Vinnige feite

  • Het jy geweet dat Suid-Afrika die vierde hoogste koers van kuberafknouery wêreldwyd het, luidens ‘n opname deur YouGov? Die opname het bevind dat een uit elke vyf tieners die slagoffer van kuberafknouery is en 84% van klasmaats weet van iemand wat geviktimiseer is. 17
  • Baie tieners bank skool (gaan nie skool toe nie) as gevolg van fisieke of kuberafknouery. 18
  • Leerders wat gereeld geboelie word, het laer punte in lees, wiskunde en wetenskap as hul eweknieë wat nooit of selde geboelie is nie. 18
  • Leerders is minder geneig om afknouery aan te meld namate hulle ouer word. 18
  • Meer as die helfte van leerders tussen die ouderdomme 12-18 wat gerapporteer het dat hulle geboelie het, het geglo hul boelies het die vermoë om ander leerders se denke oor hulle te beïnvloed. 18
  • Meisies is meer geneig as seuns om slagoffers én oortreders van kuberafknouery te wees. 19
  • Nagenoeg 4 uit 5 leerders sê hulle sal meer geneig wees om in te gryp in gevalle van kuberafknouery as hulle dit anoniem kan doen. 19
Foto: iStock

Misdaad is so oud soos die mensdom – van oorloë tot bakleiery, mishandeling en diefstal. Dit is alles vorme van misdaad. In ’n wêreld wat deesdae deur tegnologie beheer word, het ’n nuwe vorm van geweld sy kop uitgesteek – kubermisdaad, waarvan kuberboeliery deel is.

Hierdie toenemende probleem raak nie net die slagoffers wat geteiken word nie, maar ook ons gemeenskap (samelewing) as geheel, met ander woorde dit beïnvloed ook huisgesinne, vriendekringe, verhoudings, ons geestesgesondheid, en so meer.

Voordat ons verder gaan, moet ons eers verstaan wat die woord “boelie” beteken.

Boelie vs. kuberboelie

Voor die dae van internet, selfone en sosiale media was daar ook kinders of tieners wat boelies of afknouers was. Hierdie boelies – wat gewoonlik groot of sterk was – het hul slagoffers egter net fisiek (liggaamlik) afgeknou deur te slaan, skop, boks, spoeg of die slagoffer se besittings te steel of te breek.

Hierdie soort boelie word ʼn bullebak, afknouer of baasspeler genoem. Dié booswigte is (en word hopelik steeds) gewoonlik deur die skoolhoof gestraf en baie keer hou hy of sy dan op om ander kinders seer te maak, af te knou of te teister. Onthou, boelies wat kinders fisiek afknou, word maklik raakgesien en dit is nie maklik om met die boeliery voort te gaan of daarmee weg te kom nie.

‘n Kuberboelie is ʼn ander knaap en knou op ʼn heel ander manier af. ‘n Mens kan só iemand eintlik ʼn kubersluiper noem, want hy of sy kruip agter ‘n selfoon- of rekenaarskerm weg sodat niemand kan agterkom wie hy of sy is en wat hy of sy alles doen nie.

Klink dit vir jou na ʼn groot, dapper en sterk persoon? Nee, beslis nie! ‘n Mens sal dié persoon eerder ʼn lafaard noem. Waar ‘n fisieke boelie iemand dus liggaamlike leed aandoen, veroorsaak ‘n kuberboelie emosionele wonde wat nie soos ‘n blou oog of stukkende lip gesien kan word nie.

Wat kuberboeliery so erg maak, is dat die emosionele wonde wat dit veroorsaak, veel langer neem om gesond te word en dikwels veel erger letsels laat wat nie sommer met ‘n handdruk uitgesorteer kan word of verdwyn nie.

Wat presies is kuberboeliery?

Noudat ons weet wat ʼn kuberboelie is, besef ons kuberboeliery is die moedswillige, aanhoudende en skadelike optrede deur een persoon of groepe wat gebruik maak van digitale kommunikasiekanale om ander te intimideer, te teister of af te kraak. Die kuberboelie(s) doen dit deur plasings van foto’s, video’s, of private, kwetsende of skadelike boodskappe of vals inligting wat die slagoffer minderwaardig kan laat voel of die slagoffer emosioneel kan ontstel.

