Vinnige feite

  • Die karakter Mickey Mouse se naam was oorspronklik Mortimer Mouse, maar Walt Disney se vrou het nie daarvan gehou nie en stel toe die naam Mickey voor. 5
  • Walt Disney se bynaam was “Oom Walt”. 5
  • The Walt Disney World Resort in Florida is 60 km2 groot. 19
  • Wall-E, die robot in die fliek met dieselfde naam, is vernoem na Walter Elias Disney.
  • Walt Disney hou in sy persoonlike hoedanigheid steeds die rekord vir die meeste Oscar-toekennings (22) en Oscar-nominasies (59). 4
  • Beauty and the Beast was in 1991 die eerste animasiefilm wat in die kategorie vir beste rolprent vir ʼn Oscar genomineer is. 20
  • The Lion King se nuutste weergawe (2019) is die animasiefilm wat die meeste geld ooit vir die Walt Disney-maatskappy verdien het. Dit het binne 24 dae ná sy vrystelling $1,3 miljard laat inrol. 21

As ʼn mens die naam Disney hoor, dink jy dadelik aan strokiesprentkarakters soos Mickey Mouse en Pluto, prinsesse met pragtige wye rokke, en wipwaritte (roller coasters) in pretparke. Danksy Walt Disney kan ons vandag in dié wonderwêreld vol verbeelding en fantasie verdwaal. Trouens, sonder sy visie en baanbrekerswerk sou baie kinders én grootmense vandag nie eers geweet het van die tientalle wonderlike sprokies wat deur die jare opgeteken is nie. Walt Disney het nie net klank, kleur en beweging na die grootskerm toe gebring nie, maar ook die wete dat as jy oor iets kan droom, jy dit beslis kan doen. 1

Walk of fame, Hollywood

Van die Rooikruis tot kuns

Walter (Walt) Elias Disney is op 5 Desember 1901 in die Amerikaanse stad Chicago gebore. Vier jaar later trek sy ouers, Elias en Flora, na ʼn plaas in Marceline in die staat Missouri. Walt geniet die plaaslewe saam met sy drie broers (Herbert, Raymond en Roy) en suster (Ruth) geweldig baie, en dis ook hier waar sy liefde vir kuns en teken posvat. 2

Walt Disney sluit by die Internasionale Rooikruis aan

Net ná Walt se agtste verjaarsdag verruil die Disney-familie hul plaaslewe vir Kansas City. Walt kry oor naweke kunsklasse en ruil sy sketse vir gratis haarsnye of vir 25 sent by die plaaslike haarkapper. Sy oom, Mike Martin, ʼn treiningenieur, stel hom aan die wêreld van treine bekend, en vir die res van sy lewe is Walt versot op treine. Hy kry selfs later ʼn vakansiewerk waar hy lekkernye en koerante aan treinpassasiers verkoop. 3

Teen die tyd wat hy hoërskool toe gaan, verhuis die gesin terug na sy geboortestad, Chicago, in die Amerikaanse staat Illinois. Kuns en fotografie is van die vakke wat hy aan die Hoërskool McKinley neem. Hy teken ook graag sketse vir die skoolkoerant, en hy neem saans kunsklasse by die Kunsinstituut van Chicago. 4

Hy voltooi egter nie sy skoolloopbaan nie. Op sestien besluit hy om in die Eerste Wêreldoorlog te gaan veg, maar hy word nie toegelaat nie omdat hy nog te jonk is. Hy sluit toe by die Internasionale Rooikruis aan en word vir ʼn jaar Frankryk toe gestuur om ʼn ambulansbestuurder te wees. 5

Sy bydrae tot die vermaaklikheidswêreld

Met sy terugkeer na die VSA in 1919 is Walt Disney gereed om met sy loopbaan as kunstenaar te begin. 2 Sy eerste werk was by ʼn kunsateljee en daarna by ʼn advertensiemaatskappy. Dit is hier waar hy die kunstenaar Ubbe Iwerks (meer bekend as Ub) leer ken. 6

Rolprente

Terwyl hy by die advertensiemaatskappy werk, begin hy met rolprentkameras eksperimenteer en droom daarvan om sy eie rolprente te maak. In 1921 stig hy ʼn maatskappy met die naam Laugh-O-Gram Studio en stel onder andere vir Iberks as een van die kunstenaars aan. Walt Disney onderhandel met die rolprentteaters in Kansas City om hulle kort tekenprente tydens rolprentvertonings te wys. Hoewel dié animasiefilms gewild was, maak die maatskappy nie genoeg geld nie. In 1923 word Laugh-O-Gram Studio bankrot verklaar.

