uitdaging geskrik nie en dit bemeester. In die fliek het hy in een toneel deurlopend ʼn lig van agter op die karakter Abraham Lincoln laat skyn. Spielberg het hieroor gesê: “Ek wou ʼn baie intieme beeld skep van hierdie man op die belangrikste dag van sy lewe.” 22

Die gebruik van kleur in Schindler’s List (1993) was ook briljant. Die hele rolprent is in swart-en-wit, maar in ʼn stadium verskyn ʼn dogtertjie met ’n rooi jassie waar sy in die straat loop. Die kyker sien haar later weer in ’n waentjie met lyke. Omdat haar rooi klere die enigste kleur is wat in die fliek gebruik word, trek dit onmiddellik die aandag van die kyker en bly daardie toneel in jou gedagtes jare nadat jy die film gesien het. 22

Golden Plate-toekenningsraadslede en 2006-beraad-gashere Steven Spielberg en George Lucas verwelkom die Akademie-afgevaardigdes en lede by die 45ste jaarlikse Internasionale Prestasieberaad in Los Angeles, Kalifornië

Woordbank

argeoloog Iemand wat (deur opgrawings te doen) ʼn studie maak van hoe mense lank gelede geleef het.
baanbreker Iemand wat iets vir die eerste keer doen.
benoeming Jou naam kom op ’n lys van moontlike wenners; net iemand wat benoem (genomineer) is, staan die kans om te wen.
bloedgeld Beloning vir ʼn misdaad.
disleksie Versteuring in iemand se vermoë om met begrip te kan lees as gevolg van ʼn sentrale serebrale letsel; onvermoë om sin te maak uit letters, woorde en sinne.
dokumentêre Met dokumente aantoon; van bewysstukke voorsien; skriftelik opteken wat gebeur het, gesê is, besluit is.
draaiboek Rolprentmanuskrip met handleiding en gegewens vir die maak van ʼn nuwe rolprent.
drama Direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare van menslike gebeure; gewoonlik voorstelling op genoemde wyse van ʼn botsing tussen persone en/of in ʼn persoon se gemoed.
duimgooier Iemand wat langs ʼn pad staan (met sy uitgestrekte arm en duim in die lug) en ʼn rygeleentheid soek.
elektrotegnies Die tegnologiese gebruik van krag.
geëmigreer Jou land verlaat om in ʼn ander land te gaan woon.
empatie Vermoë om jou in die plek van ʼn ander te stel om sy/haar reaksies en houding te begryp.
genie Iemand wat uitsonderlik slim is. Briljant.
genre Soort; tipe (veral literatuur- of kunssoort).
illusie Iets wat jy dink jy sien, maar wat nie werklik so is of werklik bestaan nie.
gekloonde ʼn Identiese eksemplaar van ʼn plant/dier tot stand bring deur ʼn sel daaruit te neem en dit kunsmatig te (laat) ontwikkel.
legendariese Alombekend, beroemd, uitsonderlik; iemand wie se naam onthou sal word.
lokettreffers Rolprent/toneelopvoering/ens. wat finansieel baie suksesvol is.
magiese Wat (lyk asof dit) ʼn spesiale mag/krag het wat die persoon wat dit gebruik, onmoontlike dinge kan laat doen.
magnate Iemand wat deur sy rykdom baie invloed het.
marionet ʼn Pop wat jy deur middel van toutjies/draadjies bewegings kan laat uitvoer.
om die bos gelei Kul, mislei, bedrieg; iemand vir die gek gou.
onkonvensioneel Ongewone manier van iets doen.
optiese Wat te make het met prosesse/masjiene wat te doen het met lig, beelde en hoe ons dinge sien/waarneem.
Oscar ʼn Filmkunstoekenning. ’n Oscar is ’n gesogte prys (in die vorm van ’n klein goue beeldjie) vir artistieke en tegniese meriete vir die Amerikaanse en internasionale rolprentbedryf. Oscar-toekennings word wêreldwyd deur baie as die mees gesogte, betekenisvolle toekennings in die vermaaklikheidsbedryf beskou.
oudisie Toets om ʼn sanger/toneelspeler/uitsaaier/ens. se bekwaamheid vas te stel.
paleontoloog Iemand wat die wetenskap van oerdiere en -plante deur hul gefossileerde reste bestudeer.
produksie Dit wat vervaardig/voortgebring word.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig.
resensent Iemand wat ʼn boek/rolprent/toneelopvoering/kunsuitstalling/ens. bespreek – jou mening daaroor gee en redes waarom jy dink dit goed/sleg is.
riller ʼn Boek/rolprent wat jou van vrees/spanning laat ril.
rolverdeling Toewysing van die verskillende rolle van ʼn toneelstuk aan die onderskeie spelers.
silwerdoek Rolprentskerm/beeldskerm/bioskoopskerm/ projeksieskerm; die groot skerm waarop die beelde van ʼn rolprent geprojekteer word.
staatsgreep Wanneer die regering van ʼn land met geweld oorgeneem word.
tekenprente ʼn Enkele of reeks tekeninge waar ʼn storie op aanskoulike wyse vertel word, aanvanklik veral vir kinders.
tema ʼn Onderwerp waaroor gepraat/geskryf word.
truuks Kuns/vaardigheid/vernuf om iets moeiliks reg te kry of uit te beeld.
verander gou van deuntjie Dink anders oor iets; verander jou oorspronklike mening van iets of iemand.
vervaardig Maak, saamstel, produseer.
vindingryk Oorspronklik met idees; kreatief; in staat om iets uit te dink.
voet in die deur Om ’n inkomkans te kry in ’n nuwe werk, loopbaanrigting, maatskappy, ens.
wetenskapsfiksie Storie in die literatuur of in ʼn rolprent, gebaseer op verbeelde wetenskaplike ontwikkelings of omgewingsveranderings in/van die toekoms.

Lees hier om meer uit te vind oor Steven Spielberg

Hierdie video’s wys hoekom Steven Spielberg so ʼn meester is

ʼn Greep (gedeelte) uit Steven Spielberg se Firelight wat hy gemaak het toe hy 17 jaar oud was:

Alles oor filmtegnieke en kameraskote:

 

Die filmspan moes die perfekte volmaan-aand gekies het om een van die mees magiese oomblikke in rolprentgeskiedenis te verfilm:

Van die vreesaanjaendste musiek ooit:

ʼn Paar van Steven Spielberg se beste rolprente:

Steven Spielberg ontvang sy Oscar-toekenning vir Schindler’s List (1993):

Alles wat jy oor spesiale effekte wil weet:

Foto: iStock
Gepubliseer op: 1 November 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024