Hoewel kuberafknouery op enige digitale toestel of enige plek aanlyn kan plaasvind, gebeur dit gewoonlik deur middel van:

  • SMS- en WhatsApp-boodskappe;
  • aanlyn klets- of boodskapprogramme;
  • sosialemediaplatforms (soos Facebook, X – voorheen Twitter, TikTok, ensovoorts);
  • aanlyn forums of boodskapborde; en
  • videospeletjiegemeenskappe.

Baie soorte kuberafknouery is ernstig genoeg dat dit as strafregtelike aktiwiteite of misdaad beskou kan word – veral kuberafknouery wat agtervolging of diskriminerende teistering teen sekere groepe mense behels, soos die LGBTQA+-gemeenskap (in Engels: lesbian, gay, bisexual, transgender, intersex, queer/questioning, asexual). 1

Watter sosialemediawebwerwe het die meeste berigte van kuberafknouery?

  1. WhatsApp: 93,3%
  2. Facebook: 87,2%
  3. Instagram: 70,5%
  4. TikTok: 69,9%
  5. FB Messenger: 63,3%
  6. X (voorheen Twitter): 60,3%
  7. LinkedIn: 47,6%
  8. Telegram: 44,1%
  9. Pinterest: 44,0%
  10. Snapchat: 36,1%
  11. Skype: 17,4%
  12. iMessage:13,5%
  13. Reddit: 11,9%
  14. Badoo: 7,2%
  15. Discord: 7,2%

Terwyl die groter sosialemediaplatforms verantwoordelik is vir die meeste van die kuberafknouery, is dit steeds belangrik om te onthou dat dit in énige aanlyn ruimte kan gebeur. 2

Soorte kuberboeliery

Kuberafknouery is ’n oorkoepelende term vir verskeie soorte digitale of virtuele afknouery, en daar is verskeie soorte kuberafknouery waarvan jy bewus moet wees.

Teistering (harassment)

Teistering vind plaas wanneer ’n boelie aanhoudend gemene, aanstootlike of dreigende boodskappe aan ’n persoon aanlyn stuur. Baie van die verskillende soorte kuberafknouery val onder die kategorie van teistering. 3

Aggressiewe belediging (flaming)

Hierdie manier van boelie is om persoonlike beledigings en vulgêre en kwaai woorde te plaas. Die boelies is lief daarvoor om hoofletters, simbole en emotikons te gebruik om hul woede of haat uit te druk en dié soort boeliery loop gewoonlik uit op intense argumente.

Dit gebeur normaalweg in kletskamers of via kitsboodskappe of e-pos, maar kan ook op sosialemediaplatforms en YouTube voorkom.

Dit is ‘n baie aggressiewe vorm van intimidasie en hierdie soort boelie soek aandag – of dit nou goed of sleg is, solank hy of sy net ʼn reaksie kan uitlok. 4

Kuberagtervolging (cyberstalking)

Kuberagtervolging is ’n meer ernstige soort kuberafknouery wat aanlyn (en soms fisieke) agtervolging behels, soos dophou, volg of monitor. Of dit slegs aanlyn of ook fisiek is, albei soorte agtervolging is onwettig en strafbaar deur die wet. 3

Uitsluiting (exclusion)

Uitsluiting is die daad om iemand doelbewus uit te laat. Dit kan in die klaskamer, op die skoolterrein of enige ander plek gebeur – gewoonlik ten aanskoue van almal. ʼn Sosialemediaplatform kan ook gebruik word om ‘n slagoffer te teiken en te boelie.

Jy of jou maat kan byvoorbeeld doelbewus uitgelaat word van aanlyn aktiwiteite soos sosialemediagroepe, groepboodskappe, projekte by die skool of ander groepsituasies. Uitsluiting (waarvan die slagoffer nie eens bewus was nie) kan ook uitlek in ruimtes waar die persoon aanlyn kuier. 5

Verspreiding van persoonlike inligting (doxing)

“Doxing” is nóg ’n ernstige soort kuberafknouery. Dit is wanneer iemand identifiserende inligting oor iemand anders aanlyn verklap, soos sy of haar regte naam, huisadres, werkplek, telefoon, finansiële en ander persoonlike inligting. Hierdie inligting word dan aan die publiek versprei en kan mense in gevaar stel wanneer sensitiewe inligting sonder die slagoffer se toestemming aanlyn gedeel word. 6

Bedrieëry

Bedrieëry is soortgelyk aan “doxing” (die onwettige verspreiding van ander se persoonlike inligting), met ‘n bykomende element van misleiding. In hierdie situasies sal die boelie bevriend raak met sy of haar teiken en die slagoffer met ’n vals gevoel van veiligheid paai. Sodra die boelie sy of haar teiken se vertroue verkry het, misbruik die persoon daardie vertroue en deel die slagoffer se geheime en private inligting met ‘n derde party of verskeie derde partye. 7

Nabootsing (impersonation)

Kan nabootsing ook as ‘n vorm van kuberafknouery beskou word? Beslis!