Hierdie mislukking het egter nie ʼn einde aan Walt Disney se drome gebring nie. In 1923 verhuis hy na Hollywood in Kalifornië en stig Walt Disney Studios saam met sy broer Roy. Danksy knap kunstenaars soos Iberks wat vir dié maatskappy werk, word die gewilde strokiesprentkarakter Oswald, the Lucky Rabbit geskep. Die mense is mal oor die karakter en die onderneming is ʼn reusesukses. 4

In 1928 word Steamboat Willie die eerste animasiefliek met klank. In hierdie rolprent word Minnie en Mickey Mouse vir die eerste keer aan die wêreld bekendgestel. Walt is sommer self die stem van Mickey. Die sukses van Steamboat Willie moedig Disney aan om nog geliefde en gewilde karakters soos Donald Duck, Goofy en Pluto te skep. 7

In 1932 besluit Walt Disney om ʼn vollengte animasiefilm (en boonop in kleur!) te maak. Ten spyte van hewige kritiek deur baie mense, druk die maatskappy deur om Snow White and the Seven Dwarfs in 1937 vry te stel. Selfs die Groot Depressie van die dertigerjare keer nie dat dié rolprent ongekende sukses behaal nie. Dit ontvang agt Oscar-toekennings (die bekende standaardgrootte beeldjie asook sewe kleintjies wat die sewe dwergies verteenwoordig). 8

Snow White and the Seven Dwarfs het $1,4 miljoen gekos om te maak, en dit het ʼn rekordbedrag van $8,5 miljoen verdien. Dit was in daardie stadium die meeste geld wat tot nog toe deur ʼn rolprent verdien is. Dit het byna 2 miljoen sketse, wat deur 750 verskillende kunstenaars geskep is, geneem om dié rolprent te vervaardig. Danksy dié fliek se sukses het Walt genoeg geld gehad om ʼn rolprentateljee (ook genoem ʼn studio) te bou en nog animasiefilms soos Pinocchio, Cinderella, Peter Pan, Dumbo, Bambi en Alice in Wonderland te maak. 9

Moderne weergawes van sy rolprente

Met die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog skaal die ateljee sy produksie af omdat Walt begin om rolprente vir die Amerikaanse regering te vervaardig. Disney het verskeie opvoedkundige films in opdrag van die regering gemaak, insluitend die kort animasierolprent getiteld The New Spirit in 1942 om mense aan te moedig om hul inkomstebelasting te betaal as ʼn manier om vir die oorlog te help betaal.

Walt tydens ‘n besoek aan Amsterdam in Nederland.

Dié rolprent, met Donald Duck in die hoofrol, is in duisende fliekteaters vertoon en het selfs ʼn Oscar-benoeming ontvang. Die Disney-ateljee het ook opleidingsfilms vir die Amerikaanse weermag gemaak en gratis meer as ʼn duisend kentekens vir militêre eenhede geskep; die ontwerpe het verskeie gevestigde Disney-karakters en nuwe karakters ingesluit. Baie van Disney se animasiekunstenaars het egter te midde van die oorlog bedank, en dit het Walt Disney Studios ʼn paar jaar geneem om hiervan te herstel. 10

Ná die oorlog brei die studio uit deur films met akteurs in te maak. Seal Island (1948) is die eerste van dié soort rolprente wat deur Walt Disney Studios vrygestel word. 11 Die laaste film waarby Walt Disney persoonlik betrokke was, was Mary Poppins in 1964. Dié rolprent word ook as baanbrekerswerk beskou omdat dit animasie met lewendige aksie deur akteurs vermeng het. 4 Mary Poppins was ʼn groot sukses en ontvang vyf Oscar-toekennings uit die 13 kategorieë waarin die rolprent genomineer is. 12