Wanneer ons na die verskillende soorte kuberafknouery kyk, is nabootsinggevalle in die minderheid in vergelyking met ander soorte. Tog bly dit ‘n ernstige vorm van kuberboeliery.

Nabootsing is wanneer iemand hom aanlyn as ʼn ander persoon voordoen, met die doel om stellings te plaas wat tot ʼn hewige reaksie sal lei.

Ons het seker almal al gehoor van hoe ouers se handtekeninge deur hul kinders gekopieer en dan geplak word (in Engels: copy and paste) in amptelike dokumente wat die ouers veronderstel is om te onderteken.

Daar is ook jeugdiges wat sekere webwerwe gebruik wat hul e-posse en SMS-boodskappe anoniem maak. Met ander woorde, daardie webwerwe verklap nie wie die e-pos, SMS of WhatsApp eintlik gestuur het nie. 8

Digitale molestering (Fraping)

Hierdie soort kubermishandeling is soortgelyk aan nabootsing. Dit is wanneer ‘n boelie ʼn jong kind of tiener se sosialenetwerkrekening(e) gebruik om onvanpaste inhoud te plaas asof dit die slagoffer se eie uitlatings is.

Dit kan skadeloos wees wanneer vriende snaakse plasings op mekaar se profiele skryf, maar dit kan ook ongelooflik skadelik wees. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is ‘n boelie wat homofobiese of rassistiese opmerkings plaas deur iemand anders se profiel te gebruik om die slagoffer se reputasie (goeie naam) te verwoes.

Die woord “fraping” is ʼn samestelling van die woorde “Facebook” en “verkragting” (in Engels: Facebook and rape), dus “frape”. Ten spyte van die insluiting van die term “verkragting”, is fraping nie ‘n seksuele misdaad nie. 9

Naamskending (Denigration/disting)

Naamskending of naambeswaddering verwys na die daad van ‘n boelie wat slegte inligting oor hul slagoffer versprei deur openbare plasings óf privaat boodskappe, om sodoende óf hul reputasie óf verhoudings met ander mense te verwoes. In baie gevalle is die boelie ʼn vriend of kennis van die slagoffer. 3

Vermomming (masquerading)

Vermomming is ’n soort kuberafknouery waarin ’n boelie ’n vals sosiale profiel of rekening skep om ’n persoon anoniem aanlyn te teister.

Dit sluit aan by kuberjagtery (catfishing) en is ’n soort vermomming wat spesifiek gebruik word om iemand in ’n verhouding te lok deur ’n vals persoonlikheid aanlyn te gebruik.

Dit behels die skep van vals identiteite op sosiale media en afspraaktoepassings (in Engels: dating apps). Dit is ‘n aanlyn en misleidende aktiwiteit waarin die boelies (kuberjagters) voorgee dat hulle iemand anders is om sodoende aandag te kry of om ander te beïndruk. 10

Die kuberjagter (catfish)

Die kuberjagter gebruik ‘n soort vermomming wat spesifiek daarop gemik is om iemand in ‘n verhouding te lok deur ‘n vals profiel aanlyn te gebruik.

As jy wel aanlyn met ‘n vreemdeling begin kommunikeer, selfs al is dit deur ‘n wettige afspraak-app, soek dadelik na waarskuwingstekens. Een van die hooftekens is die persoon wat ‘n video-oproep of persoonlike kontak vermy. Nog ‘n teken is dat dié vent glad nie ‘n aanlyn profiel het nie en/of baie min vriende of volgelinge, of dat hy sy rekening eers onlangs geskep het. 11

Hoe weet jy iemand is ʼn kuberboelie?

Jy het seker nou agtergekom hoe slinks ʼn kuberboelie kan wees en hoe moeilik dit is om hom of haar van jou gewone maats te onderskei.

ʼn Kuberboelie is soos ʼn roofdier wat sy prooi (slagoffer) tussen en agter die lang gras en bosse van die sameling (digitale skerms) bekruip. En, nes ʼn bokkie of ander onskuldige diertjie, gewaar die prooi hom eers as dit te laat is.

As jy nou begin wonder of iemand dalk ʼn kuberboelie is, kyk of jy veranderinge in sy of haar gedrag (optrede) kan opmerk, soos:

  • geheimsinnigheid oor aanlyn aktiwiteite;
  • die wegsteek van aanlyn aktiwiteite op sy of haar foon of rekenaar;
  • meer gereelde gebruik van sy of haar selfoon, skootrekenaar of rekenaar en ontsteltenis of woede wanneer hy of sy dit nie kan gebruik nie;
  • reaksies soos lag vir dinge aanlyn, maar nie wil sê waaroor dit gaan nie;
  • die gebruik van veelvuldige sosialemediaprofiele of -rekeninge;
  • gedragsverandering by die huis of skool;
  • persoonlikheidsverandering, veral aggressie; en
  • groter besorgdheid of omgee oor sosiale status. 12

Hoe weet jy iemand is ’n slagoffer?

As jy dink iemand anders word geboelie, kyk na hierdie rooi vlae:

  • senuweeagtigheid of angs wanneer ʼn persoon sy of haar foon of rekenaar gebruik;
  • huiwering om sy of haar foon of rekenaar enigsins te gebruik;
  • negatiewe emosies nadat hy of sy tyd aanlyn spandeer het;
  • weiering om sy of haar aanlyn aktiwiteite te bespreek;
  • onttrekking van familie en vriende;
  • teësinnigheid om skool toe of selfs buitentoe te gaan;
  • die gewoonte om die klas vroeg te verlaat of vanaf die skool te bel;
  • veranderde eet- of slaapgewoontes; en
  • tekens van gemoedskommelinge (in Engels: mood swings) soos depressie en angs, of as die persoon iets sê of doen wat met selfdood te make het. 12

Gevolge van kuberafknouery

Kuberafknouery is ‘n ernstige probleem wat kinders en tieners deesdae al hoe meer raak. Dieselfde negatiewe opmerkings en gedrag kan ook probleme veroorsaak vir volwassenes wat baie op die internet kuier.

Depressie

Om af (in Engels: down) en ongemotiveerd te voel, is sonder twyfel gevolge van kuberafknouery. Wanneer ‘n kind of tiener deur boelies “aangeval” (uitgejou of uitgeskel) word vir hul belangstellings of optredes, het só ’n kind nie meer lus om enigiets nuuts te probeer nie. 13

Angs

Nie net sal ‘n kind of tiener angstig voel oor deelname aan aktiwiteite of sosialisering nie, dit sal sy of haar alledaagse lewe drasties beïnvloed. Enige mens sal tog angstig voel as daar ’n kans is van teistering of belediging elke keer as só ’n persoon op ’n sosialemediaplatform of gunsteling aanlyn speletjie aanmeld. 13

Lae selfbeeld

Mense wat geboelie word, is geneig om die kommentaar en aggressie wat op hulle gefokus is, te “aanvaar”. Hul selfbeeld ly daaronder wanneer hulle begin glo wat ander van hulle sê. Selfs al weet hulle dat die bewerings vals is, sal hulle dalk nie “sterk” genoeg kan wees om (weer) ’n goeie selfbeeld te hê nie. 13

Isolasie en geheimhouding

Dit is bitter moeilik vir enigeen om te erken dat jy afgeknou of geboelie word. Kinders en tieners wat dit ervaar, kan geheimsinnig raak oor hul internetgebruik, probeer om hul ervarings weg te steek en verkies om meer dikwels alleen te wees. ‘n Mens kom gou agter as hulle nie meer saam met hul vriende wil uitgaan of aan buitemuurse aktiwiteite wil deelneem nie. 13

Swak konsentrasie en fokus

Aanhoudende aanlyn aggressie kan veroorsaak dat ‘n mens nie meer op jou skoolwerk en selfs jou stokperdjies kan konsentreer nie. Waarom? Jou kop is vol ander dinge wat belangriker of beter lyk. 13

Woede en aggressie

Sommige slagoffers, veral seuns, kan eensklaps woede en aggressie toon. Ongelukkig is dit so dat mense wat geboelie word, baie meer geneig is om self boelies te word. 13

Gevoelens van hulpeloosheid

Al die geestelike en emosionele gevolge van kuberafknouery wat hierbo genoem is, kan uiteindelik bydra tot ‘n gevoel van totale hulpeloosheid. Om nie in die kloue van kuberboelies te beland of daaruit te ontsnap nie, is bitter moeilik, veral sonder die hulp van jou ouers, voogde of onderwysers.