Al het Walt Disney Studios se eerste rolprent vyf jaar geneem om te voltooi, spog dié maatskappy vandag met meer as 120 rolprente op sy kerfstok. 13

Werknemers by die Walt Disney Studio

Televisiereekse

In die 1950’s, meer as twee dekades voordat televisie na Suid-Afrika toe gekom het, het televisie in die VSA bekend geword. Natuurlik wou Walt ook deel van hierdie aanloklike mark wees. Van sy vroeë televisiereekse sluit in Disney’s Wonderful World of Colour, die Davy Crockett Series en die Mickey Mouse Club, waarin daar oor die jare bekende sangers en akteurs soos Britney Spears, Justin Timberlake, Christina Aguilera, Ryan Gosling en Miley Cyrus (hulle is “Mouseketeers” genoem) opgetree het. 14

Temaparke

In 1955 word die eerste Disneyland-temapark in Kalifornië in die VSA geopen. Dié temapark, met vermaak en ritte wat op die films van Walt Disney Studios gegrond is, is deur die akteur Ronald Reagan geopen. Reagan het later ʼn president van Amerika geword. Deur die jare is groter parke soos Walt Disney World in Florida ontwikkel met pretparke in Tokio, Parys, Hongkong en Sjanghai. 15

Persoonlike lewe en dood

In 1925 stel Walt ʼn kunstenaar met die naam Lillian Bounds aan, en hulle trou op 13 Mei 1925. In 1933 word die egpaar se dogtertjie, Diane Disney, gebore. Drie jaar later neem Walt en Lillian nog ʼn dogtertjie, Sharon Disney, aan. Walt en Lillian was die trotse oupa en ouma van altesaam tien kleinkinders. Walt Disney is op 15 Desember 1966 aan longkanker oorlede. 16

Walt en Lilian Disney.

Die Disney-handelsmerk het uit Walt Disney se kleintydsketse en -drome gegroei tot ʼn reusesakeryk wat vandag sowat $150 miljard (of nagenoeg R2 700 miljard) werd is – nie sleg vir ʼn besigheid wat binne die eerste twee jaar van sy bestaan bankrot was nie! Die Disney-groep sluit nie net pretparke en plesierbootvaarte in nie, maar sy rolprentbedrywighede het veral die afgelope paar jaar drasties uitgebrei.

Disney-plesierboot

Dit sluit in Walt Disney Pictures, 20th Century Studios, Pixar, Marvel en Lucasfilm. Sy stroomdienste sluit in Disney+ (wat sedert Mei 2022 ook in Suid-Afrika beskikbaar is), 17 ESPN+, Hulu, Hotstar en Disney Music. 18

Disney+, Disney se stroomdiens

Woordbank

animasie Dit is die vinnige vertoning van sketse of tekeninge sodat dit lyk of die kunswerke beweeg. Dié soort rolprente staan ook as tekenprente of strokiesprente bekend.
Internasionale Rooikruis Dit is ʼn wêreldwye organisasie wat mense en lande in nood help.
Oscar ʼn Goue beeldjie of toekenning wat jaarliks tydens ʼn prysuitdeling (ook genoem die Academy Awards) vir prestasies in die rolprentbedryf oorhandig word.
Groot Depressie Dit was ʼn tydperk waarin die hele wêreld finansieel swaar gekry het. Mense was baie arm en het nie baie geld gehad om kos en klere mee te koop nie.
bankrot Wanneer ʼn maatskappy nie meer sy skuld kan betaal nie, word dit bankrot verklaar.
stroomdienste Rolprente, televisieprogramme en musiek wat op ʼn rekenaar, selfoon of televisie gekyk en geluister kan word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Walt Disney

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Walt Disney

Hoe animasiefilms in 1938 gemaak is

Hoe kry filmmaatskappye dit reg dat animasiefilms vandag so realisties is?

Een van Walt Disney Studios se eerste animasiefilms

Die kuns van animasie

Vir die ware verhaal agter The Lion King

ʼn Virtuele besoek aan Disney World

Voel hoe dit voel om op een van die ritte in Disney World te gaan

Gepubliseer op: 13 April 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024