Kinders en tieners is geneig om selfs die dinge waarvan hulle hou of wat belangrik is, op te gee omdat hulle regtig voel daar is niks wat hulle kan doen om die teistering en aggressie te laat ophou nie. 13

Kuberboeliery in Suid-Afrika: Wat sê die wet?

As ‘n mens kyk na wat kuberboelies alles op die internet kan regkry en hoe ver hulle met hul teistering kan gaan, besef jy dat sekere soorte boeliery ’n misdaad is. Die goeie nuus oor kuberboeliery is dat Suid-Afrika die eerste land in Suider-Afrika is wat ʼn kuberboeliewet gemaak het.

Die Wet op Beskerming teen Teistering 17 van 2011 het op 27 April 2013 in werking getree. Volgens hierdie wetgewing is teistering of afknouery nie beperk tot fisieke en mondelinge mishandeling nie, maar sluit ook dreigemente of ongewenste aandag deur sosiale media en SMS-boodskappe in.

Die wet is gemaak om ʼn persoon te beskerm teen gedrag wat soms nie ʼn misdaad is nie, maar wat ʼn negatiewe uitwerking op die verskillende regte van ʼn individu kan hê.

Boelies, so jonk soos 10 jaar oud, kan nou ook strafregtelik vervolg word – of dit nou vir fisieke, verbale, emosionele of kuberafknouery is. Hy of sy sal nie noodwendig tronkstraf kry nie, maar beslis vir terapie of berading gestuur word om te leer hoe om woede te hanteer en/of dié onaanvaarbare gedrag te verander.

Wetgewing verplig ook diensverskaffers in Suid-Afrika om besonderhede te verskaf van die boelies wat van hul e-posadres, selnommer en rekenaars boelieboodskappe gestuur het.

Hoewel dit eintlik baie belangrik is om bewyse van onvanpaste video’s of boodskappe te hou, kan boelies met óf sonder bewyse vervolg word. Die wet sê kinders tussen die ouderdomme 11 en 18 word as regsaanspreeklik vir hul dade beskou. Kuberboelies wat egter nie by die hofbevele hou nie, kan tot vyf jaar tronkstraf kry. 14

Die impak van kuberafknouery is nie net beperk tot die digitale wêreld nie. Dit kan ernstige emosionele en psigiese gevolge hê vir diegene wat daardeur geraak word. Slagoffers kan sukkel met angs, depressie, lae selfbeeld en selfs selfdoodneigings. Daarbenewens kan dit hul akademiese prestasies, sosiale verhoudings en algemene lewensgehalte beïnvloed.

Die rol van onderrig en bewusmaking

Een van die maniere waarop ons as samelewing kan begin om kuberboeliery te beveg, is deur bewusmaking en onderrig. Skole, ouers en gemeenskapsleiers kan saamwerk om jongmense te leer oor die gevolge van kuberboeliery en die belangrikheid van respekvolle digitale gedrag.

Hierdie onderrig moet insluit hoe om sekuriteit- en privaatheidstellings op sosiale media te gebruik, hoe om veilig en verantwoordelik aanlyn te wees, en hoe om hulp te soek as jy of ander die slagoffers van kuberboeliery word.

Indien jou skool nie hierdie inligting bied nie, moenie huiwer om jou ouers, onderwyser of enige ander volwasse persoon wat jy kan vertrou, te vra om jou te help om meer te wete te kom nie.

Waar om hulp te kry

Praat openlik

Praat met jou ouers of ’n volwassene wat jy kan vertrou. Maak seker dat dié persoon jou sal beskerm as alles op die lappe kom. Probeer om alle boodskappe, e-posse, aanlyn gesprekke of kommentaar wat die kuberboelie soos die spoor van ’n roofdier agterlaat, uit te druk. Dit sal as bewyse dien en jou klag versterk.

Die polisie

As jy seker is die boeliery is onwettig, opsetlik en ’n ernstige aantasting van jou of ’n maat se waardigheid (soos kuberagtervolging, emosionele of sielkundige mishandeling) of as dit ʼn aanval is (belediging, uitlapping, ensovoorts), is dit ʼn strafregtelike saak. Die slagoffer sal na ʼn polisiekantoor toe moet gaan en ’n klag aanhangig moet maak. Nadat dit gedoen is, kan jy gerus wees dat die staat die kuberafknouer sal vervolg.

Kry ʼn prokureur aan jou kant

Sou jy (die slagoffer) die boelie wil dagvaar vir laster (die onregmatige en opsetlike publikasie van lasterlike woorde of gedrag), sal dit ʼn siviele saak wees en die slagoffer sal deur ʼn prokureur verteenwoordig moet word.

Ongelukkig het die slagoffer geld nodig om sy of haar prokureur te betaal, tensy die werk pro bono gedoen word.

Kry ʼn beskermingsbevel

Die Wet op Beskerming teen Teistering bepaal dat iemand wat geboelie is, die howe kan vra vir ʼn tussentydse beskermingsbevel wat toegestaan sal word indien die hof oortuig is dat die respondent (boelie) die aansoeker (slagoffer) geteister het of steeds teister en dat skade berokken is of berokken kan word.

Meld dit aan

Russel Luck, ʼn tegnologieprokureur by SwiftTechLaw, sê wanneer onwettige gedrag aanlyn plaasvind, is tegnologiewetgewing dikwels die beste metode om hierdie probleme te bowe te kom.

Webtuistes wat boelie-inhoud bevorder of deel, kan deur die regte kanale verwyder word. Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Eiendom (POPI) en teenteistering- en boelieregulasies kan ook gebruik word as ʼn goedkoop en vinnige metode om hierdie probleme die hoof te bied. 15

Die pad vorentoe

Hoe stop of vermy ek die kuberafknouery?

Hier is ʼn paar eenvoudige wenke wat jou en jou maats kan help:

  • Moenie betrokke raak nie.
  • Moenie op enige boelieboodskappe antwoord, reageer, kommentaar lewer of die boelieplasings deel nie.
  • Stoor skermskote (in Engels: screen shots} van enige van die boelieplasings of boodskappe. Die datum en tyd daarby is belangrik.
  • Blokkeer die persoon wat jou boelie, of kontak jou selfoonverskaffer (soos Vodacom, MTN, ensovoorts) as jy per SMS geboelie word. As iemand jou deur jou selfoonnommer of e-posadres kontak, kan jy dit oorweeg om ‘n nuwe SIM-kaart te kry.
  • Vertel ‘n volwassene wat jy vertrou oor wat aan die gebeur is.
  • Verander jou privaatheidstellings sodat net die mense wat jy ken en vertrou jou plasings kan sien of daarop kan reageer.
  • Rapporteer enige van die boelie-opmerkings of -plasings op die sosiale netwerk of speletjiewebwerf. ‘n Betroubare volwassene kan jou hiermee help.

Onthou:

  • Dit is nie jou skuld nie. Niemand verdien ooit om geboelie te word nie.
  • Niemand het die reg om ‘n ander persoon te boelie nie.
  • Jy is nie alleen nie.
  • Vra vir hulp – dit is beskikbaar.
  • Dit sal nie vir ewig duur nie – selfs baie moeilike ervarings kom tot ‘n einde. 16

Woordbank

aansoeker Die persoon wat aansoek doen; applikant.
aanstootlike Onbetaamlik, vieslik, afstootlik, liederlik, lelik.
af te kraak Beledig, spot, verkleineer, verneder.
aggressiewe belediging As jy iemand nie net slegsê nie, maar dit met skeltaal en woede doen.
anoniem Iemand wie se naam nie bekend gemaak word nie; naamloos.
bewerings Iets wat gehoor is, maar nog nie as feit erken is nie.
bullebak ʼn Onbeskofte mens; ʼn ongemanierde en geniepsige persoon wat ander maklik afknou.
derde party ’n Persoon of groep behalwe die twee wat primêr by ’n situasie/saak betrokke is, veral ’n dispuut.
digitale Digitaal beskryf elektroniese tegnologie wat data genereer, stoor en verwerk.
diskriminerende Onderskei; wys op verskille en dan negatiewe aanmerkings maak.
drasties Ingrypend, hewig, radikaal, erg.
element Deel.
gedrag Optrede; hoe jy jou voor ander gedra.
gemene Laag, sleg; met kwade bedoelings.
gemeenskap Samelewing; wat verwys na die leefwyse van die mense van ʼn dorp of stad; mensegemeenskap.
geniepsig As jy mense afknou/boelie, treiter, mishandel.
gewaar Sien.
hewige Baie erg.
homofobiese Om mense wat gay is, te verag.
individu Mens, persoon, enkeling.
intense Hewig, uiters sterk, kragtig.
intimideer Vrees aanja, skrik maak, bang maak; dreig.
jeugdiges Jong persoon.
kategorie Klas.
klag aanhangig Wanneer jy na ‘n polisiekantoor toe gaan om iemand te gaan aankla van ʼn misdaad of beweerde misdaad.
kletskamer Nie ʼn regte kamer waar jy en jou vriende lekker kan gesels nie, maar ʼn virtuele “kamer”/ruimte waar julle aanlyn gesels.
kop uitgesteek Verskyn, na vore kom.
kuber Met betrekking tot rekenaars, inligtingstegnologie en virtuele realiteit.
kuberboelie ʼn Persoon wat ander mense teiken, aanlyn treiter, beledig, ens.
kwetsende Dit wat seermaak; jou laat sleg voel.
lafaard Iemand wat nie dapper genoeg is om sy slegte dade te erken nie; iemand wat agter ander skuil of wegkruip sodat niemand kan weet wie hy is en wat hy doen nie.
laster Om iemand se naam sleg te maak.
minderwaardig Dit is wanneer jy voel jy is nie goed genoeg nie.
misleiding Wanneer iemand jou onder die verkeerde indruk bring; wanneer iemand jou onder valse voorwendsels iets laat glo of doen.
monitor Dophou.
ongemotiveerd Wanneer jy geen lus of motivering het om iets te doen nie.
onttrekking Dit gebeur as jy nie meer graag iets wil doen of tussen mense wil wees nie.
onvanpaste Dit pas nie; dit verwys gewoonlik na dade of woorde wat negatief of lelik is.
oorkoepelende Omvattend.
op die lappe As iets (gewoonlik ʼn geheim) aan almal vertel word; as dit algemene kennis word.
paai As jy iemand gerusstel.
pro bono Indien die prokureur die saak wen, is dit gratis/sonder betaling.
profiel ʼn Kort beskrywing van ʼn persoon wat gewoonlik inligting soos naam, adres, selnommer, e-posadres, verjaardagdatum, ʼn foto, ens. insluit.
prokureur Iemand wat in besigheids- en regtelike sake in belang van iemand anders optree.
regsaanspreeklik Wetsgehoorsaam.
reputasie Jou (goeie of slegte) naam; dit wat die mense van jou dink.
respondent Iemand wat in ʼn hofsaak op die aanklag moet antwoord.
siviele saak ’n Siviele saak vind plaas wanneer een persoon, besigheid of agentskap ’n ander een dagvaar/aankla vir iets wat strafregtelik is.
slinks Slu, skelm, agterbaks, bedrieglik.
sosiale status Die rang/posisie wat ’n individu beklee, veral ten opsigte van sy regte en voorregte, lewenstyl,​ finansiële status, ens.
stellings Uitlating; iets wat gesê is; mening, bewering.
stokperdjies Aktiwiteit wat jy beoefen omdat dit vir jou lekker is.
strafregtelike As jy iets doen of sê waarvoor jy deur die Wet gestraf kan word.
geteiken Iets/iemand waarop jy fokus.
ten aanskoue Almal kan dit sien; in die openbaar.
toenemende Al hoe meer.
tussentydse beskermingsbevel ʼn Voorlopige/tydelike wetlike opdrag deur ’n hof wat ’n persoon beveel om nie ’n bepaalde individu te benadeel of te teister nie.
uitlapping ʼn Geheim of vertroulike inligting aan ander bekend maak.
uitlatings Stelling, bewering.
vent Manspersoon.
verklap ʼn Geheim of iets leliks van een persoon aan iemand a  gaan sê, gewoonlik om daardie persoon in die moeilikheid te laat kom.
virtuele Wat nie fisies bestaan nie, maar deur programmatuur die voorkoms van werklikheid gee.
vulgêre Baie lelik, kras onbeskof, kru.
daarmee weg te kom Iets doen sonder dat iemand jou vang.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Leer meer oor “doxing”

Kort oorsig oor boeliery

Wanneer is dit kuberboeliery?

Emma se storie

Animasierolprent oor teenboeliegedrag

Waarom boelie iemand ander mense?

Die moets en moenies van kuberboeliery

